REDAKTEURS GEGRYP OOR FOTO’S



Ek en Danie met die boek.
Verbeel jou dat die Mona Lisa vir jou knipoog. So ‘n halleluja-oomblik het ek beleef toe die skilder Danie Marais van Langebaan Sondag oor my drumpel op Melkbos stap.

Danie teken sy naam by ‘n foto van sy skildery.

Ou koerantberigte.

Danie, Marie (met aksent op e), Karlo (6) en Luka (5) op ons stoep.
Wyle Andy Galloway, ‘n redaksielid van Volksblad,wat ook ‘n skilder was, het van Danie se koerantskildery te hore gekom en die wenk is Kaap toe aangegee dat dit nogal ‘n netjiese jubileumgeskenk kan wees. Daaroor het almal saamgestem. Die Nasionale Pers het dit vir R7 500 – ‘n klomp sakgeld vir ‘n student! – by Danie gekoop. Op ‘n swierige dinee in Oliewenhuis ter viering van Volksblad se eeufees is die skildery deur mnr. Ton Vosloo, voorsitter van die direksie, aan die koerant oorhandig.
Sy het ‘n generasie jong Afrikaanse vroue leer lees; meer as 40 boeke geskryf; tot vier boeke per jaar neergepen (lank voor rekenaars); onder ‘n rits skuilname (ook mansname) geskryf; vir die tydskrif Sarie Marais se eerste vervolgverhaal gesorg en in ’n stadium vervolgverhale in twee tydskrifte gelyktydig behartig.
Tog lyk dit of E.J.M. Fraser in ons herinneringe aan vroeëre Afrikaanse skrywers nie die plek beklee wat sy ongetwyfeld verdien nie. Haar dogter Carol Smit (90), weduwee van die bekende onkoloog prof. Ben Smit, woon op Melkbosstrand. Sy kan boeiend en met verstaanbare bewondering oor haar ma se skryfwerk praat.
Eleanor Fraser, ‘n nooi van McGregor, by Robertson, het haar hoofsaaklik toegespits op liefdesverhale, soms gemeng met ’n goeie skeut spanning, aksie en intrige. Daarmee wou sy jong Afrikaanse meisies aan die lees kry. Sy was bekommerd dat hulle ná die depressie as ‘n generasie nie-lesers grootword.
In die twee dekades tussen 1940 en 1960 het sy meer as 40 boeke die lig laat sien, meesal onder haar eie naam, maar ook onder verskeie skuilname waaronder die mans- of neutrale name Okkert Bosman en P.J. Rademeyer. Haar getroude van was Rautenbach (haar man was John William Rautenbach) en sy het die naam ook ‘n keer of wat in haar skryfwerk gebruik.
Met titels soos Die liefde van Karolien Wiese en Die huwelik van Elsa Martyn hoef ‘n mens nie te raai oor die aard van die betrokke verhale nie. In van haar boeke het spanning egter romanse as hooftema verdring. Vir die doel het sy die skuilname Okkert Bosman en PJ Rademeyer ingespan. As ek so na Carol luister, klink dit of veral “Bosman” se Tamboer van die dood die skryfster nogal na aan die hart gelê het.
Sy het ook kinder- en jeugverhale geskryf. Die jeugverhaal Kinders van die grens is ook in Engels uitgegee as Children of the border. Waarskynlik was sy self vir die Engelse weergawe verantwoordelik, want oor haar ma se voortreflike tweetaligheid kan Carol, wat Engels geörienteer is, liries raak.
In besonder vrugbare jare in die middel 50’s het tot vier boeke van haar per jaar verskyn.
Sy was ook ‘n kampioen van vervolgverhaalskrywers in tydskrifte, en word onthou as die skrywer van die heel eerste vervolgverhaal in Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949, meer as 70 jaar gelede, verskyn het. Die titel was Die liefde bedek alles, hoop alles… (Ek het, terloops, op besoek aan Bloemfontein saam met my oom-hulle in Maitlandstaat vir ‘n sikspens (5c) een van die eerste Saries vir my ma gekoop. Daarin was ook verhale uit die penne van bekendes soos Tryna du Toit, Marie Linde, Louise Behrens en G. Sutherland, asook artikels deur Elsa Joubert en M.E.R.) Fraser het ook vir latere politikus Blaar Coetzee se tydskrif Fyn Goud ‘n vervolgverhaal geskryf.
Eleanor Johanna Moir Fraser is in 1902 op McGregor gebore. Haar pa, Walter Moir Fraser, was die skoolhoof. Haar moeder was Aletta Catharina Rousseau. Haar susters S.E. Fraser en A.C. Sparks het ook skryfsters geword.
Reeds in haar kinderjare het sy uitgeblink met stories vertel. Op skool in McGregor het sy as redakteur saam met ’n paar skoolmaats ’n skoolweekblad uitgegee. Vreemd genoeg is sy nie joernalistiek toe nie, maar het sy haar as onderwyseres bekwaam. Terwyl sy skoolhou, het sy geskryf en geskryf.
Sy is op 11 September 1971 op 69 op Uitenhage oorlede.
(Carol is self lief om jeugherinneringe op te teken. Dalk verras sy nog en loop op 90 of daarna in haar ma se voetspore. Dit sal wel in Engels wees.)
Vir Johannes Moses het ek goed leer ken in my laaste vyf jaar by die Nasionale Pers in Kaapstad. Hy was om die beurt kelner en motorbestuurder en was in albei rolle die toonbeeld van ‘n netjiese, vriendelike, pligsgetroue en bekwame amptenaar.
Enkele dae gelede het ek Johannes weer gesien. Hy was op ‘n sending na Melkbosstrand. Vir my lyk hy nes die Johannes wat ek 25 jaar gelede gegroet het. Hy dra sy jare goed. Dat hy al 41 jaar by Naspers is, sal jy nie sê nie.
Vreemd soos dit klink – en ietwat van ‘n verleentheid vir my – is dat ek nou, in Mei 2023, in een lekker gesels met hom meer oor die gewaardeerde kollega te wete gekom het as in die vyf jaar (van 1992 tot 1997) dat ons saam op die 18de verdieping van die Nasperssentrum werksaam was.
Ek het geweet hy is ‘n gebore Vrystater. Nou weet ek eers dat hy van Gumtree kom, ‘n gehuggie tussen Ficksburg en Clocolan in die Oos-Vrystaat; dat hy op ‘n plaas grootgeword het en kleintyd koeie gemelk het, asook ‘n knap perderuiters en ‘n jokkie was.
Nou eers weet ek dat op 14 saam met ‘n oom Kaap toe gekom het wat hom opsluit in ‘n loopbaan in die boubedryf wou dwing. Pleks van skool gaan, moes hy in sy oom se agterplaas bakstene rondgooi.
Nou eers weet ek dat hy by ‘n Moslemgesin in Somerset-Wes ‘n heenkome gevind en in hul winkel uitgehelp het, dat hy op ‘n eerste grootoog-besoek aan Seepunt by die ou Arthur Seat-hotel ingestap het om vir enige werk aansoek te doen; dat hy hom opgewerk het tot ‘n gewilde sjef vir die personeel en dat hy later by die luukse-hotel Heerengracht ‘n kelner geword het.
Nou eers het ek gehoor hoe hy agter ‘n vriend aan na Die Burger is om aan die veeleisende nag- en naweek-skofwerkery van ‘n kelner te ontsnap en ‘n bode vir bekendes geword het, soos vir Sakkie van Zyl van die advertensie-afdeling.
Met die trek van Keeromstraat 30 na die huidige gebou in die Heerengracht – rondom 1980 as ek reg onthou – het die Nasionale Pers ‘n deftige eetkamer vir onthale gekry. Johannes se talente en ervaring is vir Andrew Marais, nuwe skakelhoof, in die oor gefluister.
Aanvanklik het Johannes op leengrondslag kom uithelp. Almal was verras oor sy kundigheid, tot met die dek van tafels en die skink van wyn. Gou wou Marais hom afrokkel. Van Zyl het egter vasgeskop: “As julle hom vat, sal ek twee mense in sy plek moet aanstel”.
Maraais het die toutrekkery gewen, en Johannes het nooit weer omgekyk nie. Hy was oornag in ‘n pos met ‘n beter salaris en met pensioenvoordele. Hy het boonop sy werk geniet. Net aanvanklik was daar ‘n klein komplikasie. Wanneer hy die aand laat moes werk, moes ‘n motorbestuurder ook laat aanbly om hom huis toe te vat. Hy is aangesê om te leer bestuur. ‘n Persmotor is tot sy beskikking gestel.
So gou was hy tuis agter die stuurwiel dat hy tussen sy kelnerpligte deur senior amptenare begin rondkarwei het. Vandag is dit sy nering. Hy ry die base rond in ‘n elektriese model Volvo – die eerste van die aard wat ek met my eie oë sien.
Wat ‘n ver pad het die kaalvoet-outjie van Gumtree nie gekom nie: van trippelpassies maak op ‘n plaasponie in die Oos-Vrystaat tot woerts-warts in die Moederstad met ‘n ultra-moderne spogkar. Al waaroor ek spyt is, is dat ek Johannes nie gevra het om my net een keer om die blok te vat nie. Nou sal hierdie mede-Vrystater daardie kringloop waarskynlik nooit self ook voltooi nie.
FOTO: Ek en Johannes poseer op Melkbos vir Tokkie
Moet koerante die wapenstorie nie onder banieropskrifte aanbied nie, vra ‘n joernalisvriend my gisteraand oor ‘n ottermaklottertjie. Dis ‘n prikkelende vraag. Die antwoord is nie so voor die hand liggend nie.
Gewis is die Amerikaanse ambassadeur se beskuldigende vinger aanduidend van ‘n enorme diplomatieke bokkerop en bevind die Suid-Afrikaanse regering hom in ‘n uiters ongemaklike situasie – amper soos iewers tussen die duiwel en die diep blou see.
Gewis kan die komplikasies en implikasies aan vele fronte geweldig wees. Onheilspellende scenarios word daaroor deur politieke kommentators en andere geskets.
Op die keper beskou, is in die stadium egter nog niks bewys nie. Die bewerings is lastig en die agterdog oor iets onheiligs loop dik, maar die saak hang in die lug. ‘n Groot storie kan kom … of dit kan ‘n nat klapper blyk te wees. Ek dink dus koerante hanteer die storie na waarde – nog duskant die vlak van ‘n banier.
Ek is bevrees my antwoord was vir my vriend ‘n teleurstelling. Hy het sy mes in vir Cyril Ramaphosa en hy soek bloed. Hy vra my toe na wat dan werklik in my oë as “groot storie” kwalifiseer. Moeilik om te definieer, maar onder die grootste stories in my era in redaksies tel wêreldskuddende eerstes soos die Appolo 11-maanlanding en prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting, kon ek hom meedeel.
Albei is onder reuse-baniere uitbasuin. Kyk die New York Times se driedek-kop met die maanlanding hierby.
Die sluipmoord op Pres. JF Kennedy in 1963 was, terloops. ’n eerste kennismaking met ’n koerant in skielike, koorsagtige, snelrat. Met die moord op HF Verwoerd drie jaar later was ek ’n jong hoofsubredakteur – self totaal oorstelp. Maar ’n spesiale uitgawe moes dringend uit.
’n Verdere (uiters onvolledige) lysie van groot nuus wat voorblaaie in my tyd oorheers het: 9/11, die Inligtingskandaal, die Bosoorlog, die Laingsburg-vloedramp; Prinses Di se dood; die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana; die Skêrmoord; die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg; die Challenger-ruimteramp; die Westdene-busramp; kol Mike Hoare se staatsgreep in die Seychelle; André Stander se rooftogte en skietdood in Florida, VSA; Sharpeville in 1961 en die Soweto-opstand in 1976; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein; die Kerkstraatbom; die Oceanos-ramp; die pedofiel Gert van Rooyen; die val van die Berlynse Muur, en les bes, die ontbanning van die ANC en vrylating van Nelson Mandela in 1992.
As ‘n mens uit die formidabele lys ‘n numero uno moet kies, kan jy verskillende maatstawwe aan die dag lệ.
Jy kan vra: watter storie het op die lang termyn die grootste impak op die lewens van die meeste mense gehad? In Suid-Afrikaanse konteks moet dit die politieke omwentelinge in 1992 wees. (Met die koms van die nuwe Suid-Afrika in 1994 was ek nie meer ‘n joernalis nie.)
Jy kan ook vra na die onmiddellike skokeffek op lesers. Dan sou die moord op Verwoerd in my boek die voorloper wees. Suid-Afrika was lamgeslaan.
(In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” (Naledi , Mei 2023) word stories oor van die stories vertel. Ek skryf ook oor hoe vrek moeilik dit soms is om te besluit wat die grootste nuus van die dag is. Die boek is nou uit. Bestel dit regstreeks by Tertia Swart – 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za of naledi.co.za (Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 (by jou voordeur afgelewer).
Hoe lank is die pad nie wat ‘n boek loop vandat jy die eerste woorde neergepen het totdat jy die pakkie van die drukkers af oopskeur, die kraakvars eindproduk in die hand hou, dit oopslaan en stadig deurblaai. Dikwels voel jy of die wag net nooit gaan ophou nie. Maar dan – as dit verby is – is die oomblikke soet.