Nov 6, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In Volksblad en op Netwerk24 kry ek toe vanoggend n lekker verrassing – ‘n vriendelike artikel deur my vriend en staatmaker-kollega Sarel Venter, ‘n vorige adjunk-redakteur. So skryf Sarel oor my aanstaande 80ste en die boekie waarmee ek dit vier:
Aan die vooraand van sy tagtigste verjaardag het nog ‘n boek van Hennie van Deventer die lig gesien. Sy twintigste in byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers (stet), nadat hy onder meer 12 jaar redakteur van Die Volksblad was.
Hy het oor ‘n verskeidenheid temas geskryf: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere, reiservarings.
Sy koerantverbintenis is vir hom onuitwisbaar. Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ‘n gedenkboek, Koerant. Dit is ‘n selfpublikasie met voorlopig ‘n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.
In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – einde as gedrukte koerant – nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die kapstok vir die boek. Die rou is ‘n vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.
Hoekom woel hy nog so op 80? Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee. Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar. Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke. Wat anders? Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself. Ek pak nie veel ander dinge aan nie. My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ‘n uitlaatklep. Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saam gesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer…
‘n Fokus in hierdie boek? My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette. Ook onvergeetlike karakters agter die skerms. En hope humor. Sonder ‘n sin vir humor sal ‘n koerantmens moeilik oorleef.
Geliefkoosde nuusonderwerpe? Alles wat nuus is. Versot op politiek, op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”), en op elke ander nuusonderwerp.
Sy hebbelikhede? Ander moet liewer oordeel. Ekself is bewus van ‘n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ‘n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.
Sy voorliefdes? Ek het drie groot passies: koerant, die bos, reis (veral vaar). Hy borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van sy boeke het koerantonderwerpe.
Die bos? Hy is gek na Sabiepark, waar hy ‘n boshuis net langs die Krugerwildtuin het. Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember/Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. Sy nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.
Reis? ‘n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd. In sy Niemanjaar by Harvard het hulle Amerika platgery. In die laaste jare het hy verslaaf geraak aan vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in sy boek Na verre hawens. Jare gelede het hy ook ‘n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).
Hy het ‘n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”). Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens. Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.
Sy afkeure: Hy haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ‘n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” uit hul duime suig. Moet ook nie dink hy sal afval eet en simpel TV-sepies en –storietjies kyk nie.
Hoogtepunte in sy lewe: Die redakteurskap van Die Volksblad op 39 in 1980. Dit het ‘n ambisie verwesenlik wat hy van sy eerste dag by die koerant gehad het.
- Nieman Fellowship aan Harvard 1976/77 – ‘n plek wat drup van tradisie en karakter.
- Phil Weberprys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
- Sy bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek “The Lost Boys of Bird Island” met agt kritiese briewe in koerante.
- Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Felllowship) – die eerste aan ‘n Afrikaanse mediamens in 1998.
Teleurstellings: Die keldering van Volksblad as gedrukte koerant. (In Koerant brei hy uit op die tema). Nog ‘n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark nek-om te draai.
Ten slotte ‘n paar dinge waarvan hy die vader is: Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies, die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (wat toegeken is aan joernaliste wat oor Covid-19 geskryf het), die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die jaar-wedstryd.
Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe. He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”
Nov 6, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Gesellige lekkerleesboek gekenmerk deur ‘n vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. So beskryf my jarelange kollega met ‘n “verbete wanderlust” in sy bloed, Sarel Venter, my nuwe boek “Na verre hawens” (Naledi, 2019) in ‘n heerlike saamgesels op Litnet. Geniet ook die humor, voeg hy by.
Sarel skryf:
“Beskrywings van reise na verre lande en hawens het my van my kinderdae af bekoor. Ek was nog in die laerskool toe ek Daar ver oor die see deur “Tannie” op my moeder se boekrak ontdek en byna verslind het danksy ’n verbete nuuskierigheid en ’n honger wanderlust. “Tannie” was die skuilnaam van H van Heerden. Sy vertel van ’n reis per skip, byna ’n eeu gelede, van Kaapstad na Europa. Dié kosbare boek met foto’s is in 1929 deur Nasionale Pers uitgegee en word as Africana gereken.
“My wanderlust is verder aangewakker deur vertellings van my oom wat as soldaat in die Tweede Wêreldoorlog per skip van Durban af deur die Suezkanaal na Egipte en later Italië gevaar het … en na die oorlog veilig teruggekom het.
“Sulke reisbeskrywings, veral per skip, is gewilde leesstof by hierdie leunstoelreisiger, en laat by my die ou kinderliedjie opduik: “Eine Seefahrt die ist lustig, eine Seefahrt, die ist schön, denn da kann man fremde Länder und noch manches andere sehn. Hol-la-hi, hol-la-ho…”
“Hennie van Deventer se hoogs leesbare blogs oor verskeie reise wat oor sowat vyf dekades per skip onderneem is, het nou ’n boek geword; ’n boek wat geroep het om “te water gelaat” te word. Na verre hawens – sy jongste (en negentiende) boek – het pas by Naledi verskyn.
“Toe seereise op luukse skepe langs die Suider-Afrikaanse kus alledaags begin word het, het ek ook vir my en my vrou op so ’n vaart van Durban na Maputo en verder met die Sinfonia bespreek, maar ons skip het nie gekom nie weens onvoorsiene siekte. My belangstelling in hierdie reise het nie afgeneem nie en ek het ontdek dat ’n mens op die internet kan gaan kyk waar die skepe hulle bevind. Probeer dit gerus. Tik byvoorbeeld “Where is the Sinfonia now?” op Google in en jy kry ’n blik op die wye oseaan en byvoorbeeld die skip se swembad uit ’n kamera hoog op die skip, of sien self hoe lyk die omgewing van so ’n skip waar dit in ’n hawe vasgemeer is.
“Met die tik hiervan was die Sinfonia by Santorini in Griekeland en op die punt om na Split in Kroasië te vertrek.
“Met nostalgie, en ook met humor, vertel Van Deventer van byna elke reis – met vaartuie oor die spektrum: van die klassieke en weelderige Queen Mary 2, van gesellige vakansieskepe, plesierbote, veerbote, rivierbote, jagte, skeertuie, motorbote; ook van doodgewone skuitjies. Maar kom ek deel ’n paar lusmakertjies met voornemende lesers:
- Die Pendennis Castle, die kroonjuweel van die Union-Castle-vloot: Hierdie reis van Kaapstad na Durban in 1970 was die Van Deventers se nooiensvaart. Hy vertel met nostalgie en ook met humor van hierdie vaart. Maar tien jaar later is “ons skip” in ’n Taiwannese hawe afgetakel. Seker die lot van byna elke skip wat nie onder die golwe verdwyn nie. Gereduseer tot ’n hoop afvalmetaal. Stof tot stof, swierigheid tot skroot.
- Die Sinfonia klink na die Van Deventers se gewildste skip waarmee ’n hele paar reise onderneem is – voordat die weelde-vaartuig middeldeur gesny is om ’n stuk skip so groot soos ’n woonstelgebou in te las! En weer die oseane aan te durf … Met hierdie skip het hulle ’n byna sentimentele verhouding opgebou.
- Die Sinfonia-vaart met hul tweeling-kleinseuns, wat toe 5 jaar oud was, staan uit, en gee soveel plesier. Van Deventer skryf: “Die sorgvrye ure saam met die kinders op die dek sal dié oupa vir niks verruil nie”. En verder: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ’n Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ’n salige plek is om op te vertoef.”
- Die reis van 22 dae op die Queen Mary 2 – van Kaapstad oor Durban, Mauritius, Fremantle en Melbourne na Sydney – was onvergeetlik en ’n groot deel van die boek handel oor wat op so ’n droomvaart op jou wag. ’n Pluspunt van hierdie boek is dat die skrywer nie net van al die voortreflike dinge op die skip vertel nie, maar waar moontlik ook uitbrei oor die besienswaardighede van die “verre hawens” waar die skip aandoen. ’n Reis op die ontsagwekkende Queen Mary 2 word ’n voyage en nie ’n cruise nie genoem. Mindere skepe, selfs groter as die Queen Mary 2, is vakansieskepe, nie ocean liners nie.
- Twee ander lang reise waarvan Van Deventer vertel is dié met die Opera langs die weskus van Afrika, deur die Straat van Gibraltar en die Middellandse See na Malta (’n besondere ervaring wat gelees moet word) en toe verby Griekeland na hawens langs die mooie Adriatiese See tot by Venesië. Later volg die vaart wat hy hul laaste seereis noem met die Musica van Durban na Venesië oor Reunion, Mauritius, die Seychelle, Aqaba (deur waters met die risiko van seerowery), Katakolo in Griekeland, Montenegro en Split in Kroasië. Die vaart deur die Suezkanaal met woestyn aan weerskante was dalk die aanloklikste hoogtepunt. Die hoofstuk oor die vaart deur die Suezkanaal is self ’n uiters insiggewende deel van die boek.
- Waardevolle raad en wenke aan toekomstige seevaarders word in hierdie boek gegee. Onthou, dit is ’n gesoute seereisiger wat aan die woord is. Na al die seereise en ervarings kan Van Deventer met gesag praat oor die vereistes wat aan liggaam en gees gestel word, fiksheid, gesondheid, gerief, vasbyt in versoekings van oorvloedige kos en lekkernye, privaatheid, versterking van gesinsbande, begroting vir ’n reis, ens.
“Hierdie gesellige lekkerleesboek word gekenmerk deur Van Deventer se vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. Geniet ook die humor, soms op homself gerig. Net jammer dat die boek nie meer foto’s bevat nie.”
Dankie, Sarel.
(‘n Vinnige, maklike manier om ‘n boek te bekom, is by www.naledi.online. Die kontakpersoon is Tertia Swart (tertiaswart@naledi.online, selno. 078 648 8616. Die boek kos R200. )
Nov 23, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sarel en Liesbeth Venter

Die lang tafel

Die sitkamer
In die Evangelies van Mattheus, Markus en Lukas lees ons van die wonderbaarlike mosterdsaadjie. Nietige saadjie soos dit is, word dit ‘n boom met takke waarin die voëls van die hemel kom nes maak.

Komweer
Van so ‘n mosterdsaadjie wil ek vandag vertel. Dit is die een waaruit die Volksblad-saamtrek van veterane van twee weke gelede gegroei het. Uit elke windrigting het hulle as ‘t ware in die takke van die boom in Bloemfontein kom nes maak.
Die saadjie was die verskyning op my skerm van ‘n foto wat nie vir my bedoel was nie. Sarel Venter, kollega en vriend van baie jare, het dit en ‘n paar ander in hul huis in Fichardtpark, Bloemfontein, geneem om hul verre kinders in Adelaide, Australië, aan hul ouerhuis te herinner.
Toe hy die knoppie druk, beland dit onverklaarbaar, op digitale kronkelweë wat vir ons generasie se mense vreemd en onverklaarbaar is, ook in die uwe se in-mandjie.
Ek maak ‘n foto oop, herken die omgewing dadelik, en laat weet vir Sarel: “Ek ken daardie plek.” Sy e-pos kom terug: ja, dit is die Venters se sitkamer; “Kom kuier”. Ek, nie links nie: “Wat van ‘n saamtrekkie in Bloemfontein? Ek sal ry.”
Toe ek weer sien, begin die e-posse heen en weer vlieg.
Uiteindelik is 60 plekke op Saterdag 11 November in die Santa Ferestaurant by die Oorlogmuseum gedek. Die Vrydag het ons al begin kuier met ‘n tee (en ‘n glasie vonkelwyn) by Volksblad. Die oudste onder ons was Oom Gert Terblanche (95). Daar was ook kollegas van in die 80. Ons “jongklomp” van in die 70 was volop.
Die Van Deventers was so bevoorreg dat ons nie net weer met die gasvrye Venters se sitkamer kennis gemaak het nie. Ons was soos konings in die hoof-suite van hul gesellige en gewilde gastehuis in De Jagerstraat, Komweer. Ons het aangesit aan hul gulle tafel. Sarel, Liesbeth en hul jongste dogter Mart-Marie het ons van ‘n kant af bederf.
Die Vrydagaand het die hoofredaksie van my tyd (en ook in die termyn van my opvolger, Johan de Wet), saam in die tuin en om die lang tafel op een van die stoepe van Komweer gekuier.
Toe ek die eerste keer vir Sarel laat weet “ek sal ry”, het ek klein gedink: net in terme van so ‘n intieme saamtrekkie soos dié van die Vrydagaand. Maar Sarel het “skouers oopgemaak” (my uitdrukking van destyds om oor te dra dat ons op die voorblad van ons koerant ‘n groot storie moet hard slaan.)
Ongelukkig het ek vergeet met hoeveel veterane Sarel kontak gehad het. Dit was baie. ‘n Klomp sou wat wou gee om ook daar te wees. Afstand, omstandighede, ander verpligtinge en – helaas – ook ouderdom het hulle gestuit.
Maar die mosterdsaadjie het inderdaad geil gegroei. Om in sy takke te vertoef en twee dae in sy koelte deur te bring, was verkwiklik. Dankie, Sarel en Liesbeth.
(Kontakbesonderhede: 051 522 3778, selfoon 083 7090 684, faks: 0866708251 of e-pos: ventersg@mweb.co.za)
Apr 7, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Om op ou voetspoore terug te loop, is vir my ‘n hartsaak.
Ek is ‘n reünie-man en gaan loer graag op Volkies en Tukkies by my ou klas- en koshuiskamers in. Ek gaan soek my geboortewêreld in Kwazulu-Natal op en trotseer dongas om op die werf van ons plaashuis naby Babanango te kom. Ek gaan kyk hoe lyk die Diagonalstraat 10, Kimberley, Botanic Grove 9, Berea, Durban, en Neeltjiestraat 20, Meiringspark, Klerksdorp van my kinderdae.
As ek in Bloemfontein kom, sal ek nie die geleentheid laat verbygaan om weer by Kmdt. Senekalstraat 33 en Van Schoorstraat 1 in Dan Pienaar ‘n draai te maak nie. As ek op die N1 verby Johannesburg ry, draai ek af Maroelastraat 3 (eers 936), Randparkrif 3 toe.
Sou wat wou gee om verlede week saam met tydgenote Sarel Venter en Piet Theron by Volksblad ‘n vleisie te gaan braai ter ere van ons kollega Nols Nieman wat jonk-jonk op 60 oorlede is. Die twee het nie net lekker saam met die jongklomp gekuier nie; hulle is ook op ‘n begeleide toer deur die gebou geneem. Dit was klaarblyklik ‘n openbaring.
Sarel skryf: “‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek by die motorhek van die parkeerterrein oos van die gebou inry. ‘n Veiligheidswag, duiwelsvurkheinings, parkering waarvan die meeste onderdak is, netjiese plaveisel en beheerde toegang na die gebou. Ek was meer as twaalf jaar laas daar waar ek 36 jaar gewerk het.
“Dadelik het my gedagtes teruggegaan na my eie parkeeromstandighede van lank gelede: eers oorkant die straat (waar ons gewedywer het vir die skaduwee van die Monte Carlo-teater), toe iewers langs strate sonder parkeermeters, toe op Ramblers se terrein onder ‘n afdakkie (waar my motor eendag oopgebreek is), later aan die oostekant van Ramblers onder nette, ‘n paar maande tussen die redakteur en die bestuurder se motors onder die afdak by die Volksblad-gebou, en toe tot my aftrede weer onder die Ramblers se nette, aan die einde van ‘n donker paadjie langs Wes-Burgerstraat.
“”Dit lyk vir my of die meeste van die mense wat vandag by Volksblad werk, op hierdie betreklik nuwe, veilige en gerieflike terrein parkeer wat van straat tot straat strek. Die ingang van die parkeergebied na die gebou is aan die oostekant van die ou binnehof met sy groot boom (karee?) en ‘n grasdaklapa.
“Die rede vir my (en Piet) se besoek na so baie jare was ‘n uitnodiging deur Gert Coetzee om wyle Nols se lewe te kom gedenk met ‘n braai. Dankie aan Gert, Dirk Kok en Pieter Steyn.
“‘n Klompie jong Volksblad-werkers van die vroulike geslag was ook dadelik by om te hoor wie is ons. Die ‘aangename kennis, Sarel!’ en ‘bly te kenne, Piet!’ uit vrolike kele wat al ‘n bier of wat geniet het, het later darem ‘oom Sarel’ en ‘oom Piet’ geword. Meen, hulle is mos maar eintlik kinders teen ons! Een het vertel dat sy by die ontvangstoonbank werk, ‘n ander een kom van sirkulasie af en nog een van advertensies.
“Bekendes daar was ook die tegniese manne Kobus (of Torie) en Jackie – al sterk middeljarig.
“Toe ons later die aand groet was genoemde dametjies en ‘n paar ander nog gesellig aan die kuier in die opleidingslokaal langs die binnehof. En toe een sê sy wil ‘n drukkie hê, het die ander ook ewe vrypostig daarvoor nader gestaan. ‘n Vreemde wêreld, inderdaad!
“Nog voordat ons tjops en wors, broodrolletjies en aartappelslaai – wyn en bier was op die huis, lyk dit vir my – gereed was, het Gert vir my en Piet op ‘n toertjie deur die gebou geneem. Werklik nóg ‘n vreemde wêreld. As ons destyds gedink het die vernuwings en herindeling van ruimtes onder leiding van argitek Fanie van Jaarsveld jare der jare gelede was iets groot, het ons nie kon droom oor wat later en herhaaldelik weer in die gebou gedoen is nie.
“Ek kon min dinge sien wat bekend lyk, en sou heeltemal verdwaal het as Gert nie saam met ons was nie. Die brandkamer se deur is nuut geverf, maar is nog dieselfde. Die traprelings is nog goed versorgde hout; weet nie of dit al vervang is nie. Die ou ‘stuurkas’ wat later die konferensiekamer geword het, met die lang tafel wat destyds in administrasie vir sortering van pos gebruik is, staan nog daar, maar die mure is vol moderne skilderye en selfs ‘n reuse-platskerm waarop foto’s vir keuring tydens nuuskonferensies vertoon word.
“Die redakteursfoto’s wat in ‘n stadium uit die redakteur se kantoor verwyder is omdat dit kwansuis ‘spoke uit die verlede is’ , het teen die straatkantmuur van die konferensiekamer gehang. In Ainsley Moos se tyd is daardie hele muur met glas vervang en is die foto’s na die gang verskuif. Daar, regoor die deur na die redakteur se sekretaresse, is dit myns insiens meer prominent en ‘n waardige galery van foto’s.
“Ook goed om te sien: die talle uitstalkaste met memorabilia. ‘n Blye weersiens vir my was die klein ossewaentjie wat in 1988 deur die FAK aan Die Volksblad toegeken is vir die beste beriggewing oor die 150-jarige herdenking van die Groot Trek. Nog in sy glaskas met ‘n geraamde hoofartikel, ‘Ons hartklop’ , daarop aangebring. Die waentjie was glo lank iewers weggebêre nadat dit dalk om politiek korrek te wees, van ‘n prominente staanplek by die trappe verwyder is.
“Oral is groot oopplanruimtes. In die nagkantoor waar Nelia Grobbelaar steeds hoofsub is, is net ‘n paar vroue saam met haar. Ek verneem die dagsubs onder leiding van Adele Dempers is ook hoofsaaklik vroue.
“Daar is ‘n hele paar klein kombuise. Lank, baie lank nie meer iemand soos ou Grace (tee-vrou) wat swaar skinkborde ronddra nie. (Ek wonder of sy nog leef).
“In die stuurkas sit toe die aand net Annelize Doubell en Mauritz van Wyk. Dit klink vir my of Mauritz elke aand daar werk. Ander stuurmanne is Constant Steyn en soms Christo van Staden.
“Die kantoor wat ek van Herman le Roux ‘geërf’ het (langs die trappies na waar die skakelbord eers was en Charl Marais ‘n tyd lank gewerk het) is nou Van Staden se kantoor. Die kantoor waar Paul Marais gewerk het en toe Jonathan Crowther en daarna ek tot my aftrede (langs die sekretaresse se kantoor), is nou Mauritz se kantoor.
“Dit is byna hartverskeurend om al die moderne geriewe en die gerieflike kantooromgewing, meesal oopplan, maar tog afgeskort, te sien en te hoor daar is net ‘n Gideonsbendetjie oor wat die koerant moet uitgee. Hierdie spannetjie moet te midde van al die gerief en tegnologiese wonderwerke onder groot druk werk om elke dag se koerant die lig te laat sien. Ook ‘n wonderwerk.
“Ons het die nuwe redakteur, Johanna van Eeden, ontmoet en sy het my botteltjie Chateau Libertas met my gedeel. Ons het lekker gesels. Die feit dat sy haar huistoegaantyd uitgestel het om ons ou veterane (‘has beens’) te ontmoet en ‘n rukkie saam te kuier, tel vir punte.
“Vir haar en haar redaksie kan ‘n mens maar net die beste toewens. Mag die magshebbers ons Volksblad – steeds fokuspunt van ons lojaliteit – steeds die son gun wat op hom skyn. Mag ons koerant lank lewe!”
Sarel, dankie vir die herinneringsreis. Die nostalgie het dik geloop by die lees hiervan. Ek sekondeer graag uit Melkbos: Mag ons koerant lank lewe!
(hvd)
Jun 26, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Sarel Venter (70) met sy “koerant” waarin jy alles vir soet-(verjaardag)-koek kon opeet!
More uit ‘n bibber-Bloem
Toe Oom Blackie Swart 80 word, het die SAUK ‘n verslaggeefstertjie na De Aap gestuur. “Hoe voel u nou op 80?” wou die blonde dingetjie weet. “Baie sterker as 80 jaar gelede,” was sy spitsvondige antwoord.
Dié storie het ek gisteraand by die viering van my kollega Sarel Venter se 70ste in ‘n bitterkoue Bloemfontein vertel om die punt te maak dat iemand van 80 – des te meer iemand van 70 – in die algemeen gesproke, veel meer mens as iemand van 0! Sy glipsies is ook minder katastrofies, tensy dit glipsies van dieselfde aard as ‘n baba s’n is!
Tog is 70 klaarblyklik die een of ander grens wat jy oorsteek. Die oomblik dat jy 70 word, raak jy die teiken van grapjastery oor oud word, waarvan die neerbuigende hovaardigheid van sommige ‘n nogal irriterende element is. Party windbolle glo 70 beteken jy is versukkeld, finish en klaar. Wel, Sarel is allesbehalwe versukkeld op 70. Hy is nog die man wat hy altyd was, iemand na wie op 70 opgesien, watwou van bejammer word.
In my heildronk het ek ook ‘n storie vertel oor my oud-onderwyser Johan Theodorus Claassen wat een van die slotte was in Avril Malan se seëvierende Springbokspan in die Britse eiland in 1960. Vir hom het die afrigter, Boy Louw, op daardie toer gesê: “Clasie, as jy in die span is, voel ons veilig. Daar is vastigheid.”
Dit is ‘n pluimpie wat Sarel ook deur en deur verdien, het ek die teenwoordige vriende meegedeel. Waar Sarel Venter in die span is, was nog altyd vastigheid; daar is dit solied soos graniet; dinge sal nie sommer net lostorring nie. Jy voel altyd veilig in die wete dat hy is waar hy is.
Soliede Sarel, wou ek hom noem omdat dit so mooi allitereer. Maar dit laat nie aan Sarel reg geskied nie. Rotsvaste Sarel pas beter.
In sy hoofartikelkommentaar as assistent- en adjunk-redakteur was sy oop kop en stewige hand ‘n kernelement. Sarel kon ‘n beginselstandpunt waterdig stel en helder formuleer. Oor kerklike sake was hy ‘n top-kommentator in die Afrikaanse joernalistiek. Veral een hoofartikel uit die tsoenamitye van die 80’s onthou ek goed. Dit was oor die getuienis van die sogenaamde Silverton-193, ‘n klompie reaksionêre NG-leraars, ná ‘n saamtrek in Silverton om mekaar teen die “liberaliste”, ook in die media, op te klits. Dié hoofartikel (natuurlik anoniem uit Sarel se pen) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse N.G. Sendingkerk, in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge.”
Sarel was inderdaad as meningsvormer ‘n pilaar in ‘n dekade van Afrikaner-verwarring en -verskeurdheid. Ongelukkig kry sulke bydraes van formaat deesdae skaars erkenning. Hierdie hulde tel ongelukkig nie meer so vreeslik nie. Ek is ook ‘n “has-been”. Ek bied dit nogtans met ‘n lekker hart aan. (HvD)