ODE AAN ‘n ROLPERS

Die Volksblad (later Volksblad) was met sy heengaan die oudste Afrikaanse koerant – hy was in papierformaat van 1904 af met ons tot 2020 – en kon, om doodeerlik te wees, in ‘n stadium nie meer sy ouderdom wegsteek nie.

Sy susters, Die Burger en Beeld, was al fleurig in volkleur toe hy nog as die “Vaal Boertjie“ bekend was.
Toe in 1983 kry die geliefde koerant ‘n moderne Goss-rolpers. Op 24 Februarie 1983 het hy die heel eerste keer in volkleur verskyn. Dit was asof die nuwe pers en die vermoë om in kleur te pronk ‘n verjongingskuur was. ‘n Nuwe frisheid het dadelik op elke terrein ingetree.

Opwindende dae was daar in my 12 jaar as redakteur te veel om op te noem. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek in die drukkery – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.

So trots was ons dat ons ons pers in aksie graag vir gaste gaan wys het. Om hul meevoering te beleef as die koerante so snel en kant en klaar van die pers kom, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.

Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.

Oor daardie indrukwekkende Goss-pers kan ek liries raak.

Ek het hierdie al voorheen geskryf, maar ek herhaal dit graag: Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. Ek het stil staan en luister na die egalige musiek van ‘n rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.

Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, was elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure was perfek ingestel. Die koerant was gereed vir die lesers wat wag.

Wat my vandag by die Goss-rolpers bring, is twee foto’s uit die bloute uit die Verenigde Koninkryk. Dis met die ingebruikneming geneem deur Mike Smith wat ‘n persfotograaf was en later ‘n eersterangse Britse fotograaf geword het. Mike het die moeite gedoen om my op te spoor en die foto’s te stuur.

You made my day, my friend.

SCOOP VAN NIGGIEMOORDE: PAD NA DIE VOORBLAD


Aan een ontslape kollega het ek toenemend gedink terwyl die promosie van die nuwe Kyktnet-TV-reeks oor die raaiselagtige niggiemoorde van 1966 op Odendaalsrus stoom opgetel het.

Chris (Molie) Moolman (foto), destyds Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad, sou beslis die reeks met ‘n arendsoog gevolg het. Die storie oor die moorde was destyds sy scoop.

Wanneer die reeks “Niggies” vanaand afskop, sal die kranige oud-redakteur van Rapport en Oosterlig, oud-assistent-redakteur van Die Volksblad en Die Burger en Londense verteenwoordiger van die koerante van die Nasionale Pers in die 70’s egter nie een van die kykers wees nie. Hy is reeds in Oktober 2020 op 79-jarige leeftyd heen.

Ek was hoofsubredakteur van Die Volksblad toe die 12-jarige Petro Nel en Issy Fourie se lykies destyds in ‘n verlate gebou op Odendaalsrus gekry is. Hulle het spoorloos verdwyn nadat hulle by die munisipale swembad gaan lyf natmaak het. Albei was verkrag en wreed vermoor.

Molie het die storie op sy gewone oggendrondes by die speurhoof in Welkom opgetel, Binne ‘n uur was ‘n deeglike verslag op die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche, se lessenaar. Ek was gewaarsku om op die voorblad voorsiening te maak.

Soos die grusame moorde oor die weerlose meisies skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het, was dit ook by koerant iets groots. Die Goudveldse oplaag is verdubbel. Bestuurder-redakteur Hugo Dreyer het in een van sy seldsame besoeke skielik langs my lessenaar opgedoem om  ‘n onnodige opdrag in een woord oor te dra: Baniertjie. ‘n Banier sou die storie inderdaad wees – dws onder ‘n opskrif wat oor die hele blad strek.

Die etiket “niggie-moorde” is daardie dag aan ons subtafel gebore. By geleentheid is dit ook die “murasiemoorde”genoem, Die gebou waar hul lykies gekry is, was maar bouvallig.

Hope berigte het oor die moorde verskyn. Vir 18 jaar is egter geen leidraad gevind nie. Uiteindelik, in 1984 – 19 jaar later – het een van die die verkragters ‘n selmaat in die tronk in sy vertroue geneem. Johan Theron en Diederick Steenkamp verskyn toe op 27 Maart 1984 op aanklagte van moord en verkragting in die hof op Odendaalsrus.

Weer was ek by die hantering betrokke. Ek was toe redakteur. Die opdrag oor aanbieding onder ‘n banier het die keer van my na hoofsubredakteur Nols Nieman gekom.

Theron het skuld beken op die verkragting van een van die niggies, maar het gesê dat hy hulle nie vermoor het nie. Steenkamp het ‘n alibi gehad en is later vrygespreek.

Theron se ouer broer, Barend, was die eintlike belhamel agter die treurspel. Hy was ‘n man met ‘n reuse- selfbeeldprobleem. Sy een hand was gebreklik en hy het dit altyd met ‘n kous bedek. Almal was bang vir dié gewelddadige bullebak wat drank en dagga misbruik het.

Hy was egter reeds oorlede. In 1976 het hy uit die derde verdieping van die Cecil Hotel in Bloemfontein gespring, kop eerste. Hy het seker gedink hy vat sy geheim saam graf toe. Toe nie. 

Sien minder

 

HERINNERINGE AAN WYLE NIËL BARNARD

Niël Barnard, hoof van nasionale inteligensie in die kritieke dekade 80, was nie lief vir die pers nie. Lees maar sy boek!
Tog het hy Die Volksblad ‘n wonderlike wereldscoop besorg, en in die algemeen met persmense ‘n hartlike persoonlike verhouding gehandhaaf.
Die 75-jarige Barnard is pas op Gansbaai aan kanker oorlede.
Die scoop waarna ek verwys, is met die foto’s van die eerste ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela in Tuynhuis.
Die foto’s is deur PW se private sekretaris, Ters Ehlers met ‘n gewone mik-en-drukkie geneem. Dit het lank in ‘n laai stof vergaar. Toe vertel Niel my van die bestaan daarvan. Natuurlik kon die koerantman geen rus of duurte kry nie. Ten einde laaste oortuig ek vir Botha en via Kobie Coetsee ook vir Mandela in die gevangenis.
Die res van die land se koerante was maar afgehaal toe die Vrystaatse dagblad in die kleine Bloemfontein hulle scoop dat hulle stilstaan.
Barnard was altyd openhartig met ons redakteurs van die Nasionale Pers. Ek onthou spesifiek ‘n middagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg met die naam Spy Glass Hill. Onder ander Ebbe Dommisse en Alf Ries was ook teenwoordig. Barnard het ons ingelig dat hy bekommerd is oor Mandela se gesondheid. Die man se enkels swel kwaai. Dit was twee dekades voor sy dood!
Ek onthou ook ‘n onderhoud met Barnard in sy kantoor in Pretoria waarin hy my waardevolle agtergrond-materiaal oor Mandela verskaf het. Op grond daarvan het ek ‘n ingeligte Willem-rubriek kon skryf en ook ‘n hoofartikel waarin geskimp is dat dit tyd is om Mandela vry te laat. Dit was nog voor Willem Wepener se oproep in Beeld wat oor die aardbol weerklink het.
Barnard en politieke beriggewer Alf Ries was as’t ware boesemvriende. Hulle het op dieselfde dag verjaar en het dit meermale saamgevier. ‘n Keer het Barnard Ries vir middagete na sy kantoor genooi. Kelners dra toe op skinkborde bedek met ronde blink deksels die gereg in: kreefsterte. Ries was allergies vir kreef. Eers weifel hy, maar toe besluit hy tog om Barnard in te lig.
Geen probleem nie, antwoord Barnard. Hy tel die telefoon op. Na ‘n lang ruk kom die plaasvervangende maal: hamburgers!
‘n Laaste persoonlike herinnering is van pogings om my in die jare 90 vir ‘n pos by die Departement van Inligting te werf. Die laaste gesprek hieroor was in Barnard se kantoor in Pretoria saam met Roelf Meyer. Gelukkig het Ton Vosloo ‘n stokkie daarvoor gesteek. So ‘n loopbaansprong sou nie vir die kanniedood-koerantman gedeug het nie. Barnard was egter vieserig.
Met sy dood betuig ek graag my persoonlike respek en waardering vir die man Niel Barnard wat as jong hoogleraar in staatkunde by die Vrystaatse Universiteit deur Botha raakgesien is en met die groot verantwoordelikheid van die land se veiligheid beklee is. In die uitvering van sy gedugte taak het hy ook internasionale respek verwerf.
Al het Niel nie van die pers gehou nie, was hy ‘n gewaardeerde vriend.
Foto: Die scoopfoto. Barnard staan in die middel.

DANKIE, VOLKSBLAD

By die afskeid van ‘n geliefde kan jy huil omdat hy weg is of bly wees dat hy gelewe het en jou lewe verryk het. Vir ons geliefde koerant geld laasgenoemde. So skryf ek vandag in Volksblad, die koerant waarin ek 24 van my beste jare ingeploeg het, 12 as redakteur.
So lui die volledige brief:
Volksblad maak vandag sy laaste buiging in huidige e-vorm. Herdie tweede verwisseling van bane – die eerste was met die sluiting van die papierproduk – roep om ‘n eerbetuiging.
As tradisionele koerant vir amper 12 dekades en eksperimentele voorloper in ‘n proses van digitalisering sedert 2020 was sy bydrae tot die skat van versamelde Afrikaanse geestesgoedere enorm.
As redakteursfabriek het hy die joernalistiek met briljante uitvoerprodukte verryk. Dertien redakteurs van
dagblaaie en sowat 15 by ander publikasies kom uit die ou Voortrekkerstraat. Van hulle beklee ‘n prominente plek in die galery van Afrikaner-voordenkers. Bedryfsleiers het hoë sporte bereik, nasionaal en internasionaal.
’n Hele biblioteek van Volksblad-skrywers se boeke kan ’n mens jou verbeel. Sedert 1904 het uit die penne van sowat 90 van die bekendste name uit alle eras meer as 1 000 boeke gevloei. Talle is bekroon, was bakens, het trefferslyste oorheers en verkoop fluks in vele tale in vele lande.
‘n Vrag gesogte eerbewyse sal ‘n reuse-glaskas laat kreun. Dit sluit in die Jan Maraisprys, Akademiepryse soos die Hertzogprys, die Stalsprys en die Marcus Viljoen-medalje, die Phil Weberprys (Naspers se hoogste bekroning), die Rapporprys en die FAK-prys vir individuele uitblinkers.
Onder die koerant se bekers, oorkondes en dies meer was vir taal- en kultuur, die skep van verhoudings, gemeenskapsbetrokkenheid en tipografie, onder meer ‘n miniatuur-ossewaentjie vir die beste beriggewing oor die simboliese Ossewatrek van 1988 en die McCall-prys vir tegniese voortreflikheid ’n verstommende nege keer.
Volksblad het die eerste Saterdagponie uitgegee, ‘n leier met gemeenskapskoerante geword, Bloemfontein sy beroemde Kunsmark en ander tradisies gegee en roem verwerf met sensasionele blitsuitgawes ná rugbytoetse. Sy voorste sport- en motorskrywers is nasionaal vereer. Twee is op die SAB se ererol; een se naam is op Loftus verewig.
Waar tref jy nie oral Volksbladders se spore nie: van die kabinet tot die kansel en van die akademie tot die regbank tot die sportveld!
By die afskeid van ‘n geliefde kan jy huil omdat hy weg is of bly wees dat hy gelewe het en jou lewe verryk het. Vir ons geliefde koerant geld laasgenoemde.

‘N LAASTE WUIF … EN WEG IS HULLE

Anderkant die Oranje heers nou ‘n leegheid in die koerantelandskap.
Beeld  is vanoggend weg, as gedrukte koerant en ook as ‘n selfstandige visuele produk (PDF) op Netwerk24.   Hy volg Volksblad wat vier jaar gelede al tot ‘n digitale teenwoordigheid gereduseer is.  Na vanoggend is laasgenoemde verder afgeskaal  tot net ‘n balkie op Netwerk24 en ‘n sogenaamde landingsblad, soos Beeld ook kry.  Op die landingsblad is dan die nuus wat voorheen in koerantformaat beskikbaar was.
Die afskeidskoerante is albei waardige uitgawes. Beeld, met sy groter mannekrag, kon veral vir oulaas die spiere bult met ‘n produk wat tipografies eenvoudig ‘n pragstuk en inhoudelik ontsagwekkend is.
Ek is danig trots op my gesig derde van links in ry vyf op die geeentheidsvoorblad: een van die see van gesiggies van lesers wat onder die opskrif “Ons is Beeld” hul solidariteit met die koerant demonstreer.
Ek is ook verheug oor die geleentheid wat my gebied is om in Beeld en in Volksblad die lang verbintenis met briewe af te sluit. Dit word netnoumaar geplaas.
Intussen lek ek wonde. Dat albei die koerante waar ek my brood verdien het, binne vier jaar onder die valbyl gekom het, is kwalik ‘n pluimpie op ‘n mens se CV!