NAT KOL, MODDERKOL

Moenie van ‘n nat kol ‘n modderkol maak nie, waarsku my Tokkievrou gereeld. Ongelukkig het ek in hierdie opsig ‘n swakheidjie: meermale as ek ‘n penarie probeer beredder, slaag ek net daarin om die penarie te verdiep.
Miskien is dit omdat ek uit die koerante-omgewing kom. Arme koerante kan nogal in hierdie opsig kleitrap.
‘n Nuwe storie oor ‘n rampspoedige setfout en hoe onsnaaks dit vir al die betrokkenes was, kom my juis pas ter hand. Dit raak Die Burger en daardie letterkundige kolos NP van Wyk Louw.
Piet Cillié – sedert einde 1935 aan Die Burger verbonde – was vroeg in sy loopbaan, soos hy dit gestel het, “redaksionele sender van boeke aan resensente (‘boekredakteur’ kan ‘n mens dit nie noem nie).
Onbekend met literêre strominge ( hy was in die natuurwetenkappe opgelei) stuur hy in 1938 die Louw-bundel Die Dieper Reg vir resensie aan FCL Bosman – ‘n ongelukkige keuse. Bosman was bra lou oor Van Wyk Louw, ook in sy resensie. Om alles te kroon, het die drukkersduiwel listig ingegryp.
‘n Belangrike sin in Bosman se resensie het in druk gelui: “Twak is veral die openingsvers waarin ‘n “glans soos ‘mis’ styg en ‘n ‘skemering van.stemme …fluister’ tot in die laaste reël ‘smarte hyg’, blykbaar om te rym met ‘styg’”.
Die “twak” moes gewees het “swak” (dit was die nat kol), wat in sigself al erg genoeg was om Louw misnoegd te stem. Oor die “twak” (die modderkol) was hy buite homself. “Geen korreksie by die vroegste geleentheid kan so ‘n katastrofe ongedaan maak nie,” het Cillié geskryf. Die regstelling het daarby onopvallend onder aan kolom 3 van bladsy 2 verskyn. ‘n Tweede modderkol.
Pyn, pyn, pyn.
Die klassieke storie van ‘n nat kol wat ‘n modderkol geword, het ‘n Britse koerant oorgekom wat aan ‘n uitgetrede generaal, met ‘n bors vol dekorasies, paslik hulde wou bring.
Die eerste dag skryf die koerant toe hy was “battle scared”. Die tweede dag, toe die koerant apologie aanteken, berig hy wat eintlik bedoel was, is “bottle scarred”.
Eers die derde dag kry die verlee koerant dit presies reg: “battle scarred”.
Hierdie storie is in my eerste boekie, Scoops en skandes (Tafelberg, 1993), as ‘n voorbeeld van humor in die pers opgeteken. Sulke humor is natuurlik nie altyd so snaaks vir die een wat aan die ontvangkant is nie.
Naskrif: Met die Wit Trein op pad na die noorde, stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – in 1947 op Beaufort-Wes. Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme koerant in ‘n gat trap. Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die skare sy majesteit begroet het met krete van: “Hoere, hoere, hoere vir die koning!”

 

 

PERSPOëSIE EN JOERNALISTEGEDIGTE

’n Mooi meisie en ’n moord. Dis die resep vir ’n geslaagde koerant volgens ’n digterlike siening van buite. Boesem vrees in by die lesers, dan koop hulle koerante. Dis ’n poëtiese insig van binne.

My onderwerp is perspoësie. Die twee digters hier bo ter sprake is Dirk Opperman en Pirow Bekker.

Opperman – die stem van buite – het in Joernaal van Jorik soos volg gedig:

Gee ontspanning, hou die massas dop;
gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
en stoot die sirkulasiesyfers op.

Pirow Bekker, oudhoofsubredakteur van Volksblad, dig soos volg in “Peins oor die plakkaat”:

Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.

Dan egter ná al die pynlike gepeins om ’n goeie plakkaat te kraam, die ontnugterende besef:

Maar die plakkaat se groot ekstase
Kom nooit op afgeleë plase.

In die Afrikaanse perspoësie kom nie net verse oor koerante voor nie, maar ook oor gedigte oor joernaliste. In “Gebed van ’n leerlingjoernalis” – geskryf op versoek en onder die vaderlike oog van Piet Cillié by die stigting van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek – noem die digter-dominee Izak de Villiers (later redakteur van Rapport) onder meer die volgende smekinge van die aspirante:

Bewaar my van die diens aan die leuen …
Keer my weg van die kortpad, die maklike pad …
Lei my uit die versoekings van sinisme, vooroordeel …
Bo alles: verleen my die genade van te glimlag, vir myself ook
Wanneer ander my feite raakvat soos ek hulle syne …
Laat my nie met baie woorde beduie wat met min te sê is nie
… en dat ek die Bose sal beveg
Deur met die woord te help bou
Aan ’n wêreld waarin geregtigheid woon.

Die vers is seker elders ook gepubliseer. Ek kry dit in “’n Boekie vir Piet”, ’n huldigingsbundel aangebied aan Piet Cillié by die voltooiing van 50 jaar in diens van Nasionale Pers op 1 Desember 1985.

Oor spesifieke joernaliste bestaan gedigte soos “By die dood van ’n joernalis” deur Dirk Opperman (met die dood van sy Franskraalse kuier- en geselsmaat Schalk Pienaar) – wat volledig aangehaal sal moet word om sin te maak. Gaan slaan dit liewer na in Opperman se voorwoord tot Pienaar se outobiografie, Getuie van groot tye.

Met Pienaar se aftrede by Beeld in Januarie 1975 is Opperman gevra om iets oor hom vir die naweekbylaag van Nasionale Pers se dagblaaie, Die Byvoegsel, te skryf. So het hy daarin gedig:

Toe hy byna Die Burger was, het “die luie donner”
Hom glo alte graag op Franskraal afgesonder,
Maar in JB (Johannesburg – HvD) toe hy op sy eie is, verrig
Hy met Die Beeld ons grootste wonder.

Volgens Opperman is die kwatryn “om die een of ander rede nie geplaas nie”. Die redes is vir my taamlik klaarblyklik. Die verwysing na “luie donner” en sy liefde vir Franskraal was immers ’n interne grappie van Piet Cillié. Hy sou nie die gevaar wou geloop het dat iemand dit ernstig opneem nie.

’n Vrolike feesversie is deur “versieman” (sy eie beskrywing)  Philip de Vos by die Kaapse viering van Volksblad se-eeufees in 2004 bygedra:

Maar – Volksblad
klim die hoogtes
deur storms en deur droogtes
deur oorloë, griep en Runderpes,
bied hy ’n les vir al die res
en so gaan hy steeds aan en aan
en hoop om lank nog te bestaan!

Die wens vir lank nog te bestaan is helaas nie verwesenlik nie. Die gedrukte koerant het verdwyn. Die blad verskyn nou net in digitale vorm.

Ook oor Volksblad (toe nog Die Volksblad) het ek (wat geen digter is nie) in 1966 met die moord op HF Verwoerd my hand gewaag aan ’n versie wat nog al die jare in ’n lessenaarlaai was:

My hartstog-koerant,
Blad van land en volk,
Bring blitsgou die nuus
Van Tsafendas se dolk,
Geskokte lesers in rou
Ruk, verslae en kwaad,
In hul derduisende op
Na Voortrekkerstraat.

Die verwysing was na die groot skare wat op 6 September 1966 by die koerant se gebou kom saamdrom het om te wag vir ’n spesiale later uitgawe met varser nuus oor die skokkende gebeure.

Vergun my ten slotte nog ’n eie versie oor koerante nav Die Burger se slagspreuk:

Lees die koerant en gesels saam
of weet niks – en kry skaam.

Litnet: 10 Februarie

HERTOG UIT DIE WOLKBERG

Op sy aftreedorpie Haenertsburg in die Wolkberg by Tzaneen was die skraal gryskop in almal se oë maar net John Murray, ‘n nederige oud-landmeter met ‘n verslete Merc en ‘n Nissanbakkie; die stillerige ou wat soggens straat-af stap om ‘n koerant te koop. Tuis was hy ‘n hegte gesinsman met drie kinders en ‘n mooi vrou wat by haar oggendmark koekies, konfyt en vars produkte verkoop.
In Blair Atholl in Pertshire op die Skotse hooglande was hy ‘n edelman van die hoogste orde. As die 11de Hertog van Atholl van 1996 tot 2012 was hy in status die hoogste adellike in Skotland, goed geplaas om ‘n onafhanklike Skotland se eerste koning te word. Op sy CV sou hy ‘n dosyn ander eretitels kon vermeld – graaf, burggraaf, markies, lord …. Hy was, in Britse rangorde, trouens, net ‘n vlak onder die koningin.
By tradisieryke Skotse plegtighede en parades op die enorme 70 000-hektaar-landgoed van Blair Castle het die Suid-Afrikaner sy kakieklere en ruwe stapskoene vir eeue-oue ampsdrag verruil. Uitgevat in deftige kilts in die tartan van die Murray-stam (clan), met swierige sporran plus al die tossels, wapens, medaljes en ander simboliese bybehore, het hy, onder die geklank van Highland Cathedral en ander tradisionele doedelsakmusiek, ere-ordes aan sy “onderdane” uitgedeel.
Hierdie dubbele lewe van John Murray as doodgewone man in Haenertsburg en adellike in Skotland is in ‘n bondige biografie opgeteken deur ‘n bergklimmaat, die historikus prof. Louis Changuion, ook van Haenertsburg. Die titel is eenvoudig The Duke from Haenertsburg.
Changuion vat die leser deur ‘n ingewikkelde labirint van geslagsregisters en stambome om te wys hoe die vurk in die hef steek en hoekom die hertog-mantel in 1996 juis op John sou val. Dit is ‘n boeiende geskiedenis wat in die 17de eeu sy wortels het. Die komplikasie van sterf sonder ‘n manlike opvolger sou weer
en weer opduik. Sywaartse opvolging het in die prentjie gekom, soms met onverwagse kinkels.
In 1992 is amptelik aangekondig: ‘n Suid-Afrkaner sou sy ongetroude voorganger as Hertog van Atholl opvolg – iemand wat, volgens die koerant The Scotsman “selde ‘n glasie whiskey weggesluk en nooit ‘n kilt besit het nie!” ‘n Mens kan die Skotse verontwaardiging jou goed verbeel!
John Murray was oorweldig. Eers wou hy abdikeer. Toe wou hy sy oudste seun, Bruce voorstoot. Tradisie het hom gefnuik. Die titel was oorerflik en onontwykbaar – soos troonopvolging. Slegs die dood of ‘n misdaad sou hom daarvan kon bevry.
‘n Kompromie is wel bereik. John – toe 62 jaar oud – sou die titel aanvaar, en uit pligsbesef ook die seremoniële verantwoordelikhede wat daarmee saamhang. Hy sou die trotse Atholl Highlanders in stand hou. Trek Skotland toe sou hy egter om die dood nie. Die res van die boedel kon maar in Skotse hande bly, dankie.
Daardie “res” het ongelukkig ‘n reuse-rykdom ingesluit. Weens sy vasskoppery het die obsternate 11de hertog ‘n fabelagtige erporsie van R705 miljoen (miljarde in vandag se terme) verbeur, is in die pers bespiegel. Hy kon een van die rykste mense in Brittanje geword het. Rapport het gemeen dit was “waarskynlik die blaps van die eeu.”
Elke Mei vir die res van sy lewe het John Murray Haenertsburg gegroet en as die Hertog van Atholl in Skotland gaan woon saam met die hertogin. Sy ampsverpligtinge het hy getrou nagekom en met sy natuurlike warme geaardheid, nederigheid, genaakbaarheid en toewyding vele Skotse harte verower.
As grootmeester van die vername internasionale whiskeygilde Keepers of the Quaich het John die goeie Skotse kultuur in al sy vertakkinge leer ken. (Prins Charles en oud-pres. FW de Klerk was twee van die eregaste wat in sy tyd heildronke moes instel – met die allerbeste Skotse watertjies natuurlik!)
Toe hy sterf, is sy laaste wens vervul om in Haenertsburg se vrugbare aarde ingespit te raak. ‘n Kissie met sy as is begrawe in ‘n spesiale hoekie van die kerkhoffie wat hy ná sy aftrede opgemeet en georden het. By Blair Castle het die geweeklaag van doedelsakke vir laas aan die landmeter uit Laeveld eer gebring, en het die vlag van die hertogdom ‘n week lank eerbiediglik halfstok gehang.
· Foto’s van John Murray in albei gedaantes; die kasteel en sy huis in die Wolkberg, asook sy beskeie graf kom uit die boek The Duke from Haenertsburg deur Louis Changuion in samewerking met Charles en Bev. Leach.

GETEER-EN-VEER OOR  “BACKVELD”-BOERE

Die jare 30 het twee groot polemieke beleef waarin enersyds die kwessie van fatsoenlikheid maar andersyds die beeld van die Afrikaner die tema was. Een was dié oor Stuart Cloete se Turning Wheels. Nog ‘n vuriger een was oor ene Wilfred Saint Mandé se War, wine and woman.

Soos dit later geblyk het, was Mandé  ‘n skuilnaam. Agter die naam het ‘n lektor in Frans aan Tukkies geskuil:  ene HP Lamont. Hy het hom gewraakte uitsprake laat welgeval soos die volgende: “The Backveld Boer bathes only for baptism, marriage and burial. He has no notion about sanitation and often uses his bedroom as latrine.”

Verder:  Die meeste Voortrekkers was “illiterate, Boers, surly and morose. Their favourite pastime was begetting children, both with their wives and their numerous black concubines.”

‘n Verontwaardigde Sannie Broers het hierdie dinge op ‘n kongres van die Suid-Afrikaanse Vouefederasie in 1932 voorgelees. Dadelik het ‘n polemiek in Pretoriase koerante soos Die Volkstem en The Pretoria News losgebars.

My oud-kollega Jaap Steyn deel in die akadademiese joernaal  Acta Academica, ‘n publikasie van die Kovsies, mee dat vier jong mans die identiteit van die skrywer uitgesnuffel het. Op Maandag 23 Mei het hulle hom geteer-en-veer en net in sy swembroekie in Pretoria se middestad gelos. Daardie middag was dit hoofberigte.  Ook Die Burger in die Kaap het die volgende oggend groot publisiteit aan die voorval gegee.

Op 20 Julie 1932 is N. Trichardt, FCK Jacobsz, SPE Jacobsz en (dr) M Steyn Vorster weens aanranding gevonnis tot 50 pond boete of ses maande in die tronk.  Die Burger  skryf  toe dat die afkeuring van Lamont se skandelike aanvalle op die Voortrekkers op ‘n ander manier kon geskied het, maar ”ons kan ronduit erken dat ons nie graag sal wil sien dat die vier Afrikaners in die tronk moet beland of uit eie sak hofonkoste en boetes moet betaal nie.

“Hul verontwaardiging is verstaanbaar, en hul daad, hoewel nie verstandig nie, is gepleeg teen iemand wat hoegenaamd geen simpatie verdien nie.”  Verskeie mense het reeds geld kom aanbied, en Die Burger skryf dat sy lesers seker aan die fondsinsameling sal wil meedoen, “nie noodwendig as teken dat hulle die manier waarop opgetree is, toejuig nie, maar as bewys van die algemene verontwaardiging oor die bekladding van die naam van ons volk.”

Die Burger het op sy voorblad ‘n adres vir bydraes geplaas. Ook CJ Langenhoven het die teer-en-veerders in sy rubriek aan “Stille Waters” verdedig. Op Stellenbosch en die Afrikanerkoffiehuis in die Kaap is ‘n “sjieling”-lys geopen.

Intussen het die UP Lamont ontslaan. In Die Burger  is ‘n spotrent  van Boonzaier geplas van Lamont wat met sy boek oor die see wegvaar.  Die onderskrif het gelui: “Die enigste uitweg vir hom”.

In ‘n hoofartikel het Die Burger dit betreur dat hy nie liewer self bedank en met blydskap vertrek het nie uit ‘n land wie se bevolking so minderwaardig is, na sy geboorteland “alwaar hy nie die smerige afstammelinge  van die onbeskaafde Voortrekkers … daagliks om hom heen sal sien nie.”

BOEK OOR VOORTREKKERS VERBIED


‘n “Vreemde en weersinwekkende beeld van die Voortrekkers … ‘n verhaal van uitgeslape, bygelowige heidens  met  verrotte sedes, van verbastering, buite-egtelike gemeenskap en sadistiese wreedhede.”

Met hierdie woorde is op die voorblad van Die Burger van Woensdag 27 Desember 1937 kaalvuis losgetrek teen ‘n gewraakte boek, Turning Wheels, deur Stuart Cloete. Dit was sy eerste roman en is gou-gou verbied.  Die Burger het ‘n leidende aandeel gehad aan die kampanje vir ‘n verbod.

Met verskyning in 1937 het verskeie Engelse koerante – hier en in Engeland – resensies geplaas waarin die boek aangeprys word.  Die Volkstem van Pretoria het gemeen dat Afrikaners die boek met “verwondering” sal  lees. “Verwondering” was ‘n sagte woord!

Die Burger het geen resensie-eksemplaar ontvang nie.  Op Maandag 22 November 1937 het hy ‘n eksemplaar laat koop.   Twee dae later was sy “resensie” (sy woord) op die voorblad. Die opskrifte het van verontwaardiging gegloei: “Ongelooflike beswaddering van Voortrekkers / ‘Geskiedkundige’ roman wat ruime afset geniet  / Verwronge skandebeeld in Engeland geprys”

In die “resensie” is gemeen die boek “getuig nie soseer van kwaadwilligheid nie maar van grenselose onkunde”.

In ‘n hoofartikel het die koerant gevra dat die minister van binnelandse sake die boek verbied, en in die volgende dae is ruim publisiteit aan proteste teen Cloete se werk verleen.  Die Voortrekkers is ten tyde van die Groot Trek en daarna herhaaldelik deur hul vyande belaster, maar van een ding is hulle nooit beskuldig nie, naamlik sedelike losbandigheid, het Die Burger geskryf.

Op aanbeveling van die sensuurraad het die minister van binnelandse sake,  R. Stuttaford,  op 8 Desember 1937 die invoer en verpreiding van Cloete se roman verbied.  Kollega Jaap Steyn – aan wie ek postuum dank verskuldig is vir baie van hierdie inligting – het gemeen dit is geregverdig om te beweer as Die Burger nie die nuuswaardigheid van die boek ontdek het nie, daar geen polemiek sou gewees het nie.

Die ander Afrikaanse koerante het eers aandag daaraan gee nadat die bom in Die Burger gebars het.

Dekades ná die polemiek het Die Burger weer  ‘n kort resensie geplaas by die verskyning van ‘n nuwe druk van Turning Wheels. IL de V(illiers) het geskryf dat die boek ná jare van “ballingskap” en nie minder nie as tien herdrukke in boekwinkels beskikbaar is.

“Ongelukkig is dit maar dieselfde mengsel van brutaliteit en soetsappigheid, selfs banaliteit van Cloete se ander werke – ‘n vervelige vertelling wat ‘n mens laat wonder hoe op aarde kon dit tien herdrukke beleef.  Sou dit wees omdat dit in Suid-Afrika verban was?”

Minder as ‘n jaar na Turning Wheels het ‘n omgekeerde  storm oor ‘n Voortrekkerboek losgebars   – die keer oor Sarah Raal se werk Met die boere in die veld.  Aanvanklik het die boek min aandag getrek.  Toe plaas die Cape Argus op 5 Augustus 1938 ‘n berig waarin beswaar gemaak is oor haar onthullings van wat in die konsentrasiekampe gebeur het.

‘n Yslike polemiek oor die toestande in die konsentrasiekampe is daarna in die Argus, Die Burger en Die Volksblad en ander koerante gevoer. Die koerante is toegegooi onder briewe en kon later net uittreksels plaas. Wat die briefwisseling in Die Burger aangevuur het, was sy periodieke berigte oor die Argus se briewe onder opskrifte soos “Hoë lof vir Brittanje se martelkampe/ Danspartye en sopkombuise en swembaaie”.

Raal se werk het van 5 Desember 1936 af Saterdae as vervolgreeks in Die Burger verskyn.

  • IN 1932 was daar ‘n vroeëre opskudding oor ‘n Voortrekkerboek, War, Wine and Women, deur ene Wilfred Saint Mandé. Daaroor was die vet behoorlik in die vuur.  Hou maar die ruimte dop.