Oct 19, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Voël-fotograaf sou ek myself nie juis noem nie. Dis nie net uit beskeidenheid nie. Met geduld is ek nie oormagtig geseën nie. Die vinger op die sluiter is ook nie juis doodsekuur en blitsvinnig nie.
Boonop besit ek nie een van daardie tamaaie lense waarmee die mense op Lake Panic en ander voelskuilings toesak om gevleuldes te kiek nie, en weet ek van ‘n kamera se verstellings bloedmin.

Die toerusting is ‘n Canon EOS 400D waarvan die langlens ongelukkig weens ‘n val oor ‘n koorsboom se dik bogrondse wortel buite aksie gestel is, en ‘n doodgewone Canon SX50HS waarvoor ek lief geraak het. Hulle is meesal op outomaties gestel.

So vinnig kan hierdie absolute amateur darem al drie voëlfoto’s uit sy versameling onthou wat in papierpublikasies gepryk het (nog altyd my maatstaf van erkenning). In my “portefeulje” is ‘n paar ander wat dalk ook die paal kon gehaal het. Ander mense kan natuurlik anders oordeel.

Die drie uitverkorenes is een van ‘n ralreier by Lake Panic in die Krugerwildtuin wat in Buite-Burger opgeneem is as een van die lesersfoto’s, ’n groenrugreier wat op die Balulebrug oor die Olifantsrivier afgeneem is en op sy dag in die reistydskrif Weg was, asook ‘n swarkopwielewaal by ‘n aalwyn in Sabiepark se blom. Dit was ‘n lesersfoto in Beeld. (Die groenrugreier het ek enkele dae gelede geplaas rakende ‘n besoek aan Balule in 2025.)

Hierdie inskrywing het begin met die ambisie om tien voëlfoto’s te selekteer, dalk selfs in volgorde van voorkeur van een tot tien. Die ambisie het gou verdamp. Wat eerste gewaai het, was die gedagte van ‘n voorkeurvolgorde. Toe laat vaar ek die uitdunning tot 10.
Benewens bogenoemde drie plaas ek hier nog ‘n dosyn of wat. Van die foto’s is samestellings. Die primêre rede is dat die hooffoto te klein gebêre is. Met een of twee het ‘n kleinseun hand bygesit.
Ek gee

erkenning.
Die ongepubliseerde foto’s is:
‘n Goudsnip op pad na Nwanetsi;
‘m Jong groenrugreier by Lake Panic;
‘n Fiere berghaan in die teerpad by Satara;
‘n Kuifkopvisvanger by Lake Panic;
‘n Bontvisvanger by Lake Panic;
Twee romantiese reusereiers by Lake Panic;
Bromvoëls op die S25;

‘n Gekroonde neushoring by ons huis in Sabiepark (dankie, Thomas);
Swartkopreiers in hul nes by Lake Panic;
‘n Reusevisvanger op ‘n rots langs die Sabie by Sabiepark se piekniekplek;
Lepelaars in die Olifantsrivier van die hoogwaterbrug af;
‘n Bloukuifloerie in ’n reuserosyntjiebos by ons huis in Sabiepark (dankie, Thomas);
‘n Saakbekooievaar en ‘n buffel op die Swenipad (die ander twee was op Kersdag in die teerpad op kerk toe);
‘n Visarend op sy pos langs die Sabierivier.
Hoeveel hiervan herken jy dadelik? En kritiseer gerus waar sentiment oorheers het en gehalte tweede viool speel.

Oct 18, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op die treffersparades aan die begin van die 60’s was die tranetrekker “”Tell Laura I Love her” ‘n vuurwarm mededinger. Dit was nommer een in Brittanje, ‘n treffer in 14 lande en het oor sewe miljoen plate verkoop.
Ook ons studentegemeenskap van daardie era was nie ongeroer deur die uitstorting van ewige liefde van ‘n ou net voor sy dood in ’n stampmotorongeluk nie. Die mooi wysie het in ons koppe bly maal.
In Kollegetehuis aan Tukkies was die mooiste weergawe nie die van sangers Ricky Valance of Ray Peterson nie, wel ‘n klaviervariase met allerlei toegevoegde akkoorde deur ‘n Ienk (eerstejaar) op die klavier.
Kollege het op vele terreine presteer – helaas, buiten die kulturele. Ons skryf Ienk Dirk du Toit – ja, die einste latere adjunk-minister van Landbou vir die ANC – toe in vir die Lentedagkonsert, oortuig dat hy met sy “Laura” ‘n medalje of ten minste ‘n sertifikaat vir Kollege gaan verower.
Op die nippertjie trek die bokker egter kop uit op grond van “akademiese druk”. Daar sit ons toe maar weer in die hek op kultuurgebied. Vir ‘n blommerangskikking is ons darem eervol vermeld. Die titel was “’n Druppel bloed op ys”. Dit het bestaan uit ’n wit suikerpotjie met ’n rooi roosblaartjie bo-op.
Hoekom vertel ek die storie? Nie oor Dirk nie, maar oor Laura. Ook nie doerie Laura nie, maar vandag en nou se Laura: Laura Wolvaardt, kaptein van die Proteas.
Die plesier wat sy en haar span in die T20-toernooi aan hierdie oom besorg het, is so massief soos die impak van daardie trefferliedjie in 1960 rond was.
As ek op ’n versoekprogram vir LW ‘n liedjie sou kies, sou dit geen ander een wees as hierdie nie; ook nie Ricky of Ray s’n nie, maar Dirk s’n met elke ekstra akkoord.
Ek het regtig vir die netjiese kind met die flitsende kolf, manjifieke dryfhou deur die dekke en onversadigbare lopiehonger lief geraak soos ‘n pa vir ‘n kind. Ek sou haar ‘n vaderlike drukkie wou gee terwyl Dirk speel en speel.
Nadat die Proteas die Aussies gister so opgefrommel het, is ek nog liewer vir haar wat haar span met onderskeiding en voorbeeld gelei het.
Maar wat van Anneke Bosch? Vir haar sou ek so lank wou druk dat ons moeilikheid sou kry by daardie lughawe in Nieu-Seeland wat lang afskeide nou wil uitroei (njannies). Haar skitterbeurt was ‘n Heinrich Klaasen of David Miller waardig.
Meisiekind, meisiekind, daardie verslaentheid op die Aussieboulers se gesigte as jy hulle so grens toe moker, sal ek nie sommer vergeet nie.
Luister saam na Ray Peterson se “Tell Laura I love her”:
https://www.google.com/search?q=tell+laura+i+love+her&rlz=1C1ONGR_enZA996ZA996&oq=tell+laura+i+love+her&gs_lcrp=EgZjaHJvbWUyBggAEEUYOTIM
Oct 15, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Eerste kennismaking .
‘n Skielike bevlieging stuur my vandag na Sanparke se besprekingsblad. Ek gaan soek Balule, ‘n kamp na my hart met net ses rondawels. Is een van die ses dalk nog beskikbaar vir ‘n nag of twee vroeg in Augustus 2025? Inderdaad. Daar bespreek ek onmiddellik, en is so opgewonde soos ‘n kind met ‘n lank begeerde nuwe speelding.
Op 20 Julie 2011 het ek en Tokkie die eerste keer in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, oornag – ‘n droom bewaarheid. Ons was in rondawel 5. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
‘n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank saam met Tukkievriende van die koshuis Kollege.
Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy Engelse reklame te beskryf. Balule is al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.
Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak. Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep.
Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Ai, ek onthou so helder. Maar ons was lanklaas daar. Altyd net te laat om plek te kry. Kan dus nie wag dat Augustus 2025 aanbreek nie, en hoop maar die gesondheid hou.
Oct 14, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Oujaarsdag in Disney World.
Florida, Amerika se “Sonskynstaat”, is ‘n vakansiemekka, veral in die Amerikaanse winter as die sneeu elders sentimeters dik lê. Vir ‘n besoeker wat die wêreld in die Kersvakansie van 1976 platgery het, is die huidige spoor van verwoesting van die storms en orkane in ‘n sekere sin ‘n herinneringstog.

Ons slaapplek in Florida.
Bekende plekname rol deur jou geheue. Veral asemrowend is die tog van 180 km op die sogenaamde Overseas Highway op die US1-snelweg van Miami na Key West. Jy steek 42 brue oor wat 34 eilande verbind. Ook besoeke aan Disney World in Orlando en die John F Kennedy Space Center by Cape Canaveral was hoogtepunte.
Die Van Deventers is met hul werkesel, ‘n 1972-model Toyota Merk II-stasiewa, op ‘n tog van 5000 km heen en weer van Boston af al die pad Florida toe tydens my vervlyf in Cambridge, by Boston as Niemangenoot aan Harvard.

Suideliker kan dit nie.
Op die Overseas Highway is die beroemdste van die 42 brûe die Seven Mile Bridge. Sy naam sê alles. Die brug is net oor die 11 km lank. Nogal ‘n fris ent om net die uitgestrekte Atlantiese oseaan om jou te sien!
Die eksotiese Tropiese eilandjies spog met van Florida se lekkerste strande, ‘n duisternis palmbome, ryk koraalriwwe, binnelandse waters vol Amerikaanse krokodille en kaaimans (“alligators”), asook heerlike kampeer- en piekniekplekke. Natuurlik het ons snags agterin die Corona geslaap.
Key West, ‘n eiland van ses kilometer by twee kilometer, is die suidelikste punt van die enorme land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana, Kuba, af. Was nogal ‘n sensasie om op die suidelikste punt van die suidelikste Amerikaanse stad te staan.

Cape Canaveral.
Die historiese Key West, ‘n seerowernes in vergange tye, is ook bekend as die tuiste van Ernest Hemingway. Van sy bekendste werke is hier geskryf, en sy huis een van die top-toeriste-attraksies in daardie geweste.
Disney World het ons op Oujaarsdag 1976 besoek – saam met ‘n rekord-getal besoekers van oor die 80 000 wat rondom jou druk, beur en maal. Maar tog, watter onuitwisbare indrukke het Micky Mouse se Magic Kingdom nie op die hele gesin gemaak nie! Die aand was ons uitgeput maar blinkoog-verwonderd.
Die omvang is iets ysliks. Iets soos 11 000 hektaar. Groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek het selfs sy eie “vloot” – destyds al ‘n armada van 200 skepe. In die hart van die koninkryk was (is seker nou nog) ‘n mensgemaakte meer van 80 hektaar. Saam met Mickey en Minnie Mouse, Goofy, Winney the Pooh en andere wat kuier-kuier tussen die die skares rondloop. het destyds al 12 000 mense daar gewerk – die inwonertal van ‘n billike dorpie.

Papegaai-paradys.
Die meer se koraalriwwe het ons uit ‘n duikboot verken. Ander rygoed het ingesluit outydse rooi brandweerwaens, Noag-karre, ’n kabelspoor, allerlei perdekoetse en ‘n stoomtrein. Die kinders was versot op ‘n mallemeule met klein olifantjies.
‘n Bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums was ook spesiaal. Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.
By die Space Center is alles groter as lewensgroot. Vuurpyle toring oral die lug in soos geil onkruid. By die besoekerskompleks is foto’s geneem van ons kamma met ruimtepakke aan, by ‘n verskeidenheid slanke vuurpyle, op ‘n maankarretjie en wat nog.

Kleinste poskantoor.
Van die unieke geriewe is die 160 meter hoë voertuigmonteringsgebou vir van die grootste vuurpyle van NASA en ‘n 4.8 km (korrek!) lange landingstrook vir pendeltuie. Ek glo my mond het plek-plek werklik oopgehang.
In Florida het ons onder meer ook kans gekry om die beroemde Daytona Board Walk van amper 2 km te stap, om ons te verstom aan die plaat luukse-seiljagte by Fort Lauderdale, om met die kleurryke papegaaie in Parrot Jungle, later herdoop tot Jungle Island, kennis te maak en om ‘n skool visse uit glasbodembootjies by Silver Springs te voer.
‘n Gunstelingfoto is van die uwe by die kleinste funksionerende poskantoor in die VSA in daardie stadium. Die opslaangeboutjie by Ochopee is skaars ses vk. m. groot. Grootte is werklik nie als nie!
Oct 11, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Brandpunt van welsprekendheid, ‘n fees van keurige Afrikaans en ‘n jubelkoor van gevleuelde woorde. Dit was die historiese NG kerk Durbanville vanoggend met die dankdiens vir kerkleier en Kerkboderedakteur Frits Gaum.
In waardige huldeblyke is onder meer gewag gemaak van Frits se vlotte formulering, gespierde skryfstyl en puntenerigheid oor spelling en punktuasie.
Wel, vir Frits sou dit bepaald ‘n vreugde gewees het as hy kon ervaar hoe voortreflik elkeen wat aan die woord gekom het, aan sy hoë standaarde voldoen het. Vir my ‘n voorreg gewees om, somberheid ten spyt, die stylvolle geleentheid mee te maak. Ek lig my hoed hoog vir een en almal wat opgetree het.
Die almal was: seuns, Laurie en André, dogter, Lina Hattingh, en eggenote, Henda, asook, van buite die gesinskring, Chris Jones en Freek Swanepoel. Kleinkinders Fritz Johann Gaum en Judi en Gerlo Hattingh het die Skriflesing netjies behartig en Henda het gesorg vir ‘n klein kamee aan die einde met haar eiesoortige, imprompru bedankings. (Moet ook Willem Luitingh se orrelspel noem.)
Dit was ds. Freek Swanepoel wat in sy treffende woorde van waardering hoog ingesit het oor Frits se altyd korrekte weergawes van alles wat op skrif moes kom, as redakteur van Kerkbode en scriba van die algemene sinode. Nooit in al die jare dat hulle saamgewerk het, kon hy sy kollega en vriend ooit op selfs die geringste spelfout wys nie.
Ook André het na die besonderse taalgevoeligheid verwys. Hy is die program vir die diens met ‘n fynkam deur dat tog nie ‘n spelfout insluip nie, het hy laat val!
Ds. Freek het ‘n merkwaardige brokkie geskiedenis meegegedeel. Dit is dat Frits op 12 Oktober 1994 scriba van die sinode geword het – dag en datum presies 30 jaar gelede. Hyself (ds. Freek) is by dieselfde sinode as moderator aangewys en ds. Kobus van der Westhuizen, wat ook vanoggend teenwoordig was, as assessor. Hulle het ‘n hegte kerklike driemanskap gevorm.
Pres. Nelson Mandela het daardie sinode toegespreek: die eerste en tot dusver enigste staats- en regeringshoof wat by ‘n algemene sinode van die NG Kerk opgetree het. (Hy het in sy rede onder meer erkenning aan dié kerk gegee vir sy rol in die vreedsame oorgang na ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika.)
Op Frits wat daardie sinode tereg die “sinode van versoening” gedoop het, het die taak geval om die president by die deur te gaan verwelkom en die sinodesaal in te begelei.
Toe verloor die president se skoen. Frits het geen oomblik geweifel nie, op sy knie gesak en die skoen aangetrek.
Frederick Malherbe Gaum was waarlik ‘n man vir wie jy jou ou skoene kon agterna gooi en sy sobere maar treffende dankdiens het sy waarde weerspieël.
Oct 11, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Beeld-pioniers by die bekendstelling van die boek Beeld 50 op Kaapsehoop was o.a. Tina Swiegers en Ronelle Terre’Blanche.
Met hul spykerhakke en ander vroulike skoeisel het die evasgeslag diep spore in die SA joernalistiek getrap. Die dood van Martie Retief bring die onderwerp op verskeie maniere na vore, van bewonderend tot verwytend. Ja, die adamsgeslag moet plek-plek maar koes soos hul sondes van geringskatting hulle inhaal.
Erika de Beer, samesteller van die Beeld 50-boek, maak vanoggend in Die Burger ‘n buiging na Martie wat een van Beeld se pioniers was , asook na Elsa Kruger, vir hul rol om deur die glasplafon te breek.
Ek haas my om my by Erika te skaar. As nuusredakteur van daardie eerste spannetjie Beeld-mense had ek ‘n strategiese venster op die aansienlike bydrae van vrouekollegas om daardie geliefde dagblad deur storms en sukkelwater tot wasdom te lei.
In daardie span was ook vroue-ysters soos Lorna Vosloo, Renée Rautenbach, Barbara Boshoff, Reinet Louw, Julia Brink, Susan Booysen, Salome Jacobs, Ansi Brits, Lynette Dreyer, Anne Kruger, Mimi Badenhorst, Ronelle Terre’Blanche, Greta Vermeulen, Lynette Blignaut, Toni Simpson en Jelleke Wierenga. Ek noem die name in die volgorde soos hulle by my opkom en vergeet gewis sekeres van stoffasie, veral dié in die Pretoriakantoor met wie ek minder direk, maar nie met minder waardering nie, saamgewerk het. Tina Swiegers was een, meen ek. Elkeen van hulle was ‘n staatmaker op wie se knoppie in elke omstandigheid gedruk kon word.
Sal ek byvoorbeeld vergeet watter rol Renée Rautenbach gespeel het om die name van die passasiers op ‘n Lufthansavliegtuig na ‘n ongeluk by Nairobi voor enigiemand anders uit te snuffel. En van kollegas soos Julia, Reinet, Elsa en Salome (om net ‘n paar te noem) was gereeld stories op die voorblad.
Met die Soweto-onluste in 1976 het ’n vreeslose wit verslaggeefster, Norah Steyn, haar gesig laat swart verf. Sy en ’n bode in wie se hande ‘n kamera gestop is, was twee van Beeld se sterre met hul op-die-toneel-berigte en -foto’s van die oproerighede. (Norah was egter nie een van die oorspronklike pioniers nie. Ek meen sy het begin 1976 eers ingeval. Later het ook staatmakers soos Sarie van Niekerk en Marga Ley bygekom.)
In die biblioteek was Barbara en Mimi vir ons in daardie beginjare goud werd. Jelleke het gou haar spore as redigeerder verdien.
Van hulle het later op ander terreine prominensie verwerf. Susan Booysen het ‘n professor by die RAU (Randse Afrikaanse Universiteit) geword en is dikwels, veral deur die SAUK, om politieke kommentaar genader. Ek is seker baie luisteraars sal daardie effe ongewone manier van praat onthou.
Julia het as Julia Viljoen redakteur van Huisgenoot geword. Elsa het haar as veelsydige joernalis aan vele fronte ontpop.
Ek is bly Erika roer die kwessie vanoggend aan en buk gewillig vir my aandeel van die slae wat subtiel aan die chauvinistiese mans van daardie era uitgedeel word.
In een opsig wil ek darem van Erika verskil. Dis regtig nie na ons vroulike kollegas wat ons as “vroudele” verwys het nie. Nee, die “vrouedele” was die vroueblaaie wat deur die vroueredaksies gepleeg is.
Naskrif: Terwyl ek hier skryf, kom herinneringe op aan twee fotomoleste in die begindae van Beeld.
Die Argentynse bokser Victor Galindez (die “Dier”) was in Suid-Afrika om teen Pierre Fourie te veg. In die (eerlike) strewe tot ‘n bietjie lewendigheid op ‘n stil dag stuur ek verslaggeefster Petra Pieterse om die “Dier” te gaan soen. Toe daardie soen in kleur die voorblad haal, was die gort gaar onder ontstelde vroulike redaksielede. Die nuusredakteur moes net koes vir al die verwyte oor seksisme.
My vertraagde maar opregte apologie, dames!
‘n Ander keer dat ek reikhalsend na die vreedsame Bloemfontein terugverlang het, was met die opening van ‘n groot winkelkompleks aan die Oos-Rand. ‘n Duisternis pryse is uitgeloof, onder meer vir die koper wat in die kleinste bikini opdaag. ‘n Jong, maer rooikop bedek net die noodsaaklikste met twee titseltjies lap. Ook die foto haal die voorblad.
Weer moes die nuusredakteur dit ontgeld – ook van verontwaardigde lesers – hoewel die waaghalsige besluit om die wenner so prominent op ons koerant se voorblad te laat paradeer, eerlikwaar nie myne was nie. Die besluit is kort voor saktyd in ‘n ander kantoor geneem. Maar deur wie? Nee daardie kollega was stom.