NOG 10 GOEIE JARE

Op ‘n tyd het ek en Tokkie groot vreugde daaraan gehad om vir mense na aan ons eie geskepte CD’s vir Kersfees te skenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens.
Ons twee het die snitte saam uitgesoek. Die knap Hildegard Martin van Melkbos het vir die res gesorg. Van ons vriende luister nou nog en laat weet getrou hoe hulle die musiek geniet. In 2016 het ons die praktyk ná 10 jaar gestaak.
In daardie jaar het ons drie bakens bereik: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag. Die tema van ons laaste CD was om klaarblyklike redes: afskeid. Die titel was een woord: Dankie.
Nou het 10 jaar verloop. Tien jaar! Vanjaar, 2026, bereik ons weer drie bakens: my 85ste, Tokkie se 80ste, ons 60ste. Eerste van die drie breek sommer more al aan, die laaste is 363 dae ver.
In die dekade het dinge nie stilgestaan nie. Buiten die veroudering in eie geledere bied die aktiwiteite van die Byl onder vriende nogal stof tot nadenke. Van die 100 gaste wat in ‘n tent op ons gras op Melkbos 2016 se bakens gevier het, is 28 al oorlede: amper 30 persent. Van die 72 wat oorbly, is ver van gesond.
Al is ek self deur ‘n operasie of twee en al loop Tokkie nou met ‘n hart-pasaangeër, al beweeg ek ook al hoe moeisamer met my onontbeerlike kierie, het ons steeds rede om oorvloedig dankbaar te wees.
Op die vooraand van bereiking van more (3 Januarie) se eerste baken van die nuwe bakenjaar se drie betuig ek graag ons dankbaarheid vir vele seëninge in presies dieselde woorde as in die binneblad-teks van ons 2016-CD; ek voeg net telkens die woordjie “steeds” by:
Ons het (steeds) heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens.
Kosbare verbintenisse verryk (steeds) elke dag ons aardse bestaan.
Ons is (steeds) diep dankbaar vir milde genadegawes – totaal onverdiend.
Ons gemoedere is (steeds) gevul met vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndheid. Ons kyk (steeds) vorentoe in biddende afhanklikheid.
Op hierdie CD – die tiende en laaste uit ons stal – is ‘n seleksie hartsliedere. Ons strewe was om met woord en melodie ons wye spektrum van emosies te verklank.
Daarmee sê ons (steeds) vir een en almal: Dankie.

PLESIER VAN PADKOS

‘n Kostelike stukkie humor in die Bybel is hoe die Israeliete op hul Groot Trek na die “land van melk en heuning” holderstebolder met hul onklaar “padkos” uit die land van die farao vort is.

In Eksodus 12 lees ons hulle het in die pad geval met hul brooddeeeg, sonder suurdeeg, in skottels wat in klere toegedraai is, op hul skouers. Daarmee het hulle langs die pad ongesuurde roosterkoeke gebak.

Ek noem dit humor, nie omdat ek nie ‘n padkos-man is nie – ek is dit inderdaad! – maar oor die ontnugtering wat ek my in my geestesoog kan verbeel oor die reis wat eenvoudig aanhou en aanhou en aanhou… veertig jaar lank. Hoe ‘n erbarmlike kort stukkie van die reis kon hul padkos gehou het?

As selfverklaarde padkos-verslaafde moet ek dalk nie lag nie, maar trane stort. Watter ramp as ‘n ou se padkos opraak terwyl die bestemming nog ver, ver voor jou lê!

Padkos-storie kom na vore toe ek die meegaande foto (onbekende mense, onbekende bron) op Facebook raakloop.

My eerste ervaring van padkos was toe ek en my weduweema. Baby, in die jare 40 per trein van Kimberley vir Oom Danie en Tant Susie op hul plaas in die distrik Paul Roux gaan kuier het. Ons het dan tot op Kaallaagte trein gery, waar Oom Danie ons met sy treppie kom haal het.

Deel van ons bagasie was ‘n kosmandjie en opgerolde beddegoed. Ons kon nie die treinkos in die eetsaal met al sy sliwerware en die netjiese, silwerskoon treinbeddegoed bekostig nie. Ons kos was baie basies – broodjies en frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir my was dit koningskos.

Trouens, elke vakansie by Oom Danie-hulle had twee hoogtepunte: die padkos en die spogperde wat hul koppe so gooi in die tuig voor die treppie.

Die mandjies van ryker mense – so het ek gehoor – het o.m. ook ingesluit: koue hoender, skaapboud en heel biltong wat met die knipmes gekerf word. Ek was nie eens jaloers nie.

In n stadium – toe ek student was en daarna – is met “padkos” bedoel die paar biere wat saamgery is om langs die pad die dors in toom te hou. Ek het niks teen bier nie – maar met die wyser insig wat later gekom het, besef ek nou om bier padkos te noem, is ‘n belediging vir laasgenoemde!

Gelukkig trou ek toe met Tokkie. Sy is ‘n padkos-kampioen. Ons eerste reise is aangepak met eierbroodjies, botterbroodjies, biltongbroodjies, frikkadelle, worsies, pruime in spek toegedraai en minstens een lekker soetdingetjie soos ‘n ystervarkie of konfyttertjie saam met die koffiekan in ‘n mandjie aan haar voete.

Later het die koffiekan een van die moderne flesse geword wat jy net bo kon druk om die koffie te laat uitspuit.

Tokkie se padkos het my so bederf dat ek nie kan wag om my tande daarin te slaan nie. Ons is nog nie n blok weg van die huis af nie, dan verneem ek al: “Wat van ‘n eierbroodjie” ? Daarna is my kake vir die res van die reis omtrent nooit stil nie.

Met die koms van die kleinkinders het die padkos se karakter nie juis verander nie, net die volume. Nuwe elemente het darem ook bygekom, soos vrugtesappies en jogurt. Die tweeling, Jacob en Thomas  Claassens, was klein so versot op padkos soos hul Oupa. Daar was amper in kompetisie in die motor oor wie eerste die groot vraag gaan opper.

Vir “groot etes” is by Ultra-Cities en daardie klas geriewe stilgehou. Ons soek dan ‘n tafeltjie onder ‘n koelteboom op. Die kos kom uit ons eie mandjie aan Tokkie se voete – nie uit die kitskoskombuise nie. Vir versnaperinge wat ry-ry geniet word, word lappies en plastiekbakkies ingepak. My vrou hou nie van krummels in ‘n kar nie!

Ek verwonder my nou nog oor wat alles iemand soos Tokkie in die beperkte voetspasie aan die passasierskant van die motor kan huisves. Tot die kindertjies se strandemmers is soms daar ingedruk.

By geleentheid, jare der jare gelede,  het die omvang van die uitdyende “voet-bagasie” ‘n ligte irritasie by haar veroorsaak. Ek onthou ‘n keer toe ons ons met n motor wat kreun onder al ons vakansie-bagasie by ‘n rylopende weermag-outjie in uniform verby is.

“Stop en laai hom op,” gebied mev. Van D.

“Waar moet hy sit?”

“Sommer ook nog hier by my voete!”

‘n Padkos-kultuur wat ek in my later jare eers leer ken het, behels dat jy by jou bestemming moet aankom met ‘n voldoende voorraad om jou gashere te laat verstaan jy is nie sommer ‘n elkedagse hierjy nie.

Lydia, ‘n Sotho wat in lewe by ons gewerk het, was ook van Paul Roux, soos Tokkie se ma, Marietjie, en my Oom Danie-hulle. Elke tuisbesoek per “Shosoloza Meyl” was ‘n uittog waarvoor dae voor die tyd hoenders gaargemaak is: twee vir die reis en twee vir die uitklim.

Lydia se padkos het vir my heerlik gelyk. Ek is net bevrees: as ek sou saamry, sou vir die uitklim niks oorgebly het nie!

 

‘n SPROKIE VIR TOKKIE


Ken jy die sprokie van die kleure van die reënboog wat mekaar in ‘n epiese wedloop die stryd aansê?
Oor berge en deur dale jaag hulle mekaar: rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en pers, Dan is die een voor, dan die ander. Met die wenpaal in sig breek rooi weg.
“Rooi! Rooi!” bulder die skare. Rooi breek die lint. Hy kry die wennersmedalje om die nek.
Ken jy die sprokie nie? Moenie sleg voel nie. Al plek waar dit bestaan, is in die ou man se verbeelding.
Al van eergister af is hy egter begeesterd met rooi. Eers het die “bloedmaan:”gekom en gegaan. Toe breek 15 Maart aan: Tokkie se verjaardag. My vrou betree haar laaste jaar as 70-plusser. In 2026 rol die sewe om en word ‘n agt.
Rooi is natuurlik haar kleur. Vir haar het ek ‘n keer ‘n versie geskryf:

Tooi jou in rooi,
my rooibloedvrou,
om my vir altyd
aan jou voete te hou.

En tooi sy haar nie graag in rooi nie. (Onthou die rooi baadjie!) Hoe groter die okkasie, des te rooier trek sy aan. Die oorheersende prentjie van haar in my kop is as bruidsmoeder met die dieprooi vollengte-tabberd – veel rooier as die rooi van ‘n “bloedmaan”. Later skop sy hom uit. Dis nou langbroektyd – ewe rooi, ewe mooi.
Toe Tokkie 60 geword – ook al 19 jaar gelede – het wyle kollega Ollie Olwagen vir my ‘n stylvolle webblad ontwerp om daardie mylpaal te vier. Rooier kan ‘n webblad nie.
Nadat ek gewik en geweeg het, het die besluit maklik gekom: dis die regte illustrasie vir vandag. Dan dien dit sommer ook as hulde aan daardie uiters kreatiewe kollega wat enkele weke gelede ter ruste is.

MY GROOTSTE OLIFANTSKRIK

‘n Vriend stuur die skrikwekkende video van die olifant-tirade in Zambië – die noodlottige aanval op ‘n safarivoertuig waarin ‘n bejaarde Amerikaanse vrou dood is – met die vraag daarby: Wat was jou grootste diereskrik nog in die Wildtuin?
Die vriend is bewus daarvan dat ek in my 26 aftreejare letterlik al honderde keer deur die Paul Krugerhek die wildtuin binne is, al was dit net om in Skukuza kerk toe te gaan of ‘n koerant te gaan koop (in die goeie ou dae).
Hy maak nogal ‘n gewoonte daaraan om met sulke soort vrae half verlore herinneringe te herwin.
Ek kon hom dadelik antwoord. Ook ‘n olifant-insident gewees. Dag en datum is in my geheue gegrif: 24 Junie 2017.
Die Van Deventers, ek en Tokkie, was op pad terug Sabiepark toe na ‘n heerlike saamtrek van oud-Kollegemanne van so iets in die 60 jaar gelede in die boskamp Balule by Olifants.
Ons kom in ons Honda’tjie (so ‘n regop 1999-CR-V) via Onder-Sabie op die H4-1 Skukuza toe – ‘n doelbewuste draai. Ons het lanklaas die gewilde rivierpad verby die welige oewerbos langs die Sabierivier gery. Kort-kort kry ons olifante. By ‘n skerperige boog tussen die piekniekplek Nkuhlu en die hoogwaterbrug moet ek juis weer weens drukke olifant-teenwoordigheid aan weerskante stadiger ry.
Skielik, in n oogwenk, kom ‘n bewegende swart muur van voor op ons afmarsjeer. ‘n Teeltrop van dalk veertig (wie tel as jou hart in jou keel klop?) kom onheilspellend in die natterige teerpad na die weerlose Honda aangeslof. Alle groottes en ouderdomme.
Die voorhoede is minder as 20 meter – dalk nader – van ons af. Ondeurdringbaar, dreigend en onontwykbaar. Jy sien net ‘n see van skurwe lywe, tande en pote wat lyk of dit met elke afgemete tree al hoe groter en swaarder word.
So ‘n intimiderende olifant-optog het ek in my lewensdag nie aanskou nie. Wat nog van uit daardie ongemaklike hoek en op daardie uiters bedrywige stuk van die Wildtuin se “hoofweg” waar die motors vakansetye soms buffer teen buffer ry!
Ek trap haastig rem en swaai die neus veld se kant toe; vat-vat na die Canon langs my. “Los die kamera,” fluister Tokkie egter dringend. “Jou lewe is meer werd as ‘n foto.”
My vrou het ‘n punt beet, besef ek. Die situasie is uiters delikaat. Minstens ‘n halfdosyn babas van plus-minus-speenoud is in die groep. Die geringste prikkel – soos ‘n flits of die klik van die sluiter – kan humeure laat opvlam.
Magteloos sit ons toe daar in ons kleine silwer staalkokon, roerloos gespanne soos snare, terwyl die olifante te vinnig nader kom vir enige gemoedsrus – met wiegende lywe, asook koppe en slurpe wat heen en weer slinger.
Die leier en haar geleide beweeg gelukkig ietwat na links om ‘n botsing te vermy. Die ander volg gedienstig in haar spore, vatafstand van die gryse bestuurder agter die stuurwiel verby. Jy ruik net olifant.
In die agterhoede is ‘n kalfie wat in die skerp westeson ekstra donserig lyk, haar ma en ‘n spelerige jong bul met nog kort, reguit tande. Die kleinding – Tokkie wil hulle altyd net optel! – steek skielik vas en soek-soek met haar slurpie vir ‘n paar slukkies melk. Dit bring die mamma tot ‘n halt. Daarna maak baba doek, soos my vrou dit stel, net voor die snoet van die kar.
Die jong bulletjie vertoef ook en lyk min lus om hom van koers te laat dwing. Eers mik my kant toe met die tandjies skuins bokant my kop. Beweeg toe effens links tot voor die motor en betrag die spulletjie iesegrimmig deur sy skrefiesogies. Dit lyk of die jongeling op twee gedagtes hink.
Op daardie oomblik kom die ma in beweging. Sy en baba onskadelik verby. Bulletjie gee ons ‘n laaste kyk en volg. Die laaste swart lywe wat ek sien, genadiglik, is in my tru- en syspieëltjie.
Die Honda skiet uit sy spore, verby die motors wat van die Skukuzakant opgedam het. Van die insittendes lag breed. Party wys duim in die lug. Ek skat van hulle was ook maar doodbenoud dat ‘n treurspel hom daar voor hul oë gaan afspeel. Maar toe nou nie. (Die foto is deur ‘n Hollander, presies die toneel wat ons gesien het.)

NOOIT, MY TOKKIE IS GEEN NARE tokkie NIE

Tokkie is ‘n afkorting vir Tokkelossie: my vrou se vroeggestorwe pa, Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n klein kortetjie was dat sy onder ‘n bed sou kon deurstap – of nou dit op bakstene staangemaak is of nie.

Vir my is dit nogal ‘n oulike naam, amper 60 jaar al. Dié dat ‘n Nederlander my wind uit my seile vat toe hy met Rotterdamse brutaalheid vir my sê: In Nederland is dit ‘n naam wat niemand wil hê nie.

Ek kon net skaapagtig glimlag. Navrae by ‘n Nederlandse vriendin werp lig op die aweregse opmerking.  As jy in Nederlands ‘n Tokkie / tokkie genoem word, is dit geen kompliment nie, lig sy my in. Trouens, jy is ‘n taamlike “gaggamens”. Sy stuur ewe hulpvaardig insiggewende leesstof oor die onderwerp.

Daaruit blyk dat die woord Tokkie / tokkie vir ‘n jafel, ghwar, lunsriem, gomtor, plotrot, bokslagter of wat ook al jy so ‘n onplesierige karakter in Afrikaans wil noem, van die Nederlandse van (“achternaam”) Tokkie afgelei is.  Die negatiewe konnotasie het sy oorsprong in 2004 in ‘n sogenaamde werklikheidsprogram op Nederlandse TV met die titel Familietrots.

‘n Amsterdamse gesin met die van Ruijmgaart-Tokkie (bekend as die Tokkies) tree in die program na vore as die onaangenaamste van onaangename bure of EPH’s: “Extreem Problematische Huurders”; mense wat so ‘n oorlas van hulleself maak dat niemand kans sien om langs hulle te woon nie.

Van die ongure TV-gesin heet in werklikheid slegs die moeder, Hanna,  Tokkie. Die ander bloedverwante gebruik pa Gerrie se van Ruijmgaart. Maar – snood onregverdig of nie  – is dit die moeder se van wat die gelag moet betaal.

Deur die doen en late van die Ruijmgaarts op die skerm word Tokkie/ tokkie ‘n sinonieme selfstandige naamwoord vir anti-sosiale gedrag.  (Die Engelse woord hooligan het glo voorheen dieselfde pad van onskuldige van tot ‘n beledigende stukkie skeldtaal geloop, maar dit net terloops.)

 

In Nederland beur die onvleiende gebruik van Tokkie / tokkie mettertyd vir hom ‘n pad as gangbare begrip oop nie net tot in die algemene spreektaal nie, maar later tot in die gesaghebbende woordeboek Van Dale en in 2016 tot in die woordeskat van die destydse premier Mark Rutte. Albei laasgenoemde ontwikkelinge maak, soos verwag kon word, opslae.

In 2019 eis die veronregte Ruijmgaart-Tokkies van Van Dale Uitgevers 50 000 euros vir die besmetting van hul trotse familienaam. Wat van die eis geword het, weet ek ongelukkig nie. Die internetspoor loop dood.

Die Mark Rutte-geskiedenis is wel deeglik opgeteken.  Die premier word deur ‘n amateurhistorikus Lion Tokkie (onverwant aan Hanna) voor die bors gegryp nadat hy die begrip meermale gebruik om mense wat rassistiese beledigings rondgeslinger het, te veroordeel.

Hy voel ernstig gekwets en diep beswaard, skryf Lion Tokkie aan Rutte, en sy kritiek val nie op dowe ore nie.

“Laat ik vooropstellen dat ik uw gevoelens heel goed begrijp. Het is gewoon niet leuk of prettig als je achternaam in een negatieve context wordt gebruikt,“ antwoord die premier boetvaardig. “Het is absoluut niet mijn bedoeling u verdriet te doen. Ik zal uw achternaam niet meer gebruiken als typering voor mensen die in mijn ogen geen positieve bijdrage aan de samenleving leveren.”

Lion Tokkie was verheug oor die reaksie. “Hij zegt impliciet dat hij spijt heeft. Excuses hoef ik niet te hebben, ik vraag vooral begrip. Niemand realiseert zich dat er een familie achter de term ‘tokkie’ zit. Ik was als de dood dat het als oneliner in de campagne voor de verkiezingen gebruikt zou gaan worden.”

Dit sal seker niemand verbaas nie dat die uwe se simpatie in onderhawige saak vierkant by de Ruijmgaarts en Lion Tokkie is.  ‘n Tokkie / tokkie kan mos nooit iets sleg wees nie, buiten dalk in die oorspronklike inheemse vorm van ‘n tokkelossie, daardie harige, kwaadwillige, kabouteragtige, skepseltjies wat met sangomas, of toordokters, geassosieer word en teen wie met soveel bakstene (of verfblikke) onder soveel Suid-Afrikaanse beddens beskerming gesoek word.