Ouma Marietjie van Wyk, Tokkie se wonderlike ma, was op 7 April 2004 90 jaar oud: ‘n feestelike dag.  Die oggend was dit koek en tee hier op Melkbos en die aand ‘n intieme familie-ete met al haar kleinkinders rondom haar.

Ek onthou hoe Bianca Lucas, oulike vyfjarige buurdogter, in ‘n vlinderagtige partytjierok vir die tee vroeg-vroeg opgedaag het met ‘n netjiese presentpakkie.  “Ek was nog nooit op ‘n 90ste verjaardag nie,” het sy opgewonde verklaar.

Ouma is nege jaar later, in 2013, op 99 oorlede en Saterdag tree Bianca, nou dr. Bianca Lucas, op Tulbagh in die huwelik – ampertjies twee dekades ná daardie verjaardag. Ek gaan diep toe ‘n foto van haar en Ouma op om my herinneringe met die feite te sinchroniseer. Mooi foto, nie waar nie?

‘n Ander herinnering van die kleine Bianca is van ‘n verjaardag waarop haar maatjies trakteer is op ‘n ponierit oor ons gras see se kant toe. Vooraf het sy die klokkie gelui en baie formeel toestemming kom vra,   Die laaste maatjie was die middag net weg, toe spring die verjaardagmeisie met ‘n skoppie in om die mis op te tel. Dit was vir Ouma se geliefde viooltjies bestem.

Bianca was van kleins-af ‘n pragtige, slim en voorbeeldige meisietjie met die mooiste maniere. ‘n Regte sterretjie. Ouma wat self geen kleindogter gehad het nie, net ‘n span seuns, was baie lief vir haar,

Ek wens Ouma kon weet hoe skitterend Bianca in Bloemhof op Stellenbosch presteer het.  Sy was een van die wat die meeste A’s ingeryg het.  Ook hoe Bianca lag-lag deur haar mediese studies is en dat sy Saterdag voor die kansel gaan staan.  Dit sou vir haar tot vreugde gewees het.

Bianca gaan ‘n sprankelende sterbruid wees, dit weet die Van Deventers. Aan die vooraand van haar groot dag dink ons met dankbaarheid terug oor die jare van haar grootword hier langsaan,  en die vreugde wat sy altyd in so ‘n milde mate versprei het  – ook in ons huis.

Vir die bruid is ons wens ‘n allerlieflike dag en ‘n glimlaglewe vorentoe. Vreugde vir jou, Bianca.

Deel dit: