Anderkant die Oranje heers nou ‘n leegheid in die koerantelandskap.Beeld is vanoggend weg, as gedrukte koerant en ook as ‘n selfstandige visuele produk (PDF) op Netwerk24. Hy volg Volksblad wat vier jaar gelede al tot ‘n digitale teenwoordigheid gereduseer is. Na vanoggend is laasgenoemde verder afgeskaal tot net ‘n balkie op Netwerk24 en ‘n sogenaamde landingsblad, soos Beeld ook kry. Op die landingsblad is dan die nuus wat voorheen in koerantformaat beskikbaar was.
Die afskeidskoerante is albei waardige uitgawes. Beeld, met sy groter mannekrag, kon veral vir oulaas die spiere bult met ‘n produk wat tipografies eenvoudig ‘n pragstuk en inhoudelik ontsagwekkend is.
Ek is danig trots op my gesig derde van links in ry vyf op die geeentheidsvoorblad: een van die see van gesiggies van lesers wat onder die opskrif “Ons is Beeld” hul solidariteit met die koerant demonstreer.Ek is ook verheug oor die geleentheid wat my gebied is om in Beeld en in Volksblad die lang verbintenis met briewe af te sluit. Dit word netnoumaar geplaas.
Intussen lek ek wonde. Dat albei die koerante waar ek my brood verdien het, binne vier jaar onder die valbyl gekom het, is kwalik ‘n pluimpie op ‘n mens se CV!