More uit Melkbos

Die rustigheid oorval jou op Dwarsberg. Voordat jy jou kan kom kry, het jy ‘n wyntjie oop en ‘n vuurtjie aan die flikker onder die reuse-akkers.

Iemand van die omgewing het die prentjiemooi forelplaas by ons aanbeveel vir slaapplek naby Rawsonville. Dit sal vir sommige dalk ‘n bietjie eenkant wees. Maar vir die entjie ekstra ry (op goeie grondpad) kry jy ‘n karaktervolle huisie met ‘n groot vuurherd, ‘n eie poeletjie met eende en hope voëlnessies aan die wilgers se takke, asook pragtige uitsigte op die omringende berge. Lappe wingerd reik tot amper teenaan jou huis.

Die sewe kampeerplekke langs die riviertjie lyk vir hierdie nie-kampeerder hemels.

As jy miere het, kan jy gaan stap hoog bo die kronkelende rivier wat in die vallei ‘n reeks kristalhelder swempoele vorm, of in die wingerde gaan ry. Jy kan natuurlik jou hand wag aan forelhengel, As jy baie aktief is, kan jy ‘n tog te voet of met ‘n bergfiets aandurf.

Ek het verkies om ‘n tweede bottel Slanghoek Special Reserve oop te maak en my vuur op te pas… Die prys is verrassend – van die Slanghoek Reserve en vir Dwarsberg. (hvd)

Deel dit: