
Twee uiters onwaarskynlike bedmaats wie se gesigte geen mens langs mekaar in enige galery sou verwag nie, is die Boererebel Jopie Fourie wat in 1915 tereggestel is deur Louis Botha se regering (links) en Dimitri Tsafendas wat dr. HF Verwoerd in 1966 met ‘n dolk in die Volksraad vermoor het.
Wat op aarde kan die skakel tussen die twee teenpole wees – as enige skakel hoegenaamd bestaan ?
Wel, ‘n skakel bestaan wel. Dit is dat foto’s van die twee op presies dieselfde wyse namens twee niksvermoedende Afrikaanse koerantredakteurs landmyne afgetrap het, met ongemaklike gevolge veral vir die een.
Die foto’s van Fourie en Tsafendas is deur naweektydskrif By (doerie tyd ‘n gewilde byvoegsel in Die Burger, Beeld en Die Volksblad ) geplaas. By se redaksiekantoor was in Kaapstad gesetel. Ironies genoeg word toe nie hy nie, ook nie die redakteur van Die Burger nie, maar die redakteurs van Beeld (Johannesburg) en Die Volksblad (Bloemfontein) deur die gereg gegryp en hof toe gesleep.
Ingewikkelde wetgewing was in daardie era nogg in plek oor watter veroordeeldes se foto’s geplaas mag word en wwtter nie. Redakteurs moes hul storie ken om dag vir dag deur die wetlike mynveld te maneuvreer.
Die Tsafendasfoto is in 1983 in By geplaas. Dit mag ingevolge die Gevangeniswet nie gebeur het nie, omdat Tsafendas agter tralies was. Die redakteur van Die Volksblad – wat toe die uwe was -is met R100 beboet, al het hy geen regstreekse rol – inderdaad hoegenaamd geen rol – in die oortreding gespeel nie.
Oor my botsing met die gereg skryf ek in Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord wat vroeër die maand by Naledi verskyn het. Skaars was die ink van die boek droog, toe ek van Ton Vosloo, gewese grootbaas van Naspers, ‘n brokkie oor sy – veel erger – penarie met die Jopie Fouriefoto verneem.
Circa 1977 is Vosloo – toe redakteur van Beeld – naamlik- in die Johannesburgse landdroshof met ‘n stewige R1 000 beboet omdat Beeld die foto van ‘n tereggestelde gedra het.
Vosloo het nie R1 000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem en vingerafdrukke geneem. Hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese, bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.
Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou Vosloo ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kwaai kon benadeel het!
Beter bewys kan daar kwalik wees van hoe party NP-ministers, soos veral Jimmy Kruger, minister van justisie van 1974 tot 1979, hul mes ingehad het vir koerante
Dave Dalling, Prog-LV vir Sandton, het ’n keer in die Volksraad beweer agt redakteurs het vonnisse of aanklagte teen hulle. “Die moeras van wetgewing wat die publikasie van koerante aan bande lê, maak misdadigers van Suid-Afrika se redakteurs!” Ook daarvan bied die twee gevalle bewys, sou ek reken.
Hoe spyt is ek nie dat die Voslobrokkie nie in my boek verskyn nie!
As jy hom – ondanks sulke gebreke! – tog wil aanskaf, klik net op https://naledi.co.za/ of skakel Tertia Swart (078 648 8616). . Kry dit by jou voordeur afgelewer sonder enige ekstra koste.