BRIEF IN BEELD OOR MISMAAKTE VOLKIEWAPEN

 

Ou wapen (links) en die nuwe (regs)

A luta continua. Die stryd duur voort teen die verkragting van my geliefde skool, Volkies Potch, se wapen van ‘n arend op ‘n skild – klassiek weens sy eenvoud en krag.
Die volgende brief uit my pen verskyn vandag in die dagblad Beeld:
Vandag wil ek die wapen opneem vir ‘n wapen – my geliefde skool, Volkies van Potchefstroom, se klassieke en tradisieryke arendwapen.
Op die verre Melkbos neem ek kennis van ‘n ongelukkige nuwe wapen wat toenemend die karaktervolle en klassieke oue verdring. Die besige nuwe vertoon ‘n krans van akkerblare om ‘n arend wat ook ietwat anders lyk as die een wat nou al amper 100 jaar (sedert 1925) op generasies Volkies se borse pryk. Die ou skild is skoonveld weg.
Natuurlik het dit mode geword om ter wille van verandering blindelings te verander. Maar instellings met respek vir tradisie en hul identiteit torring nie sommer aan iets wat oor geslagte soveel sentiment opgebou het nie.
Ek kan eerlik nie dink dat my Volkie-matriekmaats van 1957 – die klompie wat nog oor is – hulle kan vereenselwig met so ‘n onsensitiewe inbreuk op ‘n identiteit waarop hulle dekades lank trots is nie. Ook nie enige ander alumnidraers van die swart, rooi en goud nie.
Uit Potchefstroom verneem ek uit Volkiekringe rammelinge van weerstand en protes. Grootse prestasies is immers deur die jare onder die ou arend-wapen ingeryg. Administrateursbekers en ander topbekronings is verower. Die naam Volkies is daardeur met eer beklee,
Maar alumni is nie in die ingryping geken nie. Ons is nie eens die hoflikheid betoon van ‘n kennisgewing nie. Sou dit nie billik gewees het om by wyse van ‘n referendum eers alumni te raadpleeg voordat aan so ‘n hartskwessie gekarring word nie?

HIER KOM ONS WEER:  WEDERSIENS VAN WONDERSKIP

Kaptein Kevin Osprey op die boeg van sy skip.

“Die Queen is hier! Die Queen is hier!” klink dit uit duisende kele op.  Baniere wapper in die wind met die woorde: “Welcome QM2”. In lugballonne en helikopters, op seiljagte en bootjies, te voet op die kaai tot doer in die verte – oral drom entoesiastiese toeskouers saam.

So, onthou ek en Tokkie, die verwelkoming vir die Queen Mary 2 op elke hawe van Kaastad na Sydney – ons onbestrede droomvaart in 2014 van ‘n dosynstuks vaarte sedert 1970. Met sulke aansteeklike bewondering en ontsag word Haar Majesteit telkens in hawens hartlik gegroet.  Dit het ons mateloos geïmponeer.

Sommer om die draai, in Februarie, is die Queen weer hier. Sy vaar dieselfde roete as in 2014 op haar Wêreldvaart van 2024, maar met een wonderlike nuwigheid.

Die eerste keer in 25 jaar bied die redery Cunard vir passasiers wat dit verkies,  ‘n kort sektor aan, van Kaapstad na Mauritius.  Agt dae ter see om te deel in die QM 2 se weelde, styl en skitterende programme sonder die pyn van ‘n eindelose vlug terug.  (Ek hou nie van vlieg nie. Raak gou moer gesit. Pes die klein vliegtuig-toiletjies.)

Toe die advertensie op my rekenaar kom, roep ek Tokkie, onmiddelik opgewonde.  Is dit nie waaroor ons al amper ‘n dekade lank lugkastele bou en telkens vergeefs oor navraag gedoen het nie: so ‘n nommerpas-herontmoeting met daardie indrukwekkende skip?

Om nou kortpad te vat met my storie: dit het regtig nie te veel inspanning geverg my vrou te oortuig nie, al is ‘n vaart na Walvis in Maart op die MSC Splendida al geruime tyd bespreek. Dus: op 1 Februarie klim ons in Kaapstad weer op die Queen. Tien dae later klim ons in Mauririus af, oornag in ‘n hotel daar en vlieg die volgende dag terug. Net ses uur in die lug.

Ons beskeie nessie.

Kajuit 6005 waarin ons in 2014 was – “stateroom” 6005, verkies die Cunard-mense om hul knusse nessies te noem – is waarskynlik een van die mees beskeie op die weeldeskip. Maar so gelukkig het ons in hom gewoon die 22 dae en nagte tot in Sydney dat ons mooi gepleit het om hom weer te kry. Sal later hoor. Maar alte heerlik sal dit wees om op ons 10-jaar-herdenking van ons kennismaking in 2014 dieselfde roete as destyds na ons eie plekkie te loop.

‘n Bonus is sy gangetjie:  een van die kortste, met net 30 kajuite. Baie “eksklusief” het dit vir ons gevoel.  ’n Botteltjie Franse sjampanje (Pol Acker se blanc de blancs brut) in ’n silwer-ysemmer het ons met ons aankoms verras. En ‘n boodskap van die kaptein, Kevin Osprey: “We look forward to providing you with happy memories that wil last a lifetime.

Oor my blogs

Ons was dadelik halsoorkop verlief.  So verlief dat ek oor die hele vaart ge-blog het – ‘n eerste in Afrikaans, aldus Cunard.  Die blogs is later in my boek Na Verre Hawens (Naledi, 2019 opgeneem.)

Romantiseer ons nie dalk nie en verwag ons nou te veel? Ek glo nie.  Geriewe sluit immers in die asemrowende Royal Court-teater met sy topvertonings elke aand; die biblioteek met 10 000 boeke; die elegante Britannia-eetkamer; die enigste drywende planetarium ter wêreld met die duisende sterre aan sy firmament; die ritueel van Engelse middagtee (afternoon tea) in die Queen’s Room, na aanspraak die grootste balsaal ter see. Om verveeld te raak, is total onmoontlik.

Dan ook: vyftien restaurants, vyf swembaddens, balsaal, planetarium, teater, gimnasium, skoonheidsalonne, boetiekwinkels, ’n casino, nagklub en ’n dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!

In 10 jaar het die tyd natuurlik vir ons stilgestaan nie. In my eie geval het ‘n permannte kierie bygekom. Maar die vooruitsig om weer op die Queen te vaar, laat steeds die hart bruise en die oë vonkel, al gaan dit langer vat om op die reuseskip al die lope te loop wat in 2014 vir ons lekker lope was.

‘n AREND KOER NIE

Die ou Volkiewapen op die gewel van die Ons Hoop-meisiekoshuis. Sal dit ook moet waai?

Vandag wil ek die wapen opneem vir ‘n wapen: my geliefde skool, Volkies van Potchefstroom, se klassieke en tradisieryke arendwapen.

Op die verre Melkbos kry ek sterk snuf in die neus dat iemand met jeukvingers aan my alma mater se wapen torring. ‘n Weergawe duik hier, daar en oral  op met ‘n krans van akkerblare om ‘n arend wat ook ietwat anders lyk as die een wat nou al amper 100 jaar (sedert 1925) op generasies Volkies se borse pryk. Die skild word heel weggegooi.

Natuurlik het dit mode geword om ter wille van verandering blindelings te verander.  Maar instellings met respek vir tradisie en hul identiteit – soos Volkies – moet waak dat misleides hulle nie op sleeptou neem nie.

‘n Arend omsingel jy waaragtig nie met ‘n kransie akkerblare asof hy ‘n sagte ou bosduifie of iets is nie. Behoede dit.

Die arend of adelaar is ver van sommer net ‘n hierjy-simbool.  Jy vind hom op Amerika se wapen (sedert 1782). Jy vind hom op Duitsland se wapen (al sedert die heilige Roomse ryk). Jy vind hom in resenter weergawes o.m.  ook op die koshuis Eendrag van die Universiteit van Stellenbosch se wapen. Laasgenoemde is opsigtelik by Volkies afgeloer – kompleet met die drie skakel van ‘n ketting.

Hierdie lande en instansies kies die sierlike heerser van die lug as hul simbool omdat dit krag, skoonheid en onafhanklikheid weerspieël. Hierdie  voël beheers die lug omdat hy so hoog kan opstyg dat hy alle windrigtings kan verken.  Daarin lê sy krag.

Die “nuwe” wapen

Om die rede is die arend-motief op genoemde wapens en andere van dieselfde kader oorheersend.  Opvallend is die skoon lyne wat sy fierheid beklemtoon, die boodskap kragtig tuisbring en tot maklike identifikasie lei

Jy prop nie so ‘n wapen vol allerlei  sêkondere simbooltjies wat hom besig, onnet of wanordelik laat voorkom en sy sentrale boodskap afwater nie.  Visueel is so ‘n rommel-gedoente ‘n gruwel. Heraldies is dit ook hoogs verdag, meen ek.

Ek kan eerlik nie dink dat my Volkie-matriekmaats van 1957 – die klompie wat nog oor is –  hulle sal vereenselwig met so ‘n onsensitiewe inbreuk op ‘n identiteit waarop hulle dekades lank trots is nie. Ook nie ander ouer generasies draers van die swart, rooi en goud nie.

Die regte Volkiewapen

Grootse prestasies is immers deur die jare onder die wapen ingeryg. Administrateursbekers en ander topbekronings is verower. Die naam Volkies is daardeur met eer beklee,

Sal dit nie billik wees om by wyse van ‘n referendum eers alumni te raadpleeg voordat aan die wapen gekarring word nie?  Of is die drywer/s van die onbekookte plan op sy/hul hoede dat dit in ‘n referendum ewe kragtig verwerp sal word as wat Volkies se meisies – tot hul eer – ‘n plan gestuit het om hul geel skoolrokke met swartes te vervang?

Bestaan nie ook ander prosedurele vereistes vir so ‘n ingrypende stap nie?  Word daardie vereistes hoegenaamd gerespekteer?

Nee, vir die drywer/drywers van ‘n nuwe-wapen-beweging moet die boodskap ondubbelsinnig deurkom: Hokaai net hier.

Wie is hy of hulle? Watter gesag het hy / hulle agter hom / hulle?

Soos die uwe verstaan, bestaan reeds ‘n kern van invloedryke teenstanders by die skool self. Die tradisionaliste se hande moet gesterk word. ‘n Breë versetbeweging is dringend nodig, dalk by wyse van ‘n petisie.

Naskrif:  Dit was my voorreg om in 1976/77 aan Harvard in Cambridge, Massachusetts, te studeer.  Hierdie sogenaamde “ivy league”- universiteit leef sedert 1836 met sy Veritas-skild as sy wapen saam.  Die ontwerp is basies, skoon, eenvoudig, waardig en herkenbaar.  Die simboliek tref jou soos ‘n voorhamer. Bewaar iemand wat nou skielik die bevlieging sou kry om  ‘n takkie esdoring in te smokkel omdat dit die pragtige universiteitsdorp se kenmerkendste boom is!

Harvard se wapen – eenvoudig, skoon, treffend. 

 

VINNIGE FANIE WYS HAKSKENE VIR PETER CARLSTEIN

Vinnige Fanie met al sy atletiekbekers.

Met die dood van die kranige sportman Peter Carlstein – een van Suid-Afrika se veelsydigste – nooi ek lesers saam na die SA junior atletiekbyeenkoms in Bloemfontein in 1957, my matriekjaar.

In die eindrondte van die 440 vir seuns o/19 sak twee Vrystaters in die wegspringblokke: die nimlike Carlstein van St. Andrew’s in Bloemfontein en ‘n vaalseun van Bultfontein Hoër, ene Fanie van Wyk.
Carlstein is die oorweldigende gunsteling. Het hy dan nie by die Vrystaatse tussenskoolse byeenkoms – die beroemde Inter High – die 440 in ‘n verstommende rekordtyd van 49,6 sekondes afgeblits nie?
Verrassend is dit egter Fanie wat eerste uit die blokke skiet. Om die eerste draai is hy al voor. En hy bly voor. By die 220-merk raak dit duidelik: niemand vang vandag hierdie vlieënde Vrystater nie. Fanie breek die lint in net onder die 50 sekondes. Carlstein eindig in die bondel.
Wat nou, wonder die Vrystaatse spanbestuur. Vir die aflos (880, 2 x 220 en 440) is Carlstein vir die 440-been gekies en Fanie vir een van die 220’s. Moet hulle omswaai? Dit gee nogal ‘n debat af. Nee, besluit hulle eindelik: ons hou die span soos dit is.
Daar hardloop Carlstein toe die 440 van sy lewe. Hy ontvang die aflosstaffie 20 treë agter die voorloper. Maar hy byt vas. Met ‘n kragtige eindpoging in die pylvak laat hy sy teenstander agter. Die Vrystaatspan wen met sowat agt treë in ‘n SA rekordttyd van 3 min. 33,8 sek.
Op die podium staan Carlstein en Van Wyk stralend van trots naas mekaar met hul goue medaljes om die nek.
Daardie Fanie het in 1966 my swaer Fanie geword. Hy was die broer van my gade, Tokkie, sy kleinsus. Net langs die skool is die kerk waar ons getroud is.
Met Fanie se dood in 2016 het ek hom by sy gedenkdiens in Brackenfell o.m. tipeer as Vinnige Fanie en Vergooi-Fanie. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters doer ver beland het. Die gewigstoot moes gestaak word totdat Fanie klaar was. Van sy ander rekords wat lank gestaan het – dalk nou nog – is vir die paalspring.
Dat hy sy kaal voete so vinnig kon dra, het die trotse Bultfonteiners aan die duwweltjies op hul atletiekbaan toegeskryf. Die baan is destyds kort voor die huisbyeenkoms sommer deur die boere van die distrik met hul plaasgereedskap kom versorg. (Vandag is dit ’n sieraad, soos die res van die skool.)

ONDEUNDE ENGELE EN ‘N FEES WAT ROEP

In die verre Cambridge, Massachusetts, VSA, ‘n klipgooi van die karaktervolle Harvard-kampus, word die naweek ‘n fees gevier wat by ‘n hand vol SA joernaliste heerlike herinneringe na vore sal bring. Hulle is die klompie wat bevoorreg was om ‘n sabbatsjaar as Nieman Fellows by Harvard deur te bring.
Die fees is om die 85-jarige bestaan te vier van die Nieman Foundation for Journalists, ‘n stigting met die edel doel om joernaliste so halfpad in hul loopbane in die kans te gee om van spertye te vergeet en ‘n jaar in ‘n akademiese omgewing te kom rustig raak. Tot enkele jare gelede was ‘n Suid-Afrikaner gereeld een van die klas.
My geleentheid om Nieman Fellow te wees – ‘n joernalis se geleentheid van ‘n leeftyd in my oë – was in 1976/77. As ek die naweek se reünie kon bywoon, sou ek dus een van die veterane daar gewees het. Amerika is egter nie agter die bult nie en die dollar is duur. Dan is daar natuurlik die eindstryd in Parys. In Cambridge is nie DSTV nie.
Ek vier nou maar my eie klein reünie met ‘n herbesoek aan die dosynstuks foto-albums van daardie jaar. Foto’s van die skilderagtige Harvard-kampus, Cambridge se kleurryke Harvard Square, die Charlesrivier, my dapper Corona Merk II-stasiewa, sneeuwit Amerikaanse winters en bowenal, die sosiale verkeer met klasmaats het, helaas, die verlange na die verre alma mater en die lus vir die reünie net des te meer aangewakker.
“There is only one Harvard Yard in the whole world,” verklaar Barbara Westman in haar sketsboek The Beard and the Braid. Daarmee stem ek van harte saam. Seker ook al die ander Nieman Fellows nog in lewe, onder wie Naspers-kollegas Ton Vosloo, Tim du Plessis en Johanna van Eeden, asook Harald Pakendorff en Dries van Heerden van Perskor.
‘n Nieman-soewenier waaraan ek waarde heg, hang aan ‘n gedenkmuur in my studeerkamer. Dit is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Foundation se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap ewe ondeund aan die ander: “Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.”
By my gelukwense aan die huidige kurator van die stigting, Annmarie Lipinski, sluit ek ‘n afdruk van die skets deur ene Marlette, ‘n Nieman Fellow van 1984, in met die woorde: “It as a sentiment I understand and can easily identify with.”
Natuurlik is dit net by wyse van spreke. Maar dat dit ‘n weergalose jaar was. Is gedoriewaar.

OM TE SLAAP BY DAISY SE BYTPLEK

Ligging is een van die redes waarom ‘n reis op ‘n bepaalde plek onderbreek word.   So slaap ek en gade, Tokkie,  nou die nag op Richmond om geen ander rede nie as dat die plek is waar dit is: as jy die pad tussen Kaapstad en Johannesburg in terme van ‘n mens se lyf sou beskryf, plus-minus in die omgewing van die naeltjie.

Dat ons oor die ligging gegrinnik het terwyl ons op die stoep van ‘n gastehuis ‘n skemer-wyntjie geniet,  het te make met ‘n storie van ‘n hond –  ‘n Engelse bulhond, Daisy  –  wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad gebyt het.

Die storie kom oorspronklik van ‘n vriendin van Tokkie, Una Beukman,  Dis n storie wat ‘n man maar versigtig moet oorvertel, want die plek waar Daisy haar tande ingeslaan het, is bra sensitief.

‘n Skerpsinnige regsman, wyle adv. Kosie Olivier, ‘n vorige buurman, het daardie problem oorbrug deur die plek in die hof haar Richmond te noem.  Die agtergrond van die 1989-hofsaak kry ek ná speurwerk van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in die humorboekie “Corresponding met die “law” deur oud-landdros Wessel Marais.

Die feite  is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het later versuur. Op ‘n dag los Daisy, hond van die verweerder,  ‘n onwelkome visitekaartjie direk voor die deur van die eiser in die woonstel onder haar dakwoonstel.

Die dame  stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word. Ná ‘n halfuur lê die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak voor haar deur.  Sy stoom nog meer verwoed as tevore weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi af.

Daisy wat rustig voor die katel le en snork het, word gewek en gryp, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, die aggressor met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie.

Buiten dat dit vrek seer was en sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak – en verloor dit in die Kaapse siviele hof.

Dit blyk skadevergoeding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan net in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Die verweerder sal aanspreeklik wees vir skadevergoeding indien die klaer suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; die dier ‘n huisdier is; die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het (die naturem sui generis); en die dier se optrede die klaer skade veroorsaak het.

Die landdros in hierdie geval het  bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.

Die landdros spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis daar so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak.  Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oop was vir verkeer!

(Ek het die storie voorheen op Facebook gedeel, en dit het heelwat reaksie uitgelok, veral ander moontlike plekname vir die bytplek, soos Noupoort,  en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers liefs verswyg word.)