
Jaco Marais van Die Burger se foto toe ek Wiets vir oulaas groet. Vir my is dit ‘n treffende foto. Dankie, Jaco.
Dat sy alma mater, die Vrystaatse Universiteit, hom nie raakgesien het vir ‘n eredoktorsgraad nie, was ‘n oorsig. So het ek vandag by my kollega en vriend sedert 1958, Wiets Beukes, se huldigingsdiens op Franskraal betoog. Wiets, oud-redakteur van Die Burger, is op 16 Januarie op 95 oorlede.
Oor die kranige koerantman het ek o.m. ook die volgende van die hart gekry:
Vir ‘n groot gros waarderende kollegas in Bloemfontein en Kaapstad was hy ‘n waardige rolmodel; ‘n klassieke voorbeeld van die volledige joernalis wat as verslaggewer, redigeerder, nuushanteerder en kommentator uitgeblink het. Sy joernalistieke waardes en sy swaargewig-bydraes tot die koerantwese was vir ons jongeres altyd bewonderenswaardig; ‘n ideaal om na te strewe.
Wiets was ryklik geseën met die eienskappe en talente wat die uitblinker-joernalis onderskei: hy was skrander, skerpsinnig en skeppend; hy kon kalm bly onder die kwaaiste druk, en sy oordeel was oorwoë en kerngesond. Hy was nie een wat blindelings met sy horings in ‘n braambos ingestorm het nie, maar het hom deur nugter besinning laat lei.
As jong verslaggewer het hy keurberigte geskep; nooit oordrewe woordryk nie, maar treffend en beeldryk. Sy beskrywings van derduisende Basoeto’s wat in kleurryke komberse uit die berge peul vir ’n volksfees of Londense pendelaars wat by ‘n brandende moltreinstasie deur die roltrappe as’t ware in die vlamme uitgespoeg word, was soos prentjies.
Geregtigheid was ‘n rigsnoer in sy hoofartikels by Die Burger en Dawierubrieke uit sy pen. Dat sy skrywes ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het in die soeke na ‘n politieke bedeling is onbetwisbaar.
In ‘n omgewing waar konflik gedy, het die flegmatiese Wiets konflik merkwaardig vermy. Sy menseverhoudinge was hoflik, warm en wellewend. Kollegas koester hul herinneringe aan die beskeie plat-op-die-aarde senior kollega wat ook saam jolig kon raak. By almal was hy gerespekteer. By almal was hy ook geliefd: die ”liewe Wiets”. Met vroue was hy die ware jintelman, altyd hiper-galant. Hy was lief om blomme te gee. Sommige gades van Persmanne wens dalk soms hul van was liewer Beukes.
Om vandag hier op sy geliefde Franskraal te kon staan en Wiets Daniel Beukes vir laas te groet, was ‘n eer en voorreg wat ‘n ou man se hart met dankbaarheid vervul en ‘n vogtigheid in die oë bring.