Op die plek waar Jaco van Wyk se groot olifantdroom as’t ware tande gekry het, is vandeesweek – met ‘n pronkstuk van ‘n boek in die hand – ‘n heildronk op daardie heuglike ervaring gedrink.
Die kraakvars boek heet “Merkwaardige bosreuse van Suider-Afrika” en loop op die romantiese spore van talryke ivoordraers van formaat.
Jaco se droom was altyd om aangesig tot aangesig met een van die Krugerwildtuin se gedugte “honderponders” (ivoortande van 45 kg) te kom. Voorheen was sulke ontmoetings altyd van ver af, of om ander redes nie onbelemmerd nie.
Toe op ‘n kuier in 2007 in die private natuurreservaat Sabiepark, digby die Krugerhek, kom staan “Langtand” vlak langs hom. Later het hy vasgestel die naam is eintlik Muliluane (“Klein vuur” ) en daardie tande wat hom by Sabieparkers die kreatiewe bynaam van “Langtand” verwerf het, is werklik iets om oor huis toe te skryf.
Van die gedugte Muliluane se besoek daardie dag en die volgende aan Sabiepark se asemrowende piekniekplek is verskeie pragfoto’s in die boek, een van die aspekte wat hom onderskei as waarlik ‘n natuurboek van betekenis. (Een is ‘n ”spanfoto” van die skrywer en die olifant!)
Van die reusedier en sy geskiedenis wil ek nie meer verklap nie – lees Jaco se boek! – buiten dat hy in 2007 treurig tot sy einde gekom het , en ongelukkig buite die Wildtuin se grense. Geen amptelike data van sy indrukwekkende ivoor is dus bekend nie. ‘n Pynlike leemte en jammerte.
In Jaco se boek word die fassinerende spore van ‘n formidabele klomp olifante gevolg. Dit sluit in die sogenaamde “Manjifieke sewe”: Dzombo, Kambaku, Mafunyane, Ndlulamithi, Shawu, Shingwedzi en João waarvan die tande ongelukkig in 1984 afgebreek het, en nooit gevind is nie. Maar daar was beslis nie net sewe manjifieke olifante nie. Lees Jaco se boek!
Jaco verwoord sy ewigdurende eerbied vir die olifant so: “Geen dier in Afrika is heeltemal so dramaties, so imponerend en so vorstelik soos die olifant nie.”
Dit blyk dat hy as agtjarige aangegryp is toe ‘n bul doodluiters ingestap het waar hulle by Tshokwane ‘n gesinspiekniek gehou het 50 jaar gelede. Dit was die sneller dat hy altyd meer en meer van olifante wou weet, Hy het ‘n uitgebreide biblioteek met honderde boeke en artikels oor grootvoete opgebou.
Nou het hy en Dream Africa ‘n boek gelewer waarsonder geen boekery oor olifante durf wees nie.
Laaste vraag: Wat op aarde doen ek op die foto saam met Jaco? Wel, hy is my peetseun en dit was by my wat hy gekuier het toe Muliluane in sy lewe gekom het. Ek verklaar graag die belang.
Vir bestellings: Jaco van Wyk 0824108871.