Die nuus uit Gqeberha oor die begin van die derde geregtelike doodsondersoek na die moorde op die Cradock-Vier wek by my taamlike ongemak.

Vir die familie se versugting na afsluiting (seker ook wraaksug) moet ’n mens begrip hê, maar om ‘n groep 80-plussers – die oudste 88 – 40 jaar later vir die daad tot verantwoording te wil roep, lyk darem dik vir ‘n daalder.

Ek, self 84, kan my indink in die posisie van die bejaardes wat nou moet kom pa staan. Veral met oud-minister Barend du Plessis (85) wat, as ek reg lees, in sy hoedanigheid as voormalige minister van swart  onderwys bygesleep word, het ek baie simpatie.

Dit is bekend dat Du Plessis (foto) nie ‘n gesonde man is nie. Nou moet hy op 85 die stremming van veeleisende hofverrigtinge in person gaan verduur oor ‘n kwessie waarby hy klaarblyklik nie direk betrokke kon gewees het of direk kon beïnvloed het nie. Hoe wesenlik was sy aanspreeklikheid dan?

Du Plessis was natuurlik by sy uittrede uit die politiek Suid-Afrika se minister van finansies, en dit is bekend hoe amper-amper hy, en nie FW de Klerk nie, die leisels van die Nasionale Party by PW Botha oorgeneem het. Dit was ‘n kwessie van agt stemme in die NP-koukus, Hy is ongetwyfeld die hoogste boom wat nou die vertraagde agterna- winde moet verduur van ‘n politieke stryd waarin aan albei kante onbehoorlikhede gepleeg is. Dink maar aan die Kerkstraatbom.

Vrae ontstaan in my gemoed oor die noodsaaklikheid , selfs wenslikheid om so ‘n duur onderneming – soos hierdie ondersoek met sy spanne regsmense noodwendig moet wees – aan te pak as dit hoogstens ‘n simboliese resultaat kan oplewer, indien enigsins.

Vir eers: watter antwoorde kan iemand tog in hemelsnaam hoop om nou te bereik wat die vorige twee ondersoeke almal ontwyk het, veral met soveel sleutelmense nou al langboompies toe?

Ten tweede: is dit billik, goed en reg om gryse oumense met mankemente onder sulke uiterste druk te plaas oor goed wat vier dekades gelede in die hitte van die stryd gebeur het?

Ten derde: Wat dryf mense om so in die verlede te bly karring?   Is dit nou regtig nodig?

Deel dit: