CONFETTI WAAI EN LINT WORD VODDE

Vriendelike taksering van “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” in ‘n gewaardeerde lesersindruk van kollega Sarel Venter op litnet:

Die Rubicon na moderne inligtingstegnologie is deeglik oorgesteek die dag toe Hennie van Deventer (uiteindelik!) sy tikmasjien vir ’n rekenaar (destyds ’n woordverwerker genoem) verruil het.

Vir hom as redakteur van Die Volksblad (toe nog met die Die) het sy sekretaresse al sy skryfwerk (kommentare, artikels en briewe) op haar rekenaar oorgetik in die redaksionele stelsel.

Hoeveel sy vlytige vingers in sy koerantloopbaan geproduseer het, sal niemand weet nie. Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.

…..
Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.
…..

Ná sy aftrede as koerantehoof van Naspers het sy groot aanslag op die geskrewe woord met mening toegeneem en sowat 23 boeke, talryke blogs, artikels, koerantbriewe en Facebook-inskrywings het hul verskyning gemaak.

Dit maak Van Deventer ’n besonder gedokumenteerde skrywer ná sy sewe boeke met ’n binneblik op die koerantwêreld, asook outobiografiese werke, huldeblyke, grafskrifte, reisbeskrywings oor verskeie seereise en soms suiwer prosa oor die lewe van diere en mense in Sabiepark, hul boshuis daar digby die Krugerwildtuin.

En selfs ’n boek oor troeteldiere!

Hy het sy boek Koerantkamerade (Naledi, 2021) sy laaste boek genoem. Maar soos Ton Vosloo dit in die voorwoord van Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord dit stel: “Van Deventer is ’n gelaaide arsenaal en ’n vulkaan wat bly prut en af en toe, en onverwags, slaan hy weer toe.”

Soos inderdaad met hierdie Mooi nooi-boek wat ’n joernaal van scoops en skandes in die koerantwêreld is.

In sy voorwoord haal Van Deventer twee gesoute Afrikaanse digters aan oor die resep vir sukses van ’n geslaagde koerant.

Uit DJ Opperman se Joernaal van Jorik:

Gee ontspanning, hou die massas dop;
Gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
En stoot die sirkulasiesyfers op.

En uit digter Pirow Bekker (oud-hoofsubredakteur van Die Volksblad) se Peins oor die plakkaat:

Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.

“Die vraag is,” skryf Van Deventer, “wat gee ’n koerant skop?” Meisies en moorde, of om elke dag die lesers vol vrees te pomp?

Koerantlesers of diegene wat self Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord aanskaf en lees, kan self oordeel en besluit. Kyk maar na die opskrifte van ’n klompie van die essays (waarvan baie voorbladberigte was):

  • “Hartstog, jaloesie… en ’n skêr (ja, die skêrmoord!)”
  • “Beelde met boesems”
  • “Man in die modder of man op die maan”
  • “Kaalbas-redakteurs”
  • “Sannie het gaan water haal”
  • “Raaisel van die Rietbok”
  • “Onder haar naeltjie”
  • “As die aarde skeur”
  • “Toe’s die ganse land op hol”
  • “Slae vir Charlize”
  • “PW se dogters”

Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord voer die leser langs ver paaie van herinneringe oor polemieke, petaljes, rusies en romanses, herries en hofsake.

Dit is regtig ’n lekker en lesenswaardige boek hierdie. Of dit Van Deventer se laaste boek is, sal ons maar moet sien.

AGENDA MET SOET EN SUUR

Enigeen vir dubbels?

Op 10 Julie 1998 het die Van Deventer hul eerste algemene jaarvergadering van Sabiepark in ‘n tent by die piekniekplek langs die Sabierivier bygewoon. Was dit nie vir Covid nie, was dit Saterdag  nommer 25. Vir my was dit besonders – amper emosioneel – dat ek ‘n mosie kon indien – die enigste.  Miskien was dit die laaste jaarvergadering: wie weet?

Die baadjie wat ek aangehad het, kom van die eerste AJV af saam met my. ‘n Mede-Sabieparker, Brenda Thompson, sien dit toe raak en kom sê vir my: “Ek sien jy het jou AJV-baadjie aan.” Jy kon my met ‘n tarentaalveertjie ompik dat sy die baadjie so goed onthou.

By die vergadering was Patson Ndlovu met wie ons sedert die eerste dag 25 jaar gelede ‘n pad hier saam loop, een van die trotse ontvangers van trofees vir 30 jaar diens. Tokkie het ‘n foto geneem waar ek hom geluk wens by een van die groot vir die tradisionele agternabraai met pap en die heerlikste tamatie-en-uie-smoor (sheba) waarvan jy kan droom.  Ook ons ander eetgoedjies was ‘n fees vir die oog … en die maag. Sabiepark, daar is een soos jy.

Aan die woord.

Vele vriendskapsbande word by  hierdie vergaderings hernuwe wanneer eienaars uit elke windrigting opruk. Min bande sal in lang duur kan kers vashou by die een van Tokkie en Mrad Shahia van Pretoria wat uit 60’s op Bultfontein in die Vrystaat strek.

Die twee was dubbelspelmaats in hul skool se eerste tennisspan in 1962. Van 31 Desember 1966 af is ek en sy spanmaats (ook dubbelbedmaats).

‘n Treurige element van die jaarvergadering is om die lys van die jaar se afgestorwenes te verneem.  Op vanjaar se lys was Sally Dulek (75), vrou van prof. Ronald Dulek van Alabama, skrywer van die spitsvondige “Sitting with elephants”. Op my boodskappie van meegevoel het hy o.m. soos volg geantwoord:

”Thank you for the kind thoughts and words.  They mean much. My children have joined me in Sabie Park and we have prepared a place for Sally between two of her favorite Impala Lillies.  She has been unable to come to Sabiepark since 2019, but now her ashes and spirit reside where she loved.  An added bonus is that I will need to return frequently to care for the site.  P.S.  Since I know of no one who loves Sabiepark more then the two of you, I believe you will understand the sentiments of my actions more than anyone.””

By die Donderdagvergadering was die uitstel van opgradering van die manskleedkamers by Sabiepark se swembad ter aprake.  My stem was ten gunste van opgradering as prioriteit omdat ‘n nare 2008-ervaring nie net letsels gelaat het op die toilet se deur nie, maar ook op die uwe se gemoed. ‘n Nuwe deur sal al help om albei letsels uit te wis. Dit het so gebeur:

Met ‘n toets teen die All Blacks op Carisbrook, die sogenaamde “House of Pain” in Dunedin, loop ek rustyd in Sabiepark ‘n draai. Ek is só dom om die deur agter my op slot te trek. Dit haak toe vas. Met die wedstryd op ‘n mespunt, sit ek, arme drommel, toe amper 20 minute vas terwyl Samaritane met skroewedraaiers en hamers poog om my uit my eie “huisie van pyn ” te ontset.

Gerrie van Niekerk, parkhoof, is later persoonlik op die toneel. Sy plan is om die skarniere se pennetjies uit te kap. Daarvoor is ‘n hamer en ‘n lang spyker nodig. Twee helpers word afgevaardig om die nodige te gaan haal. Uiteindelik verskyn hulp in die vorm van die arbeider Klein Alfred (intussen oorlede) se vriendelike gesig oor die muur. My Samaritaan klim oor en begin pynlik stadig kap, kap, kap – eers die onderste, toe die boonste skarnier.

Toe ek ná die bevryding die TV-kamer instap, het die nuus al wyd versprei wat die rede vir my vertraagde verskyning is. Simpatieke applous klink op. “Nog 20 minute oor” sê kommentator Hugh Bladen op daardie oomblik. Gelukkig is ek betyds vir ‘n droom-solodrie deur skrumskakel Ricky Januarie, wat ‘n soete sege uit die kake van ‘n nederlaag pluk.

Toe die eindfluitjie blaas, brul dit in daardie TV-kamer dat die leeus dit seker tot oorkant die rivier in die Krugerwildtuin kan hoor. Ook die uwe staan regop en swaai triomfantlik my arms. Maar nooit weer sal ek in rustyd van ‘n kritieke rugbywedstryd ‘n toiletdeur sluit nie

Naskrif: Op 27 Junie was ons bevoorreg om in Sabiepark die 59ste verjaardag van Louis Nel by te woon. By vrolike ballonne op die stoep van hul boshuis het ons verjaardagkoek, koesisters en heerlike vleispasteitjies saam met die verjaardagman en sy ouers, ons goeie vriende Frik en Martie Nel van Montana, Pretoria, geniet. Louis wat by gevoorte breinbeserings opgedoen het, is een van die bekende en geliefde gesigte van Sabiepark. Hoe lief is hy nie ook vir die plek nie.

REUK VAN PIESANGS

Hoe ver kan ‘n bosnagaap ‘n piesang ruik?

Dat sy kos – veral boomgom, bloeisels, sade en vrugte – gewoonlik deur reuk opgespoor word, is bekend. Daarvan het ons heelwat ervaring. Elke aand word op ons “piesangtafel” in Sabiepark sterk meegeding om die lekkerny. ‘n Gulsige mannetjie maak ‘n tafel vinnig skoon terwyl sy minderes lippe aflek.

Piesang is klaarbyklik ‘n prima-lekkerny.  Die vraag oor watter afstand die reuk sy mond kan laat water,  het by my opgekom na die eienaardige gedrag Saterdagaand van een van die twee gereelde bosnagaap-besoekers wat die vakansie gewoonlik omstreeks 18:00 so stil-stil hul opwagting maak. Jy sien dan net die katagtige dier met sy  lan-a-ang stert van tot 50 cm  – die langste deel van sy lyf – grasieus teen ‘n jakkalsebessie se stam afseil en die skyfies piesang met mening takel. Soos ‘n dorsmasjien ryg hy dit in.  As jy nie wakker is nie, loop jy dit mis, want al wat jy hoor, is ‘n effense blaregeritsel.

Net voor slapenstyd Saterdagaand eet die uwe ‘n piesang by die groter stoeptafel – ‘n hele ent van die “piesangtafel” af.  Waar ta geskuil het, weet ek nie.  Maar voordat jy kon sê mes, het die aroma hom bereik.  Hy sak langs sy gewone roete op die stoep toe met doelgerigtheid en entoesiasme.

Toe hy die tafel leeg vind, reageer hy egter soos ‘n berserker: draf om en om die swembad, spring op die lêstoel, staan pennetjie-regop soos ‘n meerkat en kom snuif selfs onder die groot tafel. Daardie groot oë bly op die piesang-bevoordeelde mensekind gevestig. Die aanvaarding dat die piesang op is, sink traag by hom in. Dis of hy omkyk-omkyk onwillig padgee. Toe gaan sit hy in ‘n boom en skel. Nes ‘n baba wat huil.

Die kleiner nagapies is eintlik ons gunstelinge. Ons moedig hulle stil stil aan om so vinnig moontlik weg te lê voordat die groter bosnagaap opdaag.  Maar laasgenoemde verskaf darem uit eie reg ook vir ons en ons gaste plesier. Veral baie stedelinge sien hulle die eerste keer as hulle hier in die bos kom kuier en is verstom oor die enorme stert en grasieuse bewegings.

‘n Besonderse aand was toe ‘n nuwe mamma een aand haar kleinding vir ons kom wys. Toe sy seker is, ons het gesien, verdxwyn sy weer in die takke van ‘n maroela, gaan deponeer die kleintjie en keer terug om te oes.

 

VERRASSINGS WAT WAG BY DIE KRUGERBRUG

Die kleurekontras tussen die houtskool van ’n olifant se enorme lyf, die wit van sy tande, die blou van water, asook die verskillende skakerings groen van gras en allerlei riviergewasse sorg altyd vir ‘n treffende natuurprentjie.  Jy kan net die kamera mik en die knoppie druk.

Hierdie foto van daardie aard is vanoggend by die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek van die wildtuin geneem. Drie olifante het vlak langs die brug se relings gawe fotogeleenthede geskep – ook vir selfies.

Die drie olifante – nadat die gewoonlik volop spesie ons tot dusver hierdie wintervakansie ontwyk het – onderstreep my gereelde raad aan kuiergaste in Sabiepark: As jy gelukkig is, kan jou wildtuin-ervaring begin voordat jy die Krugerhek binnery.

Ja-nee, dis raadsaam om stadig en rondkyk-rondkyk te ry sodra jy die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Party mense jaag blindelings oor die brug hek toe. Hulle besef seker nie wat hulle alles kan miskyk nie.

Teeltroppe olifante kom gereeld hierlangs in die Sabie voor. Dit is ‘n “uithangplek” waar die grootvoete graag hul slurpe laat sak.  Besoekers het al hope olifante buite die hek afgeneem. Selfs teenaan, en in skynbare “gesprek” met, die forse granietbeeld van Pres. Paul Kruger.  Twee keer het olifante ons ingewag langs die groot bord wat lui: “Welcome to the Kruger National Park”. Dit was asof hulle gekontrakteer is vir reklamefoto’s vir Sanparke. Wonder wat sou ‘n olifant se tarief per uur wees! Gelukkig was my kamera albei kere byderhand.

Soms dam die motors op die Krugerbrug op soos op ‘n Saterdagoggend by ‘n stedelike sakesentrum. Skares mense hang oor die relings. Kameras flits.

Allerlei ander verrassings is moontlik, byvoorbeeld ‘n klompie bemodderde buffels, ‘n verdwaalde renoster (dalk nie meer nie) of selfs ‘n leeu of luiperd – ‘n gelukkie wat ons een Sondagoggend op pad Skukuzakerk toe oorgekom het.   Amper was ons nie betyds vir die laaste gelui nie.

 

 

 

VERE WAAI OOR VENSTERS

Ek ken withelmlaksmanne as woeilige Bosveld-voëtjies wat gewoonlik in groepies van 10 tot 15 laag bo die grond van bos tot bos woerts agter goggatjies aan.  Gewoonlik is hulle bedeesd en stil. Jy raak net bewus van ‘n skielike vlinderagtige beweging – die volgende oomblik is dit net laksmannetjies waar jy kyk.

Soms as iets enetjie ontstel, sal hy ‘n geluid uiter. Die ander snater dan agterna.  Gou keer die bedeesdheid terug.

Allesbehalwe bedeesd was hul gedrag ‘n dag of wat gelede by ons boshuis, Tarlehoet, in Sabiepark.  Eers hoor ons ‘n onheilspellende geluid wat klink soos iemand wat die huis met ‘n klip bestook.  Bobbejaan dalk?  As hulle al menslike wandade pleeg soos om ‘n skuifdeur uit te lig –ja, hulle doen dit! – sal ‘n klipgooiery na ‘n verleidelike teiken my min verbaas.

Maar nee, geen bobbejaan in sig nie.  Die derde, vierde keer toe ons na buite storm om die vreemde klapgeluid te ontsyfer, bemerk ek die enkele withelmlaksman wat, vlerke oopgesprei en vere wat in alle rigtings staan, die boonste badkamervenster aanrand.

Die woord “aanrand” word ná deeglike oorweging gebruik.  Dis geen pip-pik-pik soos ek ‘n tarentaal al sien doen het nie, maar ‘n volskaalse bombardement met lyf, pote en snawel, die lot.

So moes dit omtrent vir pres, Ramaphosa in die bomskuiling in Kiëf (my spelling en ek staan daarby) geklink het toe die Poetin-missiele op die stad begin reën!

‘n Goeie 10 minute duur die aanval by Tarlehoet. Toe gee die ou pad. Maar hy gee nie pad om pad te gee nie. Hy vlieg weg om versterkings te gaan haal.

Kort daarna lok ‘n eenders stampgeluid as die eie aanvanklike een ons na buite. Maar nou is dit nie een voël met ‘n solo-aanslag nie.  Dis ses of sewe van hulle.  Dis nou ook nie meer net die badkamervenster wat geteiken word nie. Al die boonste vensters word met drif bygedam.

Dat hul ewebeelde in glas, veral getinte glas, ‘n verskeidenheid voëls se aggressie uitlok, is bekend. Wat kom soek die onbekende uitdager/s dan in hul gebied?  ‘n Enkele gedagte oorheers in die veronregt/s se kop/pe: Weg met jou/julle!

In die proses word soveel stoom opgebou dat die eie bloed soms loop, veral in broeityd.

In 25 jaar in Sabiepark het ek egter nog nooit withelmlaksmanne so boosaardig sien optree nie. Merk dit dus af as loshande die ongewoonste belewenis van die eerste van ons nege winterweke hier.

Voorheen was die vreemdste withelmlaksman-gedrag wat ons ervaar het, ‘n neiging om op ‘n snikhete somerdag oopbek onder stoepmeubels te kom skadu soek.  Kyk foto 2 hierby.  Dit is op ‘n keer deur Sabieparker Brenda Thompson geneem.

NASKRIF: Van die eerste aand die kom die nagapies en die bosnagape konstant. Elke aand ding twee van die ou grotes mekaar mee vir die laaste skyfie piesang.  Hulle wil mekaar net vat. Een geniet duidelik patriargale of ‘n ander voordeel. Hy wen keer op keer.  Ook bloukuifloeries bly bedrywig. Jy hoor hulle aaneen kok-kok-kok. ‘n Keer was vier tegelyk in en om die voëlbad.

‘n REKORD OF NIE ‘n REKORD NIE?

Deel van Volkies se atliekspan. HvD is links in die vierde ry.

Nes Comradeskampioene Tete Dijana en “Goue Gerda “Steyn het ‘n jong Hennie van Deventer ‘n rekord “verpletter” – oor ‘n effense korter afstand.

Anders as hulle is hy nie met blomme bestrooi, deur Jan Rap en sy maat om die hals geval en boonop met ‘n hoop geld beloon nie. Die kordaatstuk was ook nie voorbladnuus nie.
Inteendeel, die stomme Hennie se brose kindergemoed moes die pyn verwerk dat sy rekord – sy enigste, enigste ooilam-rekord ooit top die atletiekbaan – wreed verbeurd verklaar is. ‘n Bruuske aakondiging is oor luidsprekers uitgedawer en die wedloop moes oorgehardloop word.
Dit het in 1957 gebeur, 66 jaar gelede by die skolesport op Volkies, Potchefstroom: ‘n tianiese stryd tussen die Atheners, Spartane en Trojane.
Hierdie trotse Athener met die geel strikkie op die bors wen toe die 150 tree onder sestien. ‘n Rekord word aangekondig. Almal juig. Daarna paradeer hy oral op die baan sodat geen meisie tog die breker moet miskyk nie.
Toe kom die ontnugtering. Ons het te kort gehardloop. Die aflosstrepe het die afsitter, Oom Stoney, verwar. Verpletterende nuus! Ek wen die regte 150 tree darem weer. (Die vinnige Fido Barnard het nie deelgeneem nie.) Die tyd is egter ver van ‘n rekord.
By nabaat, mymer ek vandag oor die regverdigheid van die ou lewe. As Tete en Gerda se rekords erken word, hoekom is Hennie s’n dan misken? Is daardie terugslag nie dalk sogenaamde “kinderbagasie” wat ek al my lewe lank met my moes saamdra nie?.
Moet ek dalk appelleer? Of moet ek op die rype ouderdom van 82 maar vrede daarmee maak dat dit is hoe die koekie vir my gekrummel het? Ek skat laasgenoemde.