MET BANIERE UITBASUIN

Moet koerante die wapenstorie nie onder banieropskrifte aanbied nie, vra ‘n joernalisvriend my gisteraand oor ‘n ottermaklottertjie. Dis ‘n prikkelende vraag. Die antwoord is nie so voor die hand liggend nie.

Gewis is die Amerikaanse ambassadeur se beskuldigende vinger aanduidend van ‘n enorme diplomatieke bokkerop en bevind die Suid-Afrikaanse  regering hom in ‘n uiters ongemaklike situasie – amper soos iewers tussen die duiwel en die diep blou see.

Gewis kan die komplikasies en implikasies aan vele fronte geweldig wees. Onheilspellende scenarios word daaroor deur politieke kommentators en andere  geskets.

Op die keper beskou, is in die stadium egter nog niks bewys nie. Die bewerings is lastig en die agterdog oor iets onheiligs loop dik, maar die saak hang in die lug. ‘n Groot storie kan kom … of dit kan ‘n nat klapper blyk te wees.  Ek dink dus koerante hanteer die storie na waarde –  nog duskant die vlak van ‘n banier.

Ek is bevrees my antwoord was vir my vriend ‘n teleurstelling.  Hy het sy mes in vir Cyril Ramaphosa en hy soek bloed.  Hy vra my toe na wat dan werklik in my oë as “groot storie” kwalifiseer.  Moeilik om te definieer, maar onder die grootste stories in my era in redaksies tel wêreldskuddende eerstes soos die Appolo 11-maanlanding en prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting, kon ek hom meedeel.

Albei is onder reuse-baniere uitbasuin. Kyk die New York Times se driedek-kop met die maanlanding hierby.

Die sluipmoord op Pres. JF Kennedy in 1963 was, terloops.  ’n eerste kennismaking met ’n koerant in skielike, koorsagtige, snelrat. Met die moord op HF Verwoerd drie jaar later was ek ’n jong hoofsubredakteur – self totaal oorstelp. Maar ’n spesiale uitgawe moes dringend uit.

’n Verdere (uiters onvolledige) lysie van groot nuus wat voorblaaie in my tyd oorheers het: 9/11, die  Inligtingskandaal, die Bosoorlog, die Laingsburg-vloedramp; Prinses Di se dood; die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana; die Skêrmoord; die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg; die Challenger-ruimteramp; die Westdene-busramp; kol Mike Hoare se staatsgreep in die Seychelle; André Stander se rooftogte en skietdood in Florida, VSA; Sharpeville in 1961 en die Soweto-opstand in 1976; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein; die Kerkstraatbom; die Oceanos-ramp; die pedofiel Gert van Rooyen; die val van die Berlynse Muur, en les bes, die ontbanning van die ANC en vrylating van Nelson Mandela in 1992.

As ‘n mens uit die formidabele lys ‘n numero uno moet kies, kan jy verskillende maatstawwe aan die dag lệ.

Jy kan vra: watter storie het op die lang termyn die grootste impak op die lewens van die meeste mense gehad? In Suid-Afrikaanse konteks moet dit die politieke omwentelinge in 1992 wees. (Met die koms van die nuwe Suid-Afrika in 1994 was ek nie meer ‘n joernalis nie.)

Jy kan ook vra na die onmiddellike skokeffek op lesers.  Dan sou die moord op Verwoerd in my boek die voorloper wees.  Suid-Afrika was lamgeslaan.

 

(In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” (Naledi , Mei 2023) word stories oor van die stories vertel. Ek skryf ook oor hoe vrek moeilik dit soms  is om te besluit wat die grootste nuus van die dag is. Die boek is nou uit.  Bestel dit regstreeks by Tertia Swart – 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za of naledi.co.za (Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 (by jou voordeur afgelewer).

 

DIE AANLAND VAN ‘N NUWE BOEK

Hoe lank is die pad nie wat ‘n boek loop vandat jy die eerste woorde neergepen het totdat jy die pakkie van die drukkers af oopskeur, die kraakvars eindproduk in die hand hou, dit oopslaan en stadig deurblaai. Dikwels voel jy of die wag net nooit gaan ophou nie. Maar dan – as dit verby is – is die oomblikke soet.
Die vrug van jou inspanning bied ‘n verruklike vreugde. Daarna breek ‘n nuwe wag aan. Die vrug van jou inspanning en vreugde word nou die bron van jou wonder en hoop. Jy wonder oor lesers se reaksie. Jy hoop die leser sal ook in jou boek vreugde vind soos jy die skrywer.
Lang storie. Eintlik wil ek maar net sê Hier is hy: ‘n hopie van ‘ ‘ –‘n Joernaal van scoops en skandes op my tafel in die woonkamer op Melkbos uitgestal. Binnekort sal “mooi nooi” in die boekwinkels wees.
Bestel hom ook direk by Naledi se aanlynboekwinkel en kry hom by jou voordeur afgelewer sonder ‘n sent ekstra, landwyd. Dis so maklik soos een, twee, drie. Klik net op op https://naledi.co.za/ of skakel Tertia Swart – 078 648 8616

‘n STERRETJIE WORD ‘n STER  

Ouma Marietjie van Wyk, Tokkie se wonderlike ma, was op 7 April 2004 90 jaar oud: ‘n feestelike dag.  Die oggend was dit koek en tee hier op Melkbos en die aand ‘n intieme familie-ete met al haar kleinkinders rondom haar.

Ek onthou hoe Bianca Lucas, oulike vyfjarige buurdogter, in ‘n vlinderagtige partytjierok vir die tee vroeg-vroeg opgedaag het met ‘n netjiese presentpakkie.  “Ek was nog nooit op ‘n 90ste verjaardag nie,” het sy opgewonde verklaar.

Ouma is nege jaar later, in 2013, op 99 oorlede en Saterdag tree Bianca, nou dr. Bianca Lucas, op Tulbagh in die huwelik – ampertjies twee dekades ná daardie verjaardag. Ek gaan diep toe ‘n foto van haar en Ouma op om my herinneringe met die feite te sinchroniseer. Mooi foto, nie waar nie?

‘n Ander herinnering van die kleine Bianca is van ‘n verjaardag waarop haar maatjies trakteer is op ‘n ponierit oor ons gras see se kant toe. Vooraf het sy die klokkie gelui en baie formeel toestemming kom vra,   Die laaste maatjie was die middag net weg, toe spring die verjaardagmeisie met ‘n skoppie in om die mis op te tel. Dit was vir Ouma se geliefde viooltjies bestem.

Bianca was van kleins-af ‘n pragtige, slim en voorbeeldige meisietjie met die mooiste maniere. ‘n Regte sterretjie. Ouma wat self geen kleindogter gehad het nie, net ‘n span seuns, was baie lief vir haar,

Ek wens Ouma kon weet hoe skitterend Bianca in Bloemhof op Stellenbosch presteer het.  Sy was een van die wat die meeste A’s ingeryg het.  Ook hoe Bianca lag-lag deur haar mediese studies is en dat sy Saterdag voor die kansel gaan staan.  Dit sou vir haar tot vreugde gewees het.

Bianca gaan ‘n sprankelende sterbruid wees, dit weet die Van Deventers. Aan die vooraand van haar groot dag dink ons met dankbaarheid terug oor die jare van haar grootword hier langsaan,  en die vreugde wat sy altyd in so ‘n milde mate versprei het  – ook in ons huis.

Vir die bruid is ons wens ‘n allerlieflike dag en ‘n glimlaglewe vorentoe. Vreugde vir jou, Bianca.

+ BOEKEMAN EN STALMAAT, GEORGE LOUW

 

Die bome tuimel nou vinnig in die bos van kollegas in die 80-plus-kategorie. Die jongste is George Louw (84) , uitgewer, digter, dramaturg, joernalis van formaat, wat gisteraand in die Milnerton MediClinic aan ‘n hartaanval oorlede is.

George sal by uitstek vir sy lewe as boekemens onthou word. Ons paaie het gekruis in die dae toe hy joernalis was. Hy was ‘n beurshouer van Die Burger in die tyd dat ek ‘n n beurshouer van Die Volksblad was. Ons was as’t ware stalmaats.
Sy loopbaan het begin by Die Burger waar hy later ‘n kranige subredakteur was. Daarna is hy na Huisgenoot. In die 80’s was hy ‘n ruk lank ‘n sub by Die Volksblad.
My hart gaan uit aan Dorette wat nou alleen oorbly in hul woonstel in Bloubergstrand met die skouspelagtige uitsig op Tafelberg en Tafelbaai – ‘n gesellige plek waar ook ons en die gasvrye Louws heerlik saamgekuier het. Hul prikkelende geselskap was altyd ‘n verfrissing.
George het op 1 Maart sy 84ste verjaardag gevier.
Sy vader was Bismarck von Moltke Louw, broer van NP van Wyk Louw en WEG Louw. Boeke was van vroeg in sy bloed. Hy word hoof van fiksie by die uitgewery Tafelberg. In 1981 is hy aangestel as uitgewer by NG Kerk-uitgewers, later Lux Verbi. In 1992 het hy die pos as hoofbestuurder van Van Schaik-uitgewers in Pretoria aanvaar. In Maart 1998 het hy afgetree – net drie maande ná my.
Met sy skryfwerk het hy jonk ontluik. As dertienjarige al verower hy die eerste prys vir poësie in ’n landwye skryfwedstryd vir kinders onder agttien jaar. Hy debuteer in 1957 as agttienjarige met Die trekpad, ’n bundel wat hy aan Ingrid Jonker opdra as huldeblyk vir haar mentorskap met sy digkuns. Later volg die bundel Koggelstok waarmee hy in 1965 die Eugene Marais-prys verower. Na ’n digterlike stilswye van amper veertig jaar verskyn die digbundel Kraai, wat ’n hoogtepunt in sy oeuvre verteenwoordig, in 2006.
Van sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Onder sy dramas is ’n Skip is ons beloof wat in 1970 met die WA Hofmeyr-prys bekroon is. Dit is ook vir skole voorgeskryf.
‘n Gedugte, oorwoë, besadigde en betroubare man gewees – die George. 

 

AMPER BAAS VAN ‘n GROOT PLAAS

In 1988 met die Riaan Eksteen-debakel by die SAUK is ek uit meer as een oord vertroulik ingelig dat ek ‘n kandidaat vir die direkteur-generaalskap is. PW Botha wou my glo in daardie pos hê.  Koerante (o.a. eers Max du Preez se Vrye Weekblad en toe ook die Sunday Times, nogal op sy voorblad) ) het bespiegel die SAUK se nuwe baas gaan uit Bloemfontein kom.

Ek was toe 47 en reeds amper agt jaar in die redakteurstoel van Die Volksblad. Laat my maar bely dat my ego nie verhewe was bo vatbaarheid vir streling nie.  Was nie onaangenaam vir die in-murg-en-been-koerantman om self die onderwerp van koerantstories te word nie. Die Sunday Times, onthou ek, het my op ‘n Saterdag by my huis in die woonbuurt Dan Pienaar gebel om kommentaar. Ek het dit geniet om in my beste Engels jakkalsdraaie te gooi: “Nee, ek het nog geen formele werksaanbod ontvang nie. Ja, ek sal dit oorweeg, maar ek is gelukkig as koerantredakteur en sal nie goedsmoeds so ‘n sprong waag nie.”

Een middag het ek en my vrou, Tokkie, op besoek aan die Rand in my nuwe donkergrys Mercedes 230E  –  ‘n 1988-model met die registrasienommer OB 7725 – om en om die Uitsaaisentrum in Aucklandpark gery – dis ‘n enorme plek. My keel wou-wou toetrek by die gedagte dat ek oor daardie omvangryke koninkryk die septer sou moes swaai

De M-Net-era was in die weer.  Toenadering tussen die Nasionale Pers en die SAUK op daardie tydstip sou nie vir die Pers ongeleë wees nie. Met die goedkeurende medewete van Ton Vosloo is ek na Pretoria om by sy huis in Pretoria-Oos ‘n vertroulike onderhoud met die voorsitter van die SAUK, Brand Fourie, direkteur-generaal van buitelandse sake, te gaan voer.

Dit was lannk voor die era van GPS, Google Maps en sulke nuttige hulpmiddels en die Vrystater het reddeloos tussen die Garsfonteins, Faerie Glens, Waterkloofs, Menloparks en Lynnwood Rifs met hul herehuise verdwaal.   Toe ek – heelwat laat vir die afspraak –by die Fouriewoning opdaag, was ek taamlik ontsenu en gespanne.

Aan Fourie se sy was ‘n mede-raadslid, JA (Koos) van Zyl, oud-kapelaan-generaal van die SA Weermag. Fourie het die sessie gelei en Van Zyl het net af en toe instemmend sy kop geknik. Die onderhoud was geen triomf vir die kandidaat vir die hoë pos nie.  Op ‘n vraag oor die toekoms van die SAUK-nuuskantoor het ek, na ek later verneem het, my voet in ‘n ding gesit deur onwyslik te volhard dat ek Sakkie Burger met die taak sou toevertrou.  My vriend Sakkie, ‘n senior in die nuusafdeling, was toe erg omstrede, veral by PW Botha! Was glo te danig met die KP in ‘n TV-onderhoud.

Miskien was Fourie en Van Zyl nie oortuig dat ek nie in die doolgange van Uitsaaisentrum sou verdwaal soos ek in Pretoria-Oos verdwaal het nie, maar die aanbod het nooit gekom nie.  Wynand Harmse is intern tot die direkteur-generaalskap bevorder. Ook maar goed so. Ek dink ek sou maar gesukkel het.

Van Deventer is wel –  ná die eerste raadsvergadering met Harmse in die stoel – die pos van nuushoof aangebied. Weer met Ton Vosloo se medewete is ek vir ‘n tweede onderhoud – hierdie keer openlik in Aucklandpark.

Die onderhoud was ten minste nie vervelig nie.  Die groot vraag: Het die hoof van die nuus die finale seggenskap oor wat uitgesaai word of nie?  Hieroor wou ek absolute duidelikheid hê. Die antwoord was nee, daardie diskresie berus by die direkteur-generaal. Met ander woorde, het ek teruggekap, as dié hom laat manipuleer, is die arme nuushoof aan wie ook al uitgelewer.

My ferme afwysing van so ‘n hiërargie is met verbasing begroet – asook my mededeling dat die Nasionale Pers se redakteurs wel daardie soort outonomie geniet waarop ek aandring.

“Bedoel jy Ton Vosloo gee nie vir julle opdragte nie?”

“Ja, dit is presies wat ek bedoel.”

Die onderhoud is weer nie met welslae bekroon nie. Later is ek, waarskynlik op aandrang van ‘n vriend, Colin Hickling van Bloemfontein, wat ook ‘n raadslid was, tog genooi om weer te kom praat.  Die antwoord was oombliklik: Dankie, maar nee dankie.  Liewer nie. Ek was nooit spyt nie.

In 1992 het ek toe wel die redakteursmantel afgewerp toe ek op uitnodiging van Ton Vosloo Kaap toe gekom het in die nuwe pos: uitvoerende hoof van koerante van die Nasionale Pers. Dit is die  pos wat ek tot met my aftrede in 1997 beklee het.

Kort ná aanvaarding in 1992 het Roelf Meyer, Minister van Inligting, Vosloo kom besoek.  Hy was op soek na ‘n direkteur-generaal vir die departement.  Die man wat hy teiken, is Hennie van Deventer. Ek was skepties. Terwyl die bal rondgeskop is, was ek en Meyer een aand saam in die kantoor van Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, in Pretoria waar hy my probeer oortuig het welke geleentheid tot diens aan volk en vaderland dit behels.

Gelukkig het Vosloo die besluit uit my hande geneem. Hy is jammer, het hy aan Meyer geskryf, maar Van Deventer het pas ‘n nuwe pos in die maatskappy opgeneem, en dit is nie geleë om sy hande los te maak nie. In die lig van latere politieke gebeure was dit ‘n redding. Ek is Vosloo tot vandag toe dankbaar.

Naskrif:  Hoekom ek die storie nou vertel? Eenvoudig omdat dit nog nooit volledig vertel is nie, ook nie in my nuwe boek, Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes, wat oor ‘n week of wat, ook met ‘n hele afdeling vol radiostories, by Naledi verskyn nie.  En nog ‘n boek sal daar nie wees nie.