TWEE VOLKSBLAD-OOMS OP ‘N BANKIE

Amper 170 jaar se lewenservaring – indien dan nie 170 jaar se lewenswysheid nie! – was op ‘n bankie by die Vergenoegd- tehuis in die Paarl byeen vir ‘n nostalgiese ekspedisie die verlede in toe ek vir Johan van Wyk, die “Oom” van Stop van Myne gaan kuier het. Agterna was ‘n vogtigheid in die oog. In Volksblad word die sluier vanoggend gelig oor waaroor als gesels is – van ‘n Mej. Wereld tot edele regters. Hier is die skakel:https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/op-n-ouetehuisbankie-gesels-2-volksblad-ooms-oor-doerie-dae-20240926

MY KOERANT-HART OP MY SABIEPARK-BORS 

Tarlehoet-bosberaad.

n Windjie stoot soms uit die noordooste as ek vuurtjie wil aansteek in Sabiepark.  Dan gaan haal ek my verweerde blou windjekker agter die kamerdeur. Op sy bors is geborduur: Nasionale Koerante.

‘n Besoeker maak daaroor  ‘n opmerking: “Jy loop met jou hart nie op jou mou nie, maar op jou bors.”  Ter sprake op daardie oomblik is juis die slegte lot van koerante – ons albei se liefde.

Om krag aan sy woorde te verleen, gaan haal ek toe ook uit my kas my blou truitjie met Die Volksblad op die bors.   Die trui is ouer as die windjekker; het hom al minstens 30 jaar.  Lyk egter nog spiekeries.

In die kamer val my oog op die wekker voor my bed.  Op hom staan die naam van die skenker: Die Burger.

Onbedoeld het in die bos ‘n taamlike versameling koerante-memorabila tot stand gekom, besef ek skielik. Dit noop my tot ‘n opname.

Vereers is dit boekrak toe.  Al agt my koerantverwante boeke staan daar langs die bos- en wildtuinwerke,  van Scoops en skandes (1993) tot Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (2023).

Teen verskillende mure hang onder meer ‘n Saterdaghoofartikel in Die Burger van 24 Julie 1993, drie dekades gelede, oor my Scoops-boek. Skrywer was Charles Fryer, redakteur by Tafelberg.  Die opskrif: Plesierige stories. Ek was/is ingenome met die eer aan my betoon.

Neffens hom hang die geraamde voor- en agterblad van my Volksblad-loopbaanboek Kroniek van ‘n Koerantman.

Elders teen ‘n muur is ‘n collage van boekevoorblaaie waarmee gaste by my 70ste verjaardag (3 Julie 2011) by Dale Schreuder, buurman op Melkbos, se restaurant in die Paddocks-sentrum in Milnerton, die Black Angus Grill, verwelkom is.  Vier koeranteboeke is daarop –  die twee genoemdes en ook In Kamera en Flaters en Kraters.

Afrikaans lewe!

‘n Beeld-herinnering is ‘n spotprent teen ons slaapkamermuur.  ‘n Korpulente figuur met ‘n oop koerant in die hande  (lyk bekend as ek in die spieël kyk) blaf in die telefoon:  I wish  to report a mistake. The Afrikaans press IS NOT  DEAD. .

Die spotprent was in ‘n bedryfspublikasie n.a.v. ‘n sake-onthaal van Beeld op 6 Oktober 1993 by Gold Reef City in Johannesburg waar ek die spreker was.   “Ons is miljoenêrs!” kon ek die aand “met vreugde” aankondig.  Die verwysing was nie na geld nie; wel na die 1993-lesersopname deur die onafhanklike organisasie Amps. Daarvolgens het die drie dagblaaie van Naspers – Beeld, Die Burger en Die Volksblad – die eerste keer deur die miljoen-kerf gebreek met ‘n totale leserstal van 1 004 000 lesers.

“Vir die doemprofete sê ek vanaand: trek uit u begrafnisklere, gooi weg u kransies, laat die vonkelwynproppe klap dat ons kan partytjie hou,”  het ek uitgeroep. My “teksvers” was Mark Twain se beroemde kabel aan die Associated Press oor ‘n premature doodsberig in 1897:  “The report of my death was an exaggeration.”   In die advertensiewereld was nie ‘n tekort aan oorhaastige “teraardebestellers” nie.  Die nuwe politieke bedeling sou die doodsklok vir Afrikaans lui, is voorspel.  Toe nie.

Van Die Volksblad is ‘n Kosbaarheid is ‘n geraamde spotprent en foto van ‘n hoofredaksie-saamtrek van 13 tot 17 September in Sabiepark en die wildtuinkampie Balule.  Die Tarlehoet-bosberaad is dit genoem.

Op die spotprent (‘n gedokterde een van Fred Mouton deur Sarel Venter) is ons braaimeester Piet Theron doenig by die vuur.  Die uwe, Sarel, Paul Marais en Herman le Roux bondel om hom saam. Kollega Jan Scholtz moes ook daar gewees het.  Hy is kort voor die “beraad” skielik oorlede.

Op die foto is ons plus ons gades, ook Jan se weduwee, Marlene, wat op ‘n roerende geleentheid op ons stoep ‘n pragtige, swaar skinkbord uit Jan se werkwinkel namens die gaste aan ons oorhandig het.  Die skinkbord pryk nou op Melkbos.

Maar van Jan is hier wel my kierie uit Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvarktand en ‘n lampie uit ‘n sekelbos-stomp wat hy uit my braaihout herwin het.

Ons ossewa-trofee.

Hier is ook ‘n geraamde foto van die (heelwat groter) hoofredaksie in 1986 by ‘n die replika van ‘n ossewa, geskenk deur die ATKV. Die Volksblad het dit verwerf met sy dekking van die simboliese Groot Trek.   Dit is beoordeel as die beste van alle media in die land. Wonder waar is die waentjie nou.

Duidelik vergeet ek nie my koerante-agtergrond en -kollegas wanneer ek in die bos uitspan nie.  Sal ook nooit nie, ondanks die droewe lot wat in ‘n mindere of meerdere mate op hulle almal wag, maar veral op Die Volksblad en Beeld.

 

TWEE OUPAS EN ‘N SABIEPARK-KONNEKSIE

Soos Israel se eerste vors, koning Saul, kop en skouers bo sy volk uitgetroon het,  verdwerg Stormers-rugbyster Neethling Fouché die uwe op die foto wat Saterdag by Skukuza se golfklub geneem is.  By ons is sy vrou, Janca, en hul oulike meisiekind, Lente.

Agter die foto is ‘n storie:  my verbintenis Neethling se twee oupas.  Die naam Neethling kom van ‘n kollega by Die Volksblad in die 60’s.  Die van Fouché kom van ‘n bevriende Bloemfonteinse motorhandelaar met wie ek meer as een keer sake gedoen het.

Die kollega was Johan Neethling, my voorganger as parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. Ek het hom in 1964 opgevolg.

Ons lessenare in die verslaggewerskantoor van Die Volksblad in Voortrekkerstraat, Bloemfontein (later Nelson Mandelastraat) was direk langs mekaar. (Johan het later na die onderwys teruggekeer en hoof van die Hoërskool Philippolis geword).

Die motorhandelaar was Buks, ‘n man wat veral Volkswagens verkoop het soos niemand anders nie.  By hom het ek in 1980 met my aanstelling as redakteur van die koerant ‘n sjampanjekleurige Audi 200 gekoop.  Die motor het my groot behae verskaf; altyd vir my gelyk soos ‘n slanke roofdier, gereed om grommend sy prooi plat te trek.

Vir gade Tokkie (die fotograaf) het ons by die nimlike Buks ‘n silwer Renault 5 gekoop, haar tweede.  Haar vorige was geel en swart met ’n sondak – motortjies wat hul tyd vooruit was.

In April het ek op hierdie blad ‘n Volksblad-voorrry gekies “met drukkersink in hul are”: Neethling Fouché, Springbokstut, Dawie Theron, Springbokstut van die 80’s, en Piet Wessels, Springbokhaker van 1951/52.

Piet Wessels, haker (saam met Willem Delport) in Basil Kenyon /Hennie Muller se beroemde toerspan van 1951/52. Hy was ‘n lid van Die Volksblad se sportredaksie voordat hy nuusredakteur van The Friend geword en later naby Vanstadenrus voltyds gaan boer het.

Dawie Theron, later ‘n gedugte afrigter, is die seun van my kollega Piet Theron. Ek en Piet was nie net kollegas nie, maar studentemaats en woonstelmaats. Ek was seremoniemeester op sy troue met top-atleet Petro du Plessis. Dit sal ‘n oordrywing wees, maar ek kan amper daarop aanspraak maak dat Dawie voor my grootgeword het. Hy noem my Oom Hennie.

Vir Neethling Fouché het ek nog nooit ontmoet nie en sal ek seker ook nie, het ek toe geskryf.  Toe net geweet dat hy die kleinkind is van oupa Johan. Saterdag, skaarsdrie maande later,  kruis ons paaie egter toe in Skukuza.  Verneem toe eers van die Buks-konneksie.

Via die Buks-konneksie kom ook ‘n Sabiepark-konneksie.  Ry met Apiesdoringlaan suidwaarts rivier toe.  By die laaaste uitdraai na links is die bordjie Umvunti.  Wel, dis die Fouché’s se boshuis daardie, net om die draai van die Van Deventers se Tarlehoet in Wildevy.

“It’s a small world after all.”

WAARDIGE TUISTE VIR ‘N GOUDMYN VAN DIE GEES

Een brokkie Volksblad wat geen onsimpatieke direksiebesluit in die verre Kaapstad tot niet kan maak nie, is die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) se sierlike sandsteengebou in Pres.  Brandstraat, Bloemfontein, waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.

Hoe onmeetlik bevoorreg is my geliefde koerant nie dat so ‘n heenkome vir hom bestaan: ‘n plek waar ‘n mens kan instap en alles om jou heen herinner jou aan die omgewing waar jy jare van jou loopbaan geslyt het, of waar die produk vervaardig is wat jy elke liewe dag (buiten Sondae) in jou huis verwelkom het; ‘n vaste deel van jou lewenservaring.

In 2023 was die voorreg van so ‘n besoek hierdie veteraan uit die vorige eeu beskore. In die die geselskap van gewaardeerde kollegas kon ek ‘n uur of wat doerie dae se goue tye by die koerant in die nimlike Volksbladkamer gaan herleef.

Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie om op my ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar ek 12 jaar lank gearbei het nie, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit my kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.

Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat het ‘n lang geskiedenis.  Dit was ook die lessenaar van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). Hy was aan die stuur toe ek as sesjarige in ‘n skakelhuisie in Kimberley aan my oupa se voete Die Volksblad begin “lees” het.  Min kon ek toe dink dat ek in sy spore sou volg. In my era as redakteur (1980 – 1992) is die lessenaar tot sy huidige glorie vernuwe. Dit is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.

Die ander meubels in die vertrek is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié is verkoop en lyk bra bedremmeld.

Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.

Die gashere daardie dag was Wyno Simes en Annelien Diedericks van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok wat die redakteur sal wees wat einde September de deure finaal toesluit. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.

Kameras het natuurlik aanhoudend geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Die foto’s hierby is van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan), die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en die deur.

‘n Lewenservaring van enorme betekenis was dit vir hierdie 83-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die herbesoek aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.

Ek is diep dankbaar teenoort NALN wat die historiese waarde van die koerant gesnap en vir hom die tuiste gegee het en vir kollegas Gert Coetzee en Constant Steyn wat met die afronding hande uit die mou gesteek het. Ek is ook dankbaar teenoor daardie gedugte boekeman prof, Petrus Nienaber vir sy versiendheid om ‘n museum soos NALN tot stand te help bring.

Van hom gepraat: by die toekenning van die Taalfeeskomitee se goue medalje aan Die Volksblad in 1974 het hy gesê: “Blaai jy deur Die Volksblad (soos sy naam toe was) se lêer oor die afgelope 70 jaar kan jy die Afrikaner se taal- en kultuurgeskiedenis hieruit opstel. Die Volksblad is ’n bron nie net vir die politieke geskiedenis nie, maar veral ook vir ons kultuurgeskiedenis. Dit is ’n goudmyn.”

’n Goudmyn –  hoe verstom sou Prof. Petrus nie gewees het noe as hy moes weet dat hierdie goudmyn van die gees, soos sovele gewone goudmyne in die Vrystaatse aarde, in die jaar van ons Heer 2024 – presies ‘n halfeeu later –  by die einde van sy pad sou kom en dat net die kamer by NALN sal oorbly?

VOLKSBLAD SE ROL IS ONUITWISBAAR IN ELKE SFEER

In vanoggend (20 Junie) se Volksblad kyk ek in ‘n lesersbrief terug en vorentoe:

Afskeid is nooit maklik nie. Om afskeid te neem van die handelsmerk (Die) Volksblad  -‘n eeu lank ingegrawe in die volksiel van die Vrystaat en die sentrale hartland – is buitengewoon pynlik.

Die verlies is so omvangryk dat die instinktiewe reaksie is om in diepe ontsteltenis daarteen in opstand te kom, sondebokke te soek, te verwyt en blameer. Dit sou egter wees om die versene teen die prikkels te slaan, om ‘n ou Afrikaanse idioom af te stof.

Wat nou gebeur, is die voltrekking van ‘n lot wat onvermydelik in die lug was ná die skokbesluit in 2020 om die geliefde papierkoerant te sluit en vir solank as moontik op die syspoor van ‘n eie digitale platform voort te beur.  Die skrif was by daardie voorlaaste kruispad al aan die muur.

Die uitdaging by die finale kruispad is  om die donker dag met waardigheid te benader, nie instinkte te kaat botvier nie en nie net in bewoëndheid terug te kyk nie, maar ook doelgerig vorentoe, meen ek ná grondige nadenke oor die pakket ingrypende besluite wat deur Media24 aangekondig is .

Terugkyk op sy meer as ‘n eeu van diens aan ‘n gemeenskap waarmee hy soos geen ander koerant met geen ander gemeenskap nie verstrengel was, kan ons koerant met onverbloemde trots.  In elke geskiedenis in elke sfeer is sy rol onuitwisbaar, van die kultuur tot sport. In sy verskillende formate het hy in opeenvolgende geslagte ‘n ingeligte  openbare mening in stand help hou, as waghond gedien vir behoud van waardes, by kruispaaie koers help soek, in triomfe saamgejuig en in hartseer saamgetreur. Hy was ook ‘n broodnodige bastion vir Afrikaans. Sy lesers – in ‘n stadium oor 30 000 per dag – eer hom daarvoor.

Oor my eie verbintenis met die koerant in twee skofte van 12 jaar elk is ek innig dankbaar. Die ervaring was vervullend en verrykend. So beleef almal dit wat kon deel in die voorreg om as Volksbladders oor sy drumpels te stap, glo ek.  Uit ons dankbaarheid kry ons versterking wanneer die tentakels van ‘n skouspelagtige nuwe tegnologie, die sweepklap van ekonomiese werklikhede en nuwe bestuursinsigte ons sanctum so revolusionêr binnedring soos nou.

Dankbaarheid moet ook betuig word dat Volksblad-lesers darem nie vir die wolwe gegooi word nie.  Netwerk24 is immers sterk ingegrawe en glad geolie om, ten minste wat harde nuus betref, die groter vakuum wat ontstaan, te vul. Alle oë is op Netwerk24 gerig om die aflosstok met mening vorentoe te dra en die Afrikaanse joernalistiek in sy volle omvang met toewyding en kundigheid te bly dien soos die Volksblad-gemeenskap  gewoond was om gedien te word.