Apr 22, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
“Hyg in Afrikaans”, lees hierdie ou gryse vanoggend op Die Burger se voorblad by twee vol, rooi lippe. ‘As dit seks nie opkikker sal niks’ – bl. 9.
Met bewerige rumatiekvingers blaai ek na bl. 9: “Honderde kase om van te kies”!
Hoe lui daardie slagspreuk nou weer? “Kaas dit en geniet dit!”
(hvd)
Apr 21, 2013 | Hennie van Deventer se Blog


More uit Melkbos
Net voordat ons ry Slanghoevallei toe vra my vriend Koos Myburgh: “Ry julle oor Bainskloof?” Daar en dan besluit ek: dan maak ons so.
Dit was vyfster. Beveel die roete sterk aan vir ‘n daguitstappie of langer. Via die skilderagtige Bainskloofpas (by Wellington) benader jy dan die Slanghoekvallei van Bergsig-kelder se kant. Jy ry verby Opstal, Breëland, Slanghoek, Jason’s Hill en Badsberg na Rawsonville. Dan huis toe via DuToitskloof.
As jy wil oorslaap (Goudini-Spa en die Slangoek-bergoord is maar twee moontlikhede) kan jy ook die Louwshoek-driehoek ry (Goudini, Merwida, Avondrood, Dashbosch en Kirabo), en/of die Breederivier-roete (Olofsberg, Botha – sy Dassies is nog altyd goeie waarde! – Waboomsrivier, Bergsig, Lateganskop, Mountain Ridge.)
Op die R101 is die kelders Lorraine, Du Toitskloof, Du Preez en Groot Eiland.


Waarlik kelders te kus en te keur. Maar die mooiste is die sielstrelende landskappe: reuse-berge en uitgestrekte wingerde tot teen die pad. En die berg, berge druiwe op pad kelders toe. Moenie uitstel nie.
Slanghoekvallei is dalk die Kaap se blinkste onontdekte juweel, terwyl die verkeer voet in die hoek op die naasliggende N1 verbysnel.
Apr 20, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Nogal ‘n vreemde gedagte: Terwyl jy op ‘n teerpad in die Wildtuin in ‘n dig gegrendelde motor ‘n trop leeus bewonder wat om julle maal, is ander natuurliefhebbers op ongebaande weë met dapper en stapper iewers in die bos op pad.
Op so n staptog is jy darem nie op eie houtjie nie, wel in die geselskap van gewapende veldwagters. Nogtans sal die ervaring seker baie mense broos en weerloos laat voel. Vir ander is dit die ware Jakob, ‘n ware wildernis-ervaring waar jy “werklik leer leer luister, kyk, ruik, tas en proe”.
Hierdie is die woorde van Rian Swiegers, ‘n stap-entoesias, wat sedert 1990 reeds al die KNP se staproetes snuifgetrap het. Sy stap-ervarings het hy nou uitvoerig opgeteken in ‘n selfgepubliseerde boekie, “Kronkelpaadjies (en kronkelpraatjies) deur die Krugerwildtuin”.
Ander ervare stappers sal hul eie belewenisse waarskynlik graag teen syne wil opweeg. Die boek is, na my oordeel, egter veral aan te beveel vir mense vir wie stap in die Wildtuin nog ‘n vonkel in die oog is – dié wat droom maar dalk nog huiwer.
‘n Beter “handleiding”, gids en groter ongekunstelde liefde vir stap en die natuur sal hulle nêrens kry nie. Al die avontuur en bekoring is in Swiegers se stap-memoires vasgevang. Hy skryf prakties en filosofies, en laat ‘n mens wens jy kan saam met hom en ‘n kundige veldwagter onder die sterre ‘n vuurtjie sit en stook. Soos jou voete die dag, sal jou gedagtes op so ‘n aand jou op verre paaie vat.
Vir navrae: rian.swieg@gmail.com (hvd)
Apr 19, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Mieliestronk is ‘n bekende naam in Afrikaanse huise. Vir tienduisende ouers en skoolkinders beteken dit: ‘n goudmyn van inligting vir elke denkbare skoolprojek.
Nogal ingenome om te kan meld ‘n foto van ‘n bontkuifvisvanger wat die uwe by Lake Panic naby Skukuza in die Wildtuin geneem het, kry jy ook daar.
Vir my kollega Ollie Olwagen was dié webwerf lank ‘n (veeleisende) troetelkind. Toe verkoop hy dit aan Media24 se tydskrifte. Maar daarna raak die leënes-sindroom vir die gesoute joernalis eens te erg.
Nou bedryf hy die nuwe werf Mieliepit, wat ek van harte wil aanbeveel by enigeen wat letterlik enige taalnavraag het. Die adres is http://mieliepit.net16.net Stel dit gerus op die proef.
Skoliere, leerkragte en enige belangstellendes word spesiaal genooi om deur middel van die nodige e-vorm met mieliepitnet in aanraking te kom met vrae oor die grammatika, idiome, korrekte woorde of wat ook al in en rondom Afrikaans.
Wens tog so die argeloses en kan-nie-worrie-opmorsers van ons taal wil ook kennis neem dat hulp net ‘n klik ver is. Slordige Afrikaans groei, helaas, soos onkruid.
(hvd)
Apr 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Korreksie, korreksie! Die toring links is Boston se Prudential Tower. Die slanke ene middel regs is die ware Jakob, die John Hancock; van Copley Square en van die Boston Common af. Op laasgenoemde is een van Boston se beroemde swanebote. Wonder of hulle nog bestaan.
Apr 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Die marathonbom bring vele ou herinneringe terug. Die salige jaar aan Harvard (1976-77) het ons lief gemaak vir Boston, wat ek en Tokkie daarna amper as deel van ons herkoms ag.
Ek het in my albums gaan blaai. Hierby ‘n saamgestelde foto van die John Hancock-sentrum – Boston se glaskas. Links is Copley Square met die Hancock agter. Regs is die voorblad van ‘n Boston-brosjure van 1976/77. Oud en nuut so langs mekaar. Dis Boston.
In Boylston, die mooi rivierstraat waar die bomme geplant is, het ek meermale self met my roomkleurige Toyota Corona van 1972 gery.
Die brosjurevoorblad wys die toneel wat ons elke keer gesien het as ons met die moltrein van Harvard Square, Cambridge, na Boston gery het om na die Boston Pops (Arthur Fiedler) te gaan luister, by die reusagtige afdelingswinkel Filenes te koop of sommer tussen al die historiese bakens rond te loop.
Die Boston Common met sy swaanbote was ‘n heerlike kuierplek oor middagetes – meesal doughnuts of ‘n McDonalds (Big Mac vir my).
Die trein het die Charlesrivier met ‘n hoe brug oorgesteek. Daar was altyd wit seilbootjies op die blou water. Ek onthou ‘n keer toe ons in die aand oor die Charles is. Marisa het verruk uitgeroep: ”New York, New York!” (waar sy kort tevore was). Die Bostoniete het lekker gelag.Boston se liggies en New York s’n was kwalik vergelykbaar.
Die Hancock se ruite is een aand in n frasstorm uitgeruk. Groot drama gewees, het die taximan ons vertel wat ons die aand met ons aankoms na ure se wag by die Logan-lughawe opgetel het. Ons het met uitstekende tydsberekening in Boston geland te midde van ‘n taxi-staking.
Omtrent enigste keer gewees wat ons huis toe verlang het!
(hvd)