IS DIT NOU NODIG?

Die nuus uit Gqeberha oor die begin van die derde geregtelike doodsondersoek na die moorde op die Cradock-Vier wek by my taamlike ongemak.

Vir die familie se versugting na afsluiting (seker ook wraaksug) moet ’n mens begrip hê, maar om ‘n groep 80-plussers – die oudste 88 – 40 jaar later vir die daad tot verantwoording te wil roep, lyk darem dik vir ‘n daalder.

Ek, self 84, kan my indink in die posisie van die bejaardes wat nou moet kom pa staan. Veral met oud-minister Barend du Plessis (85) wat, as ek reg lees, in sy hoedanigheid as voormalige minister van swart  onderwys bygesleep word, het ek baie simpatie.

Dit is bekend dat Du Plessis (foto) nie ‘n gesonde man is nie. Nou moet hy op 85 die stremming van veeleisende hofverrigtinge in person gaan verduur oor ‘n kwessie waarby hy klaarblyklik nie direk betrokke kon gewees het of direk kon beïnvloed het nie. Hoe wesenlik was sy aanspreeklikheid dan?

Du Plessis was natuurlik by sy uittrede uit die politiek Suid-Afrika se minister van finansies, en dit is bekend hoe amper-amper hy, en nie FW de Klerk nie, die leisels van die Nasionale Party by PW Botha oorgeneem het. Dit was ‘n kwessie van agt stemme in die NP-koukus, Hy is ongetwyfeld die hoogste boom wat nou die vertraagde agterna- winde moet verduur van ‘n politieke stryd waarin aan albei kante onbehoorlikhede gepleeg is. Dink maar aan die Kerkstraatbom.

Vrae ontstaan in my gemoed oor die noodsaaklikheid , selfs wenslikheid om so ‘n duur onderneming – soos hierdie ondersoek met sy spanne regsmense noodwendig moet wees – aan te pak as dit hoogstens ‘n simboliese resultaat kan oplewer, indien enigsins.

Vir eers: watter antwoorde kan iemand tog in hemelsnaam hoop om nou te bereik wat die vorige twee ondersoeke almal ontwyk het, veral met soveel sleutelmense nou al langboompies toe?

Ten tweede: is dit billik, goed en reg om gryse oumense met mankemente onder sulke uiterste druk te plaas oor goed wat vier dekades gelede in die hitte van die stryd gebeur het?

Ten derde: Wat dryf mense om so in die verlede te bly karring?   Is dit nou regtig nodig?

 WALS OP STADSAAL SE VERHOOG

Die TV-beeld van die praalkis van die vermoorde Olarato Mongale in die Bloemfonteinse stadsaal wek herinneringe – nie van kiste, begrafnisse of moorde nie, maar van daardie sierlike stadsaal waar ek soveel gedenkwaardige dinge beleef het.
In die saal, pragtig herbou na ‘n bose daad van brandstigting in die nie te verre verlede nie, het ek in die 8o’s nogal dikwels gekom: vir politieke vergaderings, kongresse, verkiesings, dinees, skemerkelkies, konserte, bruilofte, danspartye en wat nog. Nooit vir ‘n begrafnis nie, vreemd genoeg.
Onthoubaarste geleentheid is dalk ‘n konsert van die SAUK se simfonie-orkes. In ‘n dawerende slot is Verdi se Groot Mars uit Aïda met soveel woema opgedis dat jare se Vrystaatse poeierstof uit die fluweelgordyne op die orkeslede in hul aanddrag en die konsertgangers in die voorste rye begin neerdaal het. Dit hoes en proes toe vir ‘n vale op die maat van Verdi.
In die nimlike stadsaal het John Vorster aangekondig Basil D’Óliveira is nie welkom in die Engelse krieket-toerspan na Suid-Afrika nie. Die rampspoedige aankondiging het omtrent die dak gelig. Albert Hertzog van die HNP is daar met eiers bestook. Eugene Terreblanche het sy wilde drome kom deel.
Waarskynlik die deftigste dinee was een van Mimosa Films. Tot die Boesman uit “The Gods Must Be Crazy” was in ‘n aandpak teenwoordig. (foto: ek en Boet Troskie).
Op ‘n dinee van die Sportskrywersvereniging het Tokkie die trofee vir Sportvrou van die Jaar aan ‘n jong Zola Budd oorhandig (foto). Zola was, trouens, nog op skool.
Van die dosyne skemerkelkies was ‘n aangename een waar die Kunsmark met ‘n oorkonde vir gemeenskapsdiens bekroon is. (foto: burgemeesterspaar Neels en Toeks Neuhoff en die Van D’s).
Met allerlei vernames is daar skouers geskuur. (foto: pres. FW de Klerk en HvD).
Ure is omgesit by politieke kongresse, veral in die PW Botha-era. Hoeveel mosies van dank teenoor ministers moes ek nie in my lewe daar aanhoor nie? By minstens twee verkiesings het ek daar my kruisie gaan trerk.
‘n Koddige herinnering is van die burgemeester, ‘n akademikus, wat na onthale sy kombi so geparkeer het dat al die oorskietkos daarin gelaai kon word vir persoonlike gebruik!
Op my eie persoonlike vlak onthou ek my optrede as seremoniemeester by die huwelik van koshuismaat op Tukkies dr. Wiam Cilliers en die mooie Kelly Hugo, boermeisie van Dewetsdorp. Twee ander bruilofte in die stadsaal was van kollega Jan Scholtz se dogter René en tandarts Klaas Holtzhausen se dogter (naam het my ontgaan).
By ‘n dinee van die Vrystaatse Landbou-unie was ek een van die 11 sprekers. Die liewe Lullu de Jager, sekretaris van die VLU, het hom ietwat misreken met die program. Toe spreker nommer 11 aan die woord kom, was dit al verby huis toe gaan tyd. Spreker 11 was hierdie kiepie. My goed voorbereide toespraak het grootliks onafgelewer gebly.
Om danspassies glad uit te voer, het ek nooit onder die knie gekry nie. Ek kan darem spog dat ek en Tokkie op die verhoog van die stadsaal op Strauss-musiek gewals het by ‘n Fair Ladybal. Ons liewe bure Chris en Annette van Rensburg het ons vergesel. Goeie ou dae. (foto’s).

STUURWIEL IN DIE LUG

0
Op geen kampus in Suid-Afrika sou jy nie in die 50’s ’n paar Morris Minors aantref nie, Die Britse buksie was ’n uitgeknipte studentemotor, veral oor hoe lig hy op petrol was.
Die Morris het op díe reuk van ‘n paar druppels petrol op ’n lappie geloop, het Morris-eienaars by die eienaars van Austens . Anglias , Prefects ensomeer gespog. .
Betroubare karretjies was hulle wel, maar ook nie altyd onder nukke en grille nie. Ek lees in ‘n Huisgenoot in ‘n wagkamer ene Sarie Kruger se lekker storie oor haar Morris wat sy met die agterkant van ‘n naelvyltjie.moes aanskakel nadat die sleutel verlore geraak het. Die naelvyl was ook nuttig omperiodiek die punte skoon te vyl.
‘n Keer het sy op ‘snelweg rem getrap, maar die Monrissie steur hom min daaraan, Hy beurt net voort, Toe sy hom eindelik al taamlik angstig in die noodbaan tot stilstand bring, blyk dit die petrolkabel het vasgehaak.

En hier is die Bierklub. Ralph is voor regs.

Dit herinner my toe aan my Tukkievriend Ralph van Schoor se nimlike studentekar. Ralph, ’n seun van Mosselbaai, was ‘n B.Sc-student en die voorsitter van ons “Bierklub” in Kollegetehuis in die jare 1958 en 1959. Die klub se ampsmotor was Ralph se 1954-model Morris Minor.

Vrydagaande is die Morris propvol gelaai met dors klublede en afgesit na “Tant Bella” vir “tee”. “Tant Bella” was die Hotel Belvedere in Kerkstraat en wat die “tee” sou wees, was Ralph se besluit. As voorsitter (en houer van die beursie) had hy die alleen-seggenskap oor die aard van die verversings. Geen teenspraak is geduld nie.
Op ‘n dag kom ons vrolik en vol afwagting in Kerkstraat af, bestemming: “Tant Bella”. Die Morris loop seepglad, Skielik hou Ralph die stuurwiel in die lug. Op ‘n manier het dit losgekom.
Lag-lag ry ons – so laf /onverantwoordelik / roekeloos (kies ‘n woord) soos net studente kan wees – ‘n taamlike entjie stuurwiel in die lug in Kerkstraat, Pretoria.
Hoe ver daardie ent was, is soos die ent wat ons as klein kannetjies kaalvoet skool toe moes stap. Hy word al hoe langer. Maar my storie is die reine waarheid.

TOT SIENS, GOUE JOAN

Dat ‘n sportster soos Joan Harrison, wenner van ‘n Olimpiese goue medalje in Helsinki in 1952, ons net stilletjies kan ontval, is amper ondenkbaar. Hoe gebeur dit? Is al ons nuusantennas reg ingestel?
Feit is: Joan Harrison (89) –‘n legende sal sommige nie skroom om haar te noem nie – is verlede week al in haar lewenslange tuisstad Oos-Londen oorlede, hoor ek uit ‘n onberispelike bron.
As skaam 16-jarige skoolmeisie het sy in 1952 in die swembad die 100 meter rugslag vir vroue ingepalm om dit twee goue medaljes vir twee goue Suid-Afrikaanse sportvroue by daardie Spele te maak. Die ander een was Esther Brand, huisvrou van Kimberley, wat op die atletiekbaan die hoogspring vir vroue gewen het.
Oud-kollega Jan Prins het dit beleef en in Herman le Roux se boek se “Spitse op die sportveld” (Tafelberg, 1970) sonder hy dit uit as die spitse van sy vryskutloopbaan. Wyle Jan sou nie omgee as ek vir ‘n goeie doel met sy kalwers ploeg nie. Inteendeel.
Jan en ’n maat, Harry Braun, het met rugsakke na Helsinki geryloop en op ’n mini-begroting in ’n tweemantentjie tuisgegaan. Sy vervoering toe Esther en Joan die podium as kampioene bestyg, word in Herman se boek beskryf.
Terwyl die Finse orkes effens onseker met “Die Stem” wegval en die oranje, blanje, blou stadig bo die Olimpiese stadion gehys word, was emosie, volgens hom, “soos ’n wurgpatat” in sy keel. “Wie is dan skaam as jy by so ’n groot oomblik nat-oog raak?”
Jan was uit sy vel toe Joan met ’n fantastiese eindpoging net voor die Nederlandse wonderswemster, Geertje Wielema, die kant raak.
Maar met die stormloop van die paviljoen af om die stralende wennertjie en haar ma, mev. Peggy Harrison, om die hals te val, het die waardige ”Prins Jan” (sy latere bynaam as bestuurshoof by die koerante) soos ’n os neergeploeg.
Sy enkel was verstuit. Kruppel-kruppel is hy agter die ander aan. Maar niks kon die patriotiese vreugde demp nie.

VUURTJIE SE NAAM IS KOOS




By ‘n lewensviering wat in elke betekenis van die woord werklik ‘n viering was, het ons vandag vir Koos Myburgh van Melkbos, voorheen wynboer van die Agter-Paarl, gegroet.

Kyk, dit vat ‘n man op ‘n perd om twee maande duskant 80 ‘n kerk op ‘n Sondagmiddag om 12:00 vol te pak vir jou gedenkdiens. Koos s’n het mense uit elke windrigting gelok. Hoeveel honderd? Nie getel nie. ‘n Hele paar – almal gedrewe deur hul innige liefde/bewondering vir hierdie groot gestalte met ‘n hart van goud.

Dr. Marius Falck se boodskap uit Fillipense 4: 4-9 het herinner watter prediker van stoffasie die oud-leraar van Melkbos is. Toe sing hy , nes hy kan, “Voete van ‘n Gemsbok”.

In die huldeblyke deur familie en vriende is ramshoring geblaas, oor heerlike anekdotes geskater, drukkies uitgedeel en vertel, vertel van hierdie uitsonderlike man wat sonder ‘n enkele vyand die aarde kon verlaat.

Gemeentesang was twee geliefde ou liedere wat nou stof vergaar, “Wat ‘n vriend het ons in Jesus” en “Blye versekering. “ Jy kon die blydskap in die mense se harte aanvoel.

My huldeblykie uit vriendegeledere het ek gehaak aan CJ Langenhoven se vonkelversie oor die vrolike vuurtjie:

“Dis die vrolike vlam wat klap en kraak
dis hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak
en sy swaarkry
met lekkerkry klaarkry.”

Kom ons speel ons moet daardie vrolike vuurtjie ‘n naam gee, het ek voortgegaan. My voorstel: Ons noem hom die Koos Myburgh-vuur. Daar was eenstemmigheid. Raker kan ‘n naam kwalik.

Hoekom sê ek so? Omdat ek nie weet van een taak wat daardie vrolike man nie tot vermaaklikheid gemaak het en met lekkerkry klaargekry het nie. Trouens die indruk is dat sy hele lewe vir hom een lang lekkerkry was.

Dit was heelwat oor een toe Tielman Rossouw sy klawerbord-verwerking van “Il Silentio” op die draaitafel oopdraai en die jubelklanke van beuels die kerk vul – wat ‘n glorieryke einde vir ‘n onvergeetlike diens. Niemand het ooit op sy horlosie gekyk nie.

‘n BOEKWINKEL SE LAASTE DAG

Dertien jaar lank kon ek Melkbossers na die boekwinkel books.books.books in die Birkenhead-winkelsentrum verwys as hulle by my navraag doen oor ‘n boek. Vanoggend het ek Ben en Liza Meyer by hul winkel gaan groet. Kort nadat ek uit is, het die deur van die klein sieraad vir Melkbos finaal toegeklap.
Mense koop nie meer boeke nie, sê Liza gelate terwyl ‘n laaste handjievol klante die laaste handjievol winskoopboeke deurkyk. Maklik 90 persent van die rakke is toe al dolleeg. Hulle wag net om deur karweiers opgelaai te word.
+Van die uwe se “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is vanoggend ook ‘n laaste eksemplaar verkoop, word ek meegedeel. “En waar wend ek my nou heen?” Almal – ek, Liza en Ben – lag, maar dis nie ‘n vrolike laggie nie.
Die ingeligte, vriendelike en hulpvaardige diens wat Ben en Liza in hierdie intieme klein boekwinkel aan boekeliefhebbers van Melkbos – skrywers en lesers – gelewer het, was onskatbaar. Die gemeenskap ly ‘n onherstelbare verlies.
Ek blaai deur ou Facebook-inskrywings en foto’s. Dit strek terug tot 2012. In die eerste van die stapeltjie inskrywings lees ek: “In onse winkelsentrum Birkenhead op Melkbos bedryf Ben en Liza Meyer ‘n boekwinkel met die naam books.books.books. Van die uwe is “Duisend Dae langs die Sabie” op die rak – ook die vorige twee, ”Praat-praat in Tamatiestraat” en ”Byl in my bos”. Gaan loer gerus daar in as julle op Melkbos kom. Op die foto is ek en Liza en die drie HvD-boekies wat daar te koop is – spotgoedkoop!”
Daarna het gevolg my vier Nalediboeke, “Laatoes”, “Na verre hawens”, “Koerantkamerade” en ”Mooi nooi”. Ook my Protea-bosboek. ”Bure van nature”. En my private publikasie met my 80ste verjaardag, “Koerant”. Wat ‘n lang, vrugbare verbintenis.
Kan iemand my dan kwalik neem as ek sentimenteel oor die plek voel – en ‘n bietjie siek om te weet dis alles verby – net ‘n brokkie geskiedenis?
* Ek deel ‘n klompie foto’s van die 13 jaar, met opset nie chronologies nie. .