Die TV-beeld van die praalkis van die vermoorde Olarato Mongale in die Bloemfonteinse stadsaal wek herinneringe – nie van kiste, begrafnisse of moorde nie, maar van daardie sierlike stadsaal waar ek soveel gedenkwaardige dinge beleef het.
In die saal, pragtig herbou na ‘n bose daad van brandstigting in die nie te verre verlede nie, het ek in die 8o’s nogal dikwels gekom: vir politieke vergaderings, kongresse, verkiesings, dinees, skemerkelkies, konserte, bruilofte, danspartye en wat nog. Nooit vir ‘n begrafnis nie, vreemd genoeg.
Onthoubaarste geleentheid is dalk ‘n konsert van die SAUK se simfonie-orkes. In ‘n dawerende slot is Verdi se Groot Mars uit Aïda met soveel woema opgedis dat jare se Vrystaatse poeierstof uit die fluweelgordyne op die orkeslede in hul aanddrag en die konsertgangers in die voorste rye begin neerdaal het. Dit hoes en proes toe vir ‘n vale op die maat van Verdi.
In die nimlike stadsaal het John Vorster aangekondig Basil D’Óliveira is nie welkom in die Engelse krieket-toerspan na Suid-Afrika nie. Die rampspoedige aankondiging het omtrent die dak gelig. Albert Hertzog van die HNP is daar met eiers bestook. Eugene Terreblanche het sy wilde drome kom deel.
Waarskynlik die deftigste dinee was een van Mimosa Films. Tot die Boesman uit “The Gods Must Be Crazy” was in ‘n aandpak teenwoordig. (foto: ek en Boet Troskie).
Op ‘n dinee van die Sportskrywersvereniging het Tokkie die trofee vir Sportvrou van die Jaar aan ‘n jong Zola Budd oorhandig (foto). Zola was, trouens, nog op skool.
Van die dosyne skemerkelkies was ‘n aangename een waar die Kunsmark met ‘n oorkonde vir gemeenskapsdiens bekroon is. (foto: burgemeesterspaar Neels en Toeks Neuhoff en die Van D’s).
Met allerlei vernames is daar skouers geskuur. (foto: pres. FW de Klerk en HvD).
Ure is omgesit by politieke kongresse, veral in die PW Botha-era. Hoeveel mosies van dank teenoor ministers moes ek nie in my lewe daar aanhoor nie? By minstens twee verkiesings het ek daar my kruisie gaan trerk.
‘n Koddige herinnering is van die burgemeester, ‘n akademikus, wat na onthale sy kombi so geparkeer het dat al die oorskietkos daarin gelaai kon word vir persoonlike gebruik!
Op my eie persoonlike vlak onthou ek my optrede as seremoniemeester by die huwelik van koshuismaat op Tukkies dr. Wiam Cilliers en die mooie Kelly Hugo, boermeisie van Dewetsdorp. Twee ander bruilofte in die stadsaal was van kollega Jan Scholtz se dogter René en tandarts Klaas Holtzhausen se dogter (naam het my ontgaan).
By ‘n dinee van die Vrystaatse Landbou-unie was ek een van die 11 sprekers. Die liewe Lullu de Jager, sekretaris van die VLU, het hom ietwat misreken met die program. Toe spreker nommer 11 aan die woord kom, was dit al verby huis toe gaan tyd. Spreker 11 was hierdie kiepie. My goed voorbereide toespraak het grootliks onafgelewer gebly.
Om danspassies glad uit te voer, het ek nooit onder die knie gekry nie. Ek kan darem spog dat ek en Tokkie op die verhoog van die stadsaal op Strauss-musiek gewals het by ‘n Fair Ladybal. Ons liewe bure Chris en Annette van Rensburg het ons vergesel. Goeie ou dae. (foto’s).
Deel dit: