HASIE, HASIE VAALJAN

Naand uit Melkbos

Nie alle studenteliedjies wat ek lustig gesing het, sal ek vir my kleinkinders leer nie. Die enetjie in die vorige blog is twyfelagtig – veral daardie “laaste wens” van “just pickle my bones in alcohol”.

Een wat ek hulle vrymoedigheid sal leer, is Hasie, Hasie Vaaljan, ‘n onskuldige liedjie wat Peet Langley van Alldays (broer van Thomas, politikus, en David, verspring-atleet) altyd in Kollege op sy kitaar uitgetokkel het.

Sien, ons was soms voorbeeldige jong manne wat nie net altyd met skuinse grappies besig was nie.

Hasie, Hasie het in Penguin Place 11 ‘n nuwe relevansie verkry met die verskyning op die toneel van ‘n werklike wit hasie met swart ore – is alle troetelhase wit met swart ore? Hy behoort aan die bure maar om redes van sy eie verwyl hy die meeste van sy tyd op ons werf verwyl. Ek sê hy. Dit kan ook ‘n sy wees. Ek weet nie.

Hy/sy en Tokkie kommunikeer lekker. Sy’t hierdie ding met diere.

Jy kan die haas nie miskyk nie as hy/sy met sy/haar kenmerkende vaartversnellings s-draaie op die voorstoep begin gooi, of agter die blombak in die voortuin skadu kom opsoek vir ‘n siesta.

Veral vir die klein mannetjie Christopher (2) is Hasie ‘n bondeltjie vreugde, hoewel die twee ouer manne, Jacob en Thomas (7), die mak diertjie duidelik darem ook oulik vind.

Sondag is hier ‘n Moedersdagbesoek afgelê – deur die haas sowel as die kinders. Ouma was in haar noppies dat die twee besoeke oorvleuel het. Christopher was onbeteueld opgewonde.

Agterna besef ek die tyd was logisties uitgeknip om die seuntjies Hasie, Hasie Vaaljan te leer.

Die woorde lui:

Hasie, Hasie Vaaljan
Olifant speel kitaar,
Slakkie blaas die saksofoon
En Skilpad sê net poing-poing, poing-poing ….

Studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai rapporteer hy het sy kleinkinders met Hasie eindeloos vermaak. Hy sing die eerste deel. Hulle val in by poing-poing, poing-poing. Dit het hulle laat kraai van plesier. (HvD)

O AARDE, HIER KOM EK!

Middag uit Melkbos

Onder “Geboortes en Sterfgevalle in die diereryk” word die volgende “persoonlike advertensie” altyd deur ons en ons bosvriende met vreugde begroet: “Gebore in Sabiepark, Mpumalanga: fris kameelperdjie. Moeder en baba albei wel.”

Elke keer as ‘n Sabiepark-nuusbrief dié blye bulletin bevat, heers groot opgewondenheid in die Van Deventerhuis. Dis ‘n okkasie.

Des te meer was dit ‘n okkasie vir ons dogter, Marisa, haar man, Brent, hul drie seuns, die tweeling Jacob en Thomas(7) en Christopher (2) en drie gaste wat die Paasnaweek toeskouers was by ‘n kameelperd-“bevalling” in ons eie straat, Wildevylaan.

Die gelukkige groepie het die hele geboorte van A tot Z gevolg, van die oomblik dat die beentjies begin uithang het totdat die nuweling, kop, pens en pootjies, kaplaks op die grond te lande gekom het.

Wat ‘n weergalose natuurervaring, veral vir ontvanklike kindergemoedere. Die foto’s daarvan is, sonder om te oordryf, met een word aangrypend. Ek plaas vandag’n kompilasie, met komplimente van Brent.

Op Melkbos is ek en Tokkie per selfoon van die vordering op die hoogte gehou. Ons is so meegesleur dat jy maar kan sê applous het hier, 2 000 kilometer ver, spontaan opgeklink toe die kleinding doer uit die hoogte drie meter ver op die grond neerplons.

Die eerste boodskap van Marisa af het die tafel vir urelange meelewing gedek: “ Kameelperd besig om geboorte te gee. Kinders kyk – ek op pad. Brent het my gou kom haal!!!”
‘n Volgende boodskap het gelui: “Bene halfpad uit. Ongelooflik!”

Toe kom die aankondiging: “Kameelperdjie gebore. Lê nou op die grond.” En kort daarna: “Te donker … kan nou niks sien nie.”

Die volgend oggend was die Claassens-span vroeg op die kraamtoneel. Tussen die takke deur het die kordate lang nekkie van die baba uitgesteek. Toe, seker weens die een of ander ongehoorsaamheid, kry die outjie skaars 18 uur na sy eerste aanskoue van lewenslig ‘n moederlike skop!

Wat ons kinders en kleinkinders beleef het, was nie my en Tokkie, en ook niemand in ons vriendekring, nog beskore nie. Die naaste was die entoesiastiese rapport van ‘n vriendin dat sy kort voor ‘n vorige kraamgeval kon waarneem “hoe die kleintjie in die kameelperdmamma se buik beweeg”.

Een van die jonger generasie kameelperde is enkele jare gelede op ons werf verwek, glo ons egter – en daarvan was ons seun, Johan, en sy vrou, Mariza, getuies. Fotografiese getuienis van die daad bestaan. Johan moes vinnig die knoppie druk. Met “vinnig”, bedoel ek “vinnig”. Sodra die ys ná ‘n tydsame toenadering gebreek is, gaan kameelperde as ‘t ware tot snelvuur oor.

Hulle poer-poer nie in die “slaapkamer” nie! (HvD)

TSHIKELEI-DI-EI

More uit Melkbos

‘n Liedjie uit die vergange Tukkiedae duik nou die oggend, wanneer, skielik spontaan in my gedagtes op:

And when I die
And when I die
Don’t bury me at all
Don’t bury me at all
Just pickle my bones
Just pickle my bones
In alcohol
In alcohol.

Ek e-pos dadelik vir Piet Henning van Chiredzi/Louis Trichardt, wat destyds ons “liedjieboer” was. Hy het met ‘n sak vol rugbyliedjies (nie almal ewe behoorlik nie) van St. John’s College in Johannesburg by Kollege-tehuis oorkant die Jukskei opgedaag.

“Onthou jy hom? Onthou jy die res van die woorde?” wil ek weet.

Nie lank nie hier blits Piet se antwoord terug:

Tshikelei
tshikelei
Kom lê by my
kom lê by my
dat ek en jy
dat ek en jy
so lekker kan vry
tshikelei, tshikelei.

Natuurlik, toe onthou ek. Net, na my wete, moet dit lui “tshikelei-di-ei, tshikelei-di-ei”. Die ekstra lettergrepe sing lekkerder.

Nietemin, nou is die sluise van “onthou-jy-nog?” oop wat Tshikelei of Thsikelei-di-ei betref. Oor ‘n laat-Sondagaandwyntjie onthou ek toe ook die volgende versies:

You can’t go to heaven
No you can’t go to heaven
In a Ford V8
In a Ford V8
‘Cause a Ford V8
‘Cause a Ford V8
Will crash at the gate
Will crash at the gate!

You can’t go to heaven
No you can’t go to heaven
In the SAR
In the SAR
‘Cause the SAR
‘Cause the SAR
Don’t go that far
Don’t go that far!

You can’t go to heaven
No you can’t go to heaven
In this old bus
In this old bus
‘Cause this old bus
‘Cause this old bus
Is full of us
Is full of us!

Pierre le Roux tree intussen uit Mosselbaai tot die gesprek toe. “Thsikelei” of “tshikelei-di-ei” maak nie saak nie. Albei is dooddollies, laat weet hy.

Wie wil nog saamgesels? Al vereiste (darem net speel-speel): jy moet 70 jaar oud (of dêm amper 70) wees! (HvD)

MAN VAN (S)TAAL – AL DIE PAD

Naand uit Melkbos

Sondag is die bekroonde motorskrywer en my gewese woonstelmaat in Bloemfontein Ben van Rensburg ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.

Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub van Die Volksblad in Bloemfontein was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder om hulle vir ‘n skrobbering aan te meld.

Van ons ander aan daardie subtafel het met die jare sag en minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.

Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk hemelhoog op met hul slordige taal; ook met ‘n argelose onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemener as in die ou dae voorkom.

Ben het vele passies, waarvan suiwer Afrikaans net een is. Hy het onder meer ook ‘n passie vir motors. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap dat sy liefde vir wiele ‘n lang pad kom. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, was nie om dowe neute nie. Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.

Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy sterke aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Vandat sitplekgordels op die toneel verskyn het, het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Aikona, ou maat, vergeet dit. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie.

La-a-a-ng ente het hom nooit afgeskrik nie. Doerie tyd het hy dikwels op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy Kewer weggespring om in die Kaap vir ‘n meisie te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.

Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende …. Goeie aarde, die man se passies hou eenvoudig nie op nie.

Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben wat hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van Wilgenhoffers saam te stel.

Praat hy van Namibië kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.

Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in Villa Cortona, Durbanville, getrek. Dit is Mei en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, is nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang!

As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hy is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.

Toe ons in La Gratitude in Bloemfontein woonstelmaats was – 1965 rond – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van Stukvat in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.

Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwes-dae, SAUK-dae, Volksblad-dae, Beeld-dae, Rapport-dae, Burger-dae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie of wat op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. Soos ek by sy geskenkie geskryf het, is dit my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit.

Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans! (HvD)

Naskrif: Ben ry ‘n Honda CR-V soos die uwe. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige deskundige gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.

BEN EN APPLES

Op Melkbos se stoep: HvD, Ben en Hannetjie

Middag uit Melkbos

Die uitdrukking “vir Afrika” om oorvloed te beskryf, is vir my ietwat vreemd, want al oorvloed wat Afrika werklik ken, is oorvloed aan mense (en armoede en versukkeldheid).

By my neef Ben Smith en sy vrou, Hannetjie, in Jukskeiweg, Kelland, Randburg, kry jy meer as een ding in oorvloed. Teen hul mure hang minstens 100 oorspronklike skilderye – plek-plek tot drie diep. In die manjifieke tuin (al gewys op TV en in tydskrifte) is ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam swem hope reuse-koivisse. In hul harte is ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.

In Ben se kas is ‘n oorvloed wat letterlik “vir Afrika” is. In drie netjiese rye lê 45 onderbroeke . Dit is “vir Afrika”, want Ben, wat Afrika in sy jonger jare platgery het met sy Sani en spesiaal geboude sleepwa, wou nie onderbroeke was as hy op safari is nie!

Aan die einde van ons Sabiepark-vakansie het ek en Tokkie drie dae by die Smiths gekuier. Voor ons vertrek het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”

Ja, Hannetjie is nie net ‘n voorslag-tuinier wat pryse inpalm en as ‘n soort Moeder Owerste vir die Soweto-tuinbouklub praktiese uitreik beoefen nie – sy is ook kosmaker by uitnemendheid. Sy toor met hoender! Haar wenresepte swerf die wêreld vol.

Oor Ben en Hannetjie sal ek maklik te lank skryf, want ek en Tokkie is aan hulle baie verskuldig – het o.m. een keer ‘n maand lank met kinders en al by hulle ingetrek toe ons aan die Rand moes nesskrop in 1974. Daardie twee huiwer ook nie om op die vliegtuig Kaap toe te klim vir troues, verjaardae en sulke spesiale dae by die Van Deventers nie.

Toe hulle hier was vir my 70ste het Ben, tot my lewenslange dankbaarheid, raak gediagnoseer wat die oorsaak is van die alewige, raaiselagtige gerammel van ons stoepdak elke keer sodra die Suidoos lostrek. Hy het dadelik ‘n stukkie plank by die hardewarewinkel gaan kry (presies die regte lengte en breedte) en dit op presies die regte plek met die hamer ingekap. Die dak is stil.

Ben se hande staan vir niks verkeerd nie. Hy glo ‘n Boer maak ‘n plan – hoewel sy kaste vol gereedskap nou grootliks moet terugstaan vir die rekenaar, wat hy op 76 entoesiasties en met verrassende kundigheid omvattend benut. Sy versameling foto’s (nooi geweet Mr. Bean het so ‘n wulpse dogter dogter nie!), video’s, slimstories en wat nog op sy hardeskyf is om jou hande oor saam te slaan. Hy weet presies waar om wat te soek.

Nou in Johannesburg het Ben opgemerk dat ek en hy nog nooit vasgesit het nie. Ons het werklik nooit nie, vandat ons as seuntjies saam vlieërs – “diamonds” en “swallows” – gevlieg het op Kimberley se mynhope. Ook nie toe ek jare later, in Pretoria, met sy motorfiets in Pretoria neergeploeg het nie. Ons sit nou op ons oudag nie nog nie vas nie, hoewel ons albei sterk menings oor verskeie sake het. Ek vermoed ons swyg liewer soms diplomaties as om mekaar uit te lok!

Oor Ben kan ek die jongdae-herinneringe inryg. ‘n Herinnering, wat ek op my 70ste opgediep het, is hoe ons een aand in die Velskoen-inry ‘n oulike Rietfonteinse buurmeisie, Heather, “gedeel” het. Voor pouse het sy en Ben agter in die motor gesit. Ná pouse het hy ewe ridderlik (en met goedgunstige instemming van die nooi uit ‘n kloosterskool) met sy jonger neef plekke geruil.

Ek onthou ook ‘n partytjie by een van Ben se vriende. Ons is met sy sy eerste motor, ‘n Opel Kapitan, daarheen. Ek en ander studentemaats het weens pure stuitigheid op die dak van die Opel gery.

Almal ken Ben as Ben. Sy seuns, Brent en Brian, noem hom Ben. Sy skoondogter, Michelle, noem hom Ben. Sy kleinkinders, Teegan en Kyle, noem hom Ben. Die huishulp, Maggie, noem hom Ben. Letterlik almal noem hom Ben.

Dit sluit ook die leerskare bankamptenare in wat hy by die bankvakbond Sasbo gedien het. Ben het die land platgery om kontak te hou – twee miljoen myl, het hy bereken. Later het hy hoofsekretaris geword. Dit was goue jare vir Sasbo en vir Ben. Hy is een van die gelukkige mense wat geensins twyfel nie: As hy weer kan kies, wil hy geen ander loopbaan hê nie.

Oor name: Die Smiths se skoondogter, Michelle, kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”. Omdat dit darem nie sou deug as die kleinkinders hul ouma “Granny Smith” noem nie, het sy “Apples” geword.

Dié storie het ek al vertel. Maar ek vertel dit graag weer, want Ben en “Apples” is twee erename, ook in ons boekie, vir twee wellewende mense vir wie baie ander mense om goeie redes baie tyd het! (HvD)

ONS BURE SE BOME

Arend de Waal, Hennie van Deventer, Cas Jacobs, drie studentemaats saam op Melkbos in Januarie 2011

More uit Melkbos

Wat ons die raasblaar noem, is vir Suidwesters die koedoebos. Hierdie kostelike stukkie inligting kom van Arend de Waal, studentemaat wat tot sy aftrede hoof van Windhoek se Pionierskool was.

In reaksie op my boomblog (Ode aan my bome, 1 Mei 2011) skryf hy insiggewend oor Suidwes se bome – onder meer oor die kameeldoring wat hy die “koning van ons boomsoorte” noem, en die “deurmekaar” (watter mooi naam uit die volksmond!)

Arend sal hopelik nie omgee nie as ek sy boombydrae met ander bloglesers deel. Hy skryf:

Dagsê Hennie

Ek is `n boommens, want `n boom praat met my. Jou weergawe van die bome rondom jou huis het ek intens geniet.

Daarom kan ek vir jou in Windhoek gaan wys waar staan bome wat glad nie in hierdie deel van die land voorkom nie. Bome soos die maroela, heilboom , tambotie mopanie, sandgeelhout, annaboom wat jy net in die noordwestelike rivierlope kry, worsboom uit die Kavango.

Soos jy jou boomomgewing in Sabiepark beskryf , leef my grootwordjare weer in my. Ek het in die noorde van “Suidwes” grootgeword, waar baie van die bome wat jy genoem het ook voorkom. My wêreld is die van die maroela, mopanie, tambotie, omborombonga ( wat dalk by julle die hardekool genoem word ) waaraan die Herero-groep baie waarde heg as deel van hulle herkomsgeskiedenis, bergsering, een van die adelikes in die natuur met sy liggroen sambreelkroon teen die berghang, wilde dadel, witgat, appelblaar, masjarra ( in die volksmond die “deurmekaar” genoem) .

Die jakkalsbessie kom hoofsaaklik in Ovamboland voor. Wat julle die raasblaar noem, is by ons die koedoebos. Die makalaniepalm kom net in die noorde voor. Dit is die palm wat so karakter gee aan Ovamboland se sonsondergange.

Die koning van ons boomsoorte en wat jy kan noem ons nasionale boom is die kameeldoring, een van die karaktervolste bome wat jy kan kry. Hoe droër sy omgewing, hoe meer karakter toon hy. Die kameeldoring is egter in die RSA net so bekend, veral in die Kalahari en spesifiek Kimberley se wêreld

Ek stem saam oor die kwaliteit van die sekelbos as braaihout. Saam met kameeldoring tel hulle onder die bestes wat daar is. Maar vir my is die mopanie die koning. Swarthaak is `n verpesting as indringerbos en die boere roei dit nou uit deur bespuiting met vliegtuie. Maar as jy hom nat afkap en dan droog maak, is hy eweneens `n uitstekende braaihout en word ook gebruik om braaikole te maak.

Die voorkoms van sekelbos is `n aanklag teen `n boer wat sy grond verniel het net soos swarthaak. In die Karstveld van die noorde, veral rondom Grootfontein en Otavi, kom die wildevy baie voor, net soos die olienhout

Mense maak meubels van die Suidwes-kiaat wat bekend staan as dolfhout, wat net in die Kavango en die Caprivi voorkom.

Nou raak ek liries oor die inheemse bome van ons land, maar op my eie erf staan `n jakaranda en `n Australiese peperboom wat ek nie die hart gehad het om af t e kap toe ek hier ingetrek het nie, bloot omdat dit teen my grein gaan om `n groot boom te vernietig!

(Van my kant het ek vir Arend ‘n stukkie oor vuurmaakhout gestuur wat in 2004-boek “Buurman van die Wildtuin” verskyn het, en sy kennersmening gevra. Hou hierdie ruimte dop. Hier’s my stukkie:

Elke stamboekvuur begin natuurlik by die regte hout. In Namibië is dit die klipharde kameeldoring (of sy bruikbare stalmaat, vaal kameelboom). In die Bosveld is die eerste keuse hardekool, ‘n gespierde stuk yster versteek agter ‘n misleidende silwergrys bas. Hierdie koning van die combretums is onlosmaaklik deel van die Afrikaanse vuur-kultuur. Wie ‘n kampvuur ken wat met hardekoool gestook is, weet die kole het die volgende oggend nog genoeg woema om koffiewatertjies te kook

‘n Stomp hardekool is ‘n prima-Bosveldgeskenk. Jan de Necker (erf 281 uit Appelblaarlaan) het vir my ewe plegtig met sy Avis-Golf ‘n pragstuk kom aflaai om vir iets dankie te sê. Dit bêre ek soos goud vir ‘n baie spesiale geleentheid. Soos ‘n bottel kosbare ou wyn uit die beste skatkamers van die Bergkelder.

Hardekoolbome trotseer die elemente met ‘n taaie onwankelbaarheid. As hulle uiteindelik doodgaan — sò ‘n aristokratiese boom kan mos nie vrek nie! — bly hul skelette nog eeue lank hul monumente. Jy sien dit om baie vleie in die Wildtuin. Die Herero’s van Namibië glo selfs dat hul voorouers in hardekoolbome verander. Klaarblyklik is daardie trotse nasie ook deur die onsterflikheid van hierdie bosreuse getref.

Een ongeluk: hardekool raak al hoe skaarser. Vorige generasies het daarmee gemors. Gebruik dit dus asseblief spaarsaam en oordeelkundig. Dit is deesdae ‘n wet van die bos. Selfs die grootste vuur-fynproewers moet teen wil en dank maar vir alternatiewe rondkyk. Te ver hoef hulle darem nie te soek nie. Hardekool se kleinboet, rooiboswilig, die dominante boom in baie kolle in die Wildtuin, lewer self ‘n bobaas-braaihout. Op plekke waar die optel van hout, anders as in Sabiepark, wel geoorloof is, word die beste vuurmaakhout in rooibosveld versamel. Dit kan ek waarborg. Tel net die ou verknoetste stukke op — dit lyk of hulle nooit verweer nie. Ou rooibos-stamme word ontsettend hard. Dumisa, ‘n sterk, jong Sjangaan van die Huntington-trustgrond naby Sabiepark, het op ‘n Saterdagmiddag, na ‘n dag se fisieke arbeid by Tarlehoet, nog genoeg krag in sy arms oorgehou om twee bylstele op weerbarstige rooibosstompe flenters te slaan.

Ek kon Arend ook meegedeel het dat meubels van dolfhout nie aan my onbekend is nie. My ou Bloemfonteinse buurman die politikus Toy Vermeulen wat nou in Atlantic Beach-landgoed, Melkbos, woon, het die allerpragtigste dolfhout-kaste in sy huis. (HvD) )