Sep 20, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Muur van water stort oor die reling by Leentjiesklip, Wildernis, en agt mense skarrel na veiligheid. Vir een van die agt, ‘n 93-jarige oud-onderwyseres, eindig die Saterdagse seedrama noodlottig. Sy word neergevel en tot in die middel van die pad gespoel. Sy sterf op pad na die hospitaal.
Hoe die agt op vlug slaan voor die skielike bedreiging is te sien op ‘n dramatiese foto van ‘n ooggetuie, Tanya Rossouw (52) van Wildernis, wat in haar Mahindrabakkie op die parkeerterrein met haar selfoon sit en foto’s neem het. Die bakkie was oomblikke later ook onder water.
Die unieke foto word vandag die eerste keer volledig aan die wêreld gewys. Aanvanklik is net die helfte van die foto met die man Nolan en sy gesinnetjie links daarop gepubliseer uit respek vir die oorledene, mev. Jo Hartman, en haar naasbestaandes se privaatheid.
Vandag se eerste publikasie van die volledige foto hier op my blad, die Facebookblad Nagkantoor en my blog by www.hennievandeventer.co.za is met vergunning van die fotograaf en die slagoffer se kinders. Dit word met groot deernis as huldeblyk aangebied aan ‘n merkwaardige dame wat diep spore in die onderwys getrap het. Buiten mev. Hartman self is in die groepie regs ook mense net bekend as Jaco en Carey-An.
Publikasie volg op landwye verwondering wat die halwe foto gister uitgelok het. Lesers het selfs ooreenkomste raakgesien tussen die foto en die ikoniese foto van 1972 van ‘n klompie Viëtnamese kinders wat beangs op vlug slaan ná ‘n aanval met ‘n napalmbom. Voor op daardie foto hardloop ‘n kaal meisietjie van net nege jaar oud. Dit het die foto bekend laat word as die “Napalm girl”.
Verskeie lesers het op die intrinsieke nuuswaarde van die foto ingefokus – die enigste getuienis van die treurspel wat hom by Leentjiesklip afgespeel het. Anena Burger, fotojoernalis van Media24, het in ‘n kommentaar geskryf dat selfs net die helfte van die foto ‘n Amerikaanse Pulitzerprys verdien.
Sy skryf: “Hierdie foto vertel so baie. Dit gee in ‘n mate agtergrond en voorspel wat kom. Die vrees en haas op die kind en die man se gesig. Die vrou wat oor haar skouer loer na die dodelike gevaar wat op hulle neerstort het my die meeste aangegryp.
“Tanya, dit was dalk nie n lekker oomblik nie, maar een waarin jy hierdie stormgolwe verewig het. Fotojoernaliste se lewens is daagliks in gevaar om sulke beelde vas te lê, maar die keer was dit ons lesers en die publiek wat hierdie oomblikke opreg vasgevang het. Sterkte vir jou ook. Ek is seker die beelde is steeds vir jou traumaties.”
‘n Oud-skoolhoof van die Wes-Rand, André Groenewald, was die eerste om die gedagte van die foto as huldeblyk aan mev,. Hartman en die ander te opper “Die deel van die volle foto met die wêreld kan juis groot eer bring aan die betrokkenes,” het hy geskryf. “Indien dit ‘n unieke foto is (my vermoede is dat dit wel is), hoop ek dat dit tog gedeel sal word wanneer die tyd reg is.”
Tanya wat die trefferfoto geneem het, is ‘n tuinboukundige en “digitale skepper” van Wildernis “sonder man, kind of hond,” soos sy dit self stel. Sy is met haar bakkie, genaamd Max, spesiaal Leentjiesklip toe om foto’s van die onstuimige see te neem. Al is sy lief vir fotografie het sy haar kamera tuis gelos en net op haar Samsung-selfoon staatgemaak.
Sy het besluit om veilig te speel en in die middelste parkeerplekke vir Max ‘n gaatjie gevind. Sy het so 90 minute daar sit en kyk. Toe slaan die reuse-fratsbrander toe. Haar voertuig het ook deurgeloop, binne en buite, “maar dit is ‘n kleinigheid in vergelyking met wat ander mense verloor het. Die lewe verander in ‘n oogwink. “
Sy was seker angsbevange? Vreemd nie; het dadelik uit haar bakkie gespring en begin hulp verleen in die chaos wat ontstaan het.
Wyle mev. Hartman – Tannie Jo – was ‘n kwarteeu lank, van 1969 tot 1994, ‘n voorste wiskunde-onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Sy is in huldeblyke deur leerlinge beskryf as “die legendariese, gesofistikeerde Wiskunde-ghoeroe vir dekades. Haar Wiskunde – nalatenskap is legendaries.”
Ander foto’s: Tanya Rossouw en een van haar foto’s van die onstuimige see Saterdag by Leentjiesklip.
Sep 19, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Onheilspellend, vreesaanjaend, dodelik. Mense skarrel vervaard om weg te kom voor die toringhoë noodlotsgolf wat Saterdag by Leentjiesklip, Wildernis, die lewe van ‘n brose 93-jarige, mev. Jo Hartman, geëis het.
Mev. Hartman was aan die terugstap van die reling af toe die dreunende reusebrander haar en haar geselskap onverhoeds tref. Mev. Hartman is tot in die pad meegesleur en is in ‘n ambulans op pad na die hospitaal oorlede.
Hierdie beeld van die treurspel is ‘n gedeelte van ‘n foto van ’n ooggetuie, Tanya Rossouw van Wildernis. Sy het in haar bakkie gesit en foto’s van die onstuimige see geneem toe die muur water – sy skat dit so vyf tot ses meter hoog – skielik bo-oor haar voertuig spoel.
Op die ander helfte van haar oorspronklike foto is die groepie waarin die slagoffer haar bevind het. Tanya verkies om dit terug te hou uit respek vir die oorledene en haar naasbestaandes.
Selfs sonder daardie detail is dit egter ‘n uiters nuuswaardige foto – een wat volledig reg laat geskied aan wat die Franse fotograaf Henri Cartier-Bresson, vader van die moderne fotojoernalistiek, “The decisive moment” noem. Hy verwoord ‘n groot waarheid so: “Ons fotograwe werk met goed wat gedurig verdwyn. En wanneer dit eers verdwyn het, kan niks op die aarde dit terugbring nie. Ons kan nie ‘n herinnering ontwikkel en uitdruk nie.”
Eenvoudig gestel: jy het ‘n foto of jy het hom nie. Tanya het haar foto, al verkies sy dan om dit nie volledig met die wêreld te deel nie. My dank aan haar vir die vergunning om die halwe foto hier te plaas.
Sep 15, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Dat die eerste uitgawe van Beeld more, 16v September, presies 49 jaar gelede verskyn het, laat hierdie 82-jarige lid van die span stigters meteens stokoud voel. Hoop maar met die halfeeufees aanstaande jaar sal ek nog hier rond wees om saam in die vreugde te deel. Net vir ingeval dinge anders uitval, sal ek vanaand en more-aand al ‘n premature feesglasie vonkelwyn daarop klink.
Op die hooffoto in hierdie klein collage oor daardie groot dag in my joernalistieke loopbaan staan ons eerste redakteur, Schalk Pienaar, regs. Links is adv. Lang David de Villiers, besturende direkteur van Naspers, en in die middel dr. Phil Weber, voorsitter. ‘n Mens kan sommer sien die drie Naspers-swaargewigte bars van trots op die weerbarstige nuweling wat die koeranttoneel in die noorde later ná ‘n lang en bitter stryd op sy kop sou keer.
Bo links dwaal Pienaar op Sondagaand 15 September laataand deur ‘n verlate verslaggewerskantoor in die lelike ou eerste Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein – nes ‘n verwagtende vader by die geboorte van sy eersteling. Die formidabele redakteur sou helaas net enkele maande in sy veeleisende hou voordat hy weens swak gesondheid die aflosstokkie aan Johannes Grosskopf moes oorhandig.
Die klein fotot’jie regs onder is die Sondagmiddag in die fabriek geneem. Die uwe, eerste nuusredakteur, staan opgewonde en kyk hoe die eerste voorblad gestalte kry. Dit is 49 jaar gelede. Dit voel soos gister.
Die heel eerste uitgawe het verskyn met ‘n scoop. Die Burger se Alf Ries, prins van politieke beriggewers, het daardie oggend met die Boeing uit die Kaap die berig gebring – met komplimente van PW Botha. “Troepe oral op die grens”. Die Suid-Afrikaanse Weermag skud hom reg weens die chaos in Mosambiek ná Portugal se abdikasie. Troepe is oral op strategiese plekke aanwesig. Grense word gepatrolleer.
In Julie 1980 moes ek vir Beeld vaarwel sê om terug te gaan “huis” toe — as redakteur van Die Volksblad waar ek in 1963 my joernalistieke tande begin sny het. Tussen 1974 en 1980 lê ‘n verhaal van fantastiese hoogtepunte. Ongelukkig ook laagtepunte. Maar watter onvergeetlike skof was dit nie.
Ek herhaal vandag graag ‘n woordjie wat ek ‘n keer uit die hart gespreek het en wat al telkens aangehaal is: Dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie.
Sep 14, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Met ‘n dodelike mokerhou maak Jaco Marais op Facebook korte mette van die alewige verwyt dat koerante plaasmoorde afskeep.
Hy reageer op ‘n inskrywing van ene Karin Barnard. Tot haar eer erken sy dadelik en boetvaardig dat sy die kat aan die stert beetgehad het.
Dankie, Jaco. Dankie, Karin, vir die geleentheid wat jy vir Jaco geskep het om die mokerhou te plant.
Sep 11, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vir naastenby almal wat oud genoeg om te onthou, beteken die datum 11 September ‘n dag van verskrikking soos hulle op geen ander dag in hul leëeftyd beleef het nie. Presies 22 jaar gelede het alle hel in New York losgebars.
Die indrukwekkende tweelingtorings van die Wêreldhandelsentrum aan die voet van Manhattan is in ‘n ongekende tereur-aanval gelyk gemaak met die grond – “Ground Zero” – vliegtuie is links en regs gekaap en sowat 3 000 mense het ‘n wrede dood gesterf. (ook by die Pentagon in Washington en in Pennsilvanie is mense dood.)
Die ondenkbare het inderdaad op 11 September 2001 gebeur. In my herinneringe is ook iets van veel-veel geringer omvang: ‘n aand in Boston saam met Nieman-vriende. Ons gesels oor my land, Suid-Afrika, en die oplaaiende spanning oor sy beleid van “afsonderlike ontwikkeling” – “apart-hate”, soos hulle dit uitdruk.
“Julle Amerikaners moet Suid-Afrika ophou druk,” waarsku ek in ‘n oomblik van bravade.
“Maar julle kan ons tog niks doen nie,” se Rod Decker, ‘n mormoon van Salt Lake City, Utah.
“Moenie so seker wees nie. Ons sit eenvoudig ‘n bom in een van SAL se Boeings en gooi hom op New York.”
Ek wonder of Decker en die ander ook op elke 11 September daardie lighartige, ligsinnige opmerking onthou.
Sep 2, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ongetwyfeld die Volksbladman van my era wat sy arendsvlerke die wydste gesprei het, was Pieter Cronjé wat ‘n gerekende internasionale kommunikasiekenner en –bestuurder geword het. By verskeie internasionale konferensies en werkswinkels oor die aanbied van groot byeenkomste en benutting van prima-sakegeleenthede was hy in ‘n sleutelrol. Hy was ook ‘n gasspreker van faam.
Pieter is vanoggend in sy middel 70’s by sy huis op Stellenbosch rustig aan kanker oorlede, omring deur sy geliefdes, sy honde en al die mooi dinge waaraan hy ‘n vreugde had. Dat die dood op pad was, het hy filosofies aanvaar.
Die begaafde beurshouer van Die Volksblad het in die 70’s tot tot politieke beriggewer en Londense verteenwoordiger van Naspers se koerante gevorder. Daarna was sy dekadelange betrokkenheid by die Sokker-Wêreldbekertoernooi van 2010 in Suid-Afrika een van vele hoogtepunte in ‘n glansryke loopbaan. Sy rol om dit as ongekende internasionale bemarkingsgeleentheid te ontgin, was enorm.
FIFA het hom daarna na Brasilië genooi om Suid-Afrika se ondervinding met hul gasheerstede en Wêreldbeker-organisasies vir 2014 te deel. Hy het ‘n handleiding vir FIFA hieroor geskryf. Reise na St. Petersburg, Moskou, Kazan en Saransk in Rusland het gevolg voor Rusland se Wêreldbeker in 2018.
Pieter was voorheen die eerste kommunikasiedirekteur van die Kaapse metro. Hy was ook by Shell waar hy by die instelling van loodvrye brandstof in Suid-Afrika betrokke was. Daar moes hy boikotte en betogings teen Shell hanteer. As kommunikasiehoof en later handelsmerkbestuurder by Sanlam het hy die eerste demutualiserings- en noteringsproses van ‘n onderlinge versekeringsmaatskappy help loods.
By al sy ander ysters in die vuur was Pieter boonop bydraende skrywer vir ‘n paar boeke, het self een gepubliseer oor die lugvaartkunswerke van sy vriend wyle Tiro Vorster en was redakteur van ‘n boek oor ‘n bekende wynplaas se geskiedenis van 327 jaar. Verder het hy, op sy eie of as deel van ‘n span, banke, kleinhandelmaatskappye, sport, landbou en professionele ondernemings, die onderwys en verdienstelike nieregeringsorganisasie geadviseer.
Sy spesiale belangstellings het ingesluit krygstuig, veral vliegtuie, musiek, hengel, fotografie en motorsport. Hy was in die 70’s geag as ’n soort Chet Atkins van die koerantwese. By partytjies waar ons Mnr. Kitaar op sy Honda 750 cc Supersport-motorfiets met sy eie kitaar om sy nek opgedaag het, het die samesang uit volle bors gou op dreef gekom. ’n Ander talent was nabootsing. Piet Koornhof self kon nie meer soos Piet Koornof klink nie.
Agterop sy Honda 750 cc Supersport het hy tot stomme verbasing van sy kollegas een aand vir Oom Bart Zaaiman, besadigde Volksblad-redakteur van die 70’s, ‘n geleentheid gegee. Hy het betaamlik stadig gery, maar die baas het hom twee keer koggelend gevra of die fiets dan nie vinniger kan ry nie. Hy het toe die perde teuels gegee en Oom Bart het komkommerkoel afgeklim. Die petalje het hy graag met plesier oorvertel.
Of ‘n bekwamer, talentvoller, veelsydiger mens ooit by Voortrekkerstraat 79 se deure ingestap het, is twyfelagtig. Daarby het hy met sy waardigheid, beskaafdheid, goeie maniere en humor groot waarde tot hegte vriendskappe met kollegas en andere gevoeg. Oor sy heengegaan word vandag gewis oor ‘n wye spektrum getreur.