Mar 28, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Vir iemand wat nog nooit in Ierland was nie, het ek nogal heelparty Ierse liefdes, herinneringe … en selfs soeweniers.
Ierse musiek, Ierse whiskey (Jamesons), Ierse koffie (natuurlik opgedis slegs met Ierse watertjies onder die room, tog nie Skotse watertjies nie) – dis hoog op my lys van Ierse vreugdes.
Hierdie Ierse draai is n.a.v. mededelinge deur my vriend Sarel Venter van Bloemfontein, wat op sy beurt regaeer het op my onlangse blog-verwysing na St. Patrick-dag in Suid-Boston op 17 Maart 1977.
Hy’t laat weet:
“Jou verwysing na jul “Ierse” herinneringe het my laat dink aan ons reis van sowat 12 dae en 3000 km deur Ierland in 2004. Die landjie het my van kindsbeen af gelok – dalk omdat my ma ook Ierse skrywers se boeke gelees het en lief was om Ierse liedjies te sing. Soos When Irish eyes are smiling en Galway Bay. Veral as ons op die lang pad reis. Kosbare herinneringe.
“Ek het twee CD’s met ‘n keur van Ierse liedjies in Ierland gekoop en dit op Irish Car Rentals se Vauxhall Astra se CD-speler gesit.
“Toe ons Galway Bay nader het ons na die bekende Galway Bay geluister. ‘n Gunsteling van my ma. En Rose of Tralee is gespeel by die dorp met hierdie naam. Dan was daar ook onder meer The Wild Rover (‘n heerlike liedjie), Danny Boy en Molly Malone, wie se standbeeld in Dublin staan.
“Die aand in Galway Bay het ons in ‘n Irish pub heerlik gekuier en geëet. En swart bier gedrink.”
Ek e-pos daarop vir Sarel die omslag van my CD Irish Tenors (hierbo), die geskenk van ‘n Iers-Afrikaanse vrou, as daar so iets kan wees. Haar naam was Sybil Hellyer (néé Van der Merwe), wat getroud was met Glen Hellyer van Richwood, Kaapstad. Vyf Ierse tenore, onder wie John
McCormack, Josef Locke en Michael O’Duffy, sing daarop die treffers wat Sarel noem, en ander.
Van die einste liedjies het die aand in 1994 opgeklink toe ek in die prentjiemooi stadjie San Antonio in Texas aangekom het (die tuiste van die bekende Alamo-fort waar die kritieke slag om Texas se onafhanklikheid plaasgevind het). Ek was in die Hotel Palaccio del Rio, ‘n manjifieke plek op die oewer van die San Antoniorivier wat deur die stad kronkel (foto) .

Uit die hotel se karaktervolle Irish pub het die een Ierse liedjie na die ander aangesweef gekom terwyl derduisende liggies in die bome flonker en die water om roeibootjies in die water klots. Romanties verby.
Onder my Ierse soeweniers is, buiten die CD en ‘n bottle Jamesons in my drankkabinet, ook die DVD van André Rieu se konsert in Dublin, die geskenk vir my 70ste van ‘n mede-bewonderaar van die “Walsende Hollander”. Die gaskunstenaar is die wonderlike, bebaarde Ierse violis John Sheahan, wat sy baie mooi Marino Waltz uitvoer. John and André sorg vir groot plesier met The Irish Washerwoman.
Sarel stel voor dat ek Pete McCarthy se McCarthy’s Bar / A journey of discovery in Ireland lees. Dis baie snaaks, bevind hy. Ek wil dit doen. (Oral deur Ierland kry jy pubs van die McCarthy-franchise).
Hy stel ook voor dat hy en Liesbeth en ek en Tokkie, as almal fiks en gesond is, as ‘n soort “laast fling” in Ierland van pub tot pub gaan kuier. Hoekom nie? Dit sal net lekker wees om die siel van die Ier op daardie manier beter te leer ken! (HvD)
Mar 27, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
In my woordeboek het lol ‘n ander betekenis as in die die nuwe Oxford English Dictionary. Die OED verklaar dit beteken “laughing out loud”. Ek het egter by my taalmentors geleer:
Kinders lol as hulle neul, bv. vir geld, om te gaan fliek, of vir skoene/klere met die regte etiket.
Jy lol met iemand as jy moeilikheid soek, soos die twee Kiwi-krieketspelers Vrydag met die arme Faf du Plessis (hoekom die slagoffer van hul treitering ook beboet is, weet ek nie).
Grootmense wat met kindertjies lol, is pervers verby. Dit is nie iets om oor te LOL nie.
LOL (hoofletters) dateer glo terug tot 1960, aldus die OED Toe het dit ‘n gans ander betekenis gehad: as om hardop te lag, te wete “little old lady”. Elektroniese kommunikasie, soos op die op sosiale netwerke Facebook, Twitter en MXit het daaraan die nuwe betekenis gegee.
Toe ek lol (liewer LOL) die eerste keer in sy nuwe betekenis sien (in reaksie op ‘n blog jare gelede) was ek stomgeslaan. Ek het beskroomd by die gebruiker navraag gedoen. Sy het seker hardop gelag vir die onnosele ou oom se onkunde (LOL)!
Die kode-mode is nie nuut nie. LOL kom in die voetspore van ander uitdrukkings soos die 19de eeuse term OK, wat almal ken, maar waarvan niemand werklik die oorsprong kan verklaar nie. Soveel mense, soveel teorieë.
Buiten dat ons as kinders links en regs ge-OK het, het ons ook (lank voor die dae van Mxit) grootgeword met die word FL (“French letter”). Die word “kondoom” (soos die produk self) het ek eers baie later in my lewe teengekom.
In die bosoorlog was HKGK (“hier kom groot dinges”) aan die orde. My kollega Johan van Wyk het dit nogal in sy rubriek Stop van Myne in Die Volksblad meermale gebruik. Maar dit het klaarblyklik nooit inslag gevind nie.
Die vraag wat my kwel, is: is LOL in die spreektaal maar OK? As uitgesproke vyand van Mxit moet ek ruiterlik verklaar ek dink nie dit is nie.
Maar dis oukeier, sou ek reken, as OMG (“oh my God”), wat seker die woorde is wat die heel meeste in Amerikaanse flieks en TV-sepies voorkom., naas “fuck. Die OED verontskuldig hom dat die term OMG die eerste keer in 1917 in ’n persoonlike brief gebruik is. Sowieso. Om die Allerhoogste se naam so ydellik aan te roep, behoort alle regdenkende mense teen die bors te stuit.
‘n Amerikaanse koerantredekateur, wat deur twee lollerige tantetjies mal gemaak is omdat sy koerant nie die uitslae van hondeskoue wou publiseer nie, het in frustrasie langs die koerant se mashoof nie OMG aangebring nie, maar THWTB. Lesers het bespiegel dat dit beteken: “The hard way is the best”. Voor sy dood het hy erken dit staan vir: “To hell with the bastards”.
THWTB – dis seker maar wat vandag se jong geslag dalk nog op ‘n kru-er manier ook sê oor ons oues wat oor hul manier van praat ons monde vol het! (HvD)
Mar 26, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
“I am satisfied that all politicians were meant to be journalists and all journalists meant to be politicians.” Hierdie uitspraak word aan ene Owen Arthur toegedig – vermoedelik ‘n vorige premier van Barbados, tensy ek sleg ge-Google het.
Sy stelling klink ietwat rof. Ek kan aan verskeie joernaliste dink wat nie as politici sou deug nie, en sommer baie meer politici wat nie as joernaliste sou regkom nie. Oor die redes wei ek liewer nie uit nie. Hoekom sal ek nou daaroor rusies uitlok?
Oor iemand wat in albei kampe was, het ek enkele dae gelede geblog. Hy was pres. C.R. Swart, wat van die laat 20’s tot in die 30’s ‘n ridder van die tikmasjien was – in ‘n stadium twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad.
Rêrige Afrikaanse redakteurs wat tot die kabinetsbanke gevorder het, was die eerste ministers D.F. Malan en H.F. Verwoerd, asook dr. A.J.R. (Albertus) van Rijn en dr. Andries Treurnicht, wat leier van die Konserwatiewe Party geword het. Malan was Die Burger se redakteur, Verwoerd Die Transvaler s’n, Van Rijn Die Volksblad s’n en Treurnicht Hoofstad s’n. (Die Burger se A.L.. Geyer het ambassadeur in Londen geword.)
Verwoerd het die ongelukkige “roem” as redakteur verwerf dat hy sy koerant die koningsbesoek in 1947 laat ignoreer het. Slegs die strate wat gesluit sou word vir die koninklike optog deur Johannesburg is vermeld. Goeie aarde, doktor!
Van Rijn se lessenaar het later ook my lessenaar geword. Ek het sy begrafnis in Bloemfontrein bygewoon. Die arme dominee het daardie middag kleigetrap. Hy het aanhoudend na die oorledene verwys as Gerhard van Rijn, die naam van sy oudste seun. Gerhard van Rijn, wat regter-president van Noord-Kaapland was, het in die familiebanke al hoe rooier in die gesig geword.
P.W. Botha wat premier en staatspresident geword het, het ‘n kort loopbaan by Die Volksblad gehad. Ook in pres. Marais Viljoen se are het joernalistieke bloed gevloei. Hy was onder Verwoerd by Die Transvaler.
Ander ministers wat via koerante in die politiek gekom het, sluit in Blaar Coetzee, Hennie Smit en Marais Steyn, wat sir Div se regterhand in die Verenigde Party was voordat hy oorgestap het.
A.M. van Schoor van Die Vaderland (vertaler van o.m. Tarzanboeke) het senator geword (as ek reg onthou). Gert Terblanche van Die Volksblad was senator, LV en ambassadeur. Abraham Jonker, pa van Ingrid, en Frik van Deventer was LV’s.
Meer resent, was Piet Coetzer (pêl van wyle Fanus Rautenbach en politieke beriggewer van Die Transvaler, LV. Dene Smuts, LV, was redaktrise by Fair Lady (‘n publikasie van Naspers).
My lysie is net van Afrikaanstaliges. Ek aanvaar dit is onvolledig. Aan ‘n poging om die politici te lys wat uit die Engelse pers kom, waag ek my liewer nie. Ek sal ongetwyfeld misvat. Drie name duik egter dadelik op.
Die bekendste van die dag is natuurlik Helen Zille, kranige DA-leier wat so mooi Afrikaans praat (Rand Daily Mail). René de Villiers, redakteur van The Star, was ook in die parlement. Tertius Myburgh van die Sunday Times – ‘n portuur vir wie ek baie tyd gehad het – is uit die bloute as ambassadeur in Washington aangestel. Hy is aan kanker oorlede voordat hy sy edele kon word.
Die loopbaan van P.W. by Die Volksblad beskryf hyself as as “baie kort en baie opwindend”.
Opwindend? Wel, in die politieke hoogsomer van 1935/36 toe die stryd tussen Malaniete en Smelters oral laat oorgekook het, het hy verslag gedoen oor ‘n onstuimige tussenverkiesing in Frankfort en onder meer op 17 Februarie 1936 vir ‘n hoofberig gesorg met die volgende stapel opskrifte: Vroue moet met stoelpote orde herstel op Villiers/Smelters se aanslag op verhoog dadelik gestuit/Skokkende wanordelikhede/Oorweldigende Nasionale gevoel, moedige vroue-optrede ontketen.
Baie kort? ‘n Persoonlike grappie tussen hom en wyle Oom Skakel Kriek, wat in daardie tyd nuusredakteur by Die Volksblad was (later o.m. redakteur van Landbouweekblad) was dat laasgenoemde die latere premier en president gou-gou sou aangeraai het om liewer ‘n ander loopbaan te volg.
In my boekie Flaters en Kraters het ek die grappie genoem, met die doel dat dit as humoristies opgeneem moet word. Botha het dit as “vernederend” ervaar en my kop in ‘n telefoonoproep uit George behoorlik gewas.
Later het hyself tog in ‘n koerantonderhoud gespot hy was nie juis ‘n joernalistieke ster nie – “toe word ek maar ‘n politikussie”. Van Deventer is egter nooit vergewe nie. Ces’t la vie! (HvD)
Mar 24, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Naand uit Melkbos
Iets wat by die koerant van die eerste dag af by my ingedril is, is om respek te hê vir mense se name. Jy maak dubbel seker. ‘n Fout is onvergeeflik.
‘n Vriendin wat ook joernalis was, Rina Koen van Durbanville, onthou as iemand sê haar naam is Anna, het sy altyd gevra: “Anna met twee n’s of een n?”
Teen daardie agtergrond gaan skryf ek in my blog oor 7de Laan ewe onverskillig van San-Marie pleks van San-Mari, Bonnita pleks van Bonita en Isabel pleks van Isabelle.
Jammer, Laners! (HvD)
Mar 24, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Anton Goosen het ‘n liedjie gesing met woorde in die volgende trant: ” ‘n Vroumens is ‘n slegte ding, ‘n slegte ding, ‘n slegte ding …”
Lyk amper of die liedjie in antisipasie geskryf is oor wat nou in 7de Laan aan die gang is (ja, ek kyk nog, vir my sonde).
Die arme “Mince” was met sy deli goed op pad. Hier kom Bonnita met haar duistere agtergrond. Ai, ai, ai. Die arme “Mince”.
Dan sit hy boonop met die warkop Hilda as regterhand!
Eintlik is dit nie soseer die deli wat hierdie kyker se tone laat krul nie. Dis die Hillside Times. Oor daardie simpele koerantjie se wan-funksionering het ek al voorheen verbysterd hier kommentaar gelewer.
Maar dit gaan van erg tot erger.
Aggie, die “super char”, is nou ‘n besturende redakteur van formaat. Los alles vir haar: van redaklsionele spertye tot trae adverteerders. Die bekwame voorvrou vat raak en vat reg. ‘n Klein wonderwerkie, sou ek haar wou noem. Die word “klein” is egter ontoepaslik – letterlik en figuurlik.
Dan maak sy nog so tussen in trefferjuwele, beur die verdrietige Isabel op en sorg in die algemeen toegewyd dat Hillside se moreel hoog bly.
Neville is ‘n redakteur om uit jou hart te bejammer. Waar is Mandla tog? Want die ligsinnige Paula is ‘n ramp, en die katterige San-Marie is ‘n ondergewig-liggewiggie, ook in haar boonste verdieping.
Een ding darem. Ek kan aan van die land se voorste rubriekskrywers dink wat haar die kuns sal beny om net “stokkies” met nuwe rubrieke aan te dra … sommer vyf op ‘n slag, terwyl T & T Lukie-loos ronddobber en die sweet in die gimnasium rol.
By my afskeid by die Pers, vroeg 1998 het die volgende woorde uit my mond op die spyskaart verskyn: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte kollegas te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees.”
Die arme Neville sal nie soortgelyk kan getuig nie. Hy sit waarlik op die verkeerde tyd op die verkeerde plek met die verkeerde mense, ongelukkige drommel.
En Tim? Hy pas baba op in Singapoer, die wegloper!
Hoekom het die onbekookte, ongeloofwaardige en papierdun mallemeule van mallighede my dan so beet dat ek elke aand om 6:30 die TV aanskakel?
Moet seker Clara wees. Sal darem lekker wees om met die oulike nooientjie te kan koekeliekoe (as dit naastenby die ding se naam is) ja! (HvD)
Mar 23, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
‘n Japanse kleuerskool-klassie vaar ‘n parkie in die ouwereldse stadjie Kijoto binne om skoon te maak.
Elkeen is met ‘n plastieksak gewapen Om hul hande is ook plastieksakkies gebind vir beskerming. Die juffrouens is gedurig byderhand om raad te gee en die inhoud van die sakke te inspekteer.
Die toneeltjie het op my en Tokkie ‘n diep indruk gemaak. Sulke vlytige, flukse kindertjies is net ‘n plesier om dop te hou.
Die foto is in Junie 1998 geneem. Ek het dit gaan uitgrawe omdat dit so mooi inskakel by vanmiddag se geselsprogram Loslip op RSG oor Japanners se werksetiek, waardes en dissipline wat van kindsbeen af by hulle ingeprent word. (HvD)