‘n SUPER-TAMAAIE BADKAMER

As ‘n kompetisie sou bestaan om die grootste badkamer in ‘n gastehuis of iets dergeliks te vind – en ook nie net in Suid-Afrika nie – het ek my kandidaat.
Dalk in Steyn City by Johannesburg? Of in die Val de Vie-landgoed by die Paarl? Iewers in die laadieda-buurte van Kaapstad soos Constantia of Clifton? Iets meer landelik op ‘n eksklusiewe wildreservaat soos Londolozi of Mala-Mala?
Aikona. My kandidaat is op beskeie Bultfontein.
Bultfontein? Ja, man, daai Vrystaatse dorpie so 100 km wes van Bloemfontein in die mieliedriehoek, buurdorp van Brandfort, Hoopstad, Hertzogville en Wesselsbron onder meer.
Jy glo my nie? Gaan kyk gerus self en raak oortuig. Jy sal jou oë nie glo nie. Dit waarborg ek jou.
‘n Goeie roete is om by Brandfort die Dealesvillepad te vat. Ry jy van Bloemfontein af moet jy pas op vir die slaggate, veral tussen Soetdoring en Soutpan. Die goed is endemies.
Iemand vertel my hy het self gesien hoe ‘n Land Rover Discovery op ‘n plat vragmotor daar weggery is toe die bestuurder te onverskilllig wou aanstoot. Hou die naald maar so by die 60 op die slegste stukke.
Gaan soek dan op Bultfontein na Andrew Murraystraat . Op die hoek is Lentehof, voorheen Louisehof waar my skoonma, Marietjie van Wyk, in die 70’s gewoon het.
Die gastehuis se naam is Die Villa. Die nommer het ek nou vergeet, maar jy kan hom nie mis nie. So ‘n kastelerige plek in ‘n Spaanserige boustyl. Kyk die foto bo links in die collage hierby. Daar is nie ‘n ander naastenby ewe groot huis op die dorp nie.
Jy sal vriendelik ontvang word deur Elma Slabbert, ‘n joviale, hulpvaardige boervrou , voorheen van die distrik Soutpan. Sy is die bestuurder en woon in die huis in een van sy vele hoekies.
Die ruim sitkamer, TV-kamer, kombuis en konferensiekamer gaan jou al tref. Ook die ligtoebehore en massiewe skilderye. Maar dis die badkamer van die hoofslaapkamer waarna ek jou graag verwys.
Sê maar vir Elma Hennie van Deventer van Melkbos het jou gestuur om te kom kyk: die ou gryse met die kierie wat so dringend by haar ‘n kurktrekker kom leen het.
As jy wil, kan jy die reuse-badkamer se grote aftree soos ek inderdaad twee keer gedoen het. Dis so groot soos ‘n dubbelmotorhuis – so naastenby 40 vk. meter; 13 meter in lengte en drie meter breed.
In die een hoek is ‘n gekurfde praalbad wat jy met ‘n trappie bestyg. Kyk die foto bo regs.
In ‘n ander hoek is ‘n tamaaie dubbelstort agter ‘n deursigtige glasafskorting . Dis die foto onder regs.
Tussen die bad en die storte is twee wasbakke op ‘n donker houtblad so groot soos ‘n eetkamertafel. Dis hulle daardie op die foto onder links.
Die toilet? Nee, dié is enkel. Maar ook super de luxe, hoor, en so solied soos ‘n troon.
Ene Gert Meiring het die kasarmte in die 70’s gebou. Sy pa was ‘n ryk mielieboer, en hy glo die enigste matriekseun wat destyds met sy eie tjekboek in sy eie motor rondgery het. Later het hy onder meer ‘n inryteater by Bultfontein gebou. Ongelukkig nie winsgewend gewees nie.
In ‘n stadium het ‘n dr. Neser daar gewoon. Die huidige eienaar is ‘n inkommer, Volla du Plessis. Hy rig steeds net meer kamers in, want die Villa is by besoekers aan die dorp nogal gesog. So lyk dit.
In Die Villa het die mense van die misipaal (my kollega Johan van Wyk van Stop van Myne se woord) ook graag hul konferensies en opleidingsessies kom hou. Maar toe raak die geld skraps. Deesdae is die stadsaal hul voorland – iets waaroor hulle mor, want die eetgoed is nie rojaal nie en die toilette nie altyd so silwerskoon nie.
Dit egter net terloops. Dis oor daardie enorme badkamer wat dit hier gaan. As ‘n groter een in ‘n oornagplek iewers bestaan, sal ek graag daarvan te hore kom.
Die kanse is egter gering, glo hierdie waarnemer wat in sy 82 jaar op aarde sy voete op verskeie vastelande kon sit en nog nie tevore ‘n badkamer met soveel spasie gesien het nie. Njannies.

TERUG NA DIE PLEK WAAR ONS TROU GESWEER HET

Nou ook al amper 57 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp, Bultfontein, in die huwelik bevestig. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n netjiese, soliede siersteengebou met ‘n tradisionele hoë toring. Die klok lui elke halfuur.
Neffens die kerk is die ou begraafplaas waar Tokkie se vroeg gestorwe pa, Kotie, begrawe lê en waar later ook vir haar ma, Marietjie, ‘n mooi steentjie aangebring is. Die rye grafstene diens as dekor op verskeie van ons troufoto’s. Die plek lyk nou ongelukkig taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak
Nes sommige misdadigers, veral sosiapate, graag terugkeer na die misdaadtoneel om hulle te verlustig, is die egpaar Van Deventer verlede Sondag saam met ‘n klompie van die bruid se matriekmaats weer die steil trappies van daardie kerk op vir die oggend se erediens. Darem nie om ‘n “misdaadtoneel” te herbesoek nie, maar uit ‘n sentimentele drang.
Laat ek maar erken: ‘n roering van emosie in my 82-jarige hart was fisiek voelbaar toe my oog op die formele houtkansel val waar ek daardie middag, swetend in my houtskoolswart pak met die fyn wit strepies, angstig op my skone jong bruid staan en wag het. Tokkie (net 20) was vir my eteries mooi toe sy net ná 15:30 stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk ingesweef kom.
Wyle Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. My neef wyle Bertus du Plessis – ’n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was – kon sy spreke plegtig spreek.
Wyle Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….” Ons het aan mekaar trou gesweer en mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid liggies gesoen.
In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega wyle Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, Tokkie gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Ek het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is. Hier is ‘n paar.
Ek het my vrou van 56 jaar en 9 maande ná Sondag se diens weer afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste op 31 Desember 1966 met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het. Dis die vars foto hierbo.
Om die NG kerk Bultfontein te herbesoek, het om meer as een rede vreugdevolle herinneringe gebring. As aflos-orrelis was Tokkie as skoolmeisie dikwels ook in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Sy het ook daar belydenis van geloof afgele.
‘n Herinnering om oor te proes, is aan skoonma Marietjie se onderonsie met ‘n verdekselse meerkat in die jare 60. Soos ek dit het, was sy – ‘n diep gelowige kerkmens – in die gewyde stilte voor die begin van die diens diep in gedagte versonke toe sy ‘n ongewone gevroetel by haar voete ervaar. Toe sy afkyk, sien sy net waaierstert. Die kreet wat haar lippe ontsnap het, was ‘n hulpgeroep na Bo. Meerkat se kind het vreesbevange laat spat.
Later kon skoonma nie glo nie dat sy van alle mense – iemand in wie se woordeskat nie vir kragwoorde plek was nie – so groot kon skrik dat sy haar sulke oneerbiedige vrymoedigheid veroorloof het.

KLEURRYKE KAROO ‘n BLOMMEFEES

Was ek ‘n C. Louis Leipoldt het ek ‘n sonnet geskryf oor die asemrowende blommetonele langs die N1 in die suidelike Karoo.
Rondom Laingsburg strek die lappe donkerpienk, geel en donsige wit blomme tot teen die horison. Die heuwels leef nie van musiek soos in “The Sound of Music” nie, maar van ‘n blommekleed so ver die oog kan sien.
As jy twyfel of Oktober werklik die “mooiste, mooiste maand” is, klim dadelik in jou kar en sit af Laingsburg toe. Agterna sal jy moet saamstem: in die veld rondom die dorp kan niks ooit Oktober se skoonheid troef nie.
Vir my was dit ‘n volslae verrassing en ‘n een-keer-in-‘n-leeftyd –ervaring om die wêreld so te sien. Kilometers aaneen maak die Karoobossies ruikers.
Jy is eintlik dankbaar as padwerke jou laat stilhou dat jy die skoonheid rustiger kan indrink. Wens ek het die name geken.
Trouens, die hele roete van Laingsburg af Melkbos toe was ‘n fees: die kleurryke vlaktes, uitgestrekte jong wingerde, indrukwekkende berge, koringlande en vreedsame landelikheid met troppe skape en beeste.
‘n Teenoorgestelde ervaring het tussen Brandfort en Bultfontein gewag. Verwoestende veldbrande het gesorg vir benouende verskroeide aarde – die beklemmende pikswart van ‘n kontrei in rou.
‘n Somberheid kom sit swaar in jou gees as jy ‘n allenige duikertjie gewaar sonder ‘n sprietjie groen wat die belofte van kos inhou.
So het ek daardie wêreld ook nog nooit gesien nie. Hopelik was dit ‘n eerste en ‘n laaste.
• Op die foto bo en saamgestelde foto ionder s tonele rondom Laingsburg by twee stop-ry-versperrings waar ons voorgekeer is.
Kan 'n prent van Lewisia wees

MATRIEKS VAN ’63 PLUK WEER DIE DAG

Rapport uit Bultfontein, Vrystaat – 1 130km van Melkbos – oor die matriek-plus-60-fees van Tokkie (‘n nooi Van Wyk) se matriekklas van 1963 deur ‘n ou wat maar grootlik in die hoekie gesit en sy bek gehou het. En het die 15-stuks nie gekuier nie, van Vrydagaand af, Saterdag heeldag deur. Bittereinders het nog die Iere teen die Skotte gaan aanmoedig.

Die voortreflike skool se leuse “carpe diem” is met die feestelikheid waarlik uitgeleef.

Verrasssing van die okkasie: die saamkuier van die 92-jarige Antonie Fivaz, een van hul onderwysers. Die man het stamina en ‘n humorsin soos min. Kwinklslae rol oor sy lippe.

Rede vir die klomp om bors uit te stoot: die voortreflike toestand van hul ou skool. Al die geriewe is van hoogstaande gehalte. Hierdie trotse Volkie van Potchefstroom erken dit met graagte. As alle plattelandse skole so sou lyk, was Suid-Afrika se saak gewonne.

Saterdagaand is skaap van die spit af geniet – meesterlik voorberei deur Sias van Rensburg, ‘n klasmaat , en sy flukse gesin, So murgsag het ek nog nie skaapvleis geproe nie!

‘n Biezondere voorreg is dit vir my  om  enkele foto’s vir die nageslag hier te verewig. Uit die hope en hope wat op duur, gesofistikeerde kameras, eenvoudiger kameras, Apple iphones, asook Samsung- en ander selfone gekiek is, het ek (met ‘n natuurlike vooroordeel ten gunste van mev. Van Deventer) op die volgende ses besluit:

‘n Spanfoto van plus-minus al die klasmaats wat teenwoordig was.

Asof hul al die antwoorde ken. Die hande skiet omhoog in ‘n klaskamer.

Die klomp staan tou om ‘n klasmaat in die hospitaal met boodskappies op te beur en vir haar uit volle bors “Geluk, liewe maatjie” te sing.

Hoofseun  Koot Muller met ‘n baadjie wat deur Nelson Mandela aan die skool geskenk is nadat ontdek is sy kleure en dié van die parlementêre rugbyspan is vinkel en koljander,

Tokkie  groet die hupse  Antonie Fivaz, wat so lekker gekuier het dat ‘n belangrike rolbal-afspraak in die slag gebly het.

Tokkie maak korte mette van ‘n ribbebeen van ‘n skaap wat deur  Sias van Rensburg geskenk en tot perfeksie op die spit gebraai is.

 

 

DRUKKERSINK IN ARE DRUIS EN BRUIS

 

 

 

Die moontlike wanindruk dat die Van Deventers slegs vir die mevrou  se matriek-plus-60-reünie  Vrystaat toe is – ‘n vinnige heen-en- weertjie van 2 342  kilometer – moet uit die weg geruim word. ‘n Tweede reünie was een van die uwe: ‘n Volksblad-plus-30 kan ‘n mens dit noem.

In April 1992 het ek my kantoordeur in Voortrekkerstraat, Bloemfontein, vir oulaas agter my toegetrek. Maandag was ek bevooreg om in die geselskap van gewaardeerde kollegas die blad se nuwe tuiste in Westdene te besoek, asook die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.

Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie vir ou man nie om op sy ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar hy soveel jare gearbei het, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit sy kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.

Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat dateer uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948).  In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe. Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.

Die meubels is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout.  Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié behoort nou aan die Rising Sun-groep en lyk vir my bra bedremmeld.

Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.

Die gashere Maandag was Wyno Simes en Annelien Diederichs van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.

Kameras het natuurlik vir die vale geklik soos die verskillende konfigurasies –  HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens.  ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Hoop maar die trane van aandoening wat wou-wou loop, laat nie my oë op die foto’s onnatuurlik blink nie!

Die foto’s hierby is van die volledige Volksblad-span op die trappies van NALN se sierlike sandsteengebou in Pres. Brandstraat, van my en kollegas Piet Theron en Sarel Venter, twee hoofredaksielede uit my era, van die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok,  en van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan.)

‘n Insiggewende besoek daarna aan die nuwe Volksblad-tuiste het paaie laat kruis met ou kollegas soos Charles Smith en Marietjie Gericke.   Al is die splinternuwe opset dramaties anders as in die vervloë ou dae het die nostalgie dik geloop. Die drukkersink in die are het gedruis en gebruis.

‘n Lewenservaring van onmeetlike betekenis was dit vir hierdie 82-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die onuitwisbare herinnering aan my wonderlike koerantdae  – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.

*****

 

 

KARIKATUURMUUR MET ‘n MOTTO

Een takie die Erfenisnaweek – hoe braai jy as die reën so neergiet? – was om my karikatuurmuur in die studeerkamer op datum te bring. Daardie muur is immers ook op sy manier die viering van ’n erfenis: ‘n leeftyd in die koerantwese.

Van bo tot onder is dit die ene geraamde spotprente en karikature. Wat nou bygekom het, is Dr. Jack van Die Burger se spotprent van ‘n week gelede na aanleiding van die woeste golwe wat motors meegesleur het.  ‘’n Toeskouer (wit hare en wit snor): “Ou maat, lyk my jou ou C-klas is nou ‘n nuwe See-klas.”

Gereelde lesers van my blog en Facebookplasings sal weet waar die inspirasie vandaan kom, veral as hulle mooi kyk na die ou se wit hare en snor, nes myne. .

‘n Tweede spotprent is een wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is reeds heen. Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het trouens in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien. Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.

Oudste spotprent teen die muur is een wat in 1979 in Beeld verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was. Die tekenaar is Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. Beeld word 50 in 2024.    Botma en Van Walsem is al oorlede

Onder die vyftien-stuks sketse op my muur is dié wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het: Een deur Charl Marais van die redakteur HvD, gebaadjie en gedas met Volksblad in die hand. Dit was op die agterflap van my eerste boek, Scoops en skandes.

Dan een deur ‘n onbekende kunstenaar uit die tydskrif Magazines in focus: ‘n korpulente HvD, koerant in die een hand en telefoon in die ander. Hy bulder: ”I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD.” Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 30 jaar gelede prematuur wou begrawe.

Hierdie karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, Flaters en kraters. Die aanleiding was ‘n toespraak waarin ek bruisend verklaar het: ”Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!”

Die derde in die reeks is deur Fred Mouton. Ek sit by my rekenaar waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van Die Burger by my aftrede einde 1997. Dit was op die agterflap van my reisboek, Oos, wes, reismoles.

Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof. Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar.

Wat ook teruggryp na die verre  verlede is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap aan die ander: ”Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.” Na ‘n onvergeetlike jaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.

Uit my Volksblad-dae kom allerlei illustrasies by humorstukke uit my pen. Charl Marais het my geteken waar ‘n Brasiliaanse polisieman met ‘n yslike snor my op Rio se lughawe beetkry. Dit had te make met ‘n oorgewig-koffer waarvan ek moeitevol ontslae geraak het. ‘n Tweede is van my kennismaking met die Swartsee in Rusland. Waag ook maar net om ‘n toon in te steek. Die kunstenaar is Fred Mouton.

Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het. ‘n Koerantverkopertjie skreeu: “BURGHE!” ‘n Man stoom op hom af. Die outjie skrik hom boeglam en lê rieme neer. Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag. Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: “”n Burger asseblief. ” Die verkopertjie is verstom: “Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….”

Twee dinge maak hierdie ene vir my spesiaal waardevol: Honiball se handtekening en die pragtige uitbeelding van die hegte verhouding tussen die leser en sy koerant – iets wat wat al die wondere van die e-era nie kan troef nie.

Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, wyle Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent Peanuts present gegee. Die dierbare Peanuts-karaktertjie is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf. Dit begin: “Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?”

In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: “Hoe gaan dit met jou? Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf?” In die derde antwoord Linus: ”Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen”. In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop: “Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?

Het ‘n geweldige affiniteit vir daardie geskenk van vriend Faan. Trouens, skielik besef ek opnuut ek hoe ‘n affiniteit ek vir die hele muur het. Al die tekeninge saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is die motto waarmee ek my loopbaan afgesluit het, en wat by my steeds geld: Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.