EN JY, MET DIE LANG STERT?


Die paradysvlieëvanger is nie ‘n voël wat jy sommer mis kyk nie. Sy ellelange stert van tot 20 cm is uniek. Sy roesbruin lyf, donker kop en hemelsblou snawel voltooi ‘n swierige prentjie. Hom verwag jy in die somer, veral van Oktober tot Maart. Dan dos die mannetjie hom uit in sy kleurryke ‘’hofmaakpak’’.
Groot was my verrassing toe ek gister – 21 Junie nogal – ene met oorgawe in ons watergatjie sien bad. Daarna gaan tooi hy hom op ‘n tak van ‘n reuse-rosyntjiebos. So lank paradeer hy daar dat ek Tokkie kan gaan roep. Sy – slimmer met die reënboognasie van gevleueldes – bevestig dat dit nie ‘n verbeeldingsvlug is nie.
Kenneth Newman meld dat enkelinge wel van April tot September in die Wildtuin aangetref word. Totaal vreemd is die Sabieparkse besoeker dus nie. Maar daai stert? Verloor hy dié dan nie, buite die broeiseisoen nie?
C. Louis Leipoldt, verssmid van die Hantam, se oulike gedig oor die verrassende gesig van ‘n sekretarisvoël op ‘n vreemde plek skiet my te binne: ‘’Sekretarisvoël met jou lange bene, Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf, Met jou groot, groot oë, Wat maak jy hier?’’
Dis die vraag wat ook by my opkom oor die paradysman – stert en al – in die winter in ons watergat:

Paradysvoël met jou lang, lange stert,
Met jooi roesbruin lyf en donker kop,
Met jou helder hemelsblou snawel,
Wat maak jy hier?
(VERSIE: Met apologie aan C. Louis Leipoldt. FOTO: Internet.

BOOMSTAMME EN STAMBOME

Jong vaderlandswilg op ons werf.

‘n Aangename ontdekking by ons agterste lapa in Sabiepark is ‘n sierlike jong vaderlandswilg wat in die covid-tyd stilletjies opgeskiet het. Jimmy Pressly van Skukuza het met die identifisering gehelp. Die mooi combretum word in verskeie dorpe as sypaadjieboom geplant. Dit is ‘n goeie skaduboom in groter tuine.

Kenmerke van die boom is sy grys bas en gelerige blare wat in die herfs helder spatsels van rooi en pers vertoon. Op ons werf staan hy omring van hoofsaaklik sekelbossse. Tussen hulle toring hy uit soos ‘n prins.

Kameelperde, njalas en bosbokke vreet die blare en kameelperde hou ook van die jong takkies en blomme.  Bonthoutkappers verwyder en vreet die saad van groen vrugte.  By waters hou hou reiers en duikers daarvan om in sy takke nes te maak.  Sy hout is gewild as algemene timmermanshout.

Sabiepark se kremetart.

Dat ons ‘’nuwe boom’’ by Tarlehoet so eensklaps oor ouer bome om hom heers, was vir ons ‘n verrassing.  Eintlik behoort dit nie te verras nie.  Hy is bekend as besonder vinnige groeier – vyf meter in drie jaar, aldus Piet van Wyk in sy veldgids tot bome van die Krugerwildtuin.  Die vaderlandswilg word ongelukkig nie baie groot nie – net sowat 12 meter.

Van “nuwe bome’’ en aanwinste gepraat: dan moet ek darem na Sabiepark se kremetart ook ‘n buiging maak.   Die karaktervolle boom, ‘n geskenk van  ‘n vrou van Hazyview, is in November in ‘n bed van klippe tussen die kantoor en die TV-kamer staangemaak, naby die  hekkie by die swembad.

Die strategiese ligging maak dat niemand die trotse boom kan miskyk nie –  nie dat kremetarte juis maklik misgekyk kan word nie, veral nie so ver suid nie.  Ook saans kan jy hom nie miskyk nie.  Soos so ‘n vorstelike boom waardig is, word ‘n spreilig op hom gerig.

‘n Derde spesiale boom om oor huis toe te skryf, is nie ‘n “nuwe boom”nie.  Dis ‘n boom wat ek dikwels uit ‘n ander hoek bewonder het voordat Sabiepark se wandelpad deur die vloed van 2000 weggevee is.  Hierdie vakansie is ek deur die eienaar van die erf waar hy sy magtige skadu gooi, Dawie (Zoti) de Villiers, genooi om hom te kom besigtig: ‘n massiewe besemtrosvy (ficus sur) met ‘n allemintige omtrek van 11,8 meter.

Rivierreus.

 

Besemtrosvy.. By hom is Tokkie van Deventer en Cas en Nella Jacobs van Centurion.

 

Die boom is amptelik die grootste besemtrosvy in Suid-Afrika en die derde grootste in die inheemse trosvyfamilie.  Hy is Suid-Afrika se 9de grootste inheemse boom.

Sy naam is die  Sabie River giant. ‘n Reus is hy inderdaad daar neffens die Sabierivier by Dawie de Villiers se ruim stoep.

TOT SIENS VIR ‘N ERA

Annatjie en Lientjie neem afskeid.

Vir ons ouer garde van Sabiepark was dit ‘n hartseernaweek.  ‘n Treklorrie het Saterdagand vol gelaai van die Strydomhuis, Rustig, erf 333 uit Apiesdoring, na Outeniekwastrand vertrek.  Vanoggend skuins ná agt het Annatjie en Lientjie in hul Toyota gevolg.

Onder die laaste skakel met die pioniersdae van vier dekades gelede word daarmee ’n soliede streep getrek. ‘n Era is verby.

Saam met vriende Dawie en Annatjie Strydom het ek en Tokkie goue dae beleef. Ons troetel herinneringe van uurtjies langs kampvure, by vleisbraaie en ander saamkuiers en uitstappies in die wildtuin. Lank is ons Sondae saam kerk toe in Skukuza  met my destydse blou kombi, die Bosbus.

Sout-van-die aarde-mense. Die Strydoms. Verknog aan die natuur, versot op die piekniekplek, altyd bedrywig in die lapa – waaruit Annatjie die heerlikste vetkoek kon tower –  styf langs mekaar in die TV-kamer wanneer sport op die skerm is.  Dawie, ‘n Springbok in die hengelkuns, en Annatjie, ‘n kranige tennisspeelster,  was ewe lief vir sport.

Hoe Dawie altyd met sy mondfluitjie altyd “God sy met u tot ons weer ontmoet” by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekoolvlammetjies van ‘n vuurtjie laat opklink het, sal ons nooit vergeet nie. Ook nie sy mondfluitjie-uitvoering saam met die orrel by ‘n erediens nie – sekerlik iets unieks.

Dawie is  in 2015 oorlede ná jare in daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, Sedertdien het Annatjie en Lientjie, hul jongste kind, alleen die ver pad gekom.  Nou is die huis op die drie erwe aan Apiesdoring verkoop. Die Strydoms groet vir laas.

Treklorrie by Rustig.

Matriarg Annatjie het ‘n ander Sabiepark gegroet as die een destyds toe hier nog skaars huise – meesal boskaias – was, veel meer diere as mense, by die piekniekplek geen omheining nie en ‘n trop buffels in die veld gewei het.  By die piekniekplek was ‘n eilandjie in die Sabierivier en die ou keerwal was van klip gebou.  Die kinders het stoksielalleen die onbeskermde wandelpad langs die rivier aangedurf. Ian Crabtree was die parkhoof – die eerste.

Die plek was nog “wild en rof”, vertel Annatjie so tussen die siftery van kosbare ou dokumente en die oppakkery van duursame meubels deur.  Die ruim Strydomwoning was een van die eerste ‘’werklike’’ huise met drie slaapkamers, skuifdeure en teëls op die vloere.  Die tenderprys in 1983 was R40 000.  Erwe het van R10 000 tot R17 500 gekos.

Vir meer as drie dekades het Dawie die plek waarvoor hy so innig lief was, toegewyd gedien. Hy was in die komitee, het waargeneem as bestuurder, het heinings gespan, bruggies gebou,planke geslaan … Jy kon hom enige stuk gereedskap gee. Sy hande het vir vir niks verkeerd gestaan nie. ‘n Lui haar het nie op een van die Strydomkoppe gegroei nie.

Dawie was ook een van die boer-maak-‘n-plan-soort. By Rustig was ‘n spitbraai wat met ‘n fietsketting werk, en sonpanele wat jy al agter die son aan kan skarnier – sy eie prakseersels.Rustig se baas het jare der jare gelede die ewige heldeverering van ‘n duiker-ooitjie gewen toe hy ‘n luislang met ‘n stok pak om haar lammertjie te red. Ja, hy was ‘n man van daad.  Hy was egter ook ‘n man met ‘n klein hartjie.

Die dag toe ek die gesoute Sabieparker leer ken het, meer as 20 jaar gelede jaar gelede, wou hy by ‘n jaarvergadering vertel hoe twee swart personeellede  hom ná ‘n hartoperasie met ‘n stukkie uit die Tsonga-Bybel en ‘n gebed tuis kom verwelkom het. Dié diep Christen-mens was in trane lank lank voor die einde van sy storie.

Strydoms en Van Deventers klink ‘n glasie by die piekniekplek.

Ons het saam vreugdes beleef soos ‘n besonderse Lake Panic-besoek.  Die hoogtepunt van al sy besoeke, aldus Dawie, Eers het seekoeie, krokodille, ‘n ryke verskeidenheid watervoëls, selfs twee njalabulle lank gedrink en gewei het. Daarna het hulle met hul horings in die donker modder gegrawe en toe ‘n misverstandjie met klappendehorings besleg. Op daardie oomblik het ‘n troppie olifante  soos skimme uit die bos gekom en onverstoord op die eilandjie voor ons kom wei, naby genoeg om elke brekende takkie te hoor klap. Ons kon elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie bestudeer, selfs die wimpers.

Later was dit tyd vir waterpret. Die mammas is doelgerig na die oorkantste wal toe; die kleintjies, vier, as ek reg onthou, moes teen wil en dank agterna, hul slurpies soekende na die troos van moeder-nabyheid. Soos mini-duikbootjies met net die die tippiesvan hul slurpies bo die water sigbaar.

By die jaarvergadering het Dawie altyd die goedkeuring van die notule voorgestel.  By die tradisionele agternabraai met reuse-swartpotte pap en “sheba” (‘n voortreflike plaaslike tamatie-en-uiesmoor) is vleis gebraai.  Ons het daarby ‘n glasie of twee geklink – die Strydoms natuurlik hul gunsteling, Cellar Cask se wit Johannisberger Select, en die Van D’s ietsie droër.

Op 2 Julie word weer jaarvergadering gehou. Geen Strydom sal in sig wees nie. Een heildronkie van Tarlehoet se mense sal wees op ‘n era wat vir altyd verby is en op baanbrekers soos die Strydoms wat daardie era versinnebeeld het. Dit sal nostalgiese oomblikke wees, met ‘n wasigheidjie in die oë.

Naskrif: Hoe jammer dat Sabiepark nie in 2019 sy 40-jarige bestaan wou vier toe hierdie skakel nog bestaan het nie.

EIE GENESARET

‘n Entjie buite Chrissiesmeer op die pad van Carolina na Ermelo is ‘n padbord: Genesaret.  Dis nie ‘n pad wat ek dikwels ry nie.  Elke keer as ek verby ry, wonder ek egter oor hierdie Genesaret.  Bestaan  ‘n Bybelse konnotasie?

Die netjiese grondpad na Genesaret loop na die meer se kant toe. Dit laat gedagtes by jou opkom  oor die die Gennesaret (een met twee enne) van  die Evangelies, die landstreek  waar – o.m. volgens   Mattheus – al die siekes gesond gemaak is nadat hulle aan  die soom van Jesus se klere geraak het.

Dat Genessaret aan die kus van die See van Galilea geleë is en Genesaret aan die oewer van Chrissiesmeer – Suid-Afrika se grootste  binnelandse meer –  in die meredistrik van Mpumalanga versterk die vermoede van die een of ander Bybelse sinspeling in die naam.

Saterdag swaai ek by daardie pad in. Dit bring my by ons Genesaret. En ja, ‘n Bybelse konnotasie bestaan inderdaad. Genesaret is naamlik ‘n kerkkamp wat beheer word deur die Ermelose ring van die NG kerk. Ek word begroet deur ‘n stapel beskeie rondawels, ‘n eetsaal, ander geriewe en ‘n vriendelike jong vrou. Sy en haar man hrt ps van Worcester gekom om hier beheer oor te neem. Die blyplekke het name soos Vrede, Blydskap en Gebed.

Chrissiesmeer se waters klots hier aan jou voete.  Jy sien ook uitgestrekte grasperke, groot bome en enkele watervoëls … en ervaar ‘n groot  rustigheid. Fisieke genesing vind dalk nie daar plaas nie; geestelike genesing dalk wel.

Wat verras, is die rudimentêre aard van die ontwikkeling.  Geen terrasse met sonsambrele.  Geen plesierbote op die water. Genesaret lyk onontdek en, ja, ietwat verwaarloos.

Teenaan ‘n watermassa soos die van Chrissiesmeer – sewe km lank en 3 km wyd –  en so op die drumpel van die reuse-Witwatersrand – skaars twee ure se ry – sou ‘n mens dit anders verwag het.

Weet die mense van die Witwatersrand dat die grootste binnelandse meer in Suid-Afrika so binne bereik is?  Dui die gebrek aan ontginning van die potensiaal dalk op ‘n versadiging aan  toerismeplekke in die skone Mpumalanga? Lê die knoop dalk by die naam? Klink  Chrissiesmeer dalk te ordinêr? Ek wonder.

(Die See van Galilea is 166 km² teenoor Chrissiesmeer se 21km² – darem agt keer groter.Dis seker ook ‘n faktor. )

BREKFIS EN GESKIEDENIS


Billiard Room

Saam met n lekker plaasontbyt in die Billiard Room by die John Jack Inn op Chrissiesmeer kry jy ‘n stewige skep geskiedenis uit die begin van die vorige eeu.   Jy sit naamlik aan in ‘n vertrek wat tussen 1899 en 1901 opgerig is as ontspanningsentrum vir Britse troepe wat Chrissiesmeer gedurende die ABO beset het.

Die dink- en houtgebou kom oorspronklik uit Engeland en het ‘n draai by Tempe in Bloemfontein gaan maak. Dit is per ossewa van die Vrystaat af gebring.

Ek en Tokkie het aangesit by ‘n tafel neffens vier sandsteenblokke waarop ‘n reuse-biljarttafel gerus het.  Dié was vir die plesier van die offisiere.  Die naam Billiard Room kom al van 1901 af.

Die hotel langsaan  – ook van sink en hout – dateer self uit doerie tyd.   Dit is in 1903 deur die heer John Jack, n Durbaniet,  en ‘n vennoot opgerig. Die naam was Lake Chrissie Hotel. Dit was nie net ‘n gewilde oornagplek vir besoekers wat met hul waens en koetse na Barbetron of Delagoabaai op pad was nie, maar was die spil van die sosiale lewe op Chrissiesmeer.

John Jack Inn

Die naam het ‘n paar keer verander, o.m, tot Dumbarton Oaks Hotel en Mrs. Prices.  Die karakter het egter behoue gebly, al het die gebou in 1936 tot op die grond afgebrand.  Die huidige replika dateer uit 2012.  Die binnekant van die kamers is met sorg toegerus om die romantiek van  vergange tye vas te vang.

Die “oaks” verwys klaarblyklik na twee reuse-akkerbome voor die slaapkamer-gedeelte van die hotel.  John Jack het hulle al in 1886 daar geplant.

Buiten vir al die historiese elemente en ouwêreldse romantiek wat ‘n kuiertjie spesiaal maak, het ons ook die volgende ervaar:

Bokke op stoep

Boerbokke wat tot die ergernis van die bestuur die blomme in bakke op die stoepe voor die slaapkamers kom vreet;

‘n Heerlike kaggel en genoeg brandhout in die slaapkamer;

Memorabilia soos ’n ou rooi posbus waarin jy jou sleutels deponeer;

‘n Hoenderhaan wat vroeg-vroeg begin kraai, en

Witgerypte gras om ons heen – die eerste ryp wat hierdie verloopte Bloemfonteiners in dekades sien.