HOND SOEK ‘N VROU

Hy / sy moet nog net kan praat. So sê mense van ‘n skrander hond

Rondom die jaar 2000 in ‘n soektog na die skranderste hond het die BBC (British Broadcasting Corporation) se basterbrak Pippin sterk na vore gekom.

Die halfpoedel-halfspanjoel met ‘n bietjie Ihasa apso in haar was ‘n uiters leergierige hond.  Geen toertjie was skynbaar bo haar vuurmaakplek nie.  Sy kon o.m.  ’n koffer oopmaak, pak, toemaak en dra, ‘n TV-stel afskakel, sokkies in ‘n rak bêre en klavier asook ‘n potjie skaak speel.  Sy het nie al die skuiwe geken nie, maar sy kon sekerlik die stukke op die bord  rondstoot.

Sy kon ook ‘n bromponie ry, die kersies op ‘n verjaardagkoek doodblaas en op ‘n brug sit terwyl sy ‘n sak met inkopies met ‘n stuk tou na bo trek.

Princess Jacqueline, ‘n Amerikaanse bulterriervan die 30’s , kon gaste verwelkom met ‘n vriendelike “hello”. As hulle tot siens sê, het sy genooi: “Call again”.

Die hond van Mabel Robinson van Maine had, volgens veeartse, stembande soortgelyk aan dié van ‘n mens. Die mees ambisieuse woord in haar woordeskat van sowat 20 was “elevator”.

Ben, ‘n pratende hond van Royston in Hertfordshire, Engeland, se woordeskat  was meer beperk.  Hy kon slegs een sinnetjie uitkry: “I want one”.

In 1946 besluit die BBC Ben is dalk materiaal vir ‘n goeie onderhoud. Hulle stuur ‘n span joernaliste en klankingeneurs.

Die gesprek het soos volg verloop:

Stephen Grenfell van die BBC:  Wel, Ben, het jy enige kleintjies.

Ben: “I want one.”

Grenfell: Dan sal jy eers vir jou ‘n vrou moet kry.

Ben: “I want one. “

Hul onprodktiewe gesprek het ten minste die  koerant Mirror in staat gestel om met ’n klassieke ponieblad-opskrif op straat te kom: “DOG TELLS BBC HE WANTS A WIFE”!

(Uit: ‘n Vriend vir altyd – Honderde Hondestories deur Hennie van Deventer, Human & Rousseau, 2000).

 

NATNEUS-NUUSMAKERS

In Die Burger kry hondeliefhebbers (ook enkele katliefhebbers) die laaste ruk ‘n goeie kwota stories oor geleerde troeteldiere wat ook as “nuusdraers”uitblink. Gelukkige mense lees hul koerant soggens horisontaal met komplimente van ‘n getroue “Wagter” wat as vaste roetine as karweier ootree van hek tot bed.
Van al die “nuushonde” (in ‘n ander sin as die gewone) – en daar is werklik baie – was Tina, ‘n Skotse skaaphond van Yzerfontein waarskynlik ean van die doeltreffendste waarvan ek weet. ‘n Kwarteeu gelede was sy voorbladnuus en het ook ‘n boek met “honderde hondestories”gehaal.
Elke oggend het die kompetente sewejarige teef vir haar baas , Hannes Jordaan, sy Burger by ‘n kafee soat drie blokke ver gaan koop. Sy het ‘n sakkie gedra met die koerantgeld en ‘n rekkie. Die eienares – wat eers gemeen het die hond is darem baie voor op die wa – het die geld geneem en die rekkie gebruik om die “binngoed” van die koerant vas te bind.
Tina was bedrewe met die delikate raakvat van haar vrag. Dit is sonder skeurtjie tuis besorg.
Vir Jock, ‘n Staffordshire-bulterreier van Boksburg van dieselfde era, was die gaan haal van die koerant in die posbus maar een van sy take. Hy het behoorlik gebokspring om ook ander opdragte va sy baas, Steve Calitz, uit te voer.
Hy het sy baas geroep as die telefoon lui, sy skoene uitgetrek en sy pantoffels aangedra. Hy kon help om kruidenierspakkies uit die motor te laai, en kon selfs, op versoek, ‘n paar note op die klavier druk. Hy het elke mens in die huis se naam geken. Word hy gestuur om iemand te gaan haal, het hy altyd met die regte een aan die mou teruggekom.
Geen wonder nie dat sulke natneus-nuusmakers gereeld die koerant haal met hul bedrewenhede. Hulle verdien ‘so n spesiale hondehoekie soos op die foto.

MARTIE MEIRING: BEELD- EN BOSBROEDERSKAP

Miljoene woorde het in 50 – meer as 50 – vrugbare skryfjare uit Martie Retief-Meiring se tikmasjien / rekenaar gevloei.  Met een paragrafie   vereenselwig ek my 110 persent.  Dit was oor die bos-broederskap wat in my bos-toevlug Sabiepark heers.

Op 7 Februarie 1980 in Beeld skryf sy treffend: “Swart, wit, watter taal ook, watter stasie in die lewe ook, reik oor grense heen as hulle in hierdie atmosfeer van die bos saamsit om ’n vuurtjie, vertel van ’n spoor, onthou van toe die troppe groot en naby was, waarsku teen ’n luiperd wat baie naby aan die kamp rondbeweeg.”

Ek sou Sabiepark eers jare later, in 1988, ontdek. Net so het alles daar aangetref as wat my mede-Beeld-pionier dit in 1980 beskryf het. Uiteindelik was die Van Deventers en die Meirings se huise in Sabiepark net ‘n  klipgooi van mekaar. Albei bereik jy via Apiesdoring – en Wildevylaan.

Van hul huis, Meiringspoort op erf 267, staan drie herinneringe uit: die ruim dakstoep, die “blaker” en die vloed van 2000.  Die stoep is seker soos die een waarvandaan koning Dawid die skone Batseba afgeloer het toe sy bad. Van daardie stoep kyk jy ver tot binne die wildtuin oor die Sabierivier.

Sabieparkers kan nogal mededingend raak as hulle begin “stoepstories” vertel. Een spog met ’n watertand-luiperdstorie, ’n ander met ’n vertelling oor ‘n uiters seldsame voël hoog en droog in ’n oorhangende tak. Die prys vir die sonderlingste stoepervaring moet gaan aan Martie en ’n vriendin. Hul waarneming was in Martie se woorde “uniek, maar vreeslik tragies”.

Van daardie stoep het die twee vroue dopgehou hoe vlugtelinge uit Mosambiek die rivier probeer oorsteek. Voor hulle val ’n baba toe in die water. Hulle het magteloos aanskou hoe die ou rooi bondeltjie sommer net verdwyn. Later het soldate van die mense se goedjies gekry wat saam in die water beland het. Daaronder was foto’s van die familietjie voor hul hut in Mosambiek. Die baba was spoorloos.

By Meiringspoort het ek ook ‘n unieke “blaker” gesien. Die nekwerwels van ’n ontslape kameelperd het vir daardie doel ’n nuwe lewe gevind.  So ’n nekwerwel met ’n kersie lyk kompleet nes ’n engeltjie!

Met die Groot Vloed van 2000 het ek my uit Melkbos na Sabiepark gehaas vir ‘n inspeksie in loco. Een van die mees dramatiese gesigte was die Meirings se huis omring deur ‘n see van water.  Die Sabierivier het deur hom gevloei. Ek het ‘n foto daarvan. My eie was gelukkig droogvoets.

Martie se argitekman, Hannes, het hul anderster Moorse huis ontwerp –  anders as al die ander boshuise in die reservaat.  Hy was natuurlik ook die argitek van Beeld se eerste kantore in Doornfontein, Johannesburg.  ‘n Pakhuis is as ‘n tuiste vir die nuwe dagblad herontwerp. Op die manier het Hannes en Martie se paaie gekruis.

By Beeld het my en Martie se paaie ook gekruis. Op die eerste redaksiefoto wat in 1975 geneem is – hoekom nie in 1974 nie weet ek nie – sit ek en sy langs mekaar in die voorste ry (foto links). In daardie voorste ry is dit nou nog net Ton Vosloo, Ebbe Dommisse en ekself wat lewe. Voorheen oorlede is Johannes Grosskopf, Bob van Walsem, Piet Botma, Bob Lindsay en Lorna Vosloo. Mag hulle, en nou ook Martie,  in vrede rus.

By daardie koerant is ‘n kollegiale broederskap in die span gesmee (ook met die susters) wat tot vandag voortduur. Vir ‘n keer dat sy dit in uitdagende omstandighede uitgeleef het, bly ek haar veral dankbaar.

In 2009 is my boek Byl in my bos gepubliseer  – my herinneringe aan 130 mense wat reeds langboompies toe was (‘n lys wat al hoe vinniger groei). Die lysie in Byl sluit in politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël , wat vooruit is.  Dit is nie ‘n gedugte boek nie.

Die Burger het Byl nietemin vir Martie gegee om te resenseer.  Haar resensie was kollegiaal simpatiek ondanks gebreke wat ek goed besef.  Vir Crito van Litnet (later onthul as kollega Kerneels Breytenbach) was dit te dik vir ’n daalder.  Vir hom was die boekie te lig in die broek vir ‘n gerekende resensent soos kollega Martie.  Wyle Frits Gaum (ook pas oorlede) was in Kerkbode darem ook minder afwysend as Crito. Maar dit net terloops.

Wat ek eintlik op die hart het, is dat Martie se dood – minder as ‘n maand ná Beeld se 50ste verjaardag –  vir my soos min ander die verwisseling van generasies beklemtoon. Hoe lank nog, dan is ons almal weg en bestaan daardie era net op skrif.  Sic transit gloria mundi.

VAN HENNIE AAN JIMMY

Jimmy, Rosalynn en Amy in 1976.

Uit Piet Cillié se knapsak vol stories leen ek vandag die een van die omstrede leraar wat met die aanbreek van kalmte in sy gemeente gevra is hoe hy sy teenstanders oorgehaal het. Sy antwoord: I outlived the bastards.

My tema is dat Jimmy Carter 100 jaar oud is. Hy kan seker ook daarop aanspraak maak: I outlived the bastards. Dit sluit die mense in wat hom destyds wou kruisig oor o.m. sy Playboy-onderhoud waarin hy erken het dat hy vele kere met begeerte na vroue gekyk en in sy hart owerspel gepleeg het.
Sy vrou, Rosalynn, het maar net geswyg en liefies bly glimlag.
Met die verkiesing van die vir my bra oninspirerende grondboontjieboer van Plains, Georgia, tot Amerikaanse president in 1976 was ek in die VSA: ‘n NIenmangenoot aan Harvard in Crambridge, Masaachusetts. Ek het die veldtog op Amerikaanse TV gevolg. Dit was nogal ‘n sirkus met al die TV-debatte, ens.
Die Suid-Afrikaner en ‘n Mormoon uit Utah, Rod Decker, was die enigste “Republikeine” in ons Niemanklas. Ons man was Gerald Ford wat ‘n goeie drag slae gekry.
Uitslagnag was ‘n groot gedoente met drie TV-stelle – een op CBS, een op NBC, een op ABC – reuse-pizzas en ‘n bad vol Budweiserbier. Namate die uitslae gewys het hoe die wind waai, het ek en Decker stiller geword. Die opgewonde oormag van Demokrate het ons ongenadiglik gekoggel. John Painter van Portland, Oregon, was die voorbok. Hy het later ‘n vriend geword wat hard probeer het om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Amerika moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel gaan oopsny!
Toe die aankondiging kom Carter is president, het die Nieman-kurator, James Thomson, van aandoening in trane uitgebars. Dit was die tweede keer in sy lewe dat hy gehuil het, het hy later verleë erken. Die eerste keer was met sy pa se dood. Later het hy ‘n jubelende artikel geskryf: Oh to be a Jimmy! Maar Carter was darem die eerste Demokraat in ‘n lang tyd wat die Withuis gehaal het ‘n Mens kan die Demokrate sulke buitensporige reaksies verskoom.
‘n Toneeltjie wat my bybly, was op die dag van die inhuldiging. Op pad Withuis toe het Jimmy (oftewel James Earl Carter), Rosalynn en hul te-groot-vir-haar-skoene-dogter, Amy, die swart ampsmotor verlaat en hand-aan-hand in Pennsylvania Avenue afgestap, die klein snip van ‘n meisiekind hopping and skipping” between them”, soos die Amerkaanse media uitasem berig het.
Vir hulle was dit ‘n teken van plat op die aarde wees – vir my was dit ietwat vertonerig.
Miskien moet ek maar by Jimmy se 100ste grootmoedig wees om my kritiese beoordling van hom en sy presidentskap te sluk. Hy het duidelik sy merk gemaak – ook daarna as lid van die sogenaamde Eminent Persons-groep.
In 2002 is hy met die Nobelprys vir vrede bekroon vir sy “untiring effort to find peaceful solutions to international conflicts, to advance democracy and human rights, and to promote economic and social development”. Dis nie elke Jan Rap en sy maat wat so vereer word nie.
Dus: geluk uit Melkbosstrand, ou Jimmy. Die boodskap kom van Hennie, Rod Decker van Utah se pêl. Jy onthou mos?

BAD SE GAT

Ek weet nie mooi wat ‘n digi-gedig is nie. Bemerk egter die ATKV bied ‘n kompetisie vir Afrikaanse digi-verse aan. Een afdeling is vir komiese gedigte. As ek sou ingeskryf het, sou ek gewaag het met “Bad se gat” – enetjie waarmee ek lekker gespeel het. Dalk kan iemand my laat weet of ek die kat aan sy … wel, sy stert … beet het. Hier volg dit:
BAD SE GAT
’n Goor aand in Islamabad
soek ene Jasser Arrafat,
bibberkoud en waternat,
naarstig na ’n warm bad;
toe het ’n kwajong-lat,
vir wie weet wat,
met die bad se gat
se prop laat spat.
Ja, Arafat se twak was nat
die aand toe hy ‘n bad wou vat
maar vaskyk in daai bad se gat
in in-der-dagen-sat Islamabad.

PERDEKRAG TOT WARE KRAG

Sestien maande gelede, op 18 Mei 2023, het ek op hierdie blad ‘n kans betreur wat ek laat glip het. Waarskynlik is die geleentheid vir altyd verlore, het ek my lot bekla.
Maar vir woorde soos “vir altyd” of “nooit” moet ‘n mens maar lugtig wees.
Op Vrydag, 27 September, kom die kans toe weer. ’n Verbluffende siklus word daardie dag in my lewe voltooi: van ‘n treppie (perdekarretjie) tot ‘n ten volle elektriese spogmotor het ek nou in my 83 (amper 84) jaar op aarde gery.
Met die treppie het my Oom Danie du Plessis my as vyfjarige en my weduweema op Kaallaagte kom haal as ons met die Oranje-Snel van Kimberley kom om by hulle op hul plaas in die distrk Paul Roux te kuier. Die seuntjie het hom van die agterste bankie verwonder aan die spogperde wat ons so ligvoet en kopspelend op die plaaspad karwei (en aan die groot speekwiele).
Vrydag het Johannes Moses my in Kusweg, Melkbosstrand, vir ’n kort plesierrit met ‘n Volvo XC40 geneem. Die ou man het hom verwonder aan al die knoppies en nuwerwetsighede, die afwesigheid van ‘n enjin en die blitsige versnelling toe Johannes so effens vetgee.
In Mei was dieselfde Johannes met dieselfde Volvo by my huis. Hy het ‘n pakkie vir een van die grootbase kom haal. Eers toe die Volvo geluidloos oor die bultjie verdwyn, besef ek: ek kon ten minste gevra het om tot op die hoek saam te ry het ter wille van ‘n historiese ervaring.
Vrydag het Johannes vir Ton Vosloo Melkbos toe gebring vir ’n ete. Ek sou nie weer met ‘n mond vol tande staan nie. Trouens, Johannes het my en die oud-voorsitter van Naspers saam voor die Volvo afgeneem – as iemand dalk dink dat ek lieg.
Die spesiale ervaring skep die geleentheid om oor die wiele in my lewe na te dink.
Los die babawaentjie en die driewiel maar daar. Van die perdekar (1946) tot die ossewa (in 1948 op ‘n plaas buite Kimberley) tot haas elke denkbare voertuig van die volgende sewe dekades plus is op my lys.
Praat van motorfietse dan onthou ek veral my oom Willie Smith. ‘n diamantspeurder, se forse syspan-model. As hy die pad vat, het die wind deur jou hare gespeel.
Vragmotors het ek elke dag gery toe ek in 50’s ‘n jaar in die skooltjie op die myndorpie Enyati in Noord-Natal was. Soggens het ek en my niggies Lina en Elsa Maritz op Boshoek langs die pad gaan staan. ‘n Steenkoolvragmotor laai ons dan op. Smiddae was dit dieselfde storie terug. Die Studebakers was my gunsteling.
Vir openbare vervoer het, buiten die trein, regte, egte outydse trems, trolliebusse, stedelike dubbeldekkers en moderne My City’s gesorg – ook een van die 50’s se ou half-bus-half-vragmotor-gevaartes van die SA Spoorweë. Die verskeidenheid luukse-toerbusse en minder-luukse-toerbusse in verskei lande was enorm.
Motors? Onmoontlik om almal te probeer onthou. Die eerste was my pa se 1938-Plymouth. Nou ry ek ‘n redelik resente BMW X1. Tussenin was daar stasiewaens, SUV’s, sportmotors (‘n Tukkievriend se Karmann-Ghia), sedans, limousines, kombi’s, allerlei bussies, kewers, jeeps, Londense taxi’s – selfs ‘n Goggomobiel. Daar was V8’s, sessilinders, 4 x 4’s, wankelenjins en wat nog.
In ‘n renmotor was ek darem nie. Aan ‘n tydren het ek wel in die 60’s deelgeneem in ‘n Ford Zephyr. Minder suksesvol – ek, nie die Zephyr nie.
Amper vergeet ek my oom Marthinus Maritz se Chevvie met sy “dickey seat” (weet nie wat dit in Afrikaans genoem word nie). Vir oningeligtes: dit was ‘n oopslaan-sitplek waar jy nou die kattebak vind. Gewoonlik plek vir twee mense.
Van hom lees ek op Google: Dickey seats in early motor cars – sometimes called ‘mother-in-law seats’ – were inherited from horse-drawn carriages, where they were customarily occupied by servants or by guards on mail coaches. Originally they were called simply ‘dickeys’; the Oxford English Dictionary traces the first use of the term back to 1801.
Skoonma se sitplek! Die bynaam het ek nooit gehoor nie. En my skoonma was buitendien ‘n engel. Sy was welkom binne die motor.
Maar ek dwaal. Eintlik wou ek maar net sê: In watter era was ek nie bevoorreg om te leef nie en watter revolusionêre veranderings het ek nie alles in my leeftyd beleef nie. ‘n Ten volle elektriese motor – dit het nie te lank gelede nie geklink soos ‘n verbeeldingsvlug van ‘n wetenskapfiksie-skrywer. En nou maak hulle al karre wat hulleself bestuur. Keer voor!