BIELIES VAN DIE BOS

More uit Melkbos (koud maar met stralende sonskyn)

Twee bielies van die bos wat in April in Sabiepark raakgeloop is, is die kampioen-sampioen hierbo en die witmot met die yslike angel hieronder.

Tokkie se twee hande slaag nie naastenby om die blink. brons knewel van ‘n paddastoel te omvou nie.

Die witmot was al oorle witmot toe Tokkie hom iewers naby die huis optel. Sy “tradsisionele wapen” was egter nog ver van verskrompel.

Een kyk is voldoende om te weet waartom die sop so gespat het toe die meneer my vrou se toon op ‘n vorige vakansie in Sabiepark in haar slaap aangeval het.

Ons soek en soek, maar sukkel om die spesies op die foto’s te identifiseer – bedoelende die paddastoel en die mot, nie Tokkie nie! Laat hoor tog as jy dalk kan lig werp. (HvD)

UIL EN DIE KIEWIET

More uit Sabiepark

‘n Konfrontasie tusen ‘n kroonkiewiet en ‘n reuse-ooruil in ‘n boom langs die H1-4 op pad terug van Olifants na Satara is dié een enkele toneeltjie van hierdie Aprilvakansie wat my sal bybly. Die verwarde uil moes net koes vir ‘n vale terwyl die kiewiet kwetterend een lugoffensief op die ander om sy kop loods. Hy was seker te naby aan haar nes.

Die Vyf Grotes kon op daardie uitstappie afgetik word. Mooi troppe buffels het na Tshokwane voorgekom. By die skilderagtige Gudzanidam aan die einde van my geliefkoosde S100 na N’wanetsi was ‘n trop olifante in die water. Die leeus was vier welpies. Die skattige gevreetjies was in die lang gras langs die pad naby Olifants – op dieselfde stuk as ons luiperd en renoster.

In Sabiepark was ons nommer een-ervaring sommer op die eerste aand. ‘n Yslike luislang, ons eerste tot dusver – seker maklik vier meter van kop tot stert. Gelukkig het hy later moeg geword vir die laatwag-speletjie. Ons was haastig om by die huis te kom.

‘n Verdere vermeldenswaardigheid is die agt spesies wat ons Maandagaand 16 April binne twee uur besoek het, ‘n rekord. Hier was koedoes, sebras, wildebeeste, rooibokke, vlakvarke, bosnagape, nagapies en ‘n gewoonlik uiters skugtere bosbokram, wat seker ‘n uur lank rustig om die huis gewei het – asof hy die koekieblik ontdek het, sê Tokkie. Die volgende met eerste lig was hier kameelperde en vlakvarke.

Carl en Sarah was Maandagaand hier vir ‘n skaapboud uit die Weber. Hulle het die volop wild ook geniet. Ongelukkig was die voolmaan agter die wolke.

Die bosnagape het die kleintjies nou uitgeboer. Eersgenoemde kom te laat. Die ou grotes laat nie op hulle wag nie. Hulle sit in die maroelaboom of stap ongeduldig op die dak rond. As die piesang op die tafel kom, is dit verby met Doris Day.

Ons is vies vir die bosknape wat alles vir hulleself inpalm. Een het ‘n hele gesinnetjie egter in die boom sit en wag – die toonbeeld van huislikheid. Ma en kind lek mekaar oor en weer. Toe die ete op die tafel kom, bars huismoles egter los. ‘n Ander aand het een seker ‘n uur lank in die knoppiesdoring voor die huis sit en skree, tot sy stem deurslaan. Wat hom ontstel of opgewonde gemaak het, kan ons maar net raai.

Ons het uiteindelik ‘n witmot kon afneem met die geweldige angel ontbloot. Jy kan sien hoekom is daardie gogga se byt nie speletjies nie.

‘n Ander vreemde verskynsel was ‘n reuse-sampioen – brons, blink en breed. Tokkie se twee hande kan dit nie toevou nie.

Iets nuut van ‘n ander aard om aan gewoond te raak, is die geen-alkohol-reël vir dagbesoekers aan die Wildtuin. ‘n Wyntjie by Lake Panic is deesdae uit. Ek moet ook gewoond raak aan die ys (sulke klonte) in my wyn langs die vuurtjie. Maar ek MOET gewig verloor!

Die dak voldoen aan ons verwagtinge. John Izaaks het netjies gewerk. (HvD)

ADVOKAAT VIR POLISIE

More uit ‘n sopnat Sabiepark

Waar kampvuurtjies, kakieklere en velskoene heers, en waar sonkrag, lampe en lanterns vir lig sorg, is ek nie een vir swaar letterkunde op my bedkassie nie. Hou dan maar die Akademiepryswenners eers eenkant!

In Sabiepark lees ek graag oor die natuur. ‘n Gawe boekerytjie oor dié onderwerp kom op dreef met Africana soos Memories of a Game Ranger van Harry Wolhuter, Sanctuary van C.S. Stokes en Wild life in South Africa van J. Stevenson-Hamilton (die nimlike Skukuza) op my boekrak.

My eie bosboeke – Buurman van die Wildtuin, die twee Mayafudi’s (Afrikaans en Engels), my gedenkboek by HvD60, Halfpad Hemel Toe, Olifante Onbeperk en Sabiepark-foto-album – word trots naas die bekender werke van gewigtiger skrywers (figuurlik!) uitgestal.

Ek lees ook vir ontvlugting. James Hadley Chase wat in my jonger dae my kos was op doerie dae se Buffelsbaai-vakansies word fluks herbesoek. Soms soek ek pitkos, veral biografiese en semi-biografiese werke van eietydse sleutelmense met prikkelende insigte en relevante stories om te vertel.

Hierdie Aprilvakansie bring my Sabieparkvriend Frik Nel, voorheen brig. Frik Nel van die Veiligheidspolisie, vir my die boek van die laaste kommissaris in die ou bedeling, generaal Johan van der Merwe, Trou tot die dood. Daarin kyk hy terug op ‘n bewoë stuk geskiedenis wat ek as joernalis self intens beleef het. Toe ek begin lees, is ek dadelik geboei.

In hoofstuk na hoofstuk ontvou die brandpunt-episodes. Sommige het al ietwat vervaag. Die hoofstuk oor die Cato Manor-opstand voer my byvoorbeeld terug na ‘n amper vergete Saterdagmiddag in die jare 60 op Stilfontein in die ou Wes-Transvaal toe ek as studenteverslaggewer die huwelik van ‘n oorlewende bygewoon het. Die bruidegom in sy blou polisie-uniform se gesig was vol permanente letsels.

Een helder herinnering, daarenteen, is aan die Silverton-bankbeleg in my Beeld-dae in die jare 70. Frik was, terloops, aan die spits van die ondersoek. Ek sou hom egter eers meer as drie dekades later oor ‘n tjoppie en ‘n glasie wyn, die eerste van vele, in Sabiepark leer ken.

Dit voel soos gister toe die foto’s van die voos geskiete terroriste binne die bank die aand by Beeld op my lessenaar beland. Soveel bloed en sulke stukkende liggame op die voorblad? Die gedagte het my aanvanklik laat terugdeins.

“Gooi dit groot,” was die advies van my kollega wyle Bob van Walsem, ‘n beredeneerde Hollander. “Die mense sal die bliksems so wil sien.”

Die polisieman Mof de Klerk se onskuldige swanger vrou is in die chaos in die bank dood. Die storie van sy desperate pleidooi om aan die stormloop deel te neem, gryp my opnuut aan. Sulke herinneringe laat my besef hoe in die kol Bob daardie aand was. Die mense WOU groot foto’s van dooie terroriste sien om die weersin uit hul bloed te kry.

Later, met die Kerkstraat-bom in die jare 80, toe ek al by Die Volksblad redakteur was, het ek gewens dat ons sulke grafiese foto’s gehad het om tot troos en stigting van ons lesers te plaas, nie net foto’s van die dood en verwoesting in die eie kamp nie.

Generaal Van der Merwe skryf volledig en openhartig oor omstrede insidente en sensitiewe sake soos hakkejagte oor landsgrense heen, Vlakplaas, Dirk Coetzee en Eugene de Kock, asook die onheuglike openbaarmakings by die WVK. Hy erken dat soms te ver gegaan is. Maar hy spaar nie die roede oor sekere politici se rol nie. Die polisie is deur sekere vername here gruwelik in die steek gelaat, betoog hy.

Sy bitterheid oor die vrotsige hantering van die kritieke kwessie van algemene amnestie is opgeteken in woorde van gal wat duidelik steeds in sy mond opstu.

Hoe het die persepsie wyd in die polisie ontstaan dat bepaalde dade tot op die hoogste vlak ondersteun en selfs goedgekeur is? Generaal Van der Merwe gee ‘n verklaring wat na my oordeel nogal geloofwaardig is. Mense met kort geheues kan gerus kennis neem.

Natuurlik sal sommige kritici hom wil braai. Niemand is mos so fel in hul verwerping nie as diegene wat eensydig alle gruweldade van die terroriste-oorlog net by die veiligheidstak – en veral net by wit Afrikaners – wil soek. Hierdie leser had plek-plek ook onbeantwoorde vrae oor bepaalde buitensporighede en optredes, maar een ding moet ek sê: ‘n beter advokaat as Johan van der Merwe sou sy era se geregsdienaars ver moes gaan soek.

Nie net as ywerige pleitbesorger dwing hy respek af nie, maar ook as toegewyde aktivis vir elke polisieman se persoonlike en kollektiewe belang.

Wat my deurgaans in Trou getref het, is die hegte polisie-broederskap wat grootliks tot vandag toe onder daardie generasie voortbestaan. Ek het altyd gedink boere help mekaar soos niemand anders nie. Hulle ploeg, saai en oes vir medeboere, herbou huise, skenk van hul beste eie vee om bure weer op die been te bring. Ook in Colorado in die VSA het ek hierdie ingesteldheid beleef by ‘n rodeo naby Denver om geld in te samel vir ‘n jong boer wie se opstal afgebrand het.

Maar die polisie staan nie terug nie – hulle dra mekaar se laste op waardige wyse op hul breë skouers met die sterre en ander rangtekens.

Oor een insident misgis Johan van der Merwe hom. Dit was nie Die Burger wat met sy scoop oor verbeterde polisievoordele vir die verbysterde minister Adriaan Vlok verplig het om ‘n voortydige aankondiging in die Parlement te doen nie. Dit was Die Volksblad. Jinne, die joernalis Jelleke Wierenga wat die boek persklaar gemaak het, behoort dit darem agter te gekom het, want Die Burger het mos nooit smiddae verskyn nie!

Klein dingetjie, maar sulke klein dingetjies waarvan jy persoonlik kennis dra – ek as skuldige redakteur moes generaal Leon Mellet die kastaiings uit die vuur help krap – laat jou ongelukkig wonder hoeveel ander “klein dingetjies” deurgeglip het. (HvD)

OOM BAFFIE SE BOEK

Middag uit die regte bos

Iewers in my koerant-anekdotes het ek die storie opgeteken van Oom Baffie Coetzee, laerskoolhoof van Ficksburg, amper lewenslange korrespondent van Die Volksblad op daardie mooi Oos-Vrystaatse dorp, wat altyd met meer toewyding en entoesiasme as bedrewenheid alles wat in sy domein gebeur vir Die Volksblad afgeneem het.

Oom Baffie se negatiewe was meesal oorbelig; dikwels onbruikbaar oorbelig. Hy het altyd geglo dis vrot donkerkamerwerk se skuld.

In die jare 70 vra ek, die nuusredakteur, ons hooffotograaf, Lappies Labuschagne, om Oom Baffie in my kantoor met die kamera te kom touwys maak.

“Watter knoppies druk jy, Oom Baffie?” wil Lappies by die gefrustreerde Ficksburgse kor weet.

“Ek druk die regte knoppies,” antwoord hy streng.

Jare later, in die 90’s toe ek al in my laaste pos by die Pers in die Kaap was, lees ek in Die Volksblad van een of ander baken wat oom Baffie bereik het: 80 jaar oud, goue bruilof, so iets.

Ek bel hom ter wille van die ou dae en ons gesels heerlik. Hy vertel my toe hy het sy lewensverhaal op daardie nuwerwetse ding die rekenaar neergepen. Toe hy net mooi klaar is, druk hy ‘n knoppie om alles netjies te bêre. Hy druk die verkeerde knoppie. Sy vinger dwaal na “delete” pleks van “save”.

Woerts is Oom Baffie se hele lewensverhaal iewers die ontsaglike kuberruim in! Vir altyd verlore.

My sogenaamde “welvaartbestuurder”, Jaap Duvenage – “welvaart” beteken maar net dat hy die man is wat na my swaar verdiende pensioengeldjies moet omsien – vind die storie van die verkeerde knoppie om die een of ander rede buitengewoon snaaks. Hy lag sy dawerende, wellewende lag telkens dat die trane rol.

Wel, Jaap, ek het vir jou nuus. Uit Oom Baffie se pen is wel minstns een boek op die rakke. Ek het ‘n eksemplaar in Sabiepark ontdek in ons informele bibliotekie waar jy kan boeke los en vat soos jy wil. Oom Baffie s’n het ek om klaarblyklike redes vir myself “verduister”.

Die boek, Die Bobankers van Malieshoek, het in 1981 (nog die goeie ou tikmasjiendae) by die destydse Dagbreek-boekklub verskyn. Jy ontdek dadelik Oom Baffie se hand. Die held is ‘n onderwyser by ‘n eenmanskool. Ficksburg se ambagskool kom ter sprake. Ook skoolkwessies soos debatte, rugby, dissipline, ens. En boerderykwessies soos goeie buurskap en droogtes.

In die rolverdeling is egter ook guitige nooientjies. In die blaaie van die boek kom selfs ‘n kritieke, ongewenste swangerskap voor, wat ek nooit met Oom Baffie sou vereenselwig het nie.

Trouens, voor in Oom Baffie se boek het ek geskryf:

“ Ai, Oom Baffie!

“ Wie sou ooit kon raai dat sulke aardse dinge in dié eerbiedwaardige ou heer se hart leef?

“ Oom Baffie was hoof van die primêre skool op Ficksburg en dekades lank Die Volksblad se kor op die dorp. Sy lewensverhaal is later op ‘n rekenaar verewig – en summier uitgewis toe hy die verkeerde knoppie druk. (HvD, 7/4/2011).”

Skielik wonder ek egter of my inskrywing nie eerder ‘n verheerliking van die tikmasjien moet gewees het as ‘n verwondering oor Oom Baffie se verbeeldingsvlugte nie.

Oom Baffie se boek is immers die produk van ‘n feit wat soos ‘n paal bo water staan: dat in die dae van die betroubare tikmasjien nog nie iets soos ‘n verkeerde knoppie was wat al jou moeisame arbeid in ‘n vlietende moment ongedaan kon maak nie – maar dan, aan die ander kant, natuurlik ook weer nie eenvoudiger digitale kameras wat die einde van negatiewe gebring het nie!

Heil die tikmsjien, maar ook die digitale kamera (sonder negatiewe)!

Ek wag dat Jaap in Sabiepark kom kuier om hom Oom Baffie se boek te wys. Wonder of ek dan weer daardie gul Duvenage-lag gaan hoor, en wat daardie lag in die heersende omstandighede sal beduie. (HvD)

KOEBAAI, WREDE WeRELD!

More uit (‘n nat) Melkbos

Saterdag 2 April wanneer die eindstryd om die krieket-wêreldbeker in Indië gespeel word, is die uwe op reis. Die Van D’s is op pad Sabiepark toe. Wil gaan kyk hoe lyk die (duur) nuwe dak.

Wanneer die eerste bal afgestuur word, sal ons op Kulula se vlug MN 112 na O.R. Tambo wees. Met die laaste bal behoort ons so plus-minus by Sabiepark se hek aan te kom (as ek die speeltye reg het).

Dis natuurlik as ons teenspoed vryspring. Veral die stuk pad tussen Hazyview en die Krugerhek is in die beste omstandighede nie ‘n plesier om te ry nie. Op ‘n Saterdag-laatmiddag sal ‘n mens op jou tande moet kners, en wawyd wakker agter die wiel wees.

Hoe ook al, toe ek ontdek watter belangrike krieketdatum 2 April is, was my geldjies vir die kaartjies klaar in Kulula se bankrekening. Vir die datum en tyd van ons vlug was prys deurslaggewend. Ek kon nietemin, soos my Tant Minnie altyd gesê het, my hare uit my kop trek dat ek jou waarlik die eindstryd kon vergeet.

Soos dinge ontwikkel het, hoef ek my nie te lank te verknies het nie. Die Proteas het weer eens soos ‘n vrot vuurhoutjie geknak. Agterna is verskonings vir die stukkende “vuurhoutjies” natuurlik volop. Een bewering is selfs dat dit ons, die Suid-Afrikaanse entoesiaste, is wat die stomme spelers onder te kwaai druk geplaas het. Grappie (LOL)!

Hoe ‘n volwasse man soos Corrie van Zyl sulke kinderagtige bog skaamteloos kan kwytraak, slaan my dronk. Wie het dan vir ons kom wysmaak die span het die ruggraat om bo uit te kom? En is die hele lot nie professionele sportmanne wat uitstekend betaal word nie?

Ek dink die koerante is die klomp (ook Andrew Hudson en sy mede- keurders) te genadig, en laat veral Graeme Smith te maklik wegkom. Sy lafhartige Londense ontvlugting vat die koek – watter prysenswaardige kapteinskap!

Kom ons vergeet tog maar die droewigheid. Die koeël is immers klaar deur die konsistorie. Al het ons teen Nieu-Seeland gewen, sou ons buitendien nie oor die volgende hekkie gekom het nie. Sri Lanka se topkolwers is nie “chokers” nie, en Malinga en Murali slaan jy nie sommer vir sesse nie.

Ekskuus as my luim nie lekker is nie. Ongelukkig is my gemoed ook deur ‘n ander ervaring versuur. Ek was Maandagnag in ‘n slaap-laboratorium om vir slaap-apnee getoets te word. Dit beteken ‘n nag in ‘n eensame hospitaalbedjie met ‘n hol matras en ‘n metaal-raamwerk wat rittel elke slag as jy beweeg; met jou lyf gekoppel aan minstens halfdosyn drade – aan jou neus, nek, bors, been en waar nie nog nie – en met die ongemaklike sogenaamde “bottel” as enigste uitweg as jy in die nag ‘n groot loop opdoen.

Ek het my slaaptoets gedop – nie verrassend nie in sulke nare omstandighede!

Ná die hartverskeurende krieket en die sielsverstorende slaap-toets sien ek reikhalsender as ooit na Sabiepark uit. Weet nog nie of ek uit die bos gaan prober blog nie, maar twyfel. Die selfoon-koppeling is in elk geval soos harmansdrup. En om drie weke lank in onversteurde sielsaligheid sommer net niks te doen, klink, soos ek nou hier sit, ‘n te genoeglike vooruitsig om enige inbreuk daarop eens te oorweeg.

Tot wederom. (HvD)

BOEK HET SY LIED VERLOOR

More uit Melkbos

Nou die aand wanneer sing Gé Korsten op “U Eie Keuse” Psalm 23 – ‘n aangrypende opname. Die wysie is bekend, maar ietwat ongewoon vir “Die Here is my herder”, soos ons oues die geliefde Psalm nog leer ken het. (Deesdae is dit mos “My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie….”, ‘n omdigting deur T.T. Cloete.)

Oor die identiteit van die wysie in die Gé-opname ontstaan in die Van Deventer-bed, waarheen ons vroeg-vroeg verkas het, ‘n debat.

“Die Heer droog al my trane af …” is die naaste wat ek later neurie-neurie aan die oorsprong kom.

Toe gryp Tokkie die “Liedboek van die Kerk”, ‘n publikasie waarin sy graag rondblaai om die ontroerende digkuns van geïnspireerde einddigters soos die einste Cloete, Izak de Villiers, Antjie Krog, Lina Spies, Cas Vos en andere te geniet.

Die antwoord kom gou ter hand. Die wysie is dié van “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” (lied 602, teks Izak de Villiers), wat by soveel begrafnisse troos en hoop help bring.

Pragtig. Maar wat het van die “Liedboek” in onse kerk geword?

In sy voorwoord skryf prof. A.C. Barnard, voorsitter van die Psalmkommissie, “die kommissie nooi die Afrikaanse kerke om deur hierdie nuwe psalmbundel opnuut en met entoesiasme in te gaan en hulle regmatige geloofserfenis in besit te neem.”

Sê weer, professor! In my gemeente en ander waarvan ek weet, is die entoesiasme vir hierdie kosbare boekie, die produk van soveel inspanning en toewyding van soveel talentvolle mense, klaarblyklik maar bra eina.

Ons sing van die skerm af, ook maar uit ‘n uiters beperkte repertoire, en dikwels, sonder skroom, in Engels ….. ” ‘Glory, glory, Hallelujah’ and so on forth.”

Die “Liedboek” is ‘n lig wat onder ‘n maatemmer versteek word – ‘n offer aan die vertering van mot en roes, helaas.

Hoe hartverskeurend. Kan iemand hierdie onverklaarbaarheid verklaar?

Naskrif: Lank het ek gewonder hoekom ons in Lied 178 sing van “paatsjêm, paatsjêm” terwyl die Latynse uitspraak vir die word “vrede” tog “pacem” is (die “c” soos ‘n “k” uitgespreek). Toe Tokkie my aansteek en ek in die “Liedboek” begin rondlees, ontdek ek hierdie insiggewende mededeling: “Liturgiese Latyn volg ander uitspraakreëls as akademiese Latyn”.

Nooit geweet nie. Nou is hierdie Latyn 1-er (Tukkies 1959) ook op datum!
(HvD)