BLOG 1012

More uit Melkbos

‘n Resultaat van die besinning wat ek in blog 999 in die vooruitsig gestel het, is blog 1012:

Die Griekse woord “nike” beteken oorwinning. “Nikon” beteken oorwinnaar. So lees ek in J. Stephen Lang se boek “Leer ken die Bybel in 30 dae”.

Wonder of die name van die beroemde Nikeskoene en die ewe beroemde Nikonkameras Grieks van oorsprong is.

Dit is korter en kragtiger as die deursnee-hvd-bydrae in die pre-duisend-era. Kort genoeg om dit sommer ook op Facebook te sit.

Nog ‘n voorbeeld van die nuwe patroon is die vier inskrywings tussen 21 en 25 April oor die Slanghoek-uitstappie. Voorheen sou ek alles in een asem wou oordra.

Langer stilswyes tussenin sal seker ook nog voorkom. Wil myself dissiplineer om minder tyd by die rekenaar deur te bring. (hvd)

OUPA SE KOLF

Middag uit Melkbos

Vir hul negende verjaardag het die Claassens-tweeling, Jacob en Thomas, gister elk ‘n gawe krieketkolf present gekry – volgens elkeen se lengte en gewig.

My gedagtes is ver teruggevoer tot 1951 in Durban. My ouers het my na ‘n sportwinkel in Weststraat (nou Pixley KaSeme) gebring. Ek kon vir my ‘n kolf kies.

Ek is met ‘n Len Hutton (legendariese Engelse aanvangskolwer) daar uit. Amper-amper was ek baas van ‘n Roy McLean (flambojante Springbok-middelkolwer en soms Natal se losskakel). Hy het egter die vorige Saterdag ‘n nulltjie aangeteken – soos meermale helaas. My entoesiasme vir ‘n Roy McLean was gedemp.

Die kinders se kolwe het nie die name van bekende krieketsterre daarop nie. Wonder hoekom? Wat hulle wel spesiaal maak, is dat hulle klaar in die fabriek “ïngeslaan” is. ‘n Plastiekomhulsel is om die kolf aangebring. Jy kan instap en begin moker as jou naam Chris Gayle (of Zoeloe Klusener) is.

In my tyd moes jy ure lank die kolf met roulynolie bewerk en daarna met ‘n krieketbal in ‘n sokkie klop-klop totdat jou arm pyn.

Oupa het hom weldra as bouler ontpop. Daardie kolf het nie juis soveel lopies aangeteken dat Wisden belangstellend nadergeskuif het nie. Hoop julle twee seuns ryg die groot tellings in, hoewel Thomas ook al hoe meer na ‘n ontluikende snelbouler begin lyk – dalk selfs vinniger as Oupa op ‘n latere ouderdom.
(hvd)

JOU TROTSE VRIEND

Middag uit Melkbos

In my Tukkiedae (1958-1962) was jy eers werklik ‘n Tukkie sodra jy ná die “ontheffing” aan die einde van jou “ienk”-jaar by Grant McKenzies of Uniewinkels vir jou ‘n kleurbaadjie met die “koord van rooi, blou en goud” kon gaan koop.

Soos destyds met die baadjie, voel ek die sertifikaat wat vandeesweek in die pos opgedaag het, maak nou my status as “Vriend van die Voortrekkermonument” amptelik. My sertifikaat soek net ‘n plek teen ‘n muur. Gaan ook my lapelknopie met trots dra. En die lisensieplakker gaan BMW toe.

Wil terloops net noem dat ‘n hele pak sulke sertifikate seker op pad is Beijing toe. Bykans 50% van alle Chinese besoekers doen deesdae die Monument aan, wat hulle as ‘n voorkeurbestemmings in die land ag. Dat Chinese besoekers in ‘n jaar met 45% gestyg het, het juis vir die Monument pas ‘n yslike pluimpie in die sak gebring.

Die VTM het by die China Outbound Travel and Tourist Market in Beijing die goue, algehele prestasietoekenning ontvang as algehele wenner by die skou. Prominente rolspelers in die toerismebedryf in Amerika, Afrika en Europa was teenwoordig.

Vyftig persent van Chinese besoekers kan nie verkeerd wees nie. Geluk, Monument, geluk Sonja Lombard.

Van ‘n trotse “Vriend van die Monument”.

HvD

WIE, WAT, WAAR?

More uit Melkbos

More uit Melkbos

Waar soek ‘n mens watter kelder/kuierplek in die Breedekloof/Slanghoekvallei?

Wens ek het hierdie oulike kaart gehad VOORDAT ek begin ry het.

Ons slaapplek, Dwarsberg, is hier onderlangs, verby die Goudini-kelder.

(hvd)

HOENDERTJIES VIR ETE

BO: BERG EN WINGERD BY JASON’S HILL
ONDER: NUWE LEWE VIR ‘N HOENDERHOK

More uit Melkbos

Soos die jare aanstap, verander baie goed van waarde in hoenderhokke: allerlei ou geboutjies, voertuie en ander eiendom wat hul nut verloor het. Min ou hoenderhokke kry ‘n nuwe lewe.

Een wat het. is ‘n oulike eetplek en winkeltjie by Grietjiesdrif in die hartjie van die Slanghoekvallei, net 10 km van Rawsonvallei en feitlik teenaan die Goudini Spa. (Die gastehuis daar was voorheen ‘n wynkelder.)

’n Versnapering onder Grietjiesdrif se akkerbome terwyl jy die landelike berglandskap indrink, laat jou voel die ou wêreld is tog ‘n goeie plek. Hou net dop vir die hoenders. Hulle herbesoek graag hul ou woonplek!

Jy kan ook deftiger eet in die Slanghoekvallei. Opstal lyk eersteklas, maar was ongelukkig toe op ‘n Maandag. Jason’s Hill kyk uit op lappe wingerd wat in die verte teen die berge doodloop – poskaartmooi. Boshimela (wat beteken groen plek met groot bome) op die plaas Die Eike spog met allerlei plaasdiere en ‘n piekniekplek.

Honger, dors of verveling dreig nie in die Slanghoekvallei nie. (hvd)

OORVAL DEUR RUSTIGHEID

More uit Melkbos

Die rustigheid oorval jou op Dwarsberg. Voordat jy jou kan kom kry, het jy ‘n wyntjie oop en ‘n vuurtjie aan die flikker onder die reuse-akkers.

Iemand van die omgewing het die prentjiemooi forelplaas by ons aanbeveel vir slaapplek naby Rawsonville. Dit sal vir sommige dalk ‘n bietjie eenkant wees. Maar vir die entjie ekstra ry (op goeie grondpad) kry jy ‘n karaktervolle huisie met ‘n groot vuurherd, ‘n eie poeletjie met eende en hope voëlnessies aan die wilgers se takke, asook pragtige uitsigte op die omringende berge. Lappe wingerd reik tot amper teenaan jou huis.

Die sewe kampeerplekke langs die riviertjie lyk vir hierdie nie-kampeerder hemels.

As jy miere het, kan jy gaan stap hoog bo die kronkelende rivier wat in die vallei ‘n reeks kristalhelder swempoele vorm, of in die wingerde gaan ry. Jy kan natuurlik jou hand wag aan forelhengel, As jy baie aktief is, kan jy ‘n tog te voet of met ‘n bergfiets aandurf.

Ek het verkies om ‘n tweede bottel Slanghoek Special Reserve oop te maak en my vuur op te pas… Die prys is verrassend – van die Slanghoek Reserve en vir Dwarsberg. (hvd)