AS JY MIERE HET, HET JY MIERE

Noem hierdie ‘n allerlaaste toegif.
Aan die einde van ”Koerantkamerade” (Naledi, 2021) was ‘n stuk onder die hofie ”Die gordyn sak”. Dit was bedoel as my tot siens as skrywer.
Maar as jy miere het, het jy miere.
Daarna het by dieselfde uitgewer gekom “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” ( 2023) en by Protea “Bure van nature”( 2021).
Ook twee private publikasies: “Koerant80” (2021 ) en “Water wat verby is” (2024).
In Augustus / September rond maak “Wag-‘n-bietjie –Stories wat gryp” sy buiging by Naledi. Dis vol koerantestories. Aangeheg is die Inligtingstuk.
Dit is regtig die allerlaate toegif, dink ek, hoop ek. ‘n Respektable 84-jarige moet immers tot ruste kom en liewer vir die see sit en staar as om hom ure der ure komrug voor die rekenaar tuis te maak. Of hoe?

IS DIT NOU NODIG?

Die nuus uit Gqeberha oor die begin van die derde geregtelike doodsondersoek na die moorde op die Cradock-Vier wek by my taamlike ongemak.

Vir die familie se versugting na afsluiting (seker ook wraaksug) moet ’n mens begrip hê, maar om ‘n groep 80-plussers – die oudste 88 – 40 jaar later vir die daad tot verantwoording te wil roep, lyk darem dik vir ‘n daalder.

Ek, self 84, kan my indink in die posisie van die bejaardes wat nou moet kom pa staan. Veral met oud-minister Barend du Plessis (85) wat, as ek reg lees, in sy hoedanigheid as voormalige minister van swart  onderwys bygesleep word, het ek baie simpatie.

Dit is bekend dat Du Plessis (foto) nie ‘n gesonde man is nie. Nou moet hy op 85 die stremming van veeleisende hofverrigtinge in person gaan verduur oor ‘n kwessie waarby hy klaarblyklik nie direk betrokke kon gewees het of direk kon beïnvloed het nie. Hoe wesenlik was sy aanspreeklikheid dan?

Du Plessis was natuurlik by sy uittrede uit die politiek Suid-Afrika se minister van finansies, en dit is bekend hoe amper-amper hy, en nie FW de Klerk nie, die leisels van die Nasionale Party by PW Botha oorgeneem het. Dit was ‘n kwessie van agt stemme in die NP-koukus, Hy is ongetwyfeld die hoogste boom wat nou die vertraagde agterna- winde moet verduur van ‘n politieke stryd waarin aan albei kante onbehoorlikhede gepleeg is. Dink maar aan die Kerkstraatbom.

Vrae ontstaan in my gemoed oor die noodsaaklikheid , selfs wenslikheid om so ‘n duur onderneming – soos hierdie ondersoek met sy spanne regsmense noodwendig moet wees – aan te pak as dit hoogstens ‘n simboliese resultaat kan oplewer, indien enigsins.

Vir eers: watter antwoorde kan iemand tog in hemelsnaam hoop om nou te bereik wat die vorige twee ondersoeke almal ontwyk het, veral met soveel sleutelmense nou al langboompies toe?

Ten tweede: is dit billik, goed en reg om gryse oumense met mankemente onder sulke uiterste druk te plaas oor goed wat vier dekades gelede in die hitte van die stryd gebeur het?

Ten derde: Wat dryf mense om so in die verlede te bly karring?   Is dit nou regtig nodig?

 WALS OP STADSAAL SE VERHOOG

Die TV-beeld van die praalkis van die vermoorde Olarato Mongale in die Bloemfonteinse stadsaal wek herinneringe – nie van kiste, begrafnisse of moorde nie, maar van daardie sierlike stadsaal waar ek soveel gedenkwaardige dinge beleef het.
In die saal, pragtig herbou na ‘n bose daad van brandstigting in die nie te verre verlede nie, het ek in die 8o’s nogal dikwels gekom: vir politieke vergaderings, kongresse, verkiesings, dinees, skemerkelkies, konserte, bruilofte, danspartye en wat nog. Nooit vir ‘n begrafnis nie, vreemd genoeg.
Onthoubaarste geleentheid is dalk ‘n konsert van die SAUK se simfonie-orkes. In ‘n dawerende slot is Verdi se Groot Mars uit Aïda met soveel woema opgedis dat jare se Vrystaatse poeierstof uit die fluweelgordyne op die orkeslede in hul aanddrag en die konsertgangers in die voorste rye begin neerdaal het. Dit hoes en proes toe vir ‘n vale op die maat van Verdi.
In die nimlike stadsaal het John Vorster aangekondig Basil D’Óliveira is nie welkom in die Engelse krieket-toerspan na Suid-Afrika nie. Die rampspoedige aankondiging het omtrent die dak gelig. Albert Hertzog van die HNP is daar met eiers bestook. Eugene Terreblanche het sy wilde drome kom deel.
Waarskynlik die deftigste dinee was een van Mimosa Films. Tot die Boesman uit “The Gods Must Be Crazy” was in ‘n aandpak teenwoordig. (foto: ek en Boet Troskie).
Op ‘n dinee van die Sportskrywersvereniging het Tokkie die trofee vir Sportvrou van die Jaar aan ‘n jong Zola Budd oorhandig (foto). Zola was, trouens, nog op skool.
Van die dosyne skemerkelkies was ‘n aangename een waar die Kunsmark met ‘n oorkonde vir gemeenskapsdiens bekroon is. (foto: burgemeesterspaar Neels en Toeks Neuhoff en die Van D’s).
Met allerlei vernames is daar skouers geskuur. (foto: pres. FW de Klerk en HvD).
Ure is omgesit by politieke kongresse, veral in die PW Botha-era. Hoeveel mosies van dank teenoor ministers moes ek nie in my lewe daar aanhoor nie? By minstens twee verkiesings het ek daar my kruisie gaan trerk.
‘n Koddige herinnering is van die burgemeester, ‘n akademikus, wat na onthale sy kombi so geparkeer het dat al die oorskietkos daarin gelaai kon word vir persoonlike gebruik!
Op my eie persoonlike vlak onthou ek my optrede as seremoniemeester by die huwelik van koshuismaat op Tukkies dr. Wiam Cilliers en die mooie Kelly Hugo, boermeisie van Dewetsdorp. Twee ander bruilofte in die stadsaal was van kollega Jan Scholtz se dogter René en tandarts Klaas Holtzhausen se dogter (naam het my ontgaan).
By ‘n dinee van die Vrystaatse Landbou-unie was ek een van die 11 sprekers. Die liewe Lullu de Jager, sekretaris van die VLU, het hom ietwat misreken met die program. Toe spreker nommer 11 aan die woord kom, was dit al verby huis toe gaan tyd. Spreker 11 was hierdie kiepie. My goed voorbereide toespraak het grootliks onafgelewer gebly.
Om danspassies glad uit te voer, het ek nooit onder die knie gekry nie. Ek kan darem spog dat ek en Tokkie op die verhoog van die stadsaal op Strauss-musiek gewals het by ‘n Fair Ladybal. Ons liewe bure Chris en Annette van Rensburg het ons vergesel. Goeie ou dae. (foto’s).