ALTYD IETS NUUTS

Oggendwandeling.

Uit Sabiepark altyd iets nuuts. In Maart/April 2026 was dit weer so.

Ek en Tokkie maak kennis met die reuse- pootlose akkedis (skink) op die agterstoep. Lyk nes ‘n dikkerige  swarterige slang. Binne 24 uur kry sy jou werklikwaar ‘n tweede op haar gereelde oggendwandeling in Apiesdoring. Morsdood in die pad.

‘n Muskeljaatkatjie is ‘n regte kaatjie van die baan op die stoep. Bring een aand ‘n maat saam. Draf rond of die plek aan hom behoort – tot by my tone – en gee die bosnagape en nagapie opdraende by die piesangtafel.  Bosnagape – een aand was daar drie – kraai egter koning by die kos.

Hier was die “klip”

‘n Klip in die pad is nie ‘n ongewone verskynsel vir stappers nie. Tokkie gewaar een oggend een skaars 50 meter van ons motorpad.  Toe sy nader kom, spring die “klip” op – ‘n “klip” met kolle en grasie. Die luiperd verdwyn in die veld. En Tokkie?  Sy draai om huis toe om doodluiters van die insident te kom vertel en ‘n stok te kom soek. Daar vertrek sy toe op dieselfde roete.

Onder die gevleueldes het die naguiltjie uitgeblink. Die bydraes was van nader as nog ooit gereelder en ewe melodieus as altyd.  Altyd ‘n vreugde by die vuurtjie saam met die sauvignon blanc.

‘n Mens word net een keer 80, maar wie keer jou om dit twee keer te vier? Tokkie se 80ste is behoorlik op Melkbos gevier, omring met kinders en kleinkinders en rondom ‘n spesiale 80-koek al die pad uit George. Twee weke later was viering x 2 in Sabiepark, 2 000 km noord van Melkbos. Feesgenote was die Malans van Pretoria: Cules, Dalene, Pierre, Yvette en Elaine. Pierre se foto’s is, soos verwag kon word, baie besonders.

Sabiepark het die eerste weke gelyk of balies cholorofil rojaal oor hom uitgegiet is, groener en ruiger as wat ons verwag het.  Oral was net loof.  Het gelyk of ‘n mens maar ‘n besemstok ook in die grond kon druk. Dit sou groei.

Die diere het verdwyn in die ruigte. ‘n Swartwitpens-kalf is  half-half deur wuiwende grashalms versluier. Die Sabie het breed bly vloei. Heelwat reën het geval. Een sterk stortbui en verder kiesa, kiesa.

Kaatjie van die baan

Die laaste week het verdorde blare begin neerdaal.  Herfs is hier.

Ai, hoe bly is ons dat ons op hierdie eerste besoek ná die waterskeiding met ons nuwe status as “gaste” van die Claassense die natuurweelde so kon beleef. Hoop daar sal nog wees ondanks die kwynende kragte.

‘n Nuwigheid was stoepstorie-eredienste uit Melkbos op die rekenaarskerm. ‘n Rooiborshoutkapper het sy bes probeer om tred te hou by ds. Faani Engelbrecht se uitkap op die kitaar en ‘n njalabul wat koes-koes tussen die Bosveld-katjiepiering en ‘n gewone pendoring deur is, het op ‘n kritieke oomblik in ds. Albertus Louw se preek my konsentrasie onderbreek

Verder het die kerk op die skerm rustig verloop – ook ‘n keer toe Tielman Rossouw gepreek het. En ons uitsig rondom ons was werklik mooier as in ons kerk.

Tukkies se glorie in die Varsitybeker is met stygende uitbundigheid deur die oud-Tukkie op die stoep dopgehou, in die geselskap van ‘n langasem-muskeljaatkat wat end-uit op die stoepmuur gewaak het.

Haai, akkedis!

Nog ‘n persoonlike plesiertjie was vir die Beeld-veteraan om twee keer in drie dae Beeld se Lesersfoto van die Dag te lewer: een van ‘n sjarmante njala-ooitjie en een van sebras in ‘n ry op die miershoop op die hoek  van Apiesdoring.

By laasgenoemde was die byskrif: Stand in ‘n stryt straaip. So het Oom Boy Louw, legendariese Springbokvoorspeler van die 30’s (saam met Danie Craven, Bennie Osler en so), glo altyd sy spanmaats tot orde geroep. Lyk of die Sabieparkse sebras sy woorde ter harte geneem het. Hulle oefen lynstane op ‘n miershoop op die hoek van Wildevy- en Apiesdoringlaan.

Nie aan my nie, maar aan Sabieparkse diere kom die lof toe.

Altyd uiters bevredigend om na langelaas op gevorderde ouderdom ‘n buitengewone ambisie te verwesenlik. Hoe lank droom ek nie nou al van ‘n koeksister geniet in ‘n swembad nie? Waaragtig, die vakansie doem die besonderse geleentheid vir die 85-jarige op. Saam met my in ons Sabieparkse swembad was Pierre Malan wat boonop ‘n koppie tee in die hand gehad het om die ervaring te verryk.

Naskrif:  Geheimsinnige steungeluide uit die bos ten ooste van die huis is onverklaard. Jy sal Tokkie nie oortuig dat daar nie ‘n vangs was nie. Ek moes net keer of sy is veld-in om te gaan verken.

TOKKIE SE LUIPERD

34 Tokkie-treë ooswaarts van die ingang na Tarlehoet Apiesdoringlaan se kant toe het my dapper vrou vanoggend op haar oggendwandeling ‘n  luiperd in Wilgevylaan, Sabiepark, raakgeloop. In die middel van die pad
Soos ‘n yslike hond het die rustende roofdier daar gelê, massiewe kop op sy pote in die koelte van ‘n knoppiesdoringboom. Sy het my gaan wys waar – maar toe beskut in die Honda. Ek het darem uitgeklim om die foto te neem waar sy staan en beduie (foto 1).
Met ‘n bietjie verbeelding sou ‘n mens hom kon plaas met kop en voorpote duskant die grens met ons buurman, dr. Hendrik van Tonder van Pretoria en torso aan sy kant van die afgesaagde paaltjie wat ek op die grens geplant het.
Dis ‘n klip wat iemand daar gerol het, het sy gedink en aanhou stap, soos altyd op foto 2. Sowat 25 treë weg van die donker voorwerp wip hy orent en verdwyn draf-draf die veld in op buurman Hendrik se erf.
Dis hy wat vir haar geskrik het en nie sy vir hom nie, benadruk sy – en, onthou nou, sy was ongewapen. Eers nadat sy my kom inlig het, is sy met ‘n stok in die hand hier weg, vreesloos weer op dieselfde roete.
Vir iemand wat wil aftree, kyk uit vir Tarlehoet se naambord by die skewe knoppiesdoring. Die 34 treë begin aan die oorkant van die motorpad.
Oor die Van Deventers se luiperd-insidente in 26 jaar in Sabiepark kan ons lank skryf, onder meer oor die een op ons stoep – ja – en ‘n ander by ons lapa. Elke ontmoeting in ‘n straat was egter nog veilig in ‘n motor. Hierdie was die eerste onder vier oë te voet.

‘n DOKUMENT OM TE KOESTER

Bo is Tokkie by die oorkonde op sy ereplek op Melkbos. Onder word dit aan ons oorhandig op ‘n onthaal in die stadsaal in 1988. Links is ons en regs die Neuhoffs, Toeks en Neels.


‘n Swerwer het oplaas tuisgekom, en harte en hande staan vir hom oop. Die swerwer is nie ‘n mens nie, wel ‘n waardvolle dokument.

Ek praat van ‘n sierlike stadsamptlike oorkonde van die stad Bloemfontein aan “Die Volksblad” weens die waarde van die Kunsmark vir die stad in die jare 80.

Die geraamde oorkonde was in ‘n swerwer-fase sedert “Die Volksblad” (later net “Volksblad”) op 8 Augustus 2020 treurig as papierkoerant ophou bestaan het (later ook as aparte digitale produk). Om die een of ander rede is dit nie saam met ander memorabilia NALN toe waar ‘n waardige ”Volksbladkamer” sedertdien ingerig is nie.

Met die oog op Tokkie se 80ste verjaardag a.s. Sondag het die oorkonde sy weg uit Bloemfontein na Melkbosstrand gevind. My vrou was jare lank ‘n gewilde en bewame Mev. Kunsmark.

Waterskade en skade aan die raam is herstel en die oorkonde staan nou op ‘n ereplek in Penguin Place 11.

Die Kunsmark is in 1982 deur die uwe in Koningspark, Bloemfontein, begin. Elk eerste Saterdag van die maand het uitstallers van heinde en ver gekom, selfs oor landsgrense. Meer mense het dikwels daarheen gestroom as wat Saterdagmiddae gaan kyk het hoe Vrystaat oorkant die straat rugby speel. Gemeentes het orrels afbetaal en kerke geverf met eetgoed wat daar verkoop is.

Dalk die spesiaalste herinnering is die vrugtekoek waarmee die Kunsmark sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 gevier het – amper 40 jare gelede. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie). Hier is die volledige resep: 70 kg koekmengsel / 30 kg meelblom / 15 kg suiker / 60 dosyn eiers / 15 bottels brandewyn / 18 kilogram botter / 15 kilogram kersies /9 kilogram neuter.

Tokkie en haar helpers het daardie dag in spesiale mandjies 5 000 porsies koek uitgedeel.

Die stadsamptelike verering was die breinkind van burgemeester Neels Neuhoff. Saam met die oorkonde is ‘n serifikaat van verering op 23 Februarie 1988 aan my en Tokkie oorhandig. Ons bewaar dit ook soos goud.

Die oorkonde is ‘n kalligrafiese pragstuk. Dit is toegeken weens die ”merkwaardige suksesverhaal van die Kunsmark en uit waardering vir die Kunsmark se besonderer waarde vir Bloemfontein en sy inwoners.

“Die Kunsmark dra ‘n aangename beeld van die stad uit tot ver buite sy grense en bevestig weer eens die vrugbare bondgenootskap van dekades tussen die Vrystaatse hoofstad en ‘Die Volksblad’.”

As iemand dalk dink die oorkonde hoort nie op Melkbosstrand nie, hier is ‘n boodskap wat van Gert Coetzee, laaste redakteur van die koerant en as’t ware vader van die kamer by NALN, ontvang is: “Ek is bly dit het by julle uitgekom en vertrou dit graag aan julle toe, ook om te koester en te geniet.” Dankie, Gert.

By die amptelike ontvangs van die oorkonde spreek ek graag ook ‘n woordjie van waardering aan ander staatmaker-bouers aan die Kunsmark deur die jare soos Georjane Oberholzer, Marietjie Gericke, Henriëtte (Anderson) Loubser en Alet Coetzer.

JAAR VAN DIE BIKINI, BIRO, DOLLY, TOKKIE EN ANDERE  

 

15 Maart 1966

Die jaar 1946 se uitsonderlike bydraes tot die wêreld waarin ons woon, was onder meer die bikini, die Biro-pen, die Vespa, sykouse, die Ystergordyn, die VVO, Heathrow-lughawe en Gesina Susara van Wyk, die nimlike Tokkie van Deventer van Melkbos wat vandag oor ‘n week, op 15 Maart, 80 jaar oud word.

Vir my is Tokkie se verskyning op die ondermaanse die topstorie van die jaar. Maar ek erken vooroordeel aan my kant.

Ander nuwe aankomelinge van die Tokkiejaar was onder andere Dolly Parton oor wie se 80ste in Januarie nogal ‘n bohaai gemaak is, Farrah Fawcet-Majors, George Best, Sylvester Stallone, Illie Nastase, José Carreras en Emerson Fittipaldi van elders, asook Whitey Basson, Liedjieboer Anton Goosen (enkele dae gelede), Bles Bridges, Allan Boesak en Steve Biko van hier. Vir ‘n sekere garde sal van die name, indien nie almal nie, wel iets beteken.

Die wêreldbevolking in 1946 was 2 147 000 000. In die afgelope 80 jaar het die syfer nogal geklim. Dit staan op 8,3 miljard.

As motor-entoesias neem ek kennis dat die 1946-model Ford Super Deluxe waarskynlik die jaar se topkar was. Die weelderige Chrysler Town & Country was ook ‘n aanspraakmaker. Massaproduksie van die ikoniese Volkswagen-Kewer het begin.

Onder die boeke van die jaar was “The Pianist” wat ’n onvergeetlike fliek geword het. ‘n Fliek wat die Oscars laat instroom het, was “The Best Years of Our Lives”. Onder die groot name in Hollywood was Gregory Peck, Ingrid Bergman en Lana Turner. Alfred Hitchkock was al op die toneel met die riller “Spellbound”.

Perry Como was topsanger met vier treffers, o.a. “Prisoner of Love”, die nommer-een-lied van die jaar. Bing Crosby en Frank Sinatra was op sy hakke. In Parys het ‘n “Mossie” Edith Piaf gesing: “La Vie En Rose”.

Op sportgebied was name soos Joe Louis (boks), Ben Hogan en Sam Snead (gholf) en Wally Hammond (krieket) prominent. Die lank vergete Fransman Yvon Petra was Wimbledonkampioen.

Aanstaande Sondag, 15 Maart, is nie net Tokkie se verjaardag nie. Dit is ook die heuglike dag waarop ek 60 jaar gelede die verloofring aan haar vinger gesteek het – die mooiste bloem van Bloemfontein het myne geword! Die foto’s hierby is daardie aand geneem.

Dit is verder die Idus van Maart – die 74ste dag op die Romeinse kalender – die dag waarop Julius Caesar in 44 v.C. vermoor is, en die dag waarop Hendrik Verwoerd Suid-Afrika in 1961 uit die Statebond geneem het. Tokkie was toe in standerd agt .

In September 1966 is Verwoerd vermoor. Tokkie was toe twintig. Dit is ook die jaar waarin ons verloof en getroud geraak het. Sedertdien het 60 jaar verloop. Ons is amper by ons diamant-bruilof.

Naskrif: Die bikini is ontwerp deur ‘n gewese motoringenieur, Louis Reard. Die naam kom van die Amerikaanse toetsterrein van die kernbom, Bikini Atoll. Reard het gemeen sy ontwerp het selwers “sterk plofkrag”. Hy het nie misgetas nie, het hy?

NOG 10 GOEIE JARE

Op ‘n tyd het ek en Tokkie groot vreugde daaraan gehad om vir mense na aan ons eie geskepte CD’s vir Kersfees te skenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens.
Ons twee het die snitte saam uitgesoek. Die knap Hildegard Martin van Melkbos het vir die res gesorg. Van ons vriende luister nou nog en laat weet getrou hoe hulle die musiek geniet. In 2016 het ons die praktyk ná 10 jaar gestaak.
In daardie jaar het ons drie bakens bereik: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag. Die tema van ons laaste CD was om klaarblyklike redes: afskeid. Die titel was een woord: Dankie.
Nou het 10 jaar verloop. Tien jaar! Vanjaar, 2026, bereik ons weer drie bakens: my 85ste, Tokkie se 80ste, ons 60ste. Eerste van die drie breek sommer more al aan, die laaste is 363 dae ver.
In die dekade het dinge nie stilgestaan nie. Buiten die veroudering in eie geledere bied die aktiwiteite van die Byl onder vriende nogal stof tot nadenke. Van die 100 gaste wat in ‘n tent op ons gras op Melkbos 2016 se bakens gevier het, is 28 al oorlede: amper 30 persent. Van die 72 wat oorbly, is ver van gesond.
Al is ek self deur ‘n operasie of twee en al loop Tokkie nou met ‘n hart-pasaangeër, al beweeg ek ook al hoe moeisamer met my onontbeerlike kierie, het ons steeds rede om oorvloedig dankbaar te wees.
Op die vooraand van bereiking van more (3 Januarie) se eerste baken van die nuwe bakenjaar se drie betuig ek graag ons dankbaarheid vir vele seëninge in presies dieselde woorde as in die binneblad-teks van ons 2016-CD; ek voeg net telkens die woordjie “steeds” by:
Ons het (steeds) heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens.
Kosbare verbintenisse verryk (steeds) elke dag ons aardse bestaan.
Ons is (steeds) diep dankbaar vir milde genadegawes – totaal onverdiend.
Ons gemoedere is (steeds) gevul met vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndheid. Ons kyk (steeds) vorentoe in biddende afhanklikheid.
Op hierdie CD – die tiende en laaste uit ons stal – is ‘n seleksie hartsliedere. Ons strewe was om met woord en melodie ons wye spektrum van emosies te verklank.
Daarmee sê ons (steeds) vir een en almal: Dankie.