
Die kleurekontras tussen die houtskool van ’n olifant se enorme lyf, die wit van sy tande, die blou van water, asook die verskillende skakerings groen van gras en allerlei riviergewasse sorg altyd vir ‘n treffende natuurprentjie. Jy kan net die kamera mik en die knoppie druk.
Hierdie foto van daardie aard is vanoggend by die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek van die wildtuin geneem. Drie olifante het vlak langs die brug se relings gawe fotogeleenthede geskep – ook vir selfies.
Die drie olifante – nadat die gewoonlik volop spesie ons tot dusver hierdie wintervakansie ontwyk het – onderstreep my gereelde raad aan kuiergaste in Sabiepark: As jy gelukkig is, kan jou wildtuin-ervaring begin voordat jy die Krugerhek binnery.
Ja-nee, dis raadsaam om stadig en rondkyk-rondkyk te ry sodra jy die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Party mense jaag blindelings oor die brug hek toe. Hulle besef seker nie wat hulle alles kan miskyk nie.
Teeltroppe olifante kom gereeld hierlangs in die Sabie voor. Dit is ‘n “uithangplek” waar die grootvoete graag hul slurpe laat sak. Besoekers het al hope olifante buite die hek afgeneem. Selfs teenaan, en in skynbare “gesprek” met, die forse granietbeeld van Pres. Paul Kruger. Twee keer het olifante ons ingewag langs die groot bord wat lui: “Welcome to the Kruger National Park”. Dit was asof hulle gekontrakteer is vir reklamefoto’s vir Sanparke. Wonder wat sou ‘n olifant se tarief per uur wees! Gelukkig was my kamera albei kere byderhand.
Soms dam die motors op die Krugerbrug op soos op ‘n Saterdagoggend by ‘n stedelike sakesentrum. Skares mense hang oor die relings. Kameras flits.
Allerlei ander verrassings is moontlik, byvoorbeeld ‘n klompie bemodderde buffels, ‘n verdwaalde renoster (dalk nie meer nie) of selfs ‘n leeu of luiperd – ‘n gelukkie wat ons een Sondagoggend op pad Skukuzakerk toe oorgekom het. Amper was ons nie betyds vir die laaste gelui nie.