VOLTOOIDE SIMFONIE-A

Oor die Van Deventers se sentimentele band met die MSC Sinfonia wil ek ‘n uitgebreider en korrekter weergawe as die vorige plaas.

Vir eers het my rekenkunde my in die steek gelaat. Daar was vier vaarte met die Sinfonia, nie drie nie. (Met die Opera was daar twee en met die Musica, die Queen Mary II, die Oceanos – wat aan die Wildekus ’n watergraf gevind het – die Constellation en die Pendennis Castle een elk )

Ten tweede het ek nagelaat om ‘n belangrike gesinsaspek uit te lig: dat ek en Tokkie op die Sinfonia gevaar het saam met albei vertakkings, die Claassensgesin van Welgemoed en die Van Deventers van George.

Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. Die vaart na Durban was ‘n fees. Ek het toe reeds geskryf: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ‘n wenkombinasie, Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ‘n salige plek is om te vertoef ”.

In 2014 was ons saam met die hele Claassensgesin aan boord op wat toe ná vyf seisoene en 150 vaarte die laaste siens van die geliefde skip in SA waters sou wees. Ons wou ordentlik van die skip afskeid neem. Ons jongste kleinseun, Christopher, was in die kajuit saam met oupa en ouma op ‘n sogenaamde vaart na nérens (wat ek, terloops, nie aanbeveel vir mense wat rustigheid soek nie). Toe ons voet op vaste bodem sit, het ons ‘n groot banier aan die loopplank bemerk:”Goodbye Cape Town”. Die skip is daarna na Palermo waar ‘n nuwe middelstuk ingevoeg is. Volgens MSC sou dit voortaan op ander roetes aangewend word.

Die “nuwe” Sinfonia het egter, verrassend, weer na Suid-Afrika gekom. In April 2017 was my en Tokkie se eerste afspraak met “ons skip” in sy nuwe groter en deftiger gedaante. Balkonkajuite is o.m. bygevoeg. Die vaart was na Walvisbaai. Dit het sommer ‘n laat viering van ons goue bruilof op 31 Desember 2016 geword, en MSC het ‘n komplimentêre bottel Moët et Chandon vir die doel geskenk.

Pas was ons vierde en laaste vaart – weer na Walvisbaai. Dit was ons eerste kennismaking met ‘n balkonkajuit, wat net ‘n vreugde is. Ai, as die ou man net nie so oud was nie … Johan en Mariza van Deventer was hierdie keer saam. Vaar op die Sinfonia het daarmee ‘n familieding geword. Die simfonie van die Sinfonia in die lewe van die Van Deventers was voltooi.

Nou is dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.

Naskrif: Een foto is erg oorbelig, ek weet. Dit is egter die enigste foto van my en Tokkie en die Sinfonia saam.

 

EINDE VAN ‘N GROOT BEDERF

Om ons swanesang ter see en eerste ervarings op ‘n vaart in een asem te noem, klink na ‘n contradiction in termino. Dit is egter nie.
Op ons vaart na Walvisbaai op die Sinfonia was die digte mis vir ons inderdaad nuut. Nooit voorheen op enige vaart is twee nagte lank deur sulke digte mis moes beur nie. Sig feitlik nul. Die bas skeepshoring het op die minuut uit ‘n growwe, diep keel waarskuwings uitgeblêr: Pas op voor, hier kom ‘n lummel met 11 dekke en plek vir meer as 2 000 passasiers. Vergeet van slaap in sulke omstandighede. Nessum dorma!
Terug in die Kaap Vrydagoggend was die mis so dig dat die hawe gesluit moes word. Twee uur lank moes die passasiers soos uile op ‘n kluit sit en wag om aan wal te gaan.
Nog ‘n eerste was ‘n skip met soveel ruimte om te beweeg. Met net 800 passasiers aan boord was selfs die hysbakke stil. Dikwels was jy die enigste gebruiker. By die buffet-tafels op dek 11 was die gewone gedrang vreemd afwesig. Aandetes was nie in die gewone twee sessies nie. Enige tyd tussen 18:30 en 20:30 kon jy gaan aansit.
Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. In 20014 was ons op wat toe die laaste vaart van die skip, in SA waters sou wees weer aan boord om afskeid te neem.
Maar die Sinfonia het weer na Suid-Afrika gekom: ‘n groter en luukser skip nadat ‘n nuwe middelstuk – ook met heerlike balkonkajuite – ingevoeg is. Vir ons was die vaart in balkonkajuit 9175 na Walvisbaai dus ‘n tweede afskeid van die sierlike skip. Maar nou was dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.
Elke ding het sy tyd en plek, soos die Prediker ons leer. Vir my en Tokkie was vaar ‘n vreugde en is talryke herinnerings oor dekades versamel – ook op vaarte na Sydney en Venesië en deur die Suezkanaal op skepe soos die ou Pendennis Castle, die Constellation, die Oceanos, die Queen Mary II – wat ‘n wonderlike skip! – die Sinfonia, die Opera en die Musica. Die drie vaarte op die Sinfonia was die meeste op een skip. Op die Opera was ons twee keer, die ander net een keer elk.
Vir al die skepe, bestaande en nie meer bestaande, hul kapteins en hul diensvaardige bemannings sê ons: Arrivederci en baie dankie vir die groot bederf.
Foto’s: Ons laaste vaart. Saam met ons is ons kinders Johan en Mariza van George.

TREIN VAN ONHEIL SAAI VERWOESTING

Die gasverwoesting op Boksburg herinner aan die geweldige ontploffing van ‘n dinamiettrein van altesaam 42 trokke – die langste dinamiettrein ter wêreld in daardie stadium – 90 jaar gelede, op 17 Julie 1932, op die plaas Louwpan net buite Leeudoringstad (Leeudoornstad) in die ou Wes-Transvaal. Van die 42 waens was 31 gelaai met 320 ton dinamiet, bestem vir die goudmyne in Johannesburg. Op die res was kunsmis en appels.
Vyf mense en hope plaasdiere is gedood en amper elke huis op die klein dorpie is in die reuse-ontploffing beskadig. Die hele trein en sy dodelike vrag is verwoes en die toneel was agterna soos ‘n slagveld wat deur bomme uitmekaar geruk is (foto). Wat nogal aan die Boksburg-treurspel herinner, is dat vier onbetrokke mense in ‘n plaashuis 150 meter van die spoor omgekom het. Die vyfde was die kondukteur, ene Sarel van Wyk, wat in die kondukteurswa geslaap het. Van hom het min oorgebly.
Die treindrywer, Andries Cornelius Gouws, en die stoker, Carl Otte, het wonderbaarlik oorleef – soos die vragmotorbestuurder op Boksburg. Gouws het homself agterna beskryf as die gelukkigste mens op aarde. Hy kon dit weer sê. Otte het oomblikke voor die eerste van ‘n reeks ontploffings vir hom gesê hy sien stof of rook onder een van die waens uitborrel. Gouws het die trein toe tot stilstand gebring om te gaan ondersoek instel. Net toe dreun die eerste knal. Toe die tweede ….
Die eienaars van die plaas Louwpan was oom Stoffel en tannie Lettie Strydom. Hulle het daar gewoon met hul destyds ongetroude seun en dogter Johannes en Anna, hulle dogter en skoonseun, Danie en Mienie Myburgh, en dié se kinders, Willie (14), Aletta (11) en Gideon (4). Dit is nie duidelik wie dood is en wie oorleef het of hoe hulle oorleef het nie. Die Myburgh-gesin is klaarblyklik swaar getref. Van die plaashuis en -diere op Louwpan het min oorgebly.
Blykbaar het ‘n brand in ‘n sogenaamde “hotbox” (smeringkas) onder die voorste as van die tweede dinamiettrok ontstaan. Ongeveer 1½ km buite Leeudoringstad het die brand die dinamiet bereik, en ‘n verskriklike ontploffing sou weldra die rustige landelike omgewing en die dorpie skud. Gelukkig het die drywer die onheilstrein buite die dorp tot stilstand gebring. Andersins was die verwoesting dalk veel erger.
NASKRIF: Suid-Afrika se noodlottigste dinamietontploffing was op 19 Februarie 1896 op die stasie Braamfontein in Johannesburg. Meer as 70 mense is gedood en 200 beseer toe 60 ton dinamiet op agt trokke ontplof het. ‘n Krater van 60 meter lank, 50 meter wyd en agt meter diep is uit die aarde geruk. Skade is in woonbuurte so ver soos Fordsburg aangerig en sowat 3 000 mense was dakloos. Die ontploffing is tot 120 kilometer ver gehoor.

HVD 6: MET HARP EN SITERTONE

Naspers-topbestuur op Melkbos se stoep.

‘n Kwarteeu lank is my adres nou Penguin Place 11, Melkbosstrand  – die Van Deventers se plek van melk(-bos) en heuning met Tafelberg,  ‘n grou kolos, aan die suidekant; die Atlantiese Oseaan in sy wisselende stemminge  wydgestrek voor ons; Robbeneiland net ‘n hanetreetjie weg. Op ons bankie langs die water beleef ons saans, wyntjie in die hand, die skilderagtigste sonsondergange.

In Maart 2023 verskuif ons na Sabiepark vir plus-minus ons 50ste besoek aan ons bosparadys aan die Sabierivier, net twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin, waar wilde diere ons bure is en ‘n vuurtjie elke aand brand.  Ambisieuse planne word beraam om ons verbintenis van 25 jaar saam met vriende te vier.

Maar eers, vroeg in Januarie, bestyg ons die MSC Sinfonia vir ons 12de bootvaart, bestemming Walvisbaai. Die voriges sluit in ‘n vaart op die fabelagtige Queen Mary II na Sydney via Perth en Melbourne – loshande ons droomvaart; een na Venesië; een van Venesië terug Kaapstad toe via die Suezkanaal, en een tussen die Griekse eilande. Ons is lief vir die ontspanne lewenswyse ter see.

Vuurtjie in Sabiepark.

O, die salige niksdoen-bestaan van ‘n lid van die kieriekommando, soos Tukkiemaat Pierre le Roux by aftrede einde 1997 my nuwe status gedoop het. Dit was nogal profeties. My kierie is ‘n vername simbool van my huidige lewe, maar ook ‘n vername werktuig.

Selfs ‘n vernamer werktuig is my drarekenaar. Op hom gesels ek (veels te veel) op Facebook, hou ek my blog by www.hennievandeventer.co.za in stand, skryf ek briefies vir koerante oor alles onder die son – dosyne, dalk honderde al – en af en toe ‘n artikel. Van die briewe was die betekenisvolste sowat 10 om uit die staanspoor my ernstige bedenkinge oor die Bird Island-boek met sy skandelike duimsuigstories te opper.

Van die briewe was in al drie dagblaaie, Die Burger, Beeld en Volksblad. Van hulle was in Rapport. Al die koerante het my ruim geleentheid gegee om my saak te stel, vrae te vra en kritiek uit te spreek. Prominensie is aan die briewe verleen wat bo verwagting was. Ook op Netwerk24. Ek is dankbaar daaroor.

Beeld het een van my briewe geplaas met ‘n sterk verwysing daarna regs bo op die voorblad (foto). Reeds op 9 April 2019, 11 maande gelede, is ek toegelaat om te verklaar: “Vier, nee vyf, spykers is nou in die doodkis van die Bird Island-boek gekap”.

Op Beeld se voorblad.

Rapport het op 14 April ‘n brief van my geplaas onder die opskrif “Vrae en reaksie na berigte oor Bird-Island” waarin ek uitdruklik verklaar dat die geloofwaardigheid van die boek toe reeds “in vlamme afgeskiet” was. Aan die brief het hy sy apologie in sy kommentaarkolom op bladsy 2 vasgeknoop. Die opskrif was, sonder om doekies om te draai: “Bird Island: Ons het ‘n fout gemaak.” In die apologie is die kernswakheid van die boek in een sin kragtig saamgevat: “Vir geen van die skadelikste bewerings kon enige joernaliste bewyse vind wat onafhanklik geveriëer kon word nie”.

Daarop het die koerant sy lesers, Barend du Plessis en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley om verskoning gevra vir die onverdiende leed. Die merkwaardigheid van so ‘n aanvaarding van skuld en uitspreek van berou is waarskynlik nie oral na waarde geskat nie. My bydrae om dit op etiese gronde te help bewerkstellig, was vir my uiters bevredigend en  dubbel en dwars die moeite werd.   Daaroor is meer te lese op die webblad https://www.thelostboysofbirdisland.co.za

In die 25 jaar het ek so tussenin ook die getal boeke (boekies) uit my pen van drie tot 22 opgeskuif.  Koerante, die bos, humor is die hooftemas. Nommer 23 kom hopelik in April. Weer koerantstories. ‘n Oop plekkie wag al op die boekrak in my studeerkamer.

Op ons bankie saam met die tweeling.

Gevorderdheid in jare kan die beste waargeneem word in vier dinge: ou hout om te brand, ou wyn om te drink, ou vriende om te vertrou en ou skrywers om te lees, het Francis Bacon verklaar. Ek kan nie hartliker saamstem nie.

Een van die durende genietinge van die aftreejare is die voorreg om saam met skoolmaats, studentemaats, kollegas en ander vriende, oud en nuut,  te kuier, hetsy op Melkbos, in Sabiepark of waar ook. Reünies met o.a. 1957-matrieks van Volkies, Potch,  mede-Kollegemanne op Tukkies, Volksbladders en Naspersers tel onder die gedenkwaardiges byeenkomste.

As John Vorster een waar ding in sy lewe gesê het, was dit oor klekinkinders: dat kleinkinders die Here se geskenk aan ou mense is. Ek en Tokkie is al 18 jaar lank oupa en ouma. Ons harte loop oor van dankbaarheid oor die seen en die lewensgenot van saam met die nasate lekker dinge te doen.

Onvermydelik kom ook teleurstellings en gebeur ook slegte dinge.  Die algemene agteruitgang van koerante sluk ek maar swaar. Die besluit van Media24 in 2020 om my geliefde Volksblad se gedrukte uitgawe te staak, was vir my verpletterend.

Die stygende jare bring skete.  Die Byl kap in jou bos. Jy treur oor heengegane vriende. Plek-plek verwyt jy jouself oor verlore geleenthede wat nooit weer sal opduik nie. Die geluk is dat jy ook verryk voel oor die voorreg om mense van sulke kaliber te kon ken.

Op 31 Desember is ek en Tokkie 56 jaar getroud. Op 3 Januarie word ek 82.  Die meetsnoere het vir ons op lieflike plekke geval. Hoe “snood ondankbaar” sal ek nie wees nie as ek hierdie skrywe, en die reeksie oor 25 jaar van aftrede, nie met jubelende harp- en sitertone afsluit nie.  Die genade is groot en onverdiend.

 

 

 

(SLOT)

 

HVD 5: BRING DIE VONKELWYN

Of ek graag Hoof van Koerante sou wou word, is ‘n vraag wat nooit by my opgekom het nie. Dit was Ton Vosloo se idee. Hy wat self ‘n redakteur was, het daarvan gehou om redakteurs in bestuursposisies om hom te versamel, en Engelse perskollegas het die tradisie as een van die redes vir die ou Naspers se welslae beskou.

Ek meen self nie dat ek ‘n wafferse bestuurder geword het nie.  Balansstate en daardie klas ding was nooit my kos nie en die vrees dat ‘n direkteur of sakejoernalis my ‘n finansiele strikvraag kan vra, was immer teenwoordig.  Vir die nuwe roetine en dissiplines: state, begrotings, direksieverslae, komiteevergaderings – alles ver verwyder van die daaglikse dinamiek van koerant-uitgee en die vloei van adrenalien in ‘n redaksie – het ek nooit lief  geraak nie.

Nietemin: wysneuse in die advertensiewese wat Afrikaanse koerante prematuur wou begrawe, moes in die era nogal op hul neuse kyk. ‘n Vreugde gewees om hulle een aand so te kon aanspreek:  “Vir die doemprofete sê ek vanaand: trek uit u begrafnisklere; gooi weg u kransies; laat die vonkelwynproppe klap dat ons kan fees vier!” Ek kon die aand aankondig dat die gesamentlike geouditeerde lesertal van die drie Afrikaanse dagblaaie pas deur die miljoenkerf gebreek het. Ja, julle lees volkome reg: ‘n een en ses nulle

Koerante het in daardie vyf jaar ook met hul geldsake na bo gestuwe het as bekerbekroonde presteerder in die Naspers-portefeulje. Dit was egter nie die produk van een man se versiendheid, leierskap of goeie besluite nie; eerder weens hul onverbloemde Afrikaansheid waaromheen lesers gretig herkonsolideer het; ook oor hul vinger op die pols van die gemeenskap, die toevoeging van waarde vir die lesers, die kwaliteit van die produk. Daar was voorts ‘n span besielde kollegas wat berge versit het om die sektor op verskeie terreine uit te bou.  Ek was maar net ‘n bevoorregte medereisiger op daardie opwindende pad; des te meer bevoorreg om daarvoor met die Pers se gesogte Phil Weberprys beloon te word.

Maar watter boeiende, uiteindelik hoogs verrykende leerskool het die 18de van die Perssentrum verdieping nie tog wel geword nie; die nabyheid aan die vuur in ‘n goue era van die Pers waarin baken op baken geplant is, met skitterhoogtepunte soos notering – ‘n tyd waarin die Pers nie net die voorste persgroep in die land nie, maar volgens niemand minder nie as die Sanlam-voorsitter, Marinus Daling, in ‘n rede by die jaarvergadering in 1996, toe reeds  ‘n  “wêreldklas-organisasie” geword het.

Om op Maandag 12 September 1994 op die vloer van die Johannesburgse Effektebeurs te wees toe Naspers geroep word en agterna ‘n vonkelwyntjie te klink (foto) op ‘n openingsprys van R21 (!) was ‘n belewenis wat ek amper 30 jaar later op my oudag bly troetel. Ek en wyle kollegas Salie de Swardt, Hoof van Tydskrifte, en Andrew Marais, Hoof van Openbare Skakeling, het daardie middag in die Boeing op pad terug Kaap toe nog heildronk op heildronk gedrink.

Uit die bestuursera dateer ook ‘n spotprent wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw (ook ‘n wyle) wat ‘n verbaasde Van Deventer op die program Monitor verskreeu (foto). Wat Louw so intens irriteer het, was my persoonlike voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK). Ek betoog daarin dat Afrikaanse koerante niks het om verskoning oor te vra nie. Hulle het, trouens, in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers in die saak van hervorming volhardend te dien.

Louw het dit as ‘n “romantisering” afgemaak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die telefoononderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard: hy in Aucklandpark, Johannesburg, en ek op Melkbos.  Albei briesend.  Die Jong Turke van die Pers wat opsluit self by die WVK gaan boete doen het, sou gewis in hierdie episode nader aan Louw gevoel het as aan Van Deventer. Daardie klein paleisrevolusie was nie vir my aangenaam nie, maar het my baie geleer van die onvermydelike opvolging van generasies.

Wat opvolging betref: My koerantwêreld waarin ek my tande geslyp het, was een van warm lood, matryse, teleksmasjiene, perstelegramme en landlyne. Nou het die elektronika oorgeneem: oral in die produksieproses, selfs in die versending van hele koerantblaaie heen en weer oor die lengte en die breedte van die land. Die nuwe ontwikkeling het my eers laat sidder vir die onbekende, maar mettertyd al hoe meer geboei en betower.

Saam met die betowering het die besef deurgedring dat ‘n nuwe fase  aanbreek. Vir die fase had ek nie die broodnodige toerusting nie: tegnies en emosioneel. ‘n Nuwe geslag sou moes oorneem om die koerant as ‘t ware te herskep vir langtermyn-oorlewing in ‘n media-omgewing waarin die mededinging ongetwyfeld al hoe moordender sou word.

Op ‘n dag is aangekondig dat ek einde Februarie 1998 op eie versoek sou uittree en deur Jan Malherbe, noordelike Hoofbestuurder van Koerante, opgevolg sou word. Francesco, die witgesig-nar, met wie ek 20 jaar tevore ‘n onderhoud gevoer het vir die rubriek Onder Vier Oe in Beeld, bel toe uit die bloute en sê: “Jy’s mos te jonk om af te tree!”

Die liewe Francesco was verkeerd. My besluit om op ouderdom 57 vroeg uit te span, was op presies die regte oomblik geneem – een van die beste besluite van my lewe!

HVD 4: IN DIE VOORSTE RY VAN ‘N TAMAAIE ERA

In die geselskap van rolspelers van die era.

Om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis op ‘n werklikheidskerm voor jou verbyrol. Dit is die bonus wat ‘n koerantredakteurskap bied. In die 80’s (en 90’s) het die tempo en intensiteit van politieke geskiedskrywing ongekende vlakke bereik. Dit was nie ‘n maklike tyd nie. Vir my was dit fassinerend – ‘n tamaaie era.

Enorme politieke uitdagings en verskuiwings was aan die orde. Swart nasionalisme het ‘n brullende leeu geword. Stakings, optogte, opstande, onluste en bloedige konfrontasies was daaglikse spyse. Terreur sou lelike afmetings aanneem. Die Kerkplein-bom in Mei 1983 het harder geslaan as elke ander terreurdaad. Winkelsentrums, kerke en eetplekke is ook geteiken.
Die bosoorlog het gewoed. Al hoe meer jong Suid-Afrikaners het “aan die grens” gesneuwel. Fidel Castro se Kubane het in hul tienduisende na Suider-Afrika gekom om Swapo te help. Hakkejag-operasies oor buurgrense het die spanning tot breekpunt opgejaag. Die internasionale gemeenskap het die skroewe al hoe stywer begin aandraai. Boikotte, sanksies en isolasie het toenemend ‘n beleërde Suid-Afrika se voorland geword. Die land was was struikelend op pad na onregeerbaarheid.
Die Nasionale Party, tradisionele politieke tuiste van die Afrikaner, sou in 1982 skeur. Die Konserwatiewe Party van dr. Andries Treurnicht het elke verkiesing sterker geword. Op 6 September 1989 het die KP so hittete die NP in die Vrystaat uit die kussings gelig.
PW Botha het steeds met ‘n ysterhand regeer, maar met sy beroerte in Januarie 1989 het hy sy greep verloor. Ná dae van hoogspanning het sy mantel op FW de Klerk geval (‘n scoop vir Die Volksblad danksy Alf Ries). ‘n Nuwe presidentskap met ‘n nuwe visie het op die toneel gekom. Toe kom 2 Februarie 1990. Nege dae later het Nelson Mandela as ‘n vry man uit die tronk gestap.
Beswaardes oor die destydse politieke verloop knoop hul verwyte teen Afrikaanse koerante graag aan by die huidige gemors waarin die land verkeer. Die koerante word vir vele misstande blameer. Hulle sou dan oorgeesdriftig gewees het oor hervorming en het dan saam met FW de Klerk die land weggegee. Hoe die kritici realisties kan dink dat ‘n piepklein minderheid in heersende omstandighede aan die mag sou kon vasklou, is bo my begrip.
Aan die teenpool kom die beskuldiging dat die koerante as stoere kampvegters vir apartheid bly optree het; dat hulle sterker moes gedruk het vir vinniger hervorming. Daardeur word hul sleuterol as drywers van hervorming eenvoudig veronagsaam. Die grense van lesers se ontvanklikheid vir nuwe politieke insigte is deur die koerante gedurig tot breekpunt, en selfs verby breekpunt, getoets.
So fel en bitter was die “familietwis” tussen pro- en anti-hervormers – waarlik ‘n “tweede Boereoorlog met Boere aan albei kante” – dat die koerant toenemend ‘n teiken van regse wrewel geword het en die redakteur self as persoon in die stryd ingesuig is; hy (en sy gesin) is oor sy “verligte” beskouinge getreiter en vanuit die AWB met die dood gedreig. Dit was ‘n klippekou-tyd wat van ‘n redakteur meermale groter wysheid as die beskikbare geverg het!
Vir die intense politieke rol waarin hy gewerp is, kon Die Volksblad natuurlik nie terugdeins nie. Trouens, dit het hom ook al hoe meer op die nasionale toneel na vore gedwing. In TV-debatte en elders is die Vrystaatse stem al hoe meer gesoek. Een TV-debat was op die vooraand van die referendum oor die driekamer-bedeling in 1992. Die redakteur is ook genooi vir ‘n eerste TV-gesprek met Nelson Mandela ná sy vrylating. Ek sal lieg as ek ontken dat ek daarvan gehou het.
Hand aan hand het Engelstalige koerante toenemend van Die Volksblad se standpunte kennis geneem. Oor die onregverdigbare diskriminasie teen Indiërs was hy op die oorlogspad. Hy was eerste om te sê dat die begrip ‘magsdeling’ gerus maar aanvaar kan word. ‘n Ope brief aan PW Botha op die voorblad van Maandag 7 Mei 1990 het heelwat opspraak gewek. “The most unusual way of editorial comment,” het die perskommentator van die Cape Times, James McClurg, dit genoem
By nasionale konferensies, kongresse en simposiums het saampraat-geleenthede ontstaan; ook by buitelandse konferensies in o.m. Londen, Wiston House in Surrey en Parys. So is paaie met dié van ‘n jong Thabo Mbeki gekruis. Kontruktiewe bande het ontstaan wat voordele ingehou het. Die Volksblad kon byvoorbeeld dié ANC-voorman, toe hy onder blankes nog ‘n relatief onbekende was, na Bloemfontein nooi vir ‘n private voorligting aan uitgesoekte meningsvormers.
Hoe het Die Volksblad die toets geslaag? Dit is iets waaroor ek nogal baie getob het. In my laaste direksieverslag het ek ietwat swaarmoedig gerapporteer: “Die grootste teleurstelling (mislukking?) van daardie skof was ongetwyfeld die onvermoë om die vertroue, geloofwaardigheid en selfs liefde wat Die Volksblad deur die jare in sy gemeenskap verwerf het, om te sit in steun vir die koerant (en die land) se ‘nuwe politiek’.”
“Iets is verkeerd gedoen,” het ek hand in eie boesem gesteek. “Hopelik bring tyd groter klaarheid oor wat dit was.” Maar absolute klaarheid bestaan steeds nie – buiten dat ons dalk tog maar, veral aanvanklik, met groter diplomasie, deernis en begrip op beswaardes se vrae en vrese kon gereageer het.
Een troos was toe die waterskeidingsreferendum van 1992. Teen die stoutste verwagtinge in is albei Vrystaatse stemdistrikte vir die Ja-stem ingepalm. Amper 55% van die stemme was ten gunste van magsdeling in ‘n onderhandelde nuwe grondwet.
Nog ‘n riem onder die hart was ‘n kloppie op die skouer uit ‘n onverwagte oord. Oor die rol van Afrikaanse redakteurs het James McClurg in die Cape Times bevind: “That they [verligte Afrikaanse editors] have succeeded at all [in discarding the myths and visions with which Afrikanerdom has long encumbered its sons], given the pressures to which they have been subjected, is a mark of courage.” Oor Die Volksblad het het hy onomwonde verklaar: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksbladhas shown consistent courage.”
Oor hoeveel lopies die “dapper” kolwer aangeteken het en hoeveel keer hy been voor paaltjie betrap is, trek McClurg ‘n sluier.