SAREL VENTER: LESERSINDRUK

Titel: Wag-’n-bietjie
Skrywer: Hennie van Deventer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234737

Hennie van Deventer het al ’n welbekende naam onder lesers van Afrikaanse koerante, tydskrifte en boeke geword. In die joernalistiek (as redakteur van Volksblad en as koeranthoof by Naspers) het hy diep spore getrap.

As afgetredene het hy verskeie boeke oor die koerantwese geskryf. Uit sy aantekeninge en verstommende geheue het ’n wesenlike, kenmerkende en onmisbare bydrae gevloei oor die politieke toneel en stryd in Suid-Afrika in soms veelbewoë en onstuimige oorgangstye.

Sy seereise na verskeie verre hawens prikkel liefhebbers van reisverhale en as natuurliefhebber is van sy bosboeke oor en uit Sabiepark, neffens die Krugerwildtuin, suiwer prosa.

In Wag-’n-bietjie, stories wat gryp deel hy van sy herinneringe in dit wat hy sy “laaste-laaste” boek noem. Die naam van die boek ontleen hy aan die bosveldboom, wag-’n-bietjie.

Op sy eie “herinnering se wei” stap hy op ’n nostalgiese reis van agt skofte of episodes of bakens:

  • ’n Bietjie koerant: oor van die groot nuusstories in sy loopbaan by Volksblad en Beeld, en veral die scoops. Maar ook oor die einde van tradisionele koerant scoops wat saam met koerante verdwyn het. “Een van die swaar verliese wat papierverknogte Afrikaanse koerantlesers wurgend moes sluk,” skryf hy.
  • ’n Bietjie doodslag: oor onder meer die TV-reeks, Niggies, “te veel moord en doodslag” en ander moordstories wat in sy tyd die voorblaaie gehaal het.
  • ’n Bietjie persgalery: oor groot hoogtepunte in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis wat hy uit die persgalery van die Parlement aanskou het, of as hoofsubredakteur en nuusredakteur daaraan deel gehad het. Ook oor talle politici wat sy pad gekruis het.
  • ’n Bietjie mense: oor “foei” vir sekere “goeters”, oor bekendes soos Gé Korsten, Boet Troskie en Vladimir Tretchikoff, oor ’n 81-jarige oupa wat in die see watertrap en “die siel van die mier is nou hier”.
  • ’n Bietjie eie huis: oor padkos-plesier, ’n pratende olifant, onthoubare valle en minder onthoubaar – op die TV saam met Nelson Mandela.
  • ’n Bietjie Melkbos: oor hul verblyf van baie jare en salige en heuglike ure met verruklike uitsigte op Tafelberg en Robbeneiland en skilderkwas-sonsondergange.
  • ’n Bietjie bos: oor onder meer die vraag of prinses Diana en JK Rowling van Harry Potter-faam ook as gaste in Sabiepark was, waar Van Deventer se boshuis is.
  • ’n Bietjie kerk: oor hoe hy eredienste van dekades gelede onthou, oor die waardige koster wat voor die kansel gly en val en Tant Hester wat “Satan!” gil.

Elke episode bevat dus ’n keur uit stories en anekdotes wat oor baie jare sy herinneringe vasgegryp het soos ’n wag-’n-bietjie-boom se dorings wat haak en steek. Baie van die vertellings is outobiografies en gekleur met baie humor en selfspot.

Van die inhoud is voorheen gepubliseer in koerante, tydskrifte en webblaaie en vir hierdie boek herwin of verwerk.

Die meeste van hierdie memoires of herinneringe is aan my bekend, maar die herlees daarvan, of die herontmoeting, is ’n heerlike verfrissing van my eie bejaarde en verslete geheue.

Wag-’n-bietjie is uitgegee deur Naledi en is in boekwinkels beskikbaar.

CONFETTI WAAI EN LINT WORD VODDE

Vriendelike taksering van “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” in ‘n gewaardeerde lesersindruk van kollega Sarel Venter op litnet:

Die Rubicon na moderne inligtingstegnologie is deeglik oorgesteek die dag toe Hennie van Deventer (uiteindelik!) sy tikmasjien vir ’n rekenaar (destyds ’n woordverwerker genoem) verruil het.

Vir hom as redakteur van Die Volksblad (toe nog met die Die) het sy sekretaresse al sy skryfwerk (kommentare, artikels en briewe) op haar rekenaar oorgetik in die redaksionele stelsel.

Hoeveel sy vlytige vingers in sy koerantloopbaan geproduseer het, sal niemand weet nie. Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.

…..
Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.
…..

Ná sy aftrede as koerantehoof van Naspers het sy groot aanslag op die geskrewe woord met mening toegeneem en sowat 23 boeke, talryke blogs, artikels, koerantbriewe en Facebook-inskrywings het hul verskyning gemaak.

Dit maak Van Deventer ’n besonder gedokumenteerde skrywer ná sy sewe boeke met ’n binneblik op die koerantwêreld, asook outobiografiese werke, huldeblyke, grafskrifte, reisbeskrywings oor verskeie seereise en soms suiwer prosa oor die lewe van diere en mense in Sabiepark, hul boshuis daar digby die Krugerwildtuin.

En selfs ’n boek oor troeteldiere!

Hy het sy boek Koerantkamerade (Naledi, 2021) sy laaste boek genoem. Maar soos Ton Vosloo dit in die voorwoord van Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord dit stel: “Van Deventer is ’n gelaaide arsenaal en ’n vulkaan wat bly prut en af en toe, en onverwags, slaan hy weer toe.”

Soos inderdaad met hierdie Mooi nooi-boek wat ’n joernaal van scoops en skandes in die koerantwêreld is.

In sy voorwoord haal Van Deventer twee gesoute Afrikaanse digters aan oor die resep vir sukses van ’n geslaagde koerant.

Uit DJ Opperman se Joernaal van Jorik:

Gee ontspanning, hou die massas dop;
Gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
En stoot die sirkulasiesyfers op.

En uit digter Pirow Bekker (oud-hoofsubredakteur van Die Volksblad) se Peins oor die plakkaat:

Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.

“Die vraag is,” skryf Van Deventer, “wat gee ’n koerant skop?” Meisies en moorde, of om elke dag die lesers vol vrees te pomp?

Koerantlesers of diegene wat self Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord aanskaf en lees, kan self oordeel en besluit. Kyk maar na die opskrifte van ’n klompie van die essays (waarvan baie voorbladberigte was):

  • “Hartstog, jaloesie… en ’n skêr (ja, die skêrmoord!)”
  • “Beelde met boesems”
  • “Man in die modder of man op die maan”
  • “Kaalbas-redakteurs”
  • “Sannie het gaan water haal”
  • “Raaisel van die Rietbok”
  • “Onder haar naeltjie”
  • “As die aarde skeur”
  • “Toe’s die ganse land op hol”
  • “Slae vir Charlize”
  • “PW se dogters”

Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord voer die leser langs ver paaie van herinneringe oor polemieke, petaljes, rusies en romanses, herries en hofsake.

Dit is regtig ’n lekker en lesenswaardige boek hierdie. Of dit Van Deventer se laaste boek is, sal ons maar moet sien.

‘N KAMERAAD OOR KAMERADE

Die hoofredaksie van Die Volksblad in die 8o’s hou na 40 jaar re-unie in die wildtuin. Sarel Venter staan links van my. Regs van my is Herman le Roux, Piet Theron en Paul Marais.

 Sarel Venter, ‘n besonderse koerantkameraad uit eie reg maar gelukkig nog in lewe, het my die eer aangedoen om oor Koerantkamerade uit eie beweging ‘n positiewe lesersindruk te skryf.  Vanselfsprekend is ek ingenome en dankbaar.

Sarel is ‘n gewese adjunk-redakteur van Die Volksblad en ‘n sleutellid van die hoofredaksie in my redakteurskof in die jare 80’s. Hy het hom veral as ewewigtige kommentaarskrywer onderskei.  Dat ‘n joernalis van sy statuur oor die betekenis van Koerantkamerade  so vriendelik oordeel, is vir my spesiaal en waardevol.

Sarel skryf onder meer:

“Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad en gewese hoof van koerante by Naspers/Media24, het ’n prysenswaardige taak aangepak in Koerantkamerade, volgens hom sy laaste boek – nommer 20. (Dit is sy sesde boek met ’n koerantagtergrond.)

“Hy noem die inhoud van die boek informele “grafskrifte” vir ’n 50 stuks koerantkamerade, mense wat veral in die vorige eeu in die koerantesfeer gearbei het. Aan hulle bring hy hulde soos blomme na ’n graf. Rose? En dalk ’n paar dorinkies?

“Hy vertel van die lewe en werk van verskeie mense in die koerantwêreld. Van sogenaamde groot karakters of mense van statuur. Maar ook van hulle agter die skerms; diegene wat nie bekende openbare figure was nie. Verdienste, rol of nalatenskap was geen maatstaf nie.

“Maar almal is al saliger. En die lys van mense wat uit sy bos gekap is, word al hoe langer … (Die titel van nog ’n boek uit sy pen is Byl in my bos, Griffel 2009.)

“Die skrywer het met die meeste persoonlikhede van agter die papiergordyn in sy koerantloopbaan van 35 jaar persoonlik kennis gemaak; saam met baie van hulle gewerk, sommige goed leer ken. Hy lig die sluier oor intriges in nuuskantore en direksies, en stel sy tydgenote met deernis en humor bekend. Sy fyn waarnemingsvermoë en uitstekende geheue – steeds op tagtig! – blyk duidelik.

“Koerantkamerade – in Van Deventer se reeds kenmerkende, boeiende en vloeiende skryfstyl – is ’n besonder insiggewende en waardevolle magnum opus-bydrae tot die vroeëre eietydse geskiedenis van die koerantbedryf, en ook van Suid-Afrika.”

Om ’n moontlike leser “lus te maak om hierdie onderhoudende boek te lees” gee Sarel  ’n paar kort grepe uit van die 52 hoofstukke, onder meer van Piet Cillié, redakteur van Die Burger, later professor in joernalistiek in Stellenbosch en voorsitter van Nasionale Pers,  Wynand Mouton, voorste kernwetenskaplike, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat, voorsitter van die SAUK-raad (en vriend van Volksblad wat op sy dag ‘n koerantverkopertjie was), Ryno Verster, arts en bergklimmer en 43 jaar lank rubriekskrywer van Volksblad as “Dokter Goedhart gee raad” (wat seker ’n wêreldrekord was), asook  Gert (GPD) Terblanche, minsame oudredaksielid, politikus, kultuurleier, kerkleier en ambassadeur wat twee maande voor sy 99ste verjaardag in 2021 as die oudste Volksbladder oorlede is.

Die volledige stuk kan gelees word by  https://www.litnet.co.za/koerantkamerade-deur-hennie-van-deventer-n-lesersindruk/

Die boek is gepubliseer deur die uitgewery Naledi in samewerking met die webblad Nagkantoor en met ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust..

SUMMA CUM LAUDE VIR SAREL

As ek vir Sarel Venter, oud-adjunk-redakteur van Die Volksblad, by sy 80ste Woensdag (9 Junie) ‘n rapport moet gee vir vakke soos Ordentlikheid, Onkreukbaarheid, Beginselvastheid, Voorbeeldigheid, Christelike waardes, Koers hou en Gesonde insigte slaag my rotsvaste kollega summa cum laude.
Sarel was ‘n soliede steunpilaar in my eerste hoofredaksie in die 80’s – een van die Aärons en Hurs wat ‘n jong, idealistiese redakteur se arms in uitdagende tye omhoog help hou het. Ek eer hom vir sy onskatbare bydrae tot ons soms wroegende besinning en met sy gevleuelde “pen” in hoofartikels en rubrieke in ‘n moeilike en veelbewoë dekade wat ons saamgestap het.
Ons koerant se politieke standpunte het ons in die hoofredakie gedurig aan die geregtigheidsbeginsel getoets. Ons het geglo om geregtigheid te laat geskied, is ‘n Bybelse opdrag. ‘n Ware staatmaker in hierdie eerlike strewe tot geregtigheid was Sarel, wat soos so baie ander joernaliste, eers predikant wou word. Hy is ‘n Gereformeerde wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO gestudeer het.
Weens sy fyn aanvoeling en ewewigtigheid het ek hom ingespan om ons meeste hoofartikels oor kerksake te skryf. Ek kon telkens aan Sarel gaan oordra met watter waardering sy bydraes ontvang is in kerklike kringe wat vir ons saak gemaak het. Ene oor ‘n regse predikante-aksie uit Silverton (die sogenaamde Silverton-193) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse NG Sendingkerk in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge”.
‘n Hegte vriendskapsband bestaan tot vandag, en ook op persoonlike vlak is ek aan Sarel hope dank verskuldig vir bankvaste lojaliteit en ondersteuning. ‘n Mens hoef maar net op Google die name van Hennie van Deventer en Sarel Venter saam in te tik om te sien wat ek bedoel. In welwillende resensies en ander geskrifte het hy oor jare telkens my hart warm laat klop.
Oor een ding is ek spyt: dat ek en Tokkie nooit die voorreg gehad het om saam met Sarel en Liesbeth ‘n bootvaart te onderneem nie. So ‘n kundige entoesias soos Sarel kry jy nie elke dag nie. My en Tokkie se vaart op die Queen Mary II na Sydney het hy byvoorbeeld op sy rekenaar seemyl vir seemyl saam meegemaak. Sy intense meelewing op hierdie salige ontdekkingstog was ‘n belewenis. Ek is seker ons sou genotvolle ure saam ter see kon deurbring as omstandighede daarna
was.
Die Venters het onlangs hul gewilde gastehuis, “Kom weer” in Fichardtpark, Bloemfontein, se hortjies gegrendel en na ‘n kleiner oord in Universitas verhuis. Mag hulle daar ‘n ryke nuwe skof beleef, mag die vreugdes by hul voordeur opstapel en mag nog talryke heerlike nuwe herinneringe vir hulle geskep word.
(Die saamgestelde foto wys Sarel op sy 70ste verjaardag, regs onder, saam met my en Herman le Roux in my kantoor by Die Volksblad, ontspanne saam met sy medelede van die hoofredaksie in die 80’s, en by ‘n Volksblad-saamtrek in 2016 in Sabiepark en Balule. )

VIR MY 80STE: GESPREK OP LITNET

Koerant deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk en gesprek

  • 0

Titel: Koerant
Outeur: Hennie van Deventer
Uitgewer: De Novo Boeke,  Langebaan

Nadat hy 20 boeke sedert sy aftrede as koerantman geskryf het – en seker miljoene woorde in sy lang loopbaan in die perswese – gee skryf en kommunikeer vir Hennie van Deventer sin in die lewe. Skryf bly vir hom ’n passie en daarsonder sal hy opgeskeep wees met homself, het hy aan Sarel Venter, ’n oudkollega, gesê.

Aan die vooraand van sy 80ste verjaardag het nog ’n boek van Van Deventer verskyn. Dit sy twintigste in die byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers, en nadat hy onder meer 12 jaar redakteur van Volksblad was.

Sy boeke handel oor ’n verskeidenheid temas: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere en reiservarings.

Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ’n gedenkboek, Koerant. Dit is ’n selfpublikasie met voorlopig ’n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.

In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – die einde daarvan as gedrukte koerant – nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die kapstok vir die boek. Die rou is ’n vlammetjie wat ’n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Hoekom woel hy nog so op 80?

Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee. Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar. Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke. Wat anders? Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself. Ek pak nie veel ander dinge aan nie. My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ’n uitlaatklep. Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saamgesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer …

’n Fokus in hierdie boek?

My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette. Ook onvergeetlike karakters agter die skerms. En hope humor. Sonder ’n sin vir humor sal ’n koerantmens moeilik oorleef.

Geliefkoosde nuusonderwerpe?

Alles wat nuus is. Versot op politiek, op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”), en op elke ander nuusonderwerp.

Sy hebbelikhede?

Ander moet liewer oordeel. Ek self is bewus van ’n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ’n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.

Sy voorliefdes?

Ek het drie groot passies: koerant, die bos, reis (veral vaar). Ek borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van my boeke het koerantonderwerpe.

Die bos?

Ek is gek na Sabiepark, waar ek ’n boshuis net langs die Krugerwildtuin het. Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember–Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. My nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.

Reis?

’n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd. In my Niemanjaar by Harvard het ons Amerika platgery. In die laaste jare het ek verslaaf geraak aan vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in my boek Na verre hawens. Jare gelede het ek ook ’n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).

Hy het ’n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”). Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens. Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Sy renonse?

Ek haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ’n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” uit hul duime suig. Moet ook nie dink ek sal afval eet en simpel TV-sepies en -storietjies kyk nie.

Hoogtepunte in sy lewe?

Die redakteurskap van Volksblad op 39 in 1980. Dit het ’n ambisie verwesenlik wat ek van my eerste dag by die koerant gehad het.

  • Nieman Fellowship aan Harvard 1976/77 – ’n plek wat drup van tradisie en karakter.
  • Phil Weber-prys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
  • My bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek The lost boys of Bird Island met agt kritiese briewe in koerante.
  • Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Fellowship) – die eerste aan ’n Afrikaanse mediamens in 1998.

Teleurstellings

Die keldering van Volksblad as gedrukte koerant. (In Koerant brei ek uit op die tema). Nog ’n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark nek-om te draai.

Ten slotte ’n paar dinge waarvan hy die vader is

Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (toegeken aan joernaliste wat oor COVID-19 geskryf het); die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd.

Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe. He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”