ROEKELOSE DROME

My wrewel oor die onbekookte borgskap-projek van SA Toerisme stort ek vanoggend in ‘n brief in Die Burger en Volksblad uit. Ek skryf:
Veronderstel vir een vlietende oomblik Temba Khumalo van SA Toerisme se beoogde borgskap van Tottenham Hotspur is nie ‘n lugkasteel nie.
Alles werk aanvanklik uit. Suid-Afrika se naam beland op die lippe van sokkerliefhebbers wêreldwyd. Die poorte gaan oop en oorsese toeriste stroom in hul derduisende na die nuut ontdekte mekka.
Nou kom hulle hier. Hulle kan hul oë nie glo oor al die verval wat hulle in die mooi land waarneem nie: strande gesluit weens die gereelde storting van rou riool, berge ontsierende rommel oral, besige paaie gepokmerk met gevaarlike slaggate, waterkrisisse, ens.
Hulle maak kennis met beurtkrag. Hul voorland: verkeersopdammings by af verkeersligte , donker restaurante met toe deure, allerlei bedrywighede wat op die mees ongeleë tye tot stilstand knars.
Hulle kyk rond vir openbare vervoer. Al wat op hul pad kom, is wisselvallige busdienste en oorlaaide taxi’s wat met fluitende bande verbysnel.
Van die nuwe generasie toeriste word slagoffers van die tierende geweld. Huurmotors word helderoordag in stedelike gebiede gekaap. Gastehuise word snags aangeval. By die Numbihek van die Krugerwildtuin word ongelukkiges voorgekeer en beroof. Koeëls fluit om party se koppe. Die ongelukkigstes word gewond, of erger.
Ontnugterdes se stories kom in oorsese koerante of word van mond tot mond oorgedra. Die boodskap gaan uit: Pas op vir Suid-Afrika – daar gaan dit woes.
SA toerisme sit met ‘n hand vol vere. Die borgskap verkry berugtheid as ‘n peperduur misoes. Meer nog: die mislukking word die teen-produktiefste reklameveldtog wat nog aangepak is.
Kom laat ons lang trane huil oor sulke roekelose drome.

DIT MOET DOKTOR WD BEUKES GEWEES HET

Jaco Marais van Die Burger se foto toe ek Wiets vir oulaas groet. Vir my is dit ‘n treffende foto. Dankie, Jaco.

Dat sy alma mater, die Vrystaatse Universiteit, hom nie raakgesien het vir ‘n eredoktorsgraad nie, was ‘n oorsig. So het ek vandag by my kollega en vriend sedert 1958, Wiets Beukes, se huldigingsdiens op Franskraal betoog. Wiets, oud-redakteur van Die Burger, is op 16 Januarie op 95 oorlede.
Oor die kranige koerantman het ek o.m. ook die volgende van die hart gekry:
Vir ‘n groot gros waarderende kollegas in Bloemfontein en Kaapstad was hy ‘n waardige rolmodel; ‘n klassieke voorbeeld van die volledige joernalis wat as verslaggewer, redigeerder, nuushanteerder en kommentator uitgeblink het. Sy joernalistieke waardes en sy swaargewig-bydraes tot die koerantwese was vir ons jongeres altyd bewonderenswaardig; ‘n ideaal om na te strewe.
Wiets was ryklik geseën met die eienskappe en talente wat die uitblinker-joernalis onderskei: hy was skrander, skerpsinnig en skeppend; hy kon kalm bly onder die kwaaiste druk, en sy oordeel was oorwoë en kerngesond. Hy was nie een wat blindelings met sy horings in ‘n braambos ingestorm het nie, maar het hom deur nugter besinning laat lei.
As jong verslaggewer het hy keurberigte geskep; nooit oordrewe woordryk nie, maar treffend en beeldryk. Sy beskrywings van derduisende Basoeto’s wat in kleurryke komberse uit die berge peul vir ’n volksfees of Londense pendelaars wat by ‘n brandende moltreinstasie deur die roltrappe as’t ware in die vlamme uitgespoeg word, was soos prentjies.
Geregtigheid was ‘n rigsnoer in sy hoofartikels by Die Burger en Dawierubrieke uit sy pen. Dat sy skrywes ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het in die soeke na ‘n politieke bedeling is onbetwisbaar.
In ‘n omgewing waar konflik gedy, het die flegmatiese Wiets konflik merkwaardig vermy. Sy menseverhoudinge was hoflik, warm en wellewend. Kollegas koester hul herinneringe aan die beskeie plat-op-die-aarde senior kollega wat ook saam jolig kon raak. By almal was hy gerespekteer. By almal was hy ook geliefd: die ”liewe Wiets”. Met vroue was hy die ware jintelman, altyd hiper-galant. Hy was lief om blomme te gee. Sommige gades van Persmanne wens dalk soms hul van was liewer Beukes.
Om vandag hier op sy geliefde Franskraal te kon staan en Wiets Daniel Beukes vir laas te groet, was ‘n eer en voorreg wat ‘n ou man se hart met dankbaarheid vervul en ‘n vogtigheid in die oë bring.

KAMPUSLEWE 4:  JOOL EN ANDER JOLIGHEDE

+

My terugdink aan die Tukkiejool kan ek seker nệrens anders begin nie as by die dag in Mart 1962 toe Van Deventer vyf glorieryke minute lank Fanus Rautenbach sou wees.

Met promosieplanne vir die jool is destyds groot gegaan. ‘n Klomp manne is bv. waaghalsig in die toring by die Uniegebou op. Toe die klokkespel begin waarmee die dag se uitsendings op die radio afskop, bulder hulle: “Jool. Jool, Tukkies jool.”  In Kollege is toe die plan uitgebroei dat ons as reklame die “president van Flinkveria” in sy ateljee sou gaan kaap. Terwyl my makkers die gewilde uitsaaier uitboender, sou ek die mikrofoon opneem en dit landwyd uitdawer: “Tukkies jool …”

Die regte Fanus was entoesiasties. Ons sien al voor die geestesoog die koerantopskrifte en foto’s. Twee dae voor K-dag (kapingsdag) bel Fanus. Hy klink waarlik teleurgesteld. Dit was ‘n oulike plan en als, maar nou’s Pieter de Waal (die omroeper wat die Koffiehuiskonserte destyds op die “map” gesit het) skielik oorlede. ‘n Somberheid heers in die SAUK se gange. Vir sulke grappies sal in sulke omstandighede nie veel waardering wees nie. Ai, Flink uit die Vere het darem amper joolgeskiedenis gemaak … of dalk andersom.

Lentedag was ook ‘n verbame okkasie. Op een het ek Kollege in die afdeling blommerangskikking verteenwoordig. My poging was om twee rooi roosblaartjies op die vloer van die CH Rautenbachsaal op te tel en op die wit suiker in ‘n kafeteria-skuierpotjie te drapeer. “Druppels bloed op ys” het die tweede prys gekry vir oorpronklikheid.

Die Joolblad – volop pret en plesier vir 25c. Links is Sampie Golden, latere LV en ambassadeur. Regs is … Raai?

Dan was daar serenades (op syn goeie Ingels uitgespreek as serenyds). Een aand het ‘n serenade by Klaradyn ietwat te luidrugtig geraak met Pierre le Roux se luide ghongslae teen ‘n ysterpaaltjie in ‘n boom tussendeur. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe studentemaats die magtelose konstabel in die aanklagkantoor se pet soos ‘n rugbybal onder mekaar aangee.

Ja, Kollege was ‘n anderster koshuis. Haas by elke moles was hy in die episentrum.  Die rektor (“gomlastiekgogga”) was nie geamuseer nie.

Kollegemanne kon vindingryk wees. Lank voordat kapings en ontvoerings alledaags geword het, is ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die destydse HF Verwoerd te gaan haal vir ‘n Fonteineparty. ‘n Groep maats het gaan kuier. Aan die einde van besoektyd stap hy luiters tussen hulle uit.

By die feestelikheid word hy die slagoffer van ‘n overwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery. Die pasiënt word ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp.

Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat hom uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

En hoe het dit met die asters gegaan? Nie altyd ewe goed nie, dankie. Een grou Sondagmiddag het ek en Cas Jacobs my kar voor Asterhof gaan trek met ‘n yslike “Hoekie vir Eensames” op die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam!

Die akademie moenie vergeet word nie; vivat academia! Weens ‘n dors aan  kennis het die skrywer hiervan een laataand by die Merenskybiblioteek gaan inbreek.  Manie Steyn is saam. Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in.

Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.

Het ek die boek gekry en my taak betyds ingedien? Inderdaad. Gelukkig ook. In daardie stadium was ‘n goeie punt vir daardie taak onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.

Na gebruik is die boek terugbesorg. Oop en bloot by die sierlike voordeur van die Merensky ingestap en hom op sy plek gaan sit. ‘n Mens ken mos jou verantwoordelikhede, selfs as jy ‘n student is.   (Slot.)

FOTO’S:  i. In 1962 kon Kollege die hoofsierwa bou vir die fraai joolkoningin en haar prinsesse. ii. Die Joolblad – 25c se pret en plesier.  Links is Sampie Golden, latere LV en ambassadeur. Regs ….

KAMPUSLEWE 3: SPELERS EN TOESKOUERS

Kollege se bulspan vir ’62 se huiswedstryde. Vier of vyf provinsiale spelers.

Rugby is steeds op kampusse ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart, verstaan ek. Verblydende nuus dat rugbytradisies nog vol skop is. In die 60’s was rugby – veral koshuisrugby – GROOT. Hoe het ons nie, wen of verloor, in digte geledere op en af langs die veld gedrafstap en ons manne oor die doellyn probeer pleit en praat nie.

Selfs ‘n wedstryd tussen Tukkies se Radio’s en Fisio’s goed bygewoon. Vir die wedstryd het die meisies hul kêrels se “toks” geleen. In haar geliefde Kosie se “toksak” ontdek ene Santie toe ’n vreemde affêring, wat net lanklaas ’n wasmasjien gesien het. Dit gaan na haar kop toe soos ‘n skrumpet. Toe hulle opdraf herken die manlike toeskouers dadelik die flappende hoofbedekking en sak agteroor, lam van die lag.
Nou-ja, toe speel Santie te lekker saam. Sy knik haar kop heen en weer en die loshangende “piesangskille” – so lyk dit vir haar – tref haar eers, kerplaks, op haar linkerwang, dan, kerplaks, op haar regterwang, dan, kerplaks, op haar neus. Toe rustyd aanbreek, poseer Santie gewillig vir die menigte fotograwe.
Eers ná die wedstryd word sy deur ‘n spanmaat met broers oor die ware identiteit van die joppie op haar koppie ontnugter. Sy is deur ‘n floute oorweldig. O ja, die Fisio’s het gewen: 12-3 – of iets in daardie voege.
Die onvergeetlikste rugbymomente speel nie altyd op die veld af nie. In Danville, ‘n woonbuurt wat nou nie juis met Waterkloof kan vergelyk nie, het vroue met krullers in die hare hul helde luidkeels kom aanmoedig. ‘n Blondine langs die veld trek toe een van ons, Piet (Gandhi) Lategan, se aandag. Hy pyl dadelik op haar af toe toe die eindfluitjie blaas. Goed, sy sal saamgaan inryteater toe.
Terug by die koshuis vermoed hy onraad. Hy vat-vat aan sy agtersak – en bevind tot sy diepe ergernis en verleentheid hy is in sy eie motor van sy beursie be-vry.

Toerspan na Noord-. Natal.

Sporttoere word sterk aanbeveel vir “gees vang”. In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Van Deventer wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag op Ladysmith speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman omdat die breier ontdek het hoe benoud ek is om teen die plaaslike held – ‘n frisse, sterke en vinnige derduiwel, volgens gerugte – te staan te kom.
In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Junior Springbok Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

Donkiepret op Ladysmith.

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”
“Nou hoekom wys jy hy was oor?”
“Omdat hy amper oor was!”
In Kollege se folklore is daardie antwoord as ‘n voltreffer aangeteken. Laat my egter maar bely: dit was nie ‘n spitsvondige stukkie flinkdink nie. Ek kon eenvoudig op daardie oomblik nie aan ‘n beter verskoning dink nie. Oor of mis, ons is met die beker huis toe.
Op daardie toer kaap vier van ons uitgelate ‘n onbemande donkiekar op die dorpsmeent van Ladysmith. Groot vrolikheid totdat die eienaar keel opsit. Hy dag die bende streepbaadjies se motief was koelbloedige roof. (Slot volg.)

KAMPUSLEWE 2: MODDERBADDENS EN SO

Modderbad, 1958

Ontgroening was in my Tukkiedae nog springlewendig. Eerstejaars (ienks) is oral behoorlik gedril. Daar was modderbaddens, die pil (deurdrenk met bitter duiwelsdrek), nagligte (as jy waag om oor die tou te trap), gatpaarties, p-paarties en wat nog.
Ons ienks van Kollegetehuis moes tot vervelens voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.
Nog ‘n verspotte versie uit daardie tyd steek by my vas:

Raid, 1959

Soos klokslag het ‘n senior met ‘n sigaret wat uit sy mondhoeke hang – verreweg die meeste mans het gerook – voor jou kom staan en vir jou ‘n dosie vuurhoutjies aangegee. Jy moes ‘n vuurhoutjie vat en plegtig so aanspreek: “Donderbalkie, bron van lig; enigste hoop in Donker Afrika.” Dan moes jy die vuurhoutjie trek met die opdrag: “Brand bliksem, brand!” Daarna: “Suig asseblief, meneer, suig!”

Die jaarlikse ienksport was ‘n vername okkasie. Aan elke koshuis is ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is – en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek, die tweede jaar
in ‘n ry. Die eerste egter in ‘n gewone wit rugbybroek.
Noodsaaklike kennis wat vroeg in jou eerste jaar aangeleer is, was van die sogenaamde “broek-raid”. Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit – ná ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade. Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in vrouekoshuise, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.
In 1957 kla ‘n ienk by sy ma dat die nagtelike konsternasie sy studies belemmer. Die ma kla by die huisvader. Hy dra haar beswaardheid aan die huiskomitee oor. Al die ienks word toe op parade laat staan en moet soos een die broeke laat sak sodat die seniors hulle kan deurkyk. Die teorie was naamlik: as iemand oor raids kla, skort iets in sy broek.

Ienk Koornhof sluk die pil, 1962.

Ja, n Ienk kon maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir ‘n veeleisende senior (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!), Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.
Die tyd het aangebreek vir die modderbad en die pil. Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K (vir Kollege) finaal gewaai – een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-aster-man-aster langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”
‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus. Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

GAUDEAMUS IGITUR, STUDENTELEWE BEGIN!

Liedjieboer Piet Henning (regs agter met kleurbaadjie) was ook aktief in koshuisrugby. Die foto dateer uit 1961.

In 2022 Jannie of Sannie in die klaskamer; vanjaar meneer of mejuffrou in die lesingsaal. Vir derduisende jong mense – iemand praat van 250 000 – begin ‘n splinternuwe in hierdie dae. Gaudeamus igitur – hul studentelewe breek aan.

Studentelewe kan van kampus tot kampus hemelsbreed verskil. Koshuislewe en woonstellewe is ook nie eenders nie. Trouens, tradisies en praktyke in selfs buurkoshuise is eiesoortig. Hoe ook al, jou studentelewe kom net een keer in ‘n leeftyd. Dit bring weergalose ervarings (o, al die ondeundhede) en skep herinneringe wat jy tot jou oudag vertroetel.
Vriendskappe byvoorbeeld – en romanses. Die woorde “studentemaat” en “studentekêrel“ of “studentenooi” (“aster” in my tyd) bevat magiese kwaliteite. Die durendheid van studentevriendskappe beskou ek as een van die beste onverdiende vreugdes wat in my 82 jaar oor my pad gekom het. Studenteromanses was in my eie geval kortstondig. Maar vir derduisende vorder dit van die kampus tot in die kieriefase.
Aan die begin van die nuwe akademiese jaar 2023 deel hierdie oudste lewende voorsitter van Tukkies se Kollegetehuis (nou College) met sy versamelde binnekennis van vyf jaar se verbruik van blouerige koshuiskoffie graag enkele onthou-dinge en -stories met die nuwe generasie – in die hoop dat hul studentelewe in hul partikuliere omgewings, hoewel waarskynlik baie anders, nie minder onvergeetlik sal verloop nie.
Hopelik sal hulle byvoorbeeld ewe gereeld en hartlik sing. Raai, die woorde van allerlei lawwe liedjies kom ná 60 jaar nog spontaan by my op. Dit is so
onverganklik as die Vrystaatse volkslied s’n.
As ons Kollegemanne van ouds saamkom in die wildtuin of waar ook al – ons is gek na reünies – is dit nie lank nie of ons lig ‘n glasie en hef die koshuislied uit volle bors aan sodat selfs die seekoeie hul trombone ‘n wyle bêre en die kikvorse ophou kik: Aan het oever van het Schelftzee / tussen Delft en Rotterdam / Zat een verie luid te wenen / met een Matie vuur en vlam /Zag het verie aan het Matie/ Ziet je daarde Kollegeman? / Ben de moord’naar van je vader/ Neuk hem op so goed jij kan/ “Ag verdomme,” zeg de jonge / heeft de donder dat gedaan / Wag maar tot ik even groot ben / Zal hem op zijn donder slaan!
Dink ek aan liedjies, dink ek aan wyle Piet Henning van Louis Trichardt (voorheen Makhado) wat in 1958 met ‘n besonderse liedjieskat van St. John’s College in Johannesburg af by Kollege opgedaag het. Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as Brasso maak jou stêre blink en so aan voort wat ons ander op skool gesing het.
Een van die liedjies het herinner aan Horatio Nelson se stoflike(?) oorskot wat in ‘n vaatjie gevul met brandewyn op ‘n lang skeepsreis bewaar is: And when I die, and when I die, don’t bury me at all, don’t bury me at all, just pickle my bones, just pickle my bones, in alcohol, in alcohol. Sy repertorium het ook gesofistikeerde liedjies soos hierdie ingesluit: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less of Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantlepiece and bouncing off her t**s.
Nog ‘n lied met ‘n sterk vroulike dimensie handel oor die meisies van Rodean High, St. John’s se buurskool in Houghton, Johannesburg: We are the girls from Rodean High, we take pride in our virginity, we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.
Ons het ook graag gesing: Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. In ‘n tweede strofe kom gevleueldes ter sprake: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.
Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me… …And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird … the ostrich … the ooh ah bird… Dan word o.m. uitgewei met watter moeite elke soort haar eiers lê.
Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net “oee-aaa!”
Weet nie wie se kinders of kleinkinders sing Hasie Vaaljan nie. Ons het en het ons verkneukel aan die bekoorlike lirieke: Hasie, Hasie Vaaljan / olifant speel kitaar / slakkie blaas die saksofoon / en skilpad sê net poing-poing …poing-poing. Die tweede versie is ook oulik: Hasie, Hasie Vaaljan / walvis het gelam / snoekie was die nursie / sardientjie was die baba … baba … baba.
Deel gerus met eerstejaars wat julle ken. Later gesels ons verder oor die studentedae. .