UIT Rapport, 19 Julie 2026:

By ‘n ”skietoefening”: Ek is derde van links en PG du Plessis vierde.
Iewers in ’n kombuislaai is ’n paar kriptiese notas oor die resep van hooligan juice: ’n verleidelike konkoksie weermagsappies waarmee redakteurs in die 80’s in die Bosoorlog op persbesoeke aan die operasionele gebied kennis gemaak het.
Probeer dit gerus: meng eenvoudig ’n homp roomys, en soveel melk, rum en coco-rico-likeur soos jy wil (na smaak, lui die resep); koel af en geniet. “Proe soos teer, smaak na meer!”
Wat die herinnering aan hooligan juice loswoel, is jonger kollega Dana Snyman se kennismaking met kol. Gene de Kock se sterk knoffel-gegeurde doepa, Leeutand, op ‘n besoek aan die Polisie se berugte Vlakplaas-eenheid.
In die rubriek Van Alle Kante van Saterdag 4 Julie lig hy die sluier oor sy minder genotvolle ervaring by die eenheid waar planne bedink is om met aktiviste se gal te werk. Hy is, ironies genoeg, daarheen genooi om Vlakplaas in ‘n gunstiger lig te probeer voorhou ná die eerste onthullings in die Vrye Weekblad, deel hy in sy rubriek mee.
Natuurlik is ons ouer persmense, nes Dana, ook met ‘n spesiale doel grens toe gevlieg. Die “verhewe doel” in ons geval was ”om ons eerstehands van die terrein, die gevegstoestande en heersende weermagdenke te vergewis”. En ja, ons is in propvol programme rondgerits en weldeeglik voorgelig
Herinneringe aan die ligter sy van die oefening is egter ook talryk. Van die aangenaamste in die kategorie is die kameraadskaplike kuiers onder die helder Namibiese sterre saam met die manne in uniform in afgesonderde kampe soos Omega – altyd met ‘n paar glasies geurige hooligan juice afgerond. Duidelik verkieslik bo Leeutand, sou ek reken omdat ek nie ‘n smaak vir knoffel het nie.
Een van die mottos van sulke weglope was: “Wat in die bos gebeur, bly in die bos.” Daarvan sal ek om die dood nie afwyk nie. Ek glo egter ontslape kollegas soos PG du Plessis van Hoofstad, Roelf Jacobs van die SAUK en Twakkies Laubscher van Beeld sou my darem nie kwalik geneem het oor vermelding van hul name in enkele tersyde opmerkings in hierdie verband nie.
PG was in die 80’s redakeur van die Pretoriase middagblad Hoofstad. Ek en hy was twee keer op sulke besoeke tentmaats. Hy was ‘n lewenslustige metgesel en ’n voorbok aan die sosiale kant. As laataand om ’n vuurtjie diep stories gesels is, was die naweekboer van die plaas Semoer in die distrik Rysmierbult in die ou Wes-Transvaal van die liefste om nog ’n stukkie kameeldoring op te gooi en van die traagste om hom van die gemoedelikheid los te skeur.
Loshande die kampioen van mediasnorkers was die SAUK se Roelf Jacobs, weens sy kinderstories oor die lug ook as Otterjasie bekend. Hoe meer hooligan juice geniet is, des te hewiger het die daaropvolgende balkesaery natuurlik verloop. Sal ek vergeet hoe sy tentmaats, wat my en PG ingesluit het, een martelnag ná ‘n laataand-kuier die een ná die ander met ons kussings en kombersies by die tentflap uit is om na stiller oorde in die kamp te gaan soek?
Kleurryke Beeld-kollega Twakkies Laubscher se voorkeur was om elke aand se aktiwiteite met ‘n laaste Skotse watertjie af te rond. In ‘n buitengewone luim vir avontuur onderneem hy toe ‘n keer ‘n nagtelike ekskursie om ’n bietjie Zambeziwater by sy ”Jakkals en Bolf” te voeg.
Die gemoedelike Twakkies is in die stikdonker die onbetrede dieptes van ’n berugte en kwaai krokodilkontrei binne. Minute later het hy triomfantlik teruggekeer, met ’n glasie bruinerige rivierwater in die hand. ’n Mabalel-dop, het hy dit genoem na aanleiding van Eugene Marais se krokodilgedig met die onheilspellende waarskuwing: “Ver benee die palmietstele / in die bloue duister wag Lalele …”
Op sulke grensbesoeke is die vlugte van Waterkloof af en terug onderneem met die sogenaamde Flossie, ‘n Hercules C-130BZ, betroubare langasem-werkesel uit die Lockheedstal. Hy en sy kleiner stalmaat, die Dakota DC-3 met die minder vleiende bynaam van Kotskoets, was van die Bosoorlog se onvergeetlikste karakters. Derduisende troepe en vragte der vragte voorrade is van Pretoria af met hulle na Oshakati, Ondangwa of Katima Mulilo verskuif.
‘n Buitengewone kenmerk van die Flossie was sy ablusiegerief. Alle manlike passasiers – ongeag vernaamheid – moes maar teen wil en dank as dit hoog bokant Afrika daarop aankom, die dou van die lelie skud in so ‘n vreemde pypgedoente wat ingewydes lillies of the fields noem; ’n ontwerp wat volgens sanger en akteur Lochner de Kock die “oupa is van alle vuvuselas … net stiller.”
Op terugtogte is die Flossie se lillies of the fields druk besoek. Een rede was vir seker die ongewone volumes vloeistof wat ingeneem is. ’n Ander was vir die geselligheid: om in ’n kring te staan en al die sonderlinge ervarings aan die front te herroep.
Soms is so skud-skud ook geskud van die lag.
NASKRIF: Die Weermag-konkoksie wat ongetwyfeld die wydste bekend is, was natuurlik ‘n nul-persenter wat alkohol betref. Noem die woord kotefie en op elke troep se gesig sal dadelik ‘n glimlag van herkenning verskyn. Omdat hul koffie en tee afwisselend in sulke groot melkkanne gemaak is, was dit vir die manne soms moeilik om te onderskei tussen die twee. Vandaar die naam. Baie sal sweer dat die smaak verder benadeel is deur die ruime byvoeging van blou vitrioel om die jong manlike libido’s in toom te hou. Dan duik telkens ook stories op van kanne waarin gepiepie is om hardekwas elemente terug te kry. Maar hoe sal ‘n mens nou weet?