
Deel van Volkies se atliekspan. HvD is links in die vierde ry.
Nes Comradeskampioene Tete Dijana en “Goue Gerda “Steyn het ‘n jong Hennie van Deventer ‘n rekord “verpletter” – oor ‘n effense korter afstand.
Anders as hulle is hy nie met blomme bestrooi, deur Jan Rap en sy maat om die hals geval en boonop met ‘n hoop geld beloon nie. Die kordaatstuk was ook nie voorbladnuus nie.
Inteendeel, die stomme Hennie se brose kindergemoed moes die pyn verwerk dat sy rekord – sy enigste, enigste ooilam-rekord ooit top die atletiekbaan – wreed verbeurd verklaar is. ‘n Bruuske aakondiging is oor luidsprekers uitgedawer en die wedloop moes oorgehardloop word.
Dit het in 1957 gebeur, 66 jaar gelede by die skolesport op Volkies, Potchefstroom: ‘n tianiese stryd tussen die Atheners, Spartane en Trojane.
Hierdie trotse Athener met die geel strikkie op die bors wen toe die 150 tree onder sestien. ‘n Rekord word aangekondig. Almal juig. Daarna paradeer hy oral op die baan sodat geen meisie tog die breker moet miskyk nie.
Toe kom die ontnugtering. Ons het te kort gehardloop. Die aflosstrepe het die afsitter, Oom Stoney, verwar. Verpletterende nuus! Ek wen die regte 150 tree darem weer. (Die vinnige Fido Barnard het nie deelgeneem nie.) Die tyd is egter ver van ‘n rekord.
By nabaat, mymer ek vandag oor die regverdigheid van die ou lewe. As Tete en Gerda se rekords erken word, hoekom is Hennie s’n dan misken? Is daardie terugslag nie dalk sogenaamde “kinderbagasie” wat ek al my lewe lank met my moes saamdra nie?.
Moet ek dalk appelleer? Of moet ek op die rype ouderdom van 82 maar vrede daarmee maak dat dit is hoe die koekie vir my gekrummel het? Ek skat laasgenoemde.