‘N NAWEEK IN BLOEMFONTEIN

Tokkie en Oom Gert (Foto Herman le Roux)

Tokkie en Oom Gert (Foto Herman le Roux)

Toe ons ons geliefde ou stad Bloemfontein op die N1 nader, sak my moed in my skoene. Die vullishoop langs die pad stort soos ‘n klein Vesuvius oor sy rande en die rommel-lawa stoot tot diep in die begraafplaas langsaan. Plastieksakke kleef aan grafstene. Lyk bra troosteloos.

Later sien ek heelwat wat opbeurend is, al is Bloemfonteiners in die algemeen taamlik bedruk oor agteruitgang in hul stad.  Ons sien o.m. steeds netjiese, boomryke woonbuurte, ‘n “nuwe”, uitgestrekte Langenhovenpark, deftige nuwe geboue (veral motorhandelaars, kantore en restaurante) en ‘n eersteklas opset op Naval Hill met die reuse-Mandelabeeld en die uitsig-restaurant wat teen die noordelike hang gebou is.

Ja maar, sê die gasvrye Volksblad-vriende by wie ons tuisgaan, Sarel en Liesbeth Venter, praat van ‘n wit olifant! Oor wie die restaurant moet bedryf, is ‘n hele toutrekkery aan die gang. Geen lig in daardie tonnel nie. Intussen staan die plek maar maar leeg – ‘n monument vir lompe wanbestuur.

By Volksblad, die koerant waar ek oor drie dekades twee vervullende skofte van 12 jaar elk agter die rug het, word die veterane wat kom reünie hou, gul ontvang.  Teen die mure hang foto’s uit ons almal se eras. Ons klink ‘n glasie vonkelwyn onder o.m. ‘n foto van die voorblad op 6 September 1966, die dag toe dr. HF Verwoerd in die Volksraad vermoor is.  Ek was toe die (jong) hoofsubredakteur. Die voorblad was my werk. Die opwinding van koerant-maak bruis sommer weer in die verkalkte are.

Ek en Marlene by "Jan se boom".

Ek en Marlene by “Jan se boom”.

‘n Mens voel jy het tuisgekom in die koerantgebou met al sy herinneringe, al het die tegnologie ook hoe vernuwe en die kantooropset daarmee saam redelik ingrypend verander.  Die statige redakteurskantoor met sy donker houtpanele en duursame meubels is ‘n gelukkige uitsondering. Lyk of ek gister daar uitgestap het, al was daar al ses opvolgers sedert ek in 1992 die deur agter my toegetrek het.

Die huidige generasie beur swaar teen die winde van ‘n digitale uitdaging wat in my tyd nie bestaan het nie.  Maar die huidige redakteur, Gert Coetzee, en sy span is vol moed en dryfkrag.  Jou eie vrese lyk sommer ietwat oordrewe in die lig van soveel positiewe energie.

Die Saterdag hou ons reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum. Die oudste onder die oudstes is die 95-jarige Gert Terblanche. Hy was nuusredakteur toe ek as student in 1958 by die koerant instap.  Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel.   Kollega Herman le Roux neem Saterdag ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (selwers al 71).  Pleks dat ek hom gaan vra het of hy nog dink my keuse was in die kol!

Ai, was dit heerlik om soveel ou kollegas weer van aangesig tot aangesig gesien – die meeste spierwit grys, party met kieries maar almal stralend van vreugde oor die weersiens van tydgenote wat saam in die juk getrek het.

Op ‘n strategiese kolletjie naby die museum staan ‘n fiere jong vaderlandswilg.  Dit is “Jan se boom” – daar geplant ter ere van Jan Scholtz, kleurryke Boesmanlander, wat twee jaar gelede oorlede is.  Die naald van die Vrouemonument toring ‘n entjie agter toe die blou lug in. Vir my ‘n aandoenlike oomblik toe ek by “Jan se boom” ‘n arm om Marlene kan slaan.

Darem nie net Volksblad-mense gesien in die Volksblad-naweek nie.  Die Vrydagmiddag het so twee dosyn ander ou vriende saam met my en Tokkie ‘n koppie koffie geniet: bure, politici, regslui, weduwees, ‘n oud-leraar, die stigter van verskeie goeie Bloemfontein-goeters soos die Friday Club …  Party van hulle sien mekaar net as ons kom kuier, hoor ek tot my verbasing.  Maar, natuurlik, ons raak almal ouer.

Tokkie en Meshack.

Tokkie en Meshack.

Ons gaan groet ook tuinman Meshack by die Universiteit vir Tegnologie waar hy nou werksaam is: ‘n vreugdevolle herontmoeting.    Die dekade van 80 was onder meer vir die Van Deventers die dekade van Meshack. Hy was ‘n ware karakter wat nie net in ons lewe kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens vol lewenvreugde en vrolike humor.

Hy en Tokkie (wat mekaar altyd met ‘n kenmerkende “joe-hoe” geroep het)  wil die een breër glimlag as die ander glimlag toe ek hulle laat regstaan vir ‘n foto.

“Ons tuin”, lyk nie goed, waarsku  Meshack kopskuddend. En waarlik, die verwaarlosing is nogal ‘n skok – soos daardie “klein Vesuvius” langs die N1, die hartverskeurende swart verbrande historiese stadsaal, en die gemors soos molshope oral in Koningspark, waar die Kunsmark in die 80’s onder Tokkie se hand tot so ‘n sieraad vir die stad gegroei het.  Dese en gene hou nou op ‘n Sondagmiddag daar piekniek. Vullisdromme ontbreek blykbaar of word nie juis benut nie.

Gelukkig is die erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal die Sondagoggend ‘n sielsverkwikkende ervaring. Daaroor skryf ek later ‘n aparte blog.

 

VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN

Die yslike koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure van ons se dogters.

Die yslike koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure van ons se dogters.

Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat dertig jaar gelede, op 2 Mei 1987, by “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” ‘n stukkie vrugtekoek in die mond gesit het. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie!).

Die brandewyn-volume klink dalk ietwat ruim. Onthou, dit was nie sommer ‘n doodgewone koek nie. (Die) Volksblad se Kunsmark in Koningspark langs Loch Logan het sy vyfde verjaardag gevier. Dit moes behoorlik gedoen word.

Die mark was immers ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender: ‘n geleentheid vir oud en jonk, kunstenaar en kunsliefhebber, ‘n dag elke maand wat deur niemand gemis word nie.

Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer besoekers na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion. Besoekers het per bussie van die platteland gekom, Verkeersknope was algemeen. ‘n Gratis pendeldiens is deur die Bloemfonteinse munisipaliteit verskaf.

Die fees van 2 Mei 1987 was nogal iets om oor huis toe te skryf.

Vrolike musiek is verskaf deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en ‘n hand vol ou treffers) en die sangpaar deur Philip en Ella Kotzé. n Sjarmante teetuin is met die hulp van Tafelronde en die O.V.V. onder die groot koeltebome vir eregaste aangebied.

Duiwe is losgelaat. Die feesrede is gelewer deur die Administrateur, Louis Botha, wat sommer sy kunstalent ook uitgeleef het op ‘n reusedoek wat deur die Vrystaatse Technikon vir alle aspirant-kunstenaars opgerig is.

‘n Span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool het mandjies vol koek aan elke besoeker bedien. ‘n Jonger span het met lekkergoed vir die kinders rondgeloop. Almal kon proe. Duime het na bo geskiet. Dankie, het die dankbare ontvangers beduie, dit smaak vorentoe!

Om van so ‘n koek te droom, is natuurlik een ding; om die droom te verwesenlik iets anders. Op my vrou, Tokkie, organiseerder, en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke, Henriette Anderson (nou Loubser, redakteur van Huisgenoot) en wyle Jan le Roux, het allerlei uitdagings gewag.

Die eerste vraag was: Waar kry ons ‘n resep? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) het geesdriftig sommetjies begin maak. Hier is haar volledige resep: 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies, 9 kilogram neuter.

Vraag twee: Waar sou groot genoeg panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein destyds ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle sou hul panne graag vir ons leen.

Wie sou bak en waar? Die Pick ’n Pay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, was dadelik vuur en vlam. Hy sou dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde. Twaalf koeke is gebak.

Wat gaan die hoop bestanddele kos? Die hande het oopgegaan. SA Sugar Corporation het die 15 kilogram suiker gegee. Banana Distributors het die 60 dosyn eiers bygedra. Van Sacca het die 18 kilogram botter gekom en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Skilderye langs die visdam.

Skilderye langs die visdam.

Vervoer kon ‘n turksvy wees. Geen probleem nie, het Oranje Toyota dadelik laat hoor. ‘n Hi-Ace se sitplekke is uitgehaal om vir die twaalf koeke ruimte maak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.

Selfs Sarie was daar.

Selfs Sarie was daar.

In ons kombuis in Genl Van Schoorstraat het Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie porsies gesny totdat hul vingers kramp. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie van Wyk en Annette se Ouma Henna Nel, asook die huishulp Miriam Maarman is ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners”, vertel Tokkie.

“Fantasties! Pragtig! Wonderlik!” het Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, die Saterdag ekstaties uitgeroep. Selfs die vrouetydskrif Sarie het uit die Kaap kom kyk en entoesiasties berig oor die “belewenis” van daardie laatsomeroggend in Koningspark.

* In Tokkie se besit is nog kaartjies wat sy in die 80’s by een van die kraampies gekoop het. Bedink die verrassing wat dit vir Michelle le Roux (nou mev. Marais) was om op haar 50ste in 2015 ‘n gelukwensing te ontvang op ‘n kaartjie wat sy dertig jaar gelede op die Kunsmark aan “Tannie Tokkie” verkoop het!

RAAISEL VAN ONS HUWELIK

31 Desember 1966.

31 Desember 1966.

Presies 50 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp Bultfontein in die huwelik bevestig. In die NG kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s.

‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes – maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! – nooit vergeet nie.

‘n Oorheersende herinnering is die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is.

‘n Tweede herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, ondanks periodieke hobbels op die pad, die beste ding bly wat my in my 75  – amper 76 – jaar op aarde oorgekom het.

Die derde is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme – ‘n trougeskenk van Frank Budd, die atleet Zola se vermoorde pa – en die arme bruidegom in sy gitswart wolpak behoorlik opgedreun het. Dan het die teenwoordige koshuismaats van Tukkies se Kollegetehuis die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat hy dit in die huwelik hotagter gekry het nie!

Op die foto kan ek elkeen van daardie skenders van my liggaamlike integriteit identifiseer: Manie Steyn, Pierre le Roux, Piet Theron, Jan-Jakob de Jager, wyle Piet Lategan en wyle Fanie van Huysteen.  Maar toemaar, vrinne, ek gaan nie hof toe hardloop nie.

Bruidegom se boude brand.

Bruidegom se boude brand.

Die vierde is ‘n stuk sabotasie, waarvan die oorsprong en motief tot vandag toe ‘n raaisel is. Die ontdekking daarvan, slegs ure voor die koster, Oom Willie Botes, die huweliksklokke oor die dorp sou laat jubel,  was soos ‘n dolksteek in die hart.

Al die dokumente vir die huwelik – so sorgvuldig in ‘n hoekie van my koffer versteek – het  spoorloos verdwyn! Onthou, die bruid was minderjarig. En dit was die dae van gebooie en ‘n gebooiebrief, waarsonder ‘n huwelik nie wettig voltrek kon word nie.

Gelukkig is ons deur my neef Bertus du Plessis in die eg verbind – ‘n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was. Bertus was bereid om op grond van sy neef se geloofwaardigheid met die plegtigheid voort te gaan.  Krisis afgeweer!

Net ná 15:30 het Gesina (my Tokkie) stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk binnegekom. Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. Bertus kon sy spreke plegtig spreek.  Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….”  Ons het mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid liggies gesoen.

Van die “gelukwensing in die saal” onthou ek, benewens die onwaardige borselry, nie veel nie. Hoop my toespraak was nie te langdradig nie.  Was toe al soms soos ‘n Boeing wat nie kan land nie as ek op dreef kom.  Wel onthou ek dat wyle swaer Fanie aan die einde ‘n welkome  bottel vonkelwyn opgediep het.  In die kerksaal is net vrugtesap voorgesit.  Maar danksy Fanie se kado’tjie kon ons toe darem ‘n private heildronkie drink voordat die egpaar Van Deventer in hul wit Toyota Corona vort is Winburg toe vir die eerste huweliksnag.

Terwyl ons op ons wittebroodsvakansie in Durban was, het snippertjies herkenbare papier van nêrens in ‘n buurvrou se agterplaas teen die grensdraad vasgewaai. Die allerbelangrike dokumente wat onverklaarbaar voete gekry het, het in gehawende vorm asof uit die niet hul herverskyning gemaak.

Nou die dag vra ek Tokkie weer of sy ná al die jare kan raai wie die sondaar was.  Sy skud die kop.  In die distrik was egter boerseuns wat ook in Hertzogstraat flikkers gegooi het. Dalk wou ‘n jaloerse vryer ‘n stokkie voor die troue steek.  In die gemeenskap was ook goeie, besitlike siele wat hierdie geliefde dogter uit eie bodem dalk wou beskerm teen die wêreldwyse koerantman wat anderster waardes kon hê.

Ná 50 jaar sê ek vir hulle almal (diegene wat nog in die lewe is, altans): pê!

KOEBAAI, KOS-COWBOY!

1-1-IMG_0001

1-1-kos2

1-1-kos3

You and I now both have a memory into our sunset years.” Aan die woord is Dale Schreuder ná Saterdag se fees in die tent hier op Melkbos. Dale is my buurman. Hy was ook die spysenier. Nogal gerieflik: So ‘n knap, entoesiastiese buur-spysenier net oorkant die tuinmuur.

Sy verwysing na “sunset years” is ter sake. Die uwe is 75. Dale is seker ‘n jaar of tien, 12 jonger, Maar Saterdag se onthaal was sy swanesang, sê hy; sy “coup de grâce”. “Coup de grâce”? Of dit heeltemal die regte uitdrukking is, twyfel ek. Hy los nie sy restaurant heeltemal nie. As ‘n laaste buiging as spysenier was dit nietemin, wat my betref, indrukwekkend. Die gaste is dit roerend eens.

“Voortreflik. Uit die boonste rakke. Uit die boeke. Fantasties.” So laat weet hulle uit alle oorde oor die skottels wat deur Dale en die span van 20 kokke en kelners wat hy saamgebring het, voorgesit is. Vir ons, en mense wat sy restaurante ken, was die lekker kos geen verrassing nie.

Dale ken van kos. Sy “Dale’s Place” in Bloubergstraat was lank een van die groot gunstelinge in Table View. Van sy gereelde ou klante, soos Danie Grundlingh (88), was dit Saterdag nie net ‘n blye herontmoeting met die man se kos nie, maar ook met die man self. Op doktersadvies het Dale later sy plek verkoop. Te veel geproe!

Later het die gogga weer gebyt. “Dale’s Black Angus” in die Paddocks-sentrum in Milnerton en die “Driftwood Café” in Parklands het gevolg. In die “Black Angus” het ons in 2011 my 70ste gevier. ‘n Vennootskap is daardie dag tussen ons twee bure vasgemessel – een wat ons nooit een oomblik laat twyfel het oor wie die kos moet maak vir die 100 gaste wat ons vir my 75ste, Tokkie se 70ste, ons 50ste herdenking van ons verlowing en ons goue bruilof in ‘n tent op ons gras neffens die Atlantiese Oseaan wou saamtrek nie.

Gelukkig was sy onmiddellike reaksie toe ons in Oktober verlede jaar verkennend begin gesels: “Ek is in.” Sonder die fris buurman sou ons dit nie kon doen nie.

My kollega Sarel Venter van Bloemfontein noem ons okkasie ‘n syferspeletjie: 75,70,50,50 en 100 gaste. Wel, Sarel, hier is vir jou nog ‘n 50. Dale het naamlik 50 jaar gelede – in 1966, iewers tussen my en Tokkie se verlowing en ons troudag – sy eerste van derduisende hamburgers uitgerol.

Hy het as 12-jarige by ‘n padkafee in Randburg ‘n geldjie begin verdien. Dalk was dit al die hamburgers en melkskommels wat hy tussen sy werkery deur weggeslaan het – hy praat van tot dertig per dag! – maar iets het hom gelok en tot ‘n lewenslange verbintenis met die kosbedryf gelei. Die Van Deventers is oor daardie band maar te dankbaar.

Terwyl ons die ou cowboy van die koswêreld vaarwel toewuif waar hy nou, Stetson op die kop, in die sonsondergang weggalop, besef ons natuurlik maar te terdeë: Ook vir ons is dit koebaai meraai. Want, soos hierbo gemeld, sonder Dale sou ons dit nie kon doen nie. Sonder Dale sal ons dit ook nie kan doen sou ons weer so ‘n bevlieging kry nie. Finis en klaar.

1-1-08-IMG_4376

Iris, Dale, HvD, Tokkie, Hildegard.

Vir Hildegard Martin van Melkbos het ek Saterdag saam met Dale en Iris vorentoe geroep toe die tyd vir bedankings aanbreek. Sy is al jare die skeppende hand agter vele HvD-projekte – van boeke tot CD’s. Vir Saterdag se fees het sy die kaartjie ontwerp; ook die spyskaart, tafelplan en Dankie-CD vir elke gas. Daaroor skryf ek later.

Kleinseun Christopher (6) is ook spesiaal bedank. Hy was deurgaans ‘n voorslag wat ten volle sy credo uitgeleef het dat niks vir hom lekkerder is as werk nie. In sy rol as “voorman” by die tentopslanery het hy dalk meer staalpype help dra as sommige van die betaalde arbeiders. Hy was ook bedrywig as “motorwag” en het in ‘n stadium sy opwagting in Dale se kombuis gemaak om dinge daar te kom monitor.

1-1-IMG_4342

Duime in die lug. Christopher en Abraham.

Maar die waarde van al jou naastes besef jy opnuut in so ‘n oefening. Almal sit skouer aan die wiel. Uiteindelik is dit ‘n kwessie van vele hande maak ligte werk. Ons is dankbaar teenoor Johan,. Marisa en Mariza asook die ander kleinkinders, Jacob en Thomas (11), wat buiten hul ander takies ook reusewerk verrig het met Oupa se twee Canons om hul nekke. Ons kan albums vul met hul mooi foto’s.

‘n Joppie wat Johan – en die 80-plus Marie Schnetler – seker nooit sal vergeet nie was die gespook om haar motor met brugkabels aan die gang te kry nadat sy dit die heeldag met die ligte aan laat staan het. Drie voertuie se batterye was in ‘n stadium gekoppel.

Dan was daar Abraham, ons vlytige Malawiese tuinman, met die hande wat vir niks verkeerd staan nie, die breë glimlag wat nooit wyk nie en onuitputlike energie. Wat ‘n span! Hoe gelukkig is ek en Tokkie nie!

VREUGDE VAN WEERSIENS

1-1-IMG_3788

1-1-04-IMG_4364

Tokkie en Mariette van Manen; Tokkie en broer Cules.

Die vreugde van weersiens. Dié het ek en Tokkie Saterdag by ons “baken-laureus”-fees in ons “tent van samekoms” (so gedoop deur Sarel Venter van Bloemfontein) mildelik ervaar. Die teenwoordigheid van soveel vriende uit soveel fases van ons lewe het luister aan ons feesdag verleen.

Skoolmaats en studentemaats van lank voordat ek en Tokkie mekaar in 1964 ontmoet het, kollegas uit verskillende tydvakke, bure, Bybelstudievriende, Probusvriende (klub vir afgetredenes) en ander was versprei oor 12 tafels in die tent wat hier op Melkbos oor die breedte van ons grasperk gespan was met die gedruis van die branders in ons ore.

Een verbintenis was weens omstandighede onverteenwoordig: Ons hartsplek Sabiepark, waar ons langbeen om vuurtjies kuier. Hoe lief ons vir daardie stukkie aarde is, weet almal. Het ek gesê onverteenwoordig? ‘n Mooi klompie van Saterdag se gaste het al saam met ons om ‘n Sabieparkvuurtjie gesit. Steek hande op, het ek gevra. Van die 100 het 52 se hande in die lug geskiet.

“Al gaan ons ook die lewe in ‘n brokkie van ons hart bly hier.” So het ons Volkies in die jare 50 in ons skoollied gesing. Drie skoolmaats wat ook, soos ek, brokkies van hul harte op Potchefstroom agtergelaat het, was Saterdag hier. Hulle is Willie en Irna Hartzenberg en Anton Lombard.

1-1-1-1-IMG_3825
Volkies van die 50’s.

Willie en Anton was saam in die Jack Pauwkoshuis en klasmaats tot matriek in 1957; albei ook in my eerste redaksie – die skooljaarblad waarvan ek die eerste skolier-redakteur was. Willie was dux-leerling. Slim derduiwel. Irna en die uwe was saam in die belydenisklas. Groot stories gesels as ons saans na Oom Bey (dr. Beyers Naudé) se kerk aanstap vir die katkisasie.

“Aan het oewer van de Schelftzee” het nie in die feestent opgeklink nie. Ons Kollegemanne sou dit wel, op zijn goeie Afrikaans, ‘n sterk traai kon gee. Vier van ons was teenwoordig: Ek en Pierre le Roux van die laat 50’s/begin 60’s en twee vroeëre modelle, Flip Nel en Jan Coetzee. Jan was in 1951 in Kollege – nogal ‘n paar jaar gelede!

1-1-IMG_3821

Vier Kollegemanne

Bloemfonteiners het ingesluit Chris en Annette van Rensburg, ons beste bure nog saam met wie ons al baie ervarings gedeel het; ook ander kamerade in allerlei heilige en onheilige aktiwiteite. Teen Flip Nel (hierbo genoem) het ek krieket gespeel in die tradisionele wedstryd tussen Bill se Bulle (Welkom) en Colin se Kallers (Bloemfontein). Die oud-Volksraadslid vir Welkom het eers later self Bloemfonteiner geword toe hy in die politiek begin opgang maak het.

Lekker gewees om die volgende Volksblad-gesigte te sien: Nancy Oosthuysen, Johan van Wyk, Pierre van Manen, André Brink, Rina (Koen) van Rensburg en Francois Lötter, asook twee Volksblad-weduwees, Alta Geldenhuys (Kootjie, bestuurder, se vrou), en Marie Schnetler (Fred, motorredakteur se vrou).

1-09-IMG_4372
Johan van Wyk

Nancy is die veteraan. Sy het in 1954 by Die Volksblad ingeval. Het haar daar gekry toe ek einde 1958 die eerste keer as beurshouer van die koerant vakansiewerk gaan doen. Johan van Wyk – die “Oom” van Stop van Myne – was seker die gewildste in die tent. Baie wou net met hom ‘n geselsie aanknoop.

‘n Blommestorie soos min is dié van Alida Fourie, nou van Durbanville. Alida ken van blomme en blomme rangskik. Sy “doen” al die VanD’s se blomme van die jare 80 in Bloemfontein af. Etes in ons driedubbele motorhuis (die vorige eienaar se gimnasium) was ‘n jaarlikse instelling. Daarna in die Kaap by albei ons kinders, Johan en Marisa, se troues. Alida, met haar fyn oog vir mooi goed, was ook hoof-aankoper vir Tokkie se geskenkewinkel in die Mimosa Mall in die beginjare 90.

1-3-IMG_4344-001

Pieter en Alida Fourie word deur Tokkie verwelkom.

Mariette van Manen was gasvrou met die ooievaarstee vir Tokkie voor die geboorte van Marisa in 1974.

Vir kollegas uit die twee Volksblad-eras, van Beeld en van Naspers het ek ‘n pluimpie herhaal wat op 19/2/98 in my handskrif op die spyskaart van die Pers se afskeidsete vir my en Tokkie was: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees.” Geen rede om daaroor terug te krabbel nie.

Uit die veelbewoë Beeld-dae was net George Boshoff hier. Ek was die koerant se eerste nuusredakteur en George sy eerste kunsredakteur. Hy het later ‘n vermaarde tennisskrywer geword. Hy was ook die man wat hierdie Vrystater van wyn geleer het. Het Montpellier se huiswyn aanbeveel – ‘n wenner!

1-01-IMG_4359

Danie Krynauw

Uit die hoofkantoordae was hier ‘n hele bestuurskader. In jare die senior is Danie Krynauw, wat hoof van Tydskrifte was. Hy het my touwys gemaak toe ek rou in die Kaap aankom. By hom o.m. die goeie advies gekry vir wanneer ‘n direkteur my oor syfers vasvra: “Kyk hom stíp in die oë en gorrel so oortuigend soos jy kan.”

Vir Jan Malherbe wat hoofbestuurder: noordelike koerante was, en Jean le Roux, hoofbestuurder: suidelike koerante, het ek altyd my Aäron en Hur genoem. Hoe het hulle nie hierdie Moses se arms orent help hou toe hy as koerantman skielik in die diep kant gegooi is as uitvoerende hoof: koerante nie!

Melkbossers was die grootste groep. Sterkste verteenwoordig was die Probusklub waaraan bobaasbraaier Sakkie Bruwer my in 1998 voorgestel het. Ek en Tokkie tel gereeld ons seëninge. Probus is ‘n spesiale groepie met warm omgeeharte vir mekaar. Die verbintenis gee ons steeds veel plesier.

Buiten die kinders, was die familie maar minnerig. My broer Cules Malan het uit Pretoria gekom saam met sy vrou, Dalene, en hul prokureurseun, Marcus. Die ander broer, Christo, is al baie jare land-uit. Hy bevind hom Doer Onder in NSW.

Wie ons geweldig gemis het, is swaer Fanie, Tokkie se enigste broer, wat ses weke gelede oorlede is. Hy was een van die joviaalste karakters wat ek geken het. Terwyl ons sonder die Van Wyks hier feesgevier het, het skoonsuster Maretha haar man se assies gestrooi by Waenhuiskrans waar die gesin kort voor sy dood ‘n onvergeetlike laaste keer voltallig byeen was.