Jul 30, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Jaco by Muliluane in Sabiepark.
Dit is beslis ’n boek met ’n eie stem hierdie een. Jaco en Dream Africa het ’n boek gelewer waarsonder geen boekery oor olifante durf wees nie.
So skryf ek vandag op Litnet in ‘n sogenaamde lesersindruk oor Jaco van Wyk van Pretoria se omvangryke olifantboek, Merkwaardige bosreuse van Suider-Afrika.
‘n Lesersindruk beteken dat ek die stuk op eie inisiatief geskryf en vir Litnet aangebied het. Dit sal vriendelik wees as lesers van my blog met verspreiding sal help. Kom ons bring die bekendstelling so wyd as moontlik onder natuurliefhebbers se aandag. Jaco se boek verdien sy sout.
Die skakel is: https://www.litnet.co.za/merkwaardige-bosreuse-van-suider-afrika-deur-jaco-van-wyk-n-lesersindruk/
Jul 19, 2026 | Vars Blog
UIT Rapport, 19 Julie 2026:

By ‘n ”skietoefening”: Ek is derde van links en PG du Plessis vierde.
Iewers in ’n kombuislaai is ’n paar kriptiese notas oor die resep van hooligan juice: ’n verleidelike konkoksie weermagsappies waarmee redakteurs in die 80’s in die Bosoorlog op persbesoeke aan die operasionele gebied kennis gemaak het.
Probeer dit gerus: meng eenvoudig ’n homp roomys, en soveel melk, rum en coco-rico-likeur soos jy wil (na smaak, lui die resep); koel af en geniet. “Proe soos teer, smaak na meer!”
Wat die herinnering aan hooligan juice loswoel, is jonger kollega Dana Snyman se kennismaking met kol. Gene de Kock se sterk knoffel-gegeurde doepa, Leeutand, op ‘n besoek aan die Polisie se berugte Vlakplaas-eenheid.
In die rubriek Van Alle Kante van Saterdag 4 Julie lig hy die sluier oor sy minder genotvolle ervaring by die eenheid waar planne bedink is om met aktiviste se gal te werk. Hy is, ironies genoeg, daarheen genooi om Vlakplaas in ‘n gunstiger lig te probeer voorhou ná die eerste onthullings in die Vrye Weekblad, deel hy in sy rubriek mee.
Natuurlik is ons ouer persmense, nes Dana, ook met ‘n spesiale doel grens toe gevlieg. Die “verhewe doel” in ons geval was ”om ons eerstehands van die terrein, die gevegstoestande en heersende weermagdenke te vergewis”. En ja, ons is in propvol programme rondgerits en weldeeglik voorgelig
Herinneringe aan die ligter sy van die oefening is egter ook talryk. Van die aangenaamste in die kategorie is die kameraadskaplike kuiers onder die helder Namibiese sterre saam met die manne in uniform in afgesonderde kampe soos Omega – altyd met ‘n paar glasies geurige hooligan juice afgerond. Duidelik verkieslik bo Leeutand, sou ek reken omdat ek nie ‘n smaak vir knoffel het nie.
Een van die mottos van sulke weglope was: “Wat in die bos gebeur, bly in die bos.” Daarvan sal ek om die dood nie afwyk nie. Ek glo egter ontslape kollegas soos PG du Plessis van Hoofstad, Roelf Jacobs van die SAUK en Twakkies Laubscher van Beeld sou my darem nie kwalik geneem het oor vermelding van hul name in enkele tersyde opmerkings in hierdie verband nie.
PG was in die 80’s redakeur van die Pretoriase middagblad Hoofstad. Ek en hy was twee keer op sulke besoeke tentmaats. Hy was ‘n lewenslustige metgesel en ’n voorbok aan die sosiale kant. As laataand om ’n vuurtjie diep stories gesels is, was die naweekboer van die plaas Semoer in die distrik Rysmierbult in die ou Wes-Transvaal van die liefste om nog ’n stukkie kameeldoring op te gooi en van die traagste om hom van die gemoedelikheid los te skeur.
Loshande die kampioen van mediasnorkers was die SAUK se Roelf Jacobs, weens sy kinderstories oor die lug ook as Otterjasie bekend. Hoe meer hooligan juice geniet is, des te hewiger het die daaropvolgende balkesaery natuurlik verloop. Sal ek vergeet hoe sy tentmaats, wat my en PG ingesluit het, een martelnag ná ‘n laataand-kuier die een ná die ander met ons kussings en kombersies by die tentflap uit is om na stiller oorde in die kamp te gaan soek?
Kleurryke Beeld-kollega Twakkies Laubscher se voorkeur was om elke aand se aktiwiteite met ‘n laaste Skotse watertjie af te rond. In ‘n buitengewone luim vir avontuur onderneem hy toe ‘n keer ‘n nagtelike ekskursie om ’n bietjie Zambeziwater by sy ”Jakkals en Bolf” te voeg.
Die gemoedelike Twakkies is in die stikdonker die onbetrede dieptes van ’n berugte en kwaai krokodilkontrei binne. Minute later het hy triomfantlik teruggekeer, met ’n glasie bruinerige rivierwater in die hand. ’n Mabalel-dop, het hy dit genoem na aanleiding van Eugene Marais se krokodilgedig met die onheilspellende waarskuwing: “Ver benee die palmietstele / in die bloue duister wag Lalele …”
Op sulke grensbesoeke is die vlugte van Waterkloof af en terug onderneem met die sogenaamde Flossie, ‘n Hercules C-130BZ, betroubare langasem-werkesel uit die Lockheedstal. Hy en sy kleiner stalmaat, die Dakota DC-3 met die minder vleiende bynaam van Kotskoets, was van die Bosoorlog se onvergeetlikste karakters. Derduisende troepe en vragte der vragte voorrade is van Pretoria af met hulle na Oshakati, Ondangwa of Katima Mulilo verskuif.
‘n Buitengewone kenmerk van die Flossie was sy ablusiegerief. Alle manlike passasiers – ongeag vernaamheid – moes maar teen wil en dank as dit hoog bokant Afrika daarop aankom, die dou van die lelie skud in so ‘n vreemde pypgedoente wat ingewydes lillies of the fields noem; ’n ontwerp wat volgens sanger en akteur Lochner de Kock die “oupa is van alle vuvuselas … net stiller.”
Op terugtogte is die Flossie se lillies of the fields druk besoek. Een rede was vir seker die ongewone volumes vloeistof wat ingeneem is. ’n Ander was vir die geselligheid: om in ’n kring te staan en al die sonderlinge ervarings aan die front te herroep.
Soms is so skud-skud ook geskud van die lag.
NASKRIF: Die Weermag-konkoksie wat ongetwyfeld die wydste bekend is, was natuurlik ‘n nul-persenter wat alkohol betref. Noem die woord kotefie en op elke troep se gesig sal dadelik ‘n glimlag van herkenning verskyn. Omdat hul koffie en tee afwisselend in sulke groot melkkanne gemaak is, was dit vir die manne soms moeilik om te onderskei tussen die twee. Vandaar die naam. Baie sal sweer dat die smaak verder benadeel is deur die ruime byvoeging van blou vitrioel om die jong manlike libido’s in toom te hou. Dan duik telkens ook stories op van kanne waarin gepiepie is om hardekwas elemente terug te kry. Maar hoe sal ‘n mens nou weet?
Jul 17, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op die plek waar Jaco van Wyk se groot olifantdroom as’t ware tande gekry het, is vandeesweek – met ‘n pronkstuk van ‘n boek in die hand – ‘n heildronk op daardie heuglike ervaring gedrink.
Die kraakvars boek heet “Merkwaardige bosreuse van Suider-Afrika” en loop op die romantiese spore van talryke ivoordraers van formaat.
Jaco se droom was altyd om aangesig tot aangesig met een van die Krugerwildtuin se gedugte “honderponders” (ivoortande van 45 kg) te kom. Voorheen was sulke ontmoetings altyd van ver af, of om ander redes nie onbelemmerd nie.
Toe op ‘n kuier in 2007 in die private natuurreservaat Sabiepark, digby die Krugerhek, kom staan “Langtand” vlak langs hom. Later het hy vasgestel die naam is eintlik Muliluane (“Klein vuur” ) en daardie tande wat hom by Sabieparkers die kreatiewe bynaam van “Langtand” verwerf het, is werklik iets om oor huis toe te skryf.
Van die gedugte Muliluane se besoek daardie dag en die volgende aan Sabiepark se asemrowende piekniekplek is verskeie pragfoto’s in die boek, een van die aspekte wat hom onderskei as waarlik ‘n natuurboek van betekenis. (Een is ‘n ”spanfoto” van die skrywer en die olifant!)
Van die reusedier en sy geskiedenis wil ek nie meer verklap nie – lees Jaco se boek! – buiten dat hy in 2007 treurig tot sy einde gekom het , en ongelukkig buite die Wildtuin se grense. Geen amptelike data van sy indrukwekkende ivoor is dus bekend nie. ‘n Pynlike leemte en jammerte.
In Jaco se boek word die fassinerende spore van ‘n formidabele klomp olifante gevolg. Dit sluit in die sogenaamde “Manjifieke sewe”: Dzombo, Kambaku, Mafunyane, Ndlulamithi, Shawu, Shingwedzi en João waarvan die tande ongelukkig in 1984 afgebreek het, en nooit gevind is nie. Maar daar was beslis nie net sewe manjifieke olifante nie. Lees Jaco se boek!
Jaco verwoord sy ewigdurende eerbied vir die olifant so: “Geen dier in Afrika is heeltemal so dramaties, so imponerend en so vorstelik soos die olifant nie.”
Dit blyk dat hy as agtjarige aangegryp is toe ‘n bul doodluiters ingestap het waar hulle by Tshokwane ‘n gesinspiekniek gehou het 50 jaar gelede. Dit was die sneller dat hy altyd meer en meer van olifante wou weet, Hy het ‘n uitgebreide biblioteek met honderde boeke en artikels oor grootvoete opgebou.
Nou het hy en Dream Africa ‘n boek gelewer waarsonder geen boekery oor olifante durf wees nie.
Laaste vraag: Wat op aarde doen ek op die foto saam met Jaco? Wel, hy is my peetseun en dit was by my wat hy gekuier het toe Muliluane in sy lewe gekom het. Ek verklaar graag die belang.
Vir bestellings: Jaco van Wyk 0824108871.
Jul 5, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Heila van Schalkwyk was ‘n brose 25 en onderwyseres – onder meer ook CSV-onderwyseres – aan die Hoërskool Vorentoe met die Westdene-busramp op 27 Maart 1985 in Johannesburg.
Die aakligheid van die verlies van 42 leerlinge nadat ‘n dubbeldekkerbus die middag raaiselagtig deur die versperrings om die Westdenedam gebars en in die troebel water weggesink het, is ná 40 jaar onuitwisbaar by haar teenwoordig.
Die skokgolf was soos ‘n tsoenami wat verwoestend oor die skool gespoel het. Niemand is onaangetas gelaat nie. Heila onthou nog helder die pynlike geweeklaag in die saal – “met groot matriekseuns wat agter begin snik en dan rol die gehuil vorentoe.” Syself is dubbeldiep getref weens haar verantwoordelikheid vir leerlinge se sieleheil in haar leiershoedanigheid by die Christelike Studentevereniging (CSV).
“Eensklaps is 42 kinders wat jy elkeen geken het, net weg. Ná die begrafnisse word jy stil en besef: jy kan met geen sekerheid se of enige van die kinders hemel toe is nie, want dit was net bolangs oor die Here praat; jy het nie met een kind ‘n direkte gesprek gehad nie.
“Die ramp het my lewe as onderwyseres verander.”
Ons praat oor die kragtige invloed van die Westedeneramp op haar ná die gedenkdiens vir haar broer, Frikkie Wallis, deurwinterde Afrikaanse uitsaaier en dagboek-houer, op Vrydag 12 Junie in die NG kerk Melkbosstrand. Frikkie is op twee weke tevore, op 31 Mei, aan long- en hartversaking oorlede, kort voor sy 75ste verjaardag.
Hy was ‘n veteraan-SAUK-omroeper, joernalis, radio-nuusskrywer en bekroonde hoorspel-spesialis, asook die skrywer van ‘n monumentale geskiedenisboek “Nuusdagboek: Feite en Fratse oor 1000 Jaar” (Human & Rousseau, 2000), ‘n omnibus van historiese gebeure oor die eeue heen waaruit hy tot twee dae voor sy dood, ondanks kwynende gesondheid, uit sy rolstoel op Facebook getrou bly dagboek hou het van die nuus van vergange tye. Sy rubriek, “Die dag dat was”, is wyd gelees en waardeer.
Heila, nou mev. Heila Visagie, het van Perth in Australië gekom om ‘n innige huldeblyk by die laaste groet vir haar broer te kom lewer.
Dit val op dat haar naam ook op ‘n ander plek in die gedrukte boekie met die program vir die diens, huldeblyke en foto’s verskyn: as toonsetter van die liriese lied van Habakuk, “Al sou die vyeboom nie bot nie”, ook bekend as “Nogtans sal ek jubel”. Dié lied word in die diens deur ds. Faani Engelbrecht en Retha Kruger van Melkbosstrand gesing net ná die troosboodskap uit Psalm 73 deur ds. Albertus Louw, ook van Melkbosstrand.
En, ja, dit is een en dieselfde Heila: die Heila van die toonsetting en van die huldeblyk, asook die Heila (van Schalkwyk) van die Hoërskool Vorentoe. ‘n Merkwaardige verhaal ontvou hoe die lied as’t ware uit die ramp gebore is en deel van haar sanggroepie, Vortè, se getuienis geword het.
Sy vertel: “Net ná die ramp, nog voor die begrafnisse, het my oog op die inspirerende woorde van Habakuk se gebed geval in ‘n essay van Audrey Blignault (later gebundel in “Die eindelose avontuur – ‘n Venster op die wêreldletterkunde”, Tafelberg, 1993).
“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”
En verder: “Die Here my God gee vir my krag; Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok en laat my veilig loop op die hoogtes.
Sy het haar kitaar gevat en die wysie het eenvoudig na haar gekom, deel sy mee. “Habakuk was die heel eerste lied wat ek getoonset het. en dit sommer so gebeur het, weet ek dit was van die Here.”
Daarna het sy talle Christelike liedjies, Psalms en ander gospel-liedjies, getoonset en die Vortè-sanggroep het

Uit program vir Frikkie se gedenkdiens.
Ook wanneer die kitare by kampvure by kerk-, jeug- en stranddienskampe in die jare 80 uitgehaal is, is graag van Habakuk se ratse ribbok gesing. So het dit die ore van Willie Joubert, bekende Suid-Afrikaanse gospelsanger, geestelike liedjieskrywer, prediker en motiveringspreker, bereik.
Die lied het hom aangegryp. Hy wou dit bitter graag opneem, en het ‘n soektog na haar op tou gesit; geen eenvoudige taak nie, omdat sy intssen met Helgaard Visagie getroud is en saam met hom Middelburg toe getrek het waar hy in die mynbedryf werksaam was.
Maar aanhouer wen. Iewers hier in 1991, 1992 rond kom Helgaard van die werk af met die nuus dat Willie hardnekkig op haar spoor is. Hy het hom by die myn gebel en vra toestemming om die lied op te neem.
“‘n Hele storie” het nog gewag. ‘n Komplikasie was dat die lied net in haar kop bestaan het. Geen note was op,papier nie. Iemand met ‘n klavier het gelukkig tot hul redding gekom. Heila het gesing, die pianis het die note neergeskryf en agterna gespeel, en so het die lied formele beslag gekry.
Heila se Habakuk kon toe by Samro (die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie) geregistreer word. Willie Joubert, en later ook ander gospelsangers, het dit opgeneem. Die lied met sy aansteeklike wysie en ontoerende, maar onbekende geskiedenis het dadelik diep in mense se harte gekruip. (Willie Joubert se opname: https://www.youtube.com/watch?v=kO8UeERQeFg)
Naskrif: Die Sondag na die diens het Heila se beker oorgeloop toe sy en twee oud-leerlinge van die Hoerskool Vorentoe en lede van die destydse Vortègroep op Melkbos kon saamkuier – die eerste keer dat hulle mekaar sien sedert haar troue 35 jaar gelede. Die twee, Liesl Wehncke en Carina Kruger (foto) , sing albei in die NG gemeente Bloubergstrand se kerkkoor. Habakuk het ook vir hulle spesiale betekenis. Haar boet Frikkie se afsterwe het haar baie bande laat hernu. Dit was vir haar “goed om hier te wees”, sê Heila.
Jul 3, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Net een keer in my lewe – as my geheue my nie in die steek laat nie – het ek ‘n sitplekkaartjie op die swartmark (die sluikhandel) gekoop.
Die treffermusiekblyspel Cats het voor vol sale in die New London Theatre in die Westend gespeel en die uwe wat in Londen was met die oog op ‘n joernalistieke sending na Moskou val toe ook een middag in 1981 in die tou (sjuut, moet tog maar nie vir die base sê nie!).
So tiende van voor sak my moed in my skoene. ‘n Bordjie gaan op: Sold out. Terwyl ek vies rondkyk vir die naaste moltreinstasie bied ‘n ou met ‘n skylie voorkoms vir my ‘n kaartjie aan teen dubbel die prys. ‘n Oomblik weiefel ek. Toe steek ek my hand in my sak.
Of Cats die swartmark-prys werd was? Van die “katjies” het darem mooi lyfies gehad en van die liedjies is nou nog vir my mooi. As Elaine Page Memory aanhef, neurie ek saam. Maar dalk het ek te duur betaal.
Eintlik gaan my storie nie oor Cats nie, maar oor rugby en die lewendige swartmark (sluikhandel) wat in die jare van vol paviljoene floreer het. Of eintlik gaan my storie oor ‘n swartmark (sluikhandel) wat nie meer bestaan nie. Een wat skouespelagtig in duie gestort het.
Studentemaats het entoesiasties daaraan deelgeneem. Hulle het oornag gaan tou staan vir ‘n toets en soveel kaartjies as hulle kan teen die vraprys gekoop. Dan adverteer hulle dit teen ‘n stewige wins. Jy kon maar die kleinadvertensies (smalls) in koerante dophou. Hoe nader die wedstryd kom, hoe duurder raak die kaartjies.
Vandag werk dit nie meer so nie. Buiten in Kaapstad (soms ook by Loftus en King’s Park) bly ‘n hele hoop kaartjies deesdae onverkoop. Dan word geskarrel, soos nou by Ellispark voor Saterdag se toets. Nou word kaartjies goedkoper, nie duurder nie!
Een rede is natuurlik die ongehoorde pryse wat rugbybase vir hul kaartjies vra. Iemand werk uit ‘n gesin van vier se rugby-uitstappie kan tot R10 000 kos (meer as jy dalk twee biere sou drink). Misdaad is ook ‘n faktor, veral in Doornfontein waar Ellispark ongelukkig staan. Toeskouers het al met messe in die ribbes kennis gemaak.
Hoe ook al, die swartmark (sluikhandel) in rugbykaartjies is nou ‘n dooie mark; so dood soos ‘n mossie.’n Entrepreneur weet goed: kan sleg verloor as hy met verkeerde “ware”opgeskeep sit. Hy vat nie met ‘n tang aan ‘n toetskaartjie nie.
‘n Vraag is waar die begrip vandaan kom. Moedswilliges wat ras daarin raaklees, is verkeerd. Die Engelse term black market het omstreeks 1930 ontstaan, lees ek. Dit is waarskynlik ’n direkte vertaling van die Duitse woord schwarzmarkt wat al sedert die 1910’s gebruik is.
In Duits het Schwarz- al lank die idee van “onwettig, geheim, verbode” gedra. Vergelyk ook Schwärzer uit die 18de eeu wat ’n “smokkelaar” beteken het.
Die eintlike betekenis is nie ‘n winsie maak met kaartjies vir ‘n konsert of ‘n sportbyeenkoms nie, wel handel wat in stryd is met beperkings, rantsoenering of pryskontroles. Dink aan oorlogstyd, sanksies, of wanneer goedere te duur/te skaars is. Voorbeelde: kos, medisyne, sigarette, petrol, of selfs restaurantebesprekings wat onwettig verkoop word.
En pas maar op: Op die internet is allerlei ander entrepreneurs in ‘n ander sort swartmark doenig: ouens wat goed verkwansel wat nie regtig bestaan nie.