May 2, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Vir my bome (vorige blog) sal ‘n koper diep in sy sak moet grawe as hy Tarlehoet syne wil maak. Nie dat ek wil verkoop nie. Ek wil nie dieselfde fout maak as die Klerksdorper wat jare gelede in ‘n impulsiewe oomblik ‘n goeie aanbod aanvaar het nie. Toe hy na ‘n nag se wroeg sy heiligdom vir dubbel die prys wil terugkoop, loop hy hom in ‘n onwillige nuwe eienaar vas.
Natuurlik is in Sabiepark groot, swierige en duur huise waarteen die Van Deventers se boshuis maar beskeie opweeg. Vir ons is Wildevy 154 egter doodreg. Die huis is, wat ons betref, presies groot genoeg en sy boskarakter is nogal besonders. Die nuwe Harveyteëldak lyk spiekeries.
Sy sebravelle, skilderye en hope wildfoto’s teen die mure dra tot ons plek se boskarakter by. Ook sy rottang- en onopgesmukte dennehoutmeubels. Die bome (en wild) wat by elke sonnige venster inloer, voltooi die prentjie. Die laaste Sondagmiddag toe ons na kerk in Skukuza en ‘n rit al langs die rivier langs Onder-Sabie toe by die huis kom, was dit juis weer sulke tyd: ses sebras agter teenaan die huis, drie kameelperde langs die motorpad. Ons kon hulle deur die eetkamer- en die sitkamer se syvenster dophou.
Outydse waaiers wat uit die dak hang, skep ‘n koloniale atmosfeer, en is natuurlik goud werd wanneer die kwik in die hartjie van die somer op galop raak.
Tarlehoet se afgesonderdheid is ‘n waardevolle skepper van rustigheid en vrede. Die straat, Wildevy, is ver, meer as 100 meter soos die boskraai vlieg. Die kronkelpaadjie na die huis tussen die erewag van bome en struike deur is – hang af hoe groot jou treë is – tussen 110 en 120 meter. In die somer steek die loof elke teken van die buurmanne se tuistes deeglik weg.
Die ruigheid van die area is blykbaar vir die luiperd aantreklik. Jy kry sy spore op die sagte van van die motorpad. Hy’t al op die stoep geslaap – soos ‘n bouspan tot hul skok moes agterkom. Die skugter bosbok wei sommer maklik ‘n uur lank rustig reg rondom die huis. Dan klik die kamera aaneen!
Saans as ek my eie vuurtjie aansteek, is dit absoluut net ek en my vuurtjie. “My vuurtjie en ek is op wag, my vuurtjie en ek alleen…” Die vlammetjies van geen anderman se vuurtjie lek voor my oë nie.
Maar ons is darem nie te ver om die Sabierivier se gedruis oor die bed van rotse op pad na die Kruger-wildtuin en Mosambiek toe 24 uur per dag te hoor nie. Dit is ons agtergrondmusiek, waarteen die roep van die visarend en ‘n koor van voëlgeluide sielsverheffend opklink.
Ook die gedurige geproes van seekoeie in die rivier, en die trompetter van uitgelate olifante op die oewers bereik gemaklik ons ore.
Ons hektaar-erf het ‘n straatfront van 120 meter, wat ongewoon breed is, selfs vir Sabiepark. Buiten sy bome-rykdom en genoeg veld vir die wild om te kom wei spog die erf met ‘n eie bekie wat na goeie reën lustig kabbel onder laagwaterbruggie van klippe in Wildevy deur.
Tarlehoet het ‘n ruim kuierstoep onder ‘n hoë grasgewelf. Dit is waar die bosnagape en die nagapies aand vir aand hul vertonings kom lewer. Die nagapies het twee geweefde grasnessies hoog teen die muur, maar selfs met daardie voorsprong moet hulle roer om voor die gulsige bosnagape op die “piesangtafel” te kom. Die ruime beskikbaarheid van soethappies het ‘n hele gesin van laasgenoemde blykbaar na ‘n boom naby die voorstoep laat verhuis. Dis skaars donker, dan sit hulle afwagtend in die groot maroela of hoor jy hul voetstappe ongeduldig heen en weer op die dak.
Die toegekampte braailapa is vier trappies ondertoe van die stoep af. Vir ‘n middagbraai is dit ideaal, met uitgestrekte skaduwees waarvoor die maroela, jakkalsbessie en die naaste knoppiesdoring sorg. Van jou braaier het jy ‘n onbelemmerde uitsig op die watergat waar wild van tyd tot tyd hul dors kom les of – soos die hiënas en vlakvarke – sommer in hul drinkwater kom mors!
Agter, aan die noordekant, is ‘n tweede lapa, ook met ‘n paaltjieheining vir veiligheid na donker – knusser en meer beskut as die voorste, groter ene; aangenaam wanneer die windjie die aand koelerig raak, wat inderdaad ook soms gebeur. Die ligging teenaan die kombuis is bevorderlik vir gesellige kuiertjies tussen kosbereider en braaier.
Die swembadjie – nie veel groter nie maar aansienlik dieper as die sogenaamde “splash pools” wat taamlik algemeen raak in Sabiepark – is ‘n somer-saligheid enige tyd van die dag en nag. Net jammer die bobbejane begin ontdek hoe verkwikkend ‘n vinnige induik kan wees. Daarom hou ons die seiltjie deesdae maar lossies op.
Tarlehoet is presies een kilometer van piekniekplek – ‘n lekker stappie vir ‘n lid van die kieriebrigade. Al gaan dit rus-rus, ek kom daar. Boonop is Wildevy ‘n skilderagtige boom-omsoomde straat met ‘n skotige driffie waar enige verrassing kan skuil. Ons het al in die skemer ‘n luiperd daar gekry, maar darem jare gelede!
Vergewe die ontboeseming. Na die ode aan my bome het die lus my beetgepak vir ‘n tweede, algemene ode aan my plek – ter bevrediging van ‘n opwellende nostalgie saam met die jare wat drafstap, maar darem ook vir kennisname van eiendomsagente en voornemende kopers:
Moenie Tarlehoet se waarde onderskat nie! (HvD)
May 1, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Uit my bed, as ek soggens in Sabiepark ontwaak, is die eerste blik op die muur van bome aan die anderkant van die skuifdeur altyd vir my ‘n betowerende begin van die dag. Vanjaar is dit of ek die feitlik ondeurdringbare Bosveld-lower voor my oë met nog groter intensiteit waarneem – dalk weens die bereiking van die simboliese en Bybels-betekenisvolle 70 nou ook al vier maande gelede op 3 Januarie 2011.
Elke venster van ons boshuis, Tarlehoet, bied sy eie boom-prentjie. Soos Za-Za Pieterse, skrywende boervrou van Smithfield, in ‘n ode aan Sabiepark by my 60ste geskryf het: dit is asof die Bosveld oral in die park deur die glas by die mensekinders kom “inkruip vir ‘n oulaas-lê”. Die toneel van ons bed af is my gunsteling, hoewel die panorama van 180 grade van die stoep af ook sterk meeding.
Die drie dimensionele toneel van die bed af in skakerings van groen is in die boonste hoek geraam deur die sytakke van ‘n gedugte maroela, een van die Vyf Grotes van die boomryk, en ‘n parmantige jong jakkalsbessie wat styf teenaan die ou heer se stam opbeur. Regs bo in die raampie steek die boonste takkies van ‘n sterkastaiing uit.
Die naaste laag bome bestaan hoofsaaklik uit pendorings, rosyntjiebosse, ‘n driehoek rusperboontjies en ‘n verskeidenheid sekelbosse, wat in Kerstyd, wanneer dit in blom staan, skitter. Die sekelbos is nie verniet as die “Bosveldse Kersboompie” bekend nie.
Die tweede vlak, ietwat hoër, bestaan uit onder meer wilde katjiepiering, Laeveldse melkbessie, ‘n horingoue pendoring en ‘n stewige raasblaar. Die derde vlak is rysige knoppiesdoring op rysige knoppiesdoring, soos die silhoeët van ‘n stad met indrukwekkende wolkekrabbers.
As jy by die voordeur uitstap op die ruim kuierstoep, staan jy oorstelp. Dis net bome, bome, bome. In die somer, en nou ook in die welige herfs wat ons vanjaar beleef, word jy begroet deur ‘n see van groen, dikwels gemeng met ‘n reënboognasie van voëls: van die statige bloukuifloerie wat al roepende van tak tot tak hop, tot dartelende withelm-laksmanne tot raserige kakelaars met hul alewige ge-“kekkel”.
Tussen die blare steek dalk die lang nekke van kameelperde uit, of die gestreepte vet lywe van rustig-weiende sebras – soms gelyktydig en met ‘n bonus soos bosbokkies, rooibokkies of vlakvarke bygevoeg.
Die bome-verskeidenheid word aangevul deur onder meer maroelas, wat ook Vyf-Grotes-bome is, jakkalsbessie, haak-en-steek, appelblaar, blinkblaar-wag-‘n-bietjie, kierieklapper en ‘n hand vol rooiboswilge. Van die stoep af sien ‘n mens ook die hele halfmaan wakende “soldaatjies” om die drinkgat: ‘n reuse-rosyntjie, rooiboswilg, pendoring, Transvaalse saffraan en melkbessie op aandag, styf teen mekaar. Jy sien nog knoppiesdorings – erf 154, Wildevy, se nasionale boom, soos ek hulle al gedoop het.
Hierdie muur is minder ondeurdringbaar as die een wat uit die slaapkamer waargeneem word, maar die wisselende kleure, teksture en hoogtes skep ‘n onvergeetlike tafereel.
Dis ‘n raaiskoot, net ‘n raaiskoot, dat ons so 40, 50 van die sowat 400 Bosveldbome op ons erf van een hektaar het. Ons klinkerhuis is letterlik omring deur bome. Waar die voorste braai in die skaduwee van ‘n maroela en die jong jakkalsbessie staan, is die agterste in die skadu van twee knoppiesdorings, ‘n kleiner maroela en ‘n rooiboswilg (terloops, ‘n voortreflike braaihout).
Van die agterste braai kyk jy op ‘n pragtige huilboerboon op ‘n miershoop, ‘n geil raasblaar en ook op die mooiste blinkblaar-wag-’n-bietjie op ons erf. As die huilboerboon blom, is dit feestelik getooi in rooi. Die knoppiesdorings (ek tel, waar ek hier sit en tik, vinnig 15) dra in die lente weer ‘n wit bruidsluier. Die doringbome se geel bied ‘n vrolike afwisseling in die blomtyd van die acacias.
Net deels van die stoep (en van die huis af) sigbaar, is die boonste punt van die kronkelende groen oprit van sowat 120 meter uit Wildevy. Langs hierdie laning – ek spog onbeskroomd dat dit een van die mooiste in Sabiepark moet wees – staan ‘n erewag van pragbome wat mooi, opgeskote jakkalsbessies en maroelas insluit. Hulle gaan GROOT bome word. Saluté, julle!
Ander buitengewone bome aan weerskante van die motorpad sluit in sambokpeul, huilboom (helaas bra sukkelend), swartklapper, rooidoring, skilferdoring, sebrahout, dopperkiaat, vaalboom (met sy onverdiend onvleiende naam en kunstige stampatroon), kierieklapper (beroemd as leweransier van reguit kieries) en allerlei gwarries (o.m. towergwarrie en Natal-gwarrie). Sekelbosse (ook goeie braaihout) staan ingeryg. As die son deur die fyn blaartjies skyn, skep dit ragfyne silwer patroontjies. Van tamboties (let wel, NIE geskik as braaihout nie!) skiet langs die motorpad ‘n jong woud op.
Langs die stoep begin twee aangeplante impalalelies en ‘n aartappelbos (ruik soggens en saans nes aartappel in die pan) mooi koers kry.
Maar raai, net nêrens op Wildevy 154 kry ek ‘n teken van enige wilde- of ander vy nie! (HvD)
Apr 30, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
‘n Skilder hou by ‘n karaktervolle kremetart in die Krugerwildtuin stil om dit vinnig te skets. Op daardie oomblik daag ‘n stowwerige motor met ‘n GP-registrasie op. Binne is pa, ma en vier kinders. Dit lyk of dit vir die verwaaide gesinnetjie ‘n lang, frustrerende dag kon gewees het.
“Wat sien julle?” vra die nuwe aankomeling hoopvol. “Ons kyk na die boom,” antwoord die skilder. “F… boom,” brom die Gautenger. Toe trek hy weg met ‘n vaart wat sy verontwaardiging verraai.
Wildtuinbesoekers kan erg uiteenlopend wees. Een sarsie soek net leeus. ‘n Ander sal amper bo-oor ‘n leeu ry om ‘n roofvoël te kiek (of ‘n boom te skets). Jy kry diegene wat net rondry van vroeg tot laat asof iets hulle jaag, en diegene wat die rustigheid van ‘n koelteboom by ‘n watergat verkies.
Jy kry mense met eerbied vir die natuur en die etiek van wildbesigtiging. Jy kry wildewragtigs wat geen snars omgee nie en reëls buig en breek soos hulle lus kry, en veral by piekniekplekke van hulleself ‘n lawaaierige oorlas maak. Die nuwe geen-alkohol-vir dagbesoekers-reël is op laasgenoemde se rekening en hul rekening alleen.
‘n Subspesie van die chroniese leeujagters is wat ek wil noem die ankermanne. Dit is die ouens wat anker uitgooi as hulle snuf in die neus kry ‘n leeu (of luiperd) is dalk in die omgewing. Dan klou hulle, in afwagting op die ontwykende dier se verskyning, verbete aan hul staanplek, soos nete – ongeag of iets gebeur en hoe die motors om hulle opdam, soos almal beur en nekke rek om “ook te sien”.
Net buite Satara se kamphek was nou die dag een van daardie leeus waarvan almal gehoor het, maar niemand presies weet waar om voor te soek nie. Toe ek die oggend daar verby is op pad na N’wanetsi vir ‘n koffietjie was ‘n ou in ‘n wit kombi op die toneel geanker. Hy het iets gehoor van ‘n “male lion stalking an impala”, maar “you can’t see it now”.
Ons is met die teerpad N’wanetsi toe en met die rivierpad (die S100) terug. Ons het baie mooi kameelperde, waterbokke (ook klein waterbokkies, of “druppeltjies”, soos Tokkie hulle noem) en sebras gesien. By die natuurskone Gudzanidam in die driehoek wat die S100 en die S41 ‘n klipgooi van die Mosambiekse grens vorm, was olifante, sebras, rooibokkies, allerlei reiers en ‘n krokodil.
Toe ons terugkom was die wit kombi nog op die toneel, plus ‘n pakkaas ander voertuie kruis en dwars geparkeer sodat niemand kon verbykom nie. ‘n Vrou met ‘n besorgde frons het beduie daar is “one male lion”, maar hy is in die skaduwee van die bos. Sy soek hom nog, het sy erken.
Ons is mik-mik deur die nouste van nou gapings om gou in Satara ‘n sakie of twee te gaan afhandel. Toe sien Tokkie die maanhaar. In die skadu maar onmiskenbaar. Sy beduie en ek sien hom ook.
Toe ons weer verbykom was die kombi nog daar. En die bekommerde vrou met die frons. Weet nie wat hulle intussen gesien het nie.
Ons het ‘n rukkie by die uitgestrekte Nsemanidam op die Orpenpad (die H7), stilgehou en is toe met die S40 na die Girivanadam ‘n paar kilometers van die grootpad af. Daar het ons voorheen al leeus gekry, en ook ‘n reuse-swerm rooibek-kweleas in ‘n boom.
Hierdie keer was daar niks. Maar die rustigheid onder ‘n koeltemoom was tasbaar. Ons toebroodjies en koffie uit die warmfles was soos koningskos.
Ek onderskat nie leeus (of luiperds) nie, en is ook opgewonde as ek hulle raakloop. Ek wonder darem: heg party mense nie te veel waarde aan ‘n vinnige glimps van een van die Groot Katte ten koste van baie ander Wildtuin-genot wat hulle kon beleef het nie? (HvD)
Apr 29, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Kellerprinz-braai 1981. Die Van Deventergesin by twee jong kollegas, Tom Ferreira en Deon Meyer.
More uit Melkbos
Deon Meyer is gewis Suid-Afrika se mees gerekende skrywer van spanningsverhale op die internasionale toneel. As groen redaksielid, vroeg in die jare 80 by Die Volksblad in Bloemfontein, was hy ‘n vuur-en-vlam-verslaggewer. Hope entoesiasme was in sy skraal lyf te bespeur.
Ek het al voorheen gespog met die beroemde gees wat Die Volksblad in my redakteurstyd opgelewer het (asof ek iets met sy latere roem te make het!). Ek voeg graag onbeskeie by dat ook Chris Karsten, die kroonprins van Afrikaanse spanningsliteratuur, een va my kuikens was (asof sy latere sukses deur my toedoen is!), maar dit daar gelaat.
Nou dat Deon se begindae in die joernalistiek in die jongste Sarie te berde gekom het, kan ek seker maar weer die spogvoet voorsit. Sarie haal die uwe kortliks aan oor Meyer as jong joernalis. Ek gee hom die lof wat ek hierbo uitspreek, maar het in my kommentaar in alle eerlikheid bygevoeg dat ‘n element van verstrooidheid, helaas, ook teenwoordig was.
Nog kort by Die Volksblad, het hy ewe onverskillig mnr. Kosie Pansegrouw – groot gees van Rouxville – tot Piet Pantsegrouw (!) herdoop. Vonke het om die redakteur se kop gespat. Dié het dit met rente afgewentel.
Vir die energieke jong man met die deurmekaar kuif, groot brilglase en sonskyn-glimlag kon jy nie lank kwaad bly nie. Hy was ‘n joviale kollega, en het gou uit die redaksie ‘n kampioen-braaispan georganiseer.
‘n Ouer spanlid onthou hoe hulle gedryf is. Meyer wou wen! Hy het ook – Die Volksblad het die Kellerprinz-kroon losgebraai. ‘n Lekkerlees-poprubriek, Popskop, was sy volgende monumentjie. Tot Advokaat Lang David de Villiers in die Kaap het Deon Meyer se Popskop glo verslind.
Meyer het geglo sy stories móét op die voorblad wees, en het elke berig – hoe gering ook al – gepak asof dit die hoofstorie was. Sy kollegas het hom eers oor dié gedrewenheid gespot. Hul spot het vinnig plek gemaak vir bewondering. Hulle het besef “verloor” was nie in hierdie man se woordeskat nie.
Miskien sy onvergeetlikste Volksblad-storie was ‘n onderhoud met die kanonvoet-losskakel De Wet Ras nadat dié ten gunste van Errol Tobias oor die hoof gesien is vir die Springbokspan. Ras was woedend en het, terwyl hulle gesels, telkens ‘n duif met ‘n windbuks omgeklits. Deon het in kleur en geur daaroor berig.
Elke dooie duif was in sy storie – tot die ontsteltenis van die sportskrywers. Hulle het gevrees Ras se loopbaan is daarmee begrawe. Dit was darem nie, en die jong Deon het hom met sy voorbladstorie onderskei as die begaafde joernalis wat hy inderdaad was.
Deon, ek salueer jou. Ryg nog vele treffers uit. (HvD)
Naskrif: Goeie of slegte nuus, maak jou keuse – ek is egter nog nie klaar geskryf oor die Van Deventers se bosvakansie nie. Staal jou vir ‘n volgende aflewering na hierdie vinnige onderbreking!
Apr 27, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Ek en olifante is dit eens: die Olifantsrivier se water is soet. Ons keer weer en weer terug – ek na die kamp doer bo op ‘n steil heuwel om sielsaligheid te vind, en die Grootvoete na die vlak, breë waters van die mooi rivier, ver benede die kamp, om te drink, te bad en te speel.
Die arendsnes-uitsig op die Olifantsriviervallei is skouspelagtig, die panorama so groots dat die tydskrif “Weg” se spesiale Krugerpark-gids dit waag om doodernstig te sê-vra: “Dit is immers hoekom jy hierheen (Olifants toe) kom, of hoe?” Daardie aanspraak is egter nie honderd persent juis nie.
Die rivier, hoe meesleurend ook al, is in my boekie net een van die magnete wat Olifants-verslaafdes telkens teruglok. Die plantegroei (kenmerkende mopanies en nabome by die hope), die rotsagtige Lebombo-wêreld en die uitleg van die kampterrein met sy norring inheemse bome dra by tot Olifants se karakter.
Een keer was die Van Deventers in ‘n hut langs ‘n Van Wykshout. Die moeder van die huis is ‘n Van Wyk. Dit was ‘n ontdekking hoe mooi haar boomgenant blom!
Ander, ewe kragtige, trekpleisters is moeiliker om in woorde uit te druk of met ‘n swaai van die arm aan ‘n eerste besoeker te wys. Dit is iets mistieks – iets opkikkerends in die lug, ‘n atmosfeer, ‘n gevoel van tuis kom wat jou oorweldig die oomblik as jy deur die hek met die kenmerkende reuse-olifanttande aan weerskante die kamp binnery.
Jy hoef nie bo op die rotsrif te staan en op die rivier af te kyk om te ervaar dat Olifants Wildtuin is met ‘n hoofletter W nie. Jy voel dit al in jou gebeentes terwyl jy nog nader kom, soos die H1-4 stadigaan voor jou korter word, die blou Lebomboberge nader in die visier kom en die mopanies digter en meer raak.
Ek en Tokkie was die vakansie weer in Olifants – die soveelste keer. Ons het sommer beskeie in die doodgewone rondawel 59 geslaap, waar ons die rivier net kon hoor. Ons genot was egter nie minder as diegene s’n wat tot donker op hul stoepies met verkykers die rivier en sy hinterland kon bespied nie.
Vir verskeie vriende het ons van ons stoepie af boodskappies gestuur: “Ons vuurtjie brand vanaand in Olifants. Dit voer ons gedagtes ver-ver terug.” Ver-ver, inderdaad. Saam met studentevriende, bure en ander goeie maats is goue tye hier deurgebring. Ou albums vertel hoe die tyd aangestap het. Die kinders op die foto’s raak groter, die grootmense gryser.
Pa en Ma Malan het ons aan Olifants bekend gestel. Ek onthou die eerste indruk: ‘n menigte roofvoëls wat in die lugstrominge bo die ravyn sweef. “Sweef soos ‘n arend …”
Daardie aand het ons in die restaurant gaan eet: outydse kos – sop, vis, twee vleisgeregte, groente, gebakte poeding, afgespoel met ‘n bottel Grünberger Stein en koffie. “Nes die Impala se kos”, het Ma opgemerk. Sy en Pa het daardie tyd die Impala-Residensie in Visagiestraat, Pretoria, bedryf.
Ma het ‘n keer haar goue horlosie (met enorme sentimentele waarde) in Olifants vergeet. ‘n Enkele oproep was nodig. Dit is by hul huis in Gezina afgelewer. Goeie ou dae.
Ek onthou onder meer hoe ons uiteindelik, na hoeveel nekrek-episodes, die seldsame witkopkiewiet op die sandbanke by die brug oor die Olifantsrivier op die H1-4 in Tokkie se Newmans kon afmerk; die enorme trop rooibokkies neffens die uitkykpunt net voor die afdraai na die kamp, en ‘n klaarblyklike seekoei-konferensie – net swart lywe en snoete waar jy kyk – naby die laagwaterbrug by die intieme, klein kampie Balule, waar ek in Julie ‘n nag gaan deurbring – die vervulling van ‘n ou droom.
Van Olifants onthou ek, helaas, ook enkele teenspoedjies. Een is my skrik toe ‘n bobbejaanmannetjie by die uitkykpunt by my in die kombi spring en my broodjie uit my hand pluk. ‘n Ander is hoe dieper die draadstoele se pote in die nat grond wegsak terwyl ek en studentemaat Manie Steyn al hoe dieper in die wynbotteltjie loer, en ook al hoe dieper by ons vroue in onguns beland.
Annette van Rensburg van Bloemfontein was nie min verontwaardig nie toe ‘n geveerde van onbekende herkoms op haar kroontjie tjorts. En uiters ontstellend was die gloede van brande, brande, brande ver op die horison in 2001 toe dit wou lyk of vlamme die park wou verswelg.
Gelukkig is die natuur se salf altyd ‘n wondergom wat die kwaaiste littekens verberg.
Deesdae gaan my kierie van Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvark-tand al saam Wildtuin toe, nie uit vertoon nie maar uit noodsaak. Tokkie dra ewe sorgsaam die swaarste bagasie om die ou man se kranklike heup te beskerm. Gelukkig is ons darem nog nie te oud vir Olifants nie! (HvD)
Apr 27, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Die uil – ‘n reuse-ooruil – lyk maar taamlik verlee: ‘n regte uil op ‘n kluit.
Tussen Olifants en Satara in die Krugerwildtuin het ek en Tokkie ‘n hele ruk vasgenael gesit terwyl ‘n kordate kroonkiewiet die ou uit alle rigtings bombardeer.
Soos ‘n wafferse “Spitfire” het die kiewiet al vuur spoegende en al kwetterende die een aanval op die ander op die verwarde uil geloods.
Die ou grote moes net koes. Hy het seker te naby aan die verbete aanvaller se nes gekom.
Ek voel self ook maar uil-op-‘n-kluit-erig. Telkens het ek die Canon se sluiter net te laat gedruk. Die kiewiet het klaar verby geswoesj as ek die toneeltjie verewig.
Sou nie as sportfotograaf my brood kon verdien het nie. (HvD)
* Lees die blog “Die uil en die kiewiet” hieronder.