KLAPSOEN VIR KLEINNIG CHARLIZE

Met komplimente van Theo Verwey

More uit Melkbos

G’n wonder ons Afrikaners is so gek na die uitlê van familie nie. Ons is amper almal verlangs aan mekaar verwant.

So lyk dit altans as jy saam met Theo Verwey van Port Alfred in die stambome van bekendes en bemindes (soos hy dit stel) begin rondklouter.

Theo is ‘n kliniese sielkundige en amateur-genealoog van die eerste water. Hy het ‘n databasis van 700 000 name, en kan met ‘n slim program in ‘n japtrap opspoor watter bloed in watter are vloei.

Nadat ons paaie op Facebook gekruis het, kon ek tong-uitstekerig vir my kollegas en familie laat weet: Julle het nie geweet watter vername politieke konneksies die uwe het nie!

Met die komplimente van Theo kon ek spog dat ek ‘n vyfde neef van F.W. de Klerk is en ‘n sesde neef van P.W. Botha en Pik Botha. My en P.W. se gemeenskaplike voorouers is my stamouers, Gerrit-Jansz van Deventer en Ariaenje Abrahamse.

Dink net P.W. kon ‘n Van Deventer gewees het …. Of HvD ‘n Botha! Die “daaise” moes net anders geval het.

Nadat allerlei bewonderende blikke en buiginge oor my onbeskeie mededelings rakende die blouvbloed in my are van oral na my kant gekom het, het ek nog groter roem begin nastreef. Dis mos maar menslik.

Weet julle, kon (weer met die komplimente van Theo) ek wyd en syd uit die hoogte verneem: Ek en die grote Frik du Preez is ook sesde neefs (hy weliswaar Springbokslot en ek net derdeliga-vleuel, maar darem in Pretoria)? Die smeulende Charlize Theron is ‘n sewende niggie. As ek haar in Hollywood of Benoni raakloop, groet ek hierdie klein-klein-klein-nig wraggies met ‘n klapsoen!

Familie

Toe Herman le Roux laasgenoemde hoor, het hy (jantjierig, vermoed ek) my vermaan om nou liewer op te hou. Netnou word ‘n bloedverwantskap met Saartjie Baartman ontdek! Herman, ek is dadelik spieël toe.

Maar jy kan maar sinies wees, kollega. Onder my verlangse familie tel ook die nimlike Neelsie, Cornelis Jacob Langenhoven, en dr. Chris Barnard, die hartdokter. Ek en Chris en P.W. kom al drie via oubaas Gerrit-Jansz en sy jong bruid Arienje se nalentskap.

Ek glo Jakob Hendrik Pierneef moet sommer nabyfamilie wees. Ek is dan selwers ‘n Jakob Hendrik. Kon egter nooit juis teken nie – nie eens ‘n boom nie! (hvd)

KOUE KERKE EN KITARE

Clive en Heletia Oosthuizen

Middag uit Melkbos

Het ons smaak opgeraak of ons geld? Het moderne kerkargitekte die kluts kwytgeraak? Is dit maar net ek wat ‘n ongeeslike tradisionalis is wat nuwer kerke hoofsaaklik as klinies, koud en gestroop van atmosfeer beskou?

Met sulke vrae het ek gister uit die Anglikaanse kerk St. Oswalds in Milnerton gestap ná die begrafnis van die Probus-veteraan Clive Oosthuizen wat op 79 oorlede is. Dit was in my 72 jaar net my tweede Anglikaanse begrafnis. Die eerste was 20 jaar gelede in Bloemfontein. Albei het tot my gemoed gespreek.

Natuurlik is die gewydheid van die seremonie ‘n sterk atmosfeerskepper: die kerse, die priester se kleed, die prosessie, die besprinkeling van die kis in ‘n nuwe doop tot ‘n ewigheidsverbond, die keuse van liedere en musiek, die algemene waardigheid en stemmigheid.

Ook tref die rye, rye Bybels in die kerkbanke – vele as geskenke van naasbestaandes ter ere van hul geliefdes wat gesterf het; die veelkleurige bidkussinkies in stapeltjies op die punt van die ry, die muurbehangsels. Alles in liefde deur die gemeente bygedra.

Maar dit is die kerk, die argitektuur, die struktuur, wat in die eerste en finale instansie die kerk-ervaring vir jou meer as gewoonweg betekenisvol maak. Die liturgiese ruimte met sy subtiele natuurlike lig, die halfmaan-koepel agter die kansel, die loodglasvensters, die swaar houtbalke, die hoë plafon, die donker blokkiesvloere. As jy instap, voel jy dis kerk; die Here is hier – popsangers of raserige kitare sal hier onvanpas wees.

Nuwer kerke laat jou (vir my altans) soms voel jy stap sommer by ‘n doodgewone sekulêre bousel in – dalk ‘n skoolsaal of duiweklub, waar popsangers of raserige kitare ook gemaklik tuis sal wees. En soms wel hul buiging kom maak. Daaraan sluk ek maar moeilik.

Naskrif: Met Ouma se dood het vriende ter nagedagtenis by die Gideons ‘n Bybel in haar naam gekoop. Daardie Bybel bring dalk iewers vir ‘n vreemdeling troos of hoop iewers op ‘n onbekende plek. Tog iets van groter waarde as ‘n verwelklike bossie blomme of nie?
(hvd)

STUDENTIKOSE GRAPJASTERY

Middag uit Melkbos

Op die verhoë van beroemde teaters soos Milan se La Scala, die Londense Palladium en New York se Radio Music Hall het net uitsonderlike kunstenaars ‘n voet gesit. Ek is nie een van hulle nie.

Op een verhoog was ek wel. Dit het behoort aan die skouburg in Bellville se Burgersentrum. Aan die einde van die ASB-kongres op Stellenbosch in 1961 is daar ‘n pryswennerskonsert aangebied. Die uwe, pas ook onder ‘n gejil en geproes aangewys as “direkteur van huweliksaangeleenthede” van die ASB (hoekom kan ek nie onthou nie), was seremoniemeester.

Niemand minder nie as Gladstone Louw (die befaamde W.E.G.) het vir Die Burger ‘n resensie kom skryf. Die uwe is (nie onvleiend nie) vermeld vir sy “studentikose grapjastery”. Maggies, was ek ingenome!

Van die inhoud van my “grapjastery” onthou ek min. Ek en Paul de Beer (in die middel in die voorste ry van die Tukkie-afvaardiging op die foto hierbo) was in ‘n stadium in ‘n langerige tweegesprek waarin die een die ander probeer uitstof het in elementêre spitsvondigheid.

Ek het Paul in ‘n stadium gevra of hy hom gate uit geniet (natuurlik ‘n taalkundige abominasie). Toe hy bevestigend antwoord, was my reaksie: “O dis hoekom jy soos ‘n sif lyk”. Paul het later prominensie verwerf as een van die sogenaamde “smeerbriefskrywers” teen John Vorster. Op politieke gebied het ons paaie ver uiteengeloop.

Ek het daardie aand ook die Pukke getart oor hul universiteit se naam, die PU vir CHO. KWV was in ‘n stadium ter sprake, onthou ek. Met die NKP (Normaalkollege Pretoria) het ek geskoor oor hul leuse wat my nou ontglip. Ek weet ek het daaromheen ‘n parodie gebou op die model van 1 Kor. 13 se geloof, hoop en liefde.

As ek terugdink, was my “grapjastery” erg “studentikoos”. Eintlik bra simpel. Ek en ‘n Klerksdorpse buurmeisie Annette van Wyk (‘n Matie wat nou mev. Anette Visser van Worcester is) het egter geruime tyd gedink ek is oulik. My ego was gestreel. W.E.G. Louw se resensie het natuurlik ook gestreel. Dink net: HvD se naam op die beroemde bladsy twee (kunsblad van destyds) van Die Burger!

Wat my nou beweeg om daardie ou koeie uit die sloot te grawe? ‘n Berig vandeesweek op die nimlike Die Burger se kunsblad (lank nie meer bladsy twee nie) oor ‘n nuwe lewe vir daardie Belville-skouburg. Dit het ‘n vreemde trots by my gewek dat ek daar my buiging (sommer ook my slotbuiging) as openbare “grapjaster” gehad het.

NASKRIF: Op die foto is agter Klasie van Vuuren, HvD, Wollie Wolmarans, Christine Basson en Leon van Rensburg. Voor is Piet Giliomee, Paul de Beer en … Wie nou weer? Kyk die asbakkie. En het Klasie nie ‘n sigaret in die hand nie?

(hvd)

EVANGELIE en evangelie

More uit Melkbos

As lewenslange joernalis interesseer dit my uitermate dat die vier Evangelies in die Nuwe Testament so van mekaar verskil. Hier het ons vier “verslaggewers” (natuurlik nie in die ware sin van die woord nie) wat oor die grootste storie van alle tye (ten minste tot die wederkoms) in diepte verslag doen. Hul verslae is ver van identies.

Lukas fokus bv. op Maria wanneer hy die geboorteverhaal vertel. Mattheus gee meer aandag aan Josef. Hy berig oor die geboorte maar slaan dan die res van Jesus se jeugjare oor. Markus vertel nie die verhaal van Jesus se geboorte nie. Hy begin by die prediking van Johannes die Doper.

(Markus is, terloops, die enigste wat die verhaal vertel van die jong man wat kaal weggehardloop en sy laken agtergelaat het toe die mans hom by Jesus se inhegtenisneming gryp – dalk Markus self?)

Johannes se Evangelie is heeltemal anders as die ander drie. Hy begin Jesus se verhaal nie met sy geboorte of stamboom nie, maar met die begin van die skepping: ”In die begin was die Woord …” Johannes is die enigste boek in die Nuwe Testament waarin die woord “Messiah” voorkom.

Die opstanding gryp Johannes klaarblyklik ten diepste aan. Sy beskrywing van die leë graf is buitengewoon roerend.

Matteus noem drie geskenke (goud, wierook en mirre). Was daar dus werklik drie wyse manne? Die Bybel noem nie ‘n getal nie. Die tradisie van drie het klaarblyklik op grond van Matteus se mededeling ontwikkel.

Lukas (wat ook die outeur van Handelinge is) word in die boeiende boek “Leer die Bybel ken in 30 dae” van J. Stephen Lang as die nougesette geskiedskrywer uitgebeeld, wat, in sy eie woorde, Jesus se verhaal “stap vir stap van vooraf” ondersoek het om die verhaal “noukeurig in die regte volgorde” neer te skryf.

Hy maak meer staat op geskiedkundige verwysings as die ander Evangeliste. Chronologies is hy waarskynlik dus die suiwerste.

Lukas was terselfdertyd geneesheer. Daaroor maak die skrywer Lang die tersluikse opmerking dat hy klaarblyklik deur Jesus se genesingswonders geboei is. Hy gaan dieper op besonderhede oor siektes in. Hy is ook die enigste wat die verhaal van die bedelaar Lasarus vertel, die man wat so vol swere was dat die honde daaraan kon lek.

‘n Amusante stukkie inligting is dat hy (self ‘n dokter) in die verhaal van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, ‘n feit uitlaat – hy sê nie soos Mattheus en Markus dat sy al haar geld op dokters uitgegee het nie!

Studente van die onderwerp kan natuurlik in veel meer diepte oor die onderskeie fokusse en kontekste uitwei. Die skrywer Lang kom egter tot die gevolgtrekking dat ons kan bly wees daar is vier Evangelies en nie net een nie, net soos ‘n hof bly is as daar meer as een getuie oor ‘n saak is. Hoe meer getuies (bronne), hoe duideliker is die beeld van wat gebeur het, bevind hy.

Ook daardie bevinding interesseer my as joernalis uitermate, veral wanneer die jagseisoen op koerante oop is oor verskillende weergawes en vertolkings, soos taamlik gereeld gebeur; onlangs weer rondom die Oscar Pistorius-sage.

Joernaliste is ook maar mense met eie insigte, subjektiwiteite en – belangrik – verskillende bronne. As hulle uiteenlopende aspekte van dieselfde storie belig, beteken dit nie dat hulle willens en wetens lieg nie. Al die brokstukkies help bou om uiteindelik by die volle waarheid uit te kom: die evangelie ook in figuurlike sin.

(hvd)

DIE JAAR WORD RYP …

More uit Melkbos

Herfstyd in die Kaap – en die jaar word ryp nie net in N.P. van Wyk se goue akkerblare en wingerd wat verkleur nie.

Ook in die talmende goue sonsondergange. Amper elke aand kom skemer in ‘n skouspelagtige kleurespel.

Melkbos is gelukkig beroemd (berug?) vir meer as Koeberg-kragsentrale. Sy sonsondergange is prentjies en lok mense van oral om te kom slenter in die laaste strale van die son, foto’s te neem, skemerkelkies te klink en sommer te geniet.

Ongelukkig het HvD net drie van hierdie vier foto’s geneem. Die een van Tafelberg in sagte pienk en blou getooi, kom uit die portefeulje van oorsese kamera-towenaars met die wonderlikste lense.
(hvd)

LANSIE VIE EGBREUK!

More uit Melkbos

Die leraar slaan die Bybel oop en lees vir sy kuddetjie die Tien Gebooie. Skielik skiet ‘n skok deur sy lyf wat sy kunstande laat ratel.

“Tou shalt commit adultery.” So staan dit hier in Eksodus. Geen teken van die allerbelangrike “not” nie.

Daardie lansie vir egbreuk is per ongeluk gebreek. ‘n Vrot proefleser het bo-oor die “ligte mistykie”gelees in die Engelse Bybel van 1631. Darem net ‘n duisend is daarmee gedruk.

Lees dit ook in J. Stephen Lang se “Leer ken die Bybel in 30 dae”. (hvd)