REUK VAN PIESANGS

Hoe ver kan ‘n bosnagaap ‘n piesang ruik?

Dat sy kos – veral boomgom, bloeisels, sade en vrugte – gewoonlik deur reuk opgespoor word, is bekend. Daarvan het ons heelwat ervaring. Elke aand word op ons “piesangtafel” in Sabiepark sterk meegeding om die lekkerny. ‘n Gulsige mannetjie maak ‘n tafel vinnig skoon terwyl sy minderes lippe aflek.

Piesang is klaarbyklik ‘n prima-lekkerny.  Die vraag oor watter afstand die reuk sy mond kan laat water,  het by my opgekom na die eienaardige gedrag Saterdagaand van een van die twee gereelde bosnagaap-besoekers wat die vakansie gewoonlik omstreeks 18:00 so stil-stil hul opwagting maak. Jy sien dan net die katagtige dier met sy  lan-a-ang stert van tot 50 cm  – die langste deel van sy lyf – grasieus teen ‘n jakkalsebessie se stam afseil en die skyfies piesang met mening takel. Soos ‘n dorsmasjien ryg hy dit in.  As jy nie wakker is nie, loop jy dit mis, want al wat jy hoor, is ‘n effense blaregeritsel.

Net voor slapenstyd Saterdagaand eet die uwe ‘n piesang by die groter stoeptafel – ‘n hele ent van die “piesangtafel” af.  Waar ta geskuil het, weet ek nie.  Maar voordat jy kon sê mes, het die aroma hom bereik.  Hy sak langs sy gewone roete op die stoep toe met doelgerigtheid en entoesiasme.

Toe hy die tafel leeg vind, reageer hy egter soos ‘n berserker: draf om en om die swembad, spring op die lêstoel, staan pennetjie-regop soos ‘n meerkat en kom snuif selfs onder die groot tafel. Daardie groot oë bly op die piesang-bevoordeelde mensekind gevestig. Die aanvaarding dat die piesang op is, sink traag by hom in. Dis of hy omkyk-omkyk onwillig padgee. Toe gaan sit hy in ‘n boom en skel. Nes ‘n baba wat huil.

Die kleiner nagapies is eintlik ons gunstelinge. Ons moedig hulle stil stil aan om so vinnig moontlik weg te lê voordat die groter bosnagaap opdaag.  Maar laasgenoemde verskaf darem uit eie reg ook vir ons en ons gaste plesier. Veral baie stedelinge sien hulle die eerste keer as hulle hier in die bos kom kuier en is verstom oor die enorme stert en grasieuse bewegings.

‘n Besonderse aand was toe ‘n nuwe mamma een aand haar kleinding vir ons kom wys. Toe sy seker is, ons het gesien, verdxwyn sy weer in die takke van ‘n maroela, gaan deponeer die kleintjie en keer terug om te oes.

 

VERRASSINGS WAT WAG BY DIE KRUGERBRUG

Die kleurekontras tussen die houtskool van ’n olifant se enorme lyf, die wit van sy tande, die blou van water, asook die verskillende skakerings groen van gras en allerlei riviergewasse sorg altyd vir ‘n treffende natuurprentjie.  Jy kan net die kamera mik en die knoppie druk.

Hierdie foto van daardie aard is vanoggend by die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek van die wildtuin geneem. Drie olifante het vlak langs die brug se relings gawe fotogeleenthede geskep – ook vir selfies.

Die drie olifante – nadat die gewoonlik volop spesie ons tot dusver hierdie wintervakansie ontwyk het – onderstreep my gereelde raad aan kuiergaste in Sabiepark: As jy gelukkig is, kan jou wildtuin-ervaring begin voordat jy die Krugerhek binnery.

Ja-nee, dis raadsaam om stadig en rondkyk-rondkyk te ry sodra jy die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Party mense jaag blindelings oor die brug hek toe. Hulle besef seker nie wat hulle alles kan miskyk nie.

Teeltroppe olifante kom gereeld hierlangs in die Sabie voor. Dit is ‘n “uithangplek” waar die grootvoete graag hul slurpe laat sak.  Besoekers het al hope olifante buite die hek afgeneem. Selfs teenaan, en in skynbare “gesprek” met, die forse granietbeeld van Pres. Paul Kruger.  Twee keer het olifante ons ingewag langs die groot bord wat lui: “Welcome to the Kruger National Park”. Dit was asof hulle gekontrakteer is vir reklamefoto’s vir Sanparke. Wonder wat sou ‘n olifant se tarief per uur wees! Gelukkig was my kamera albei kere byderhand.

Soms dam die motors op die Krugerbrug op soos op ‘n Saterdagoggend by ‘n stedelike sakesentrum. Skares mense hang oor die relings. Kameras flits.

Allerlei ander verrassings is moontlik, byvoorbeeld ‘n klompie bemodderde buffels, ‘n verdwaalde renoster (dalk nie meer nie) of selfs ‘n leeu of luiperd – ‘n gelukkie wat ons een Sondagoggend op pad Skukuzakerk toe oorgekom het.   Amper was ons nie betyds vir die laaste gelui nie.

 

 

 

VERE WAAI OOR VENSTERS

Ek ken withelmlaksmanne as woeilige Bosveld-voëtjies wat gewoonlik in groepies van 10 tot 15 laag bo die grond van bos tot bos woerts agter goggatjies aan.  Gewoonlik is hulle bedeesd en stil. Jy raak net bewus van ‘n skielike vlinderagtige beweging – die volgende oomblik is dit net laksmannetjies waar jy kyk.

Soms as iets enetjie ontstel, sal hy ‘n geluid uiter. Die ander snater dan agterna.  Gou keer die bedeesdheid terug.

Allesbehalwe bedeesd was hul gedrag ‘n dag of wat gelede by ons boshuis, Tarlehoet, in Sabiepark.  Eers hoor ons ‘n onheilspellende geluid wat klink soos iemand wat die huis met ‘n klip bestook.  Bobbejaan dalk?  As hulle al menslike wandade pleeg soos om ‘n skuifdeur uit te lig –ja, hulle doen dit! – sal ‘n klipgooiery na ‘n verleidelike teiken my min verbaas.

Maar nee, geen bobbejaan in sig nie.  Die derde, vierde keer toe ons na buite storm om die vreemde klapgeluid te ontsyfer, bemerk ek die enkele withelmlaksman wat, vlerke oopgesprei en vere wat in alle rigtings staan, die boonste badkamervenster aanrand.

Die woord “aanrand” word ná deeglike oorweging gebruik.  Dis geen pip-pik-pik soos ek ‘n tarentaal al sien doen het nie, maar ‘n volskaalse bombardement met lyf, pote en snawel, die lot.

So moes dit omtrent vir pres, Ramaphosa in die bomskuiling in Kiëf (my spelling en ek staan daarby) geklink het toe die Poetin-missiele op die stad begin reën!

‘n Goeie 10 minute duur die aanval by Tarlehoet. Toe gee die ou pad. Maar hy gee nie pad om pad te gee nie. Hy vlieg weg om versterkings te gaan haal.

Kort daarna lok ‘n eenders stampgeluid as die eie aanvanklike een ons na buite. Maar nou is dit nie een voël met ‘n solo-aanslag nie.  Dis ses of sewe van hulle.  Dis nou ook nie meer net die badkamervenster wat geteiken word nie. Al die boonste vensters word met drif bygedam.

Dat hul ewebeelde in glas, veral getinte glas, ‘n verskeidenheid voëls se aggressie uitlok, is bekend. Wat kom soek die onbekende uitdager/s dan in hul gebied?  ‘n Enkele gedagte oorheers in die veronregt/s se kop/pe: Weg met jou/julle!

In die proses word soveel stoom opgebou dat die eie bloed soms loop, veral in broeityd.

In 25 jaar in Sabiepark het ek egter nog nooit withelmlaksmanne so boosaardig sien optree nie. Merk dit dus af as loshande die ongewoonste belewenis van die eerste van ons nege winterweke hier.

Voorheen was die vreemdste withelmlaksman-gedrag wat ons ervaar het, ‘n neiging om op ‘n snikhete somerdag oopbek onder stoepmeubels te kom skadu soek.  Kyk foto 2 hierby.  Dit is op ‘n keer deur Sabieparker Brenda Thompson geneem.

NASKRIF: Van die eerste aand die kom die nagapies en die bosnagape konstant. Elke aand ding twee van die ou grotes mekaar mee vir die laaste skyfie piesang.  Hulle wil mekaar net vat. Een geniet duidelik patriargale of ‘n ander voordeel. Hy wen keer op keer.  Ook bloukuifloeries bly bedrywig. Jy hoor hulle aaneen kok-kok-kok. ‘n Keer was vier tegelyk in en om die voëlbad.

‘n REKORD OF NIE ‘n REKORD NIE?

Deel van Volkies se atliekspan. HvD is links in die vierde ry.

Nes Comradeskampioene Tete Dijana en “Goue Gerda “Steyn het ‘n jong Hennie van Deventer ‘n rekord “verpletter” – oor ‘n effense korter afstand.

Anders as hulle is hy nie met blomme bestrooi, deur Jan Rap en sy maat om die hals geval en boonop met ‘n hoop geld beloon nie. Die kordaatstuk was ook nie voorbladnuus nie.
Inteendeel, die stomme Hennie se brose kindergemoed moes die pyn verwerk dat sy rekord – sy enigste, enigste ooilam-rekord ooit top die atletiekbaan – wreed verbeurd verklaar is. ‘n Bruuske aakondiging is oor luidsprekers uitgedawer en die wedloop moes oorgehardloop word.
Dit het in 1957 gebeur, 66 jaar gelede by die skolesport op Volkies, Potchefstroom: ‘n tianiese stryd tussen die Atheners, Spartane en Trojane.
Hierdie trotse Athener met die geel strikkie op die bors wen toe die 150 tree onder sestien. ‘n Rekord word aangekondig. Almal juig. Daarna paradeer hy oral op die baan sodat geen meisie tog die breker moet miskyk nie.
Toe kom die ontnugtering. Ons het te kort gehardloop. Die aflosstrepe het die afsitter, Oom Stoney, verwar. Verpletterende nuus! Ek wen die regte 150 tree darem weer. (Die vinnige Fido Barnard het nie deelgeneem nie.) Die tyd is egter ver van ‘n rekord.
By nabaat, mymer ek vandag oor die regverdigheid van die ou lewe. As Tete en Gerda se rekords erken word, hoekom is Hennie s’n dan misken? Is daardie terugslag nie dalk sogenaamde “kinderbagasie” wat ek al my lewe lank met my moes saamdra nie?.
Moet ek dalk appelleer? Of moet ek op die rype ouderdom van 82 maar vrede daarmee maak dat dit is hoe die koekie vir my gekrummel het? Ek skat laasgenoemde.

BOEKE OOR KOERANTE

 ‘n Volledige lysie van my boeke met ‘n koerantetema in chronologiese volgorde:

Scoops en skandes (Tafelberg, 1993)
Flaters en kraters (Tafelberg, 1996)
Kroniek van ‘n koerantman (Tarlehoet, 1998)
In kamera (Protea Boekhuis, 2003)
Byl in my bos (Griffel Media, 2009)
Laatoes –kykweer van ‘n kanniedood-koerantman (Naledi,2017)
Koerant (De Novo, 2021)

Koerantkamerade (Naledi, 2021_

Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (Naledi, 2023)

 

‘n Hoofstuk uit my pen, Die nuusredakteur – spil waarom alles draai, is opgeneem in  Joernnalistiek vandag van AS de Beer (Tafelberg, 1982).

Vir Elke Dag ‘n mooi nooi en ‘n moord, Koerantkamerade en Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman  besoek naledi.co.za  of kontak Tertia Swart (078 648 8616 of tertia@naledi.co.za._ In Kamera is/was by Protea beskikbaar. Scoops en skandes
Flaters en kraters en Byl in my bos is uit druk.  Kroniek van ‘n koerantman en Koerant is as e-boeke by De Novoboeke beskikbaar.