Mar 28, 2016 | Hennie van Deventer se Blog


Ons feestent op ons gras voor die huis.
Middag uit Melkbos
‘n Nare jaar, weet ons almal, is in Latyn ‘n annus horribilis; ‘n wonderjaar ‘n annus mirabilis. Wel hierdie jaar, 2016, is my en Tokkie se annus baken-aurius (jaar van bakens).
Ekke het op 3 Januarie 75 geword. Tokkie was op 15 Maart, 70. Ons was op daardie datum ook 50 jaar verloof. Op 31 Desember vier ons goue bruilof. Ons het Saterdag hierdie bakens feestelik gevier. Op ons grasperk op Melkbos is ‘n frisserige markiestent opgeslaan. Aan die 12 tafels – met rooi tafeldoeke (Tokkie se gunstelingkleur) – was 100 gaste uit verskillende fases van ons lewe; skoolmaats, studentemaats, kollegas, Probusvriende van Melkbos en andere.
Buurman Dale Schreuder, bekende in Kaapse restaurantkringe, het vir die spyseniering gesorg. ‘n Span kelners van sy restaurant in Milnerton, Dale’s Black Angus, het na die gaste omgesien. Die spyskaart was na ons mening nogal besonders. Vriendin Rina van Rensburg van Stellenbosch het dit vir ons soos volg in keurige Afrikaans omgesit:
Happies: diepgebraaide calamari, groenterolletjies, Italiaanse sosaties, varkworsies, gerookte salm en brosbroodjies, knoffelpitabrood.
Buffet: geroosterde kruisskyf met sampioensous, romerige kerriehoender met sambals, gebakte Karoolamsboud met vleissous en kruisementjellie, gegeurde rys, braai-aartappels en vars seisoensgroente.
Nagereg: kaasbord met beskuitjies en suurtjies, malvapoeding met vanieljevla, pannekoek met bessiesous en geklopte room, roomys en warm sjokoladesous, sjef se verrassings.
Die vonkelwyn was Nuy sauvignon blanc en die wyne albei uit die Perdeberg-stal: chenin blanc en soft smooth red.
Die Perdeberg was nie om dowe neute nie. Op die bottel lees ‘n mens anno 1941. Dis ook my eie anno. Ek is op 3 Januarie 1941 in Sister Gilbert se Nursing Home op Dundee gebore. Ook my Jeep-hemp was nie net omdat ek nie ‘n Pringle of ‘n Polo kan bekostig nie. Jeep se anno is ook 1941. Man, wyn, hemp – selle jaar se kalwers.
Tokkie is anno 1946. Dit was die geseënde jaar dat die bikini die lig gesien het. Ter wille van die historiese simboliek sou ‘n bikini vir my vrou – ‘n rooie dalk – nie uit sy plek gewees het nie. Om kuisheidsredes meer as klimaatsredes is daarteen besluit.
In ‘n stadium het die weer nogal dreigend gelyk. Die wolke het egter hulleself bedwing. Eers die aand ná 20:00 het ‘n sterkerige bui uitgesak.

Twaalf tafels met rooi tafeldoeke.
Hoekom ons die tent-opsie gekies het welwetende dat die wind kan waai, die reën kan giet (onthou, dit was Paasnaweek) of dat die son ons kan uitkaiing? Die antwoord is eenvoudig. Omdat ek al 20 jaar brand om dit te doen. Kan riskant wees om die lus nog 20 jaar te bedwing!
By Die Volksblad het ‘n korrespondent in die 80’s ‘n netjiese berig gestuur oor ‘n plattelandse kerkie wat gerestoureer is. Die lidmate was veral gaande oor die sierlike kateter, het hy berig (kateter met ‘n t). ‘n Kateter in ‘n kerk – nogal nuttig vir lidmate met swak blase, het kollega Paul Marais met sy droë humor gebrom.
Ons het nie nie ‘n kateter (met ‘n t) gehad nie – die gaste moes maar die trappies opbeur na die geriefies binne die huis toe. Ook nie ‘n kateder met ‘n d nie. Dit was ‘n kuierdag, nie ‘n toesprake-dag nie.
In ons Bybelstudiegroep het ons pas die voortreflikheid van nederigheid deurtrap – ‘n eienskap waarmee ek soms ietwat sukkel. Daar het ons met die wyse Salomo hartroerend daaroor saamgestem. Dit sou derhalwe erg inkorrek gewees het om in die geselskap van Bybelstudievriende iemand los te laat om te vertel hoe oulik ek en Tokkie is. Amper voeg ek by … en ons gaste weet dit mos buitendien!
Ware geluk lê nie in hoe ‘n skare vriende jy het nie, maar in die waarde wat hulle toevoeg sê Samuel Johnston. Ons vriende is waarlik waarde-toevoegers. Hulle is soos immergroen boeke en fynproewerswyn. Pêrels van groot waarde.
Oor hulle en oor ander aspekte van ons fees van 26 Maart 2016 gaan ek in die volgende dae uitwei.
Wees asseblief maar geduldig met die ou man. (hvd)
Mar 12, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Die verloofde meisie en die soen – Ben van Rensburg se foto’s.

More uit Melkbos
Aan die nuusfront was 1966 ’n geweldige jaar. Van die grootste koerantstories was die eerste sagte landing op die maan; die val van Kwame Nkrumah van Ghana; die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd; die stranding van die Seafarer by Seepunt, en die noodlottige modderstorting op die dorpie Aberfan, Wallis, wat ’n skool verswelg het.
Die Beatles het ophou toer. Hul laaste konsert in San Francisco was iets ysliks. Selfs groter opslae is gemaak deur John Lennon se onbeskeie aanspraak dat die vier bossiekoppe uit Liverpool met hul welluidende kitare gewilder as Jesus Christus is. Wêreldwyd het verontwaardiging gewoed.
Al hierdie stories is deur my soms bewende hande as Die Volksblad se hoofsubredakteur. Moet bely: met die Beatles het ek aanvanklik misgetas. Het dit op die pen geslaan (letterlik ‘n skerp draadpen) omdat dit in my oë godslasterlik was. Die redakteur was bra stuurs oor my oordrewe sensitiwiteit.
In my persoonlike lewe het ook ’n geweldige ding gebeur. Op 15 het ek en Tokkie Maart 1966 – net mooi 50 jaar (plus-minus 438,300 uur) gelede – van Wyk van Bultfontein, dogter van die weduwee Marietjie en suster van die kampioenatleet Fanie, op haar 20ste verjaardag verloof geraak. Sy het pas begin skoolhou vir ’n standerd-een-klas (nou graad drie) van die Laerskool Wilgehof, en die juffrou was ’n prentjie in haar vrolike somerrokkies.
Ek het die beminde Bultfonteinse Tannie Marietjie met die mank stappie weens polio kort tevore in Tokkie se kamer in die VSA-gebou (Vereniging van Staatsamptenare) om haar dogter se hand gevra – seker met die heimlike wens dat sy net sulke lekker frikadelle soos ma haar sou kon maak. Daardie wens is vervul. Van haar het kollega Johan van Wyk, darem ná jare se oefening, in sy rubriek Stop van Myne geskryf: “Net ’n Van Wyk kan sulke lekker kos maak vir ’n Van Wyk.”
Gelukkig was 15 Maart 1966 ’n stil nuusdag. Ek kon die aand vergeet van werk en ongesteurd die ring aan my geliefde se vinger gaan steek op ’n romantiese ete in die restaurant Franco’s in St. Andrewstraat. Ek vermoed dit was die enigste in Bloemfontein.
Wat ons geëet het, is vergete: waarskynlik ’n garnaalkelkie, ’n stukkie monkey gland steak (lekker sousie) en, vir nagereg, roomys met sjokoladesous. Die kombinasie was gewilde spyse. Die wyn onthou ek goed. Dit was die effens soeterige maar smaaklike Tassheimer Goldtröpfchen.
Die aandjie (wyn en nagereg inbegrepe) het my seker niks meer as R4 tot R5 armer gelaat nie.
Die min ander kere toe ek en Tokkie voor ons troue gaan “uiteet” het, was by die Griek Peter se kafee net oorkant die munisipale swembad in Unielaan – eersteklas – allegaartjies vir iets soos 60c elk.
As die pryse ongeloof klink, hou hiermee rekening:
In 1966 was my salaris R220 en Tokkie s’n R100; ’n Pakkie Rembrandt van Rijn het gelukkig net 20c gekos. ’n Koerant waarmee ek speel-speel kon kaarspeel – was 5c, ’n haarsny 25c en ’n tenk petrol onder R10. Kreef thermidor was die duurste gereg op elke spyskaart teen R1,99 vir ’n boordensvol bord. Nederburg Cabernet en Zonnebloem Cabernet, uitsoek-wyn, was R1,50 per bottel. Vir nederiger Nederburg Stein het jy kleingeld gekry vir jou rand. In Durban kon jy in ’n redelike vakansiehotel oornag teen R3,00 vir bed en (’n allemintige) ontbyt.
Maar moenie dink “uiteet” was eens naastenby so ’n kultuur soos vandag nie. In Bloemfontein het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, woonstelmaats geword, eers in La Gratitude (ook saam met Ben van Rensburg tot sy troue) en later in Giel Conradiehof. In Giel Conradiehof het Tokkie ná ons verlowing dikwels saans kom kuier en kosmaak. Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar pas die mooi, jong vroumensie in nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie”!
Ewenwel, ná die verlowingsete is die stralende paartjie na kollega Ben van Rensburg en sy vrou, Tina, se woonstel in Unielaan om met die ring te gaan spog. Ben, nou saliger, het ’n foto van Tokkie in haar blink aandrokkie geneem en ook een waar ek met ’n kus die verlowing verseël. Vanselfsprekend was ek uitgevat in ’n donker pak; my paisleydas swierig geknoop. Ons het ewe deftig aangetrek as ons gaan fliek. Mans het ook altyd pakke kerk toe gedra, en vroue sykouse en hoede. Langbroeke was vir hulle taboe. Ek het met ’n das gaan werk.
(Terloops: flieks van die jaar was A Man For All Seasons en The Good, The Bad and the Ugly. In Amerika het almal The Ballad of the Green Berets geneurie. In Engeland was ’n populêre liedjie The Sun Ain’t Gonna Shine Anymore.)
’n Glasie van Stukvat in die Paarl se verruklike port is vinnig saam met die Van Rensburgs gesluk. Ben had altyd ’n voorraad. Toe moes ons spore maak – Tokkie natuurlik na haar eie kamertjie in die VSA-gebou. Die hoofsub moes vroeg uit die vere. Elke oggend om 05:00 moes ek in Voortrekkerstraat op my pos wees. Die Volksblad was nog ’n middagkoerant.
Daardie tyd was “sosiale bladsye” ’n groot ding. By elke okkasie is foto’s geneem vir die prestigeblad waarop BBP’s graag wou pryk – veral sommige. Party oorgretiges het ons altyd aan die kant laat staan sodat ons hulle gerieflik kan afsny. Weekliks was daar ook ’n blad met trou- en verlowingsfoto’s. Natuurlik wou die verliefde Hennie met Tokkie op die “verloof-en- getroud”-blad spog. Sy is op my aandrang na die fotograaf Christo’s vir ’n ateljeefoto. Oom Christo Groenewald het later burgemeester geword – nie sleg vir ’n ou wat feitlik sy lewe in ’n donkerkamer geslyt het nie.

Veels geluk – goeie smaak.
Toe daardie foto gepubliseer word, het die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche (nou 92), op ’n skeurblad vir my die volgende boodskap skuins bo-oor geskryf: “Veels geluk. Goeie smaak.” Ek was dit hartroerend met hom eens. Ek is dit vandag, 50 jaar later, steeds – ek bêre ook nog die vergeelde skeurblad.
Om die kroon op 1966 te span, is ek en Tokkie op Oujaarsdag op Bultfontein getroud. Ek was toe 25 en Tokkie 20, wat beteken dat ons vanjaar my 75ste, haar 70ste en die goue bruilof so saam-saam kan vier. My hart het gesing – en die sonbesies beslis ook – op daardie snikhete Saterdag-agtermiddag in die Vrystaat. (hvd)
Jan 23, 2016 | Hennie van Deventer se Blog


‘n Jaar of vyf voordat ons paaie in die jare 60 gekruis het het, het my swaer Fanie van Wyk, Tokkie se broer, vir allerlei steratlete van stedelike spogskole weggehardloop om die Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word. Peter Carlstein van St. Andrews in Bloemfontein, latere krieket-Springbok, was een van die gunstelinge wat teen die onbekende Bultfonteiner in die stof gebyt het.
Dat hy so vinnig kon hardloop is glo die plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan se skuld. Die geniepsige meneertjies het hom sy bene – en sy kaalvoete! – leer dra.
Sic gloria transit mundi. Pas by die huis gekom van die Panorama Medi-Clinic af waar Fanie (77) weens gevorderde longversaking, ondanks die sterkste moontlike suurstof-toediening, swaar en met inspanning asemhaal. Hy sal nie weer ‘n 440 hardloop nie – trouens ook die wedloop van die lewe is sowat vir swaer Fanie verby. Maar met watter genoegdoening kan ek nie hier met alle oortuiging skryf nie: ook in daardie wedloop was hy ‘n kampioen.
(‘n Stuk of ses van Fanie se atletiekrekords staan nou al amper sestig jaar ongeskonde by die Hoërskool Bultfontein. Hy het een keer die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters aan die ander kant van die veld beland het. Die gewigstoot moes dringend gestaak word terwyl Fanie gooi! Op die foto is hy as skoolseun en in sy Vrystaatbaadjie met sy atletiekbekers). (hvd)
Jun 4, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Die wiele van my jonkmansdae
Middag uit Melkbos
Niemand in ons familie kon of kan soos Elvis Presley sing nie. Een oom, Oom Danie du Plessis, het darem iets met die ikoon van die 50’s en 60’s gemeen gehad.
‘n Woedende Elvis het sy Tomaso Pantera onder die koeëls gesteek toe dit nie wou vat nie, lees ek vanoggend in Motors in Die Burger. My Oom Danie was ewe woedend toe sy Hudson Hornet se dakstoffering in Beaconsfieldweg, Kimberley, lostorring en op hom instort. Hy het terstond sy nuwe kar met ‘n hamer betakel!
Oom Danie was ‘n karakter. Ek was lief vir hom. Die geluk was egter nie altyd aan sy kant nie. Sy motor voor die Hudson was ‘n Peugeot 203. Daarin het ‘n kan room of iets uitgeval. Niemand kon ooit van daardie talmende suur aroma ontslae raak nie.

‘n Hudson soos die ene wat met ‘n hamer toegetakel is, en (onder) die teiken van Elvis se wrewel.

My eerste wiele was ook ‘n Peugeot 203. ‘n 1953-model. ‘n Ligbloue. Het hom in my derde jaar op Tukkies gekry. Was bekend as die Santa Maria. Registrasienommer was TY 24. TY het gestaan vir Klerksdorp. TY 24 pryk vandag nog op my nommerplaat – wel TY 24 WP.
Had ook ‘n ongelukkie met die Peugeot – nie net ‘n slegte reuk nie. Het oor ‘n stopstraat gery toe ek ‘n nooientjie, Retha Vaandrager, na ‘n tafeltennisoefening neem. ‘n Botsing het gevolg. Die Peugeot het gerol, reg voor die ou Moedersbond.
Retha is hospitaal toe gebring. Daaroor was ek erg bedremmeld. Gelukkig was dit net ‘n velwond aan haar arm. Was ook erg bedremmmeld oor die feit dat iemand die nuus aan my ma-hulle sou moes breek.
My liewe Tant Minnie het dit op ‘n netjiesrige manier gedoen. Sy het Klerksdorp toe gebel en vir my ma gesê: “Hennie staan hier by my. Hy makeer niks. Maar hy was in ‘n ongeluk …. ”
Nietemin was dit geen gelukkige situasie nie. Die Peugeot was onversekerd en die geldjies skraps.
Toe gebeur ‘n storie wat onwaarskynlik mag klink, maar beslis nie die waarheid in enige opsig verdraai nie.
Ek vra op ‘n dag vir Naas du Toit, enigste tokkelok in Kollegetehuis, wanneer hy sy bydrae gee vir die Van Deventer-hulpfonds. Dit was as ‘n grappie bedoel. Naas begin egter stamel, en verduidelik verleë hy was nog vir sy maand se sakgeld.
Later kry ek van my koshuismaats ‘n bultende koevert – om te help betaal vir die herstel van die Peugeot!
So van karre gepraat: skielik pak ‘n amperse melankolie my ook oor die ander wiele van my jonkmansdae. Na die Peugeot – wat nooit weer dieselfde was nie – het gevolg ‘n donkerblou 1961 Fiat 500-stasiewa. Party vriende het hom die Skoolbus genoem. Ander die Grassnyer.
Met die Fiat het ek nog in Januarie 1964 Kaap toe gery vir my eerste Parlementsitting in die persgalery. Dit was ‘n l-a-a-ang rit. Nooit weer nie, het ek daar en dan besluit.
My goeie vriend, Carel Weeber, ‘n matriekklasmaat, het by die Trustbank in Adderleystraat gewerk. Hy help toe vir my ‘n lening bekom en ek koop ‘n tweedehandse ’64 Cortina (weer ‘n ligbloue).
Dit was my en Tokkie se vrykar. Lekker ruim voor
Het salige herinneringe aan die Cortina. (hvd)
Apr 8, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Ouma en haar “doomnie”, Francois Hanekom: goue oomblikke.

Ouma, plus haar kinders, Fanie en Tokkie, en skoonkinders, Maretha en Hennie.

Ouma, Tokkie, Fanie en Maretha.

Ouma en haar blomme van dierbare Bloemfonteinse ou bure, Chris en Annette

Ouma lees aandagtig, woord vir woord, haar kaartjies en boodskappe. By haar is TvD.