Apr 28, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Stellenbosch die roep my en ek moet gaan. Vreemde woorde uit die mond van ‘’n geswore Tukkie?
Nou-ja, dis darem nie heeltemal waar nie. Nie Stellenbosch wat geroep het nie, maar die Matie-kleinseuns, Jacob en Thomas, se 19de verjaardag.
Ek en Tokkie is op geleide toere deur hul koshuise, Eendrag en Helshoogte. Sy het onder meer kennis gemaak met naamgenoot Tokkie, laasgenoemde se gelukbringer-hoender. Oupa moes erken dat die koshuiskultuur – veral die respek vir tradisie – hom imponeer. En wil jy glo: in Eendrag se binnehof staan twee groot jakarandas wat wil begin blom!

Moet ook erken dat Stellenbosch se Victoriastraat met sy erewag van akkerbome in hersfkleed ‘n skouspel is, die US met sierlike geboue kan spog en die skolebuurt langs die Eersterivier buitengewoon indrukwekkend is. Moet goed vir die siel wees om aan Gimmies, Bloemhof of Rhenish skool te gaan.
Dan die Fat Butcher in Van Riebeeckstraat – ‘n -biefrestaurant soos ek laas in Boston en Cambridge in Massachustts mee kennis gemaak het. Voortreflik verby met ‘n wonderlike atmosfeer. Net twee dinge: jy moet lank vooruit bespreek en nie sensitief wees vir pryse nie! (Gelukkig was skoonseun, Brent, die gasheer.)

Die mooi foto van die gesin Claassens is deur my in ons hoekie in die Fat Butcher geneem. Links sit kleinboet Christopher (14). Voor hom is sy melktert-nagereg nadat hy ‘n steak van 600 gram weggesit het. Die man is ‘n kranige flank.
Dat Jacob nou kitaar speel, was ‘n verrassing. Dis aan sy kamermaat te danke. Wat die foto saam met sy ouma, volgens sy ma, Marisa, des te meer merkwaardig maak, is die twee bossiekoppe so saam. Moet iets in die gene wees. Hulle glimlag ook ewe breed. Ouma was boonop in haar jeug ook ‘n musiekmens met ritse diplomas vir klavier
Mar 17, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die tradisie leef voort, met ‘n nuwe dinamiek en ‘n nuwe dimensie. Ek en Tokkie plus kollega Herman le Roux en Rina was op 15 Maart 1998 saam in Tarlehoet se swembad om die Van Deventers se aanknoop van ‘n verbintenis met Sabiepark te vier. Op 15 Maart 2008 het ons in die swembad by wyse van spreke die eerste tien kersies doodgeblaas.
Woensdag 15 Maart 2023 was ons weer vrolik saam in die water om die kwarteeufees te vier – wel nie 25 minute lank nie, maar die eerste keer met twee knap fotograwe aan wal in die persone van Frans en Michelle Marais om die historiese ritueel uit elke hoek te dokumenteer.
‘n Nuwe dimensie is bygevoeg wat genoem kan word: wys my joune, dan wys ek jou myne. Herman en Tokkie was nie min breëbors nie oor hul onderskeie hartpasaangeërs by hul linkersleutelbene, Terloop in die swembd versamel ws 88, 82, 82 en 77 jaar se wysheid. Dis nou gravitas in die water.
Om in die bos te verjaar, is in sekere opsigte uitdagend. Hoeveel kere moes Tokkie en haar vriendinne nie al op 15 Maart tande kners weens kommunikasie-kwessies met gelukwensings nie. Woensdag was maar weer dieselle ou storie met seine wat lol en dies meer. Ruime kompensasie bly egter nie uit nie.
Vonkelwyn en southappies laatmiddag onder die tamaaie oewerbome op die uitgestrekte grasperke van die piekniekplek is nie te versmaai nie, veral nie as die bos so verruklik ruig is soos nou.
Teenwoordig om Tokkie met haar 77ste – die sogenaamde twee krukkies (“crutches”in bingotaal) – geluk te wens en boonop ‘n glasie te klink op ons 25 jaar in Sabiepark, was Herman en Rina van Centurion, hul kinders Frans en Michelle Marais (ook Centurion) en jarelange Sabieparkvriende, Frik en Martie Nel van Jakkalsbessie 127 wat feitlik net so lank soos ons Sabieparkers is. Saam met Frik en Martie is ook al vele verjaardae gevier.
Die Le Roux-besoek was nie net speletjies nie. Volgens afspraak het Herman sy ses bultende plakboeke oor ons koerant se laaste sewe dekades as gedrukte koerant saamgebring: ‘n goudmyn van inligting oor Die Volksblad / Volksblad en sy mense, met kosbare kykies, ook agter die skerms. Niks wat elders op skrif is, weerspieël met naastenby vergelykbare omvang of impak die vreugdes, hartseer, triomfe en nederlae van die Volksblad-gemeenskap soos Herman se bundels nie.
Wie’s dood? Wie het uitgestyg? Wie se kinders het presteer? Wie het vreemde dinge oorgekom? Dit is alles daar, onthullend en meesleurend, netjies verpak, ryklik met ‘n duisternis foto’s geïllustreer en in my kollega se beroemde lysies saamgevat: ‘n lys van outeurs, ‘n lys van seniors volgens ouderdomme gerangskik, ‘n lys van wie wat geword het en wat nog.
Daar is ook van sy eie geskrifte waarvan een van die pakkendste vir my sy huldeblyk aan sy oud-buurman die kleurryke Jan Scholtz is. Jy kan sommer aanvoel: hy ken die man. Oor kommentaartjies soos oor my redakteurskap wei ek nie uit nie. Kan maar net meld dat die deurblaai, die kyk en die pik-pik lees van Herman se boeke ‘n opperste Volksbladmens soos ek ‘n weldadige goedvoel-ervaring soos min besorg het.
Wie die boeke gaan erf, is nog onduidelik. Dalk Naln waar die Volksbladkamer pas geopen is? Dalk die ou Ineg? Dalk Johannes Froneman se Mediamense-museum? Wie ook al, bekom ‘n sieraad.
Ook uit Herman se kennis van gevleueldes kon ek weer eens put. Jare lank was ek oortuig ek hoor die swartkop-wielewaal roep. Dan was dit die rooikop-houtkapper. Wat jy hoor, is inderdaad dikwels ‘n duet van twee van di houtkapper-spesie wat mekaar oor ‘n afstand groet. Die vernuftige Kenneth Newman beskryf die geroep soos volg: “Dit begin met ‘n gedempte woerklank ‘skrrr, skrrr, skrrr’, Dan volg die ‘toe-poedelie, toe-poedelie, toe-poedelie’ wat sowat agt keer herhaal word. “ Rooikop-houtkapper natuurlik!
Net jammer die bloukuifloerie het nie gekom nie. Dalk volgende keer?
(Die flukse Frans en Michelle het ons ou mense wonderlik bederf. Vuur maak, braai, drankies aandra, koffie maak, skottelgoed was, foto’s neem – niks was vir die twee te veel om ons klein “reünie”vir ons vier oues gedenkwaardig te maak nie.
Jan 21, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Om ons swanesang ter see en eerste ervarings op ‘n vaart in een asem te noem, klink na ‘n contradiction in termino. Dit is egter nie.
Op ons vaart na Walvisbaai op die Sinfonia was die digte mis vir ons inderdaad nuut. Nooit voorheen op enige vaart is twee nagte lank deur sulke digte mis moes beur nie. Sig feitlik nul. Die bas skeepshoring het op die minuut uit ‘n growwe, diep keel waarskuwings uitgeblêr: Pas op voor, hier kom ‘n lummel met 11 dekke en plek vir meer as 2 000 passasiers. Vergeet van slaap in sulke omstandighede. Nessum dorma!
Terug in die Kaap Vrydagoggend was die mis so dig dat die hawe gesluit moes word. Twee uur lank moes die passasiers soos uile op ‘n kluit sit en wag om aan wal te gaan.

Nog ‘n eerste was ‘n skip met soveel ruimte om te beweeg. Met net 800 passasiers aan boord was selfs die hysbakke stil. Dikwels was jy die enigste gebruiker. By die buffet-tafels op dek 11 was die gewone gedrang vreemd afwesig. Aandetes was nie in die gewone twee sessies nie. Enige tyd tussen 18:30 en 20:30 kon jy gaan aansit.
Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. In 20014 was ons op wat toe die laaste vaart van die skip, in SA waters sou wees weer aan boord om afskeid te neem.
Maar die Sinfonia het weer na Suid-Afrika gekom: ‘n groter en luukser skip nadat ‘n nuwe middelstuk – ook met heerlike balkonkajuite – ingevoeg is. Vir ons was die vaart in balkonkajuit 9175 na Walvisbaai dus ‘n tweede afskeid van die sierlike skip. Maar nou was dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.

Elke ding het sy tyd en plek, soos die Prediker ons leer. Vir my en Tokkie was vaar ‘n vreugde en is talryke herinnerings oor dekades versamel – ook op vaarte na Sydney en Venesië en deur die Suezkanaal op skepe soos die ou Pendennis Castle, die Constellation, die Oceanos, die Queen Mary II – wat ‘n wonderlike skip! – die Sinfonia, die Opera en die Musica. Die drie vaarte op die Sinfonia was die meeste op een skip. Op die Opera was ons twee keer, die ander net een keer elk.
Vir al die skepe, bestaande en nie meer bestaande, hul kapteins en hul diensvaardige bemannings sê ons: Arrivederci en baie dankie vir die groot bederf.
Foto’s: Ons laaste vaart. Saam met ons is ons kinders Johan en Mariza van George.
Dec 6, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Liewe vriende
Stilletjies het nog ‘n Desember – Hennie se 81ste, Tokkie se 76ste en ons twee se 55ste saam – op ons afgekom. Hier is die einde van die jaar op ons. Tyd het aangebreek vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand.
Ons kyk terug met dankbaarheid vir gesondheid, lewensvreugde, plus-minus ons 50ste salige Sabieparkbesoek en heerlike ure op ons bankie langs die see, wyntjie in die hand. In verskeie opsigte was 2022 vir ons ons kinders en kleinkinders ’n bakenjaar. Ons is nou ’n gedenkwaardige kwarteeu lank trotse Melkbossers. Hennie is ‘n kwarteeu afgetree. Die tweeling is 18. Hulle maak matriek klaar en spog met rybewyse (en rygoed). Migael is 16. Christopher is klaar met laerskool.
Hennie is ingenome met erkenning deur sy skool, Volkies op Potchefstroom, in dié se eeufeesjaar. ‘n Skaars Alumnitoekenning is aan hom gerig as “’n lojale oud-Volkie wat hom op ‘n buitengewone wyse in die samelewing onderskei het” – 65 jaar ná matriek.
Vir Tokkie ‘n plesiertjie was dat haar granaatrooi Mercedes – nou 14 jaar oud maar met die aanskyn van ‘n splinternuwe – op die nippertjie by die matriekafskeid moes gaan red nadat twee ander veterane onklaar geraak het. Die rooi impakspeler het geskitter – so dink sy eienares (foto).
‘n Groot lewensskuif vir Johan, Mariza en Migael het begin met die koop van ‘n ruim, mooi huis aan die Wesoewer op Oudsthoorn (foto heelbo) as tuiste vir volwasse outiste. So begin ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe met Migael. Die plan is dat die Legacy Centre vir kinders op George moet voortleef en dat Johan sy ekonomiese aktiwiteite daar uit Oudtshoorn voorsit. Die tradisionele Groot Stap in George se Botaniese Tuin ten bate van die Legacy Centre was vanjaar weer ‘n besonderse okkasie.
In die huis van Marisa van Brent was dit ‘n vol jaar met yslike programme – tog darem ook ruim kans vir die gesin se voorliefde vir kamp.
Die tweeling, Thomas en Jacob, groet Stellenberg met hande vol bekers, pryse, eerbewyse en balkies. Albei het erekleure gekry. Thomas was o.m. die tweede jaar agtereenvolgens die wenner van die Rekeningkunde-Olimpiade van die Universiteit van Johannesburg. Jacob het, soos vyf jaar gelede in graad 7, die skoolhoof se spesiale pryse vir voortreflike diens aan die skool verower (foto).
Christopher wat in Oktober Nederland besoek het, groet Welgemoed Laer o.m. met die gesogte titel ”Mnr. Blessie” (foto onder), as eerstespan-rugbyspeler en as rasieleier.
Wat die nuwe jaar vir ons inhou? Wel, ek en Tokkie vier nog ‘n kwarteeu-baken. Sabiepark is op 15 Maart 2023 ‘n volle 25 jaar in ons besit. Ons vaar in Januarie saam met Johan en Mariza op die MSC Sinfonia Walvisbaai toe voordat hulle na Oudtshoorn trek. Die tweeling word Maties. Thomas gaan na Eendrag en Jacob na Helshoogte. Christopher begin sy hoërskoollewe by Stellenberg.
Dalk – net dalk – kom uit Hennie se pen ‘n laaste boek, weer met ‘n koerantetema.
Uit Penguin Place 11 ons beste Kerswense vir een en almal. Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.
Ons Nuwejaarswense kom uit Psalm 72:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
Hennie & Tokkie
Sep 9, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ironies genoeg moes ons ons laaste vuurtjie op Dinsdagaand 7 September in die agterste lapa aansteek en styf teen die muur skuil teen ‘n snerpende windjie. Later was daar rammelende donderweer.
Die vorige twee aande was dit “swembadweer”. Nou wel net een keer vinnig ingespring maar lekker gewees om skop-skop in die helder water ‘n wyntjie (en ‘n Jagermeistertjie) te geniet.
Hoe ‘n onvervangbare juweel daardie swembadjie is, is opnuut ingeprent. Soos Piet Cillié vir Harry Oppenheimer oor sy Blouberghuisie gesê het, sê ek vir al wat ‘n ryke is oor ons bos-swembad: “You can’t afford it.”
Ons kyk terug op ses wonderlike weke met vele vreugdes waarvan die sagte ontwaking van die lente dalk die grootste was. Dit was heerlik om weer in Sabiepark te kuier en te beleef dat dit in die algemeen goed gaan met ons plek wat ons so na aan die hart lê. In die hart leef die hoop dat daar nog sal wees. Tyd sal leer.
Minder en ‘n kleiner verskeidenheid wild is oor ons werf as wat ons sou hoop. Waar’s die koedoes? Die kameelperd wat kom water drink het, was darem ‘n gedenkwaardige eerste. Klein bokkies – rooibokke, bosbokke, najala-ooitjies en ‘n periodieke duiker – was gereelde besoekers. Die nagapies (en die bosnagape) het ná ‘n sorgwekkende afwesigheid weer hul ding kom doen.
Bloukuifloeries was aanvanklik elke dag om die huis … tot die vangs. Toe vat hulle skrik. Die naguiltjies se klankryke geroep was dalk die konstantste verskynsel. Elke aand het ons minstens enetjie hoor sing. Die laaste paar aande het die paddas by die watergat gekwaak dat dit dreun.
Die elektriese yskas het ‘n element van gerief bygedra wat voorheen ontbreek het, en die sonkrag het kranig meer as die mas opgekom. Die meeste oggende teen tienuur was die batterye vol gelaai. Maar nouja, ons was net twee. Daarvan getuig ook die konserwatiewe gasgebruik – minder as ‘n bottel.
Die Honda se stukkende agterlig – slagoffer van ‘n verdekselse boom – is herstel.
By die piekniekplek het ons een middag hope olifante gesien. Die opwinding met leeus en luiperds het ons telkens misgeloop. Maak nie saak nie. Net om daar langs die Sabie te sit, is ‘n voorreg. Die swartwitpense word bederf met voer by die kantoor. Gaan soek hulle maar daar. Hulle verruil gereeld die bos vir die kort groen gras.
‘n Aspek wat my, ‘n ouer eienaar, werklik bekommer, is die gedrag van ‘n nuwe element in die geledere van Sabiepark-eienaars en hul plesiersoekende gaste wat eienaars wat aan die tradisionele Sabiepark-kultuur vashou, as ’t ware al hoe meer “uitboer”.
Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars. Die swemarea, TV-kamer en selfs piekniekplek is oorstroom. Drank het gevloei en ‘n geswets het voorgekom. Oor onstigtelike Zoom-vergaderings in die TV-kamer het ek dadelik my stem verhef. Ek is dankbaar oor die onmiddellike verbod wat ingestel is. Ongelukkig moet ek rapporteer dat balhorige mense eenvoudig voortgegaan het met die praktyk. Die kennisgewings by die deur is veronagsaam asof dit nie bestaan nie. Van die skuldiges se houding was heel astrant en aanmatigend teenoor mense wat wou TV kyk of in stilte op hul rekenaars werk.
Hoe anders beheer uitgeoefen kan word as deur strenge kontrole weet ek nie. Dit beteken waarskynlik toegangsbeheer – iemand by die hek met ‘n stel reëls in die hand. Maar dit vereis ook volgehoue gedragsbeheer en optrede teen mense wat noodsaaklike reëls na willekeur buig en breek.
Ons leef in ‘n era dat ‘n nuwe geslag mense al hoe meer regte vir hulleself opeis en die regte van ander in die proses vertrap. Hoe om hierdie patroon ten minste t.o.v. Sabiepark om te keer, sal seker nie maklik wees nie. Die wysheid van Salomo word die bestuur toegewens.
Ten slotte ‘n buiging na Tokkie vir alles wat sy daar vermag het. Net die likkewane het haar gewen. HUlle is steeds in die dak. Maar wat in Sabiepark gaan gebeur as sy nie meer haar bekwame en flukse hand so op die plek kan hou nie, weet ek nie.