VREEMDE LEEGHEID WAG IN STRATE

Dr. D.F.  Malan het pas in 1948 premier geword toe op ‘n kermis van die verslane Verenigde Party in Windhoek op ‘n verkiesingsplakkaat met sy gesig daarop skyfgeskiet is.

Die storie was natuurlik voorbladnuus en is op die plakkate van koerante oral uitbasuin: “Sappe skiet op dr. Malan se foto”.  Toe sny van die verkopertjies in Bloemfontein die onderste lyn weg: “Sappe skiet op dr. Malan”. Die koerant het daardie middag gevlieg.

Vir dekades was die koerantplakkaat en die koerant vinkel en koljander. Die verkoper op die hoek by sy pak koerante en ‘n plakkaat of plakkate teen lamppale of boomstamme om hom heen was ’n dinamiese deel van die stedelike landskap.

Hoe meer onverwags of skokkender die nuus op die plakkaat des te groter die straatverkope daardie dag, soos daardie ondernemende verkopertjies ‘n driekwart eeu gelede met hul stoute moedswilligheid in die Rosestad gedemonstreer het.

Die laaste paar jaar het plakkate en verkopers minder begin word. Plek-plek het dit verdwyn of feitlik verdwyn. Skuins voor Kersfees kom nog ‘n knou wanneer voorste papierkoerante soos Rapport en Beeld ‘n digitale koers inslaan. ‘n Onbekende leegheid wag ook in die strate.

Gelukkig bestaan talle beelde en skilderye van koerantverkopers in talle stede. In Johannesburg is byvoorbeeld ‘n mooi beeld deur Russel Scott in Von Brandisstraat wat deur die papervervaardiger Sappi ter ere van die koerantbedryf aan die stadsraad geskenk is.  (Ek hoop hy is nog daar!)

Hope historiese nuusplakkate het darem ook in museums en elders behoue  gebly.  Op die digitale mediamuseum Mediamense.com is ‘n heerlike versameling om ‘n mens in te kan verkneukel, onder meer – ironies genoeg –  ‘n profetiese Beeld-plakkaat van 3 November 1994: RAMP VIR KOERANTE VOORSPEL.  Eina, en dit was 30 jaar gelede!

Ook in die letterkunde is die plakkaat verewig. Skrywer-digter Pirow Bekker was ’n ruk in die 1960’s hoofsubredakteur by Die Volksblad. Hy kan met insig die sluier lig oor die daaglikse plakkaatskrywery in die kantoor van die senior assistent-redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman wat later lank redakteur was).

Sy gedig “Peins oor ’n plakkaat” is in sy debuutbundel, Die Klip Sing (1965). Dit verskyn ook in André P Brink se Groot Verseboek van 2000. Die plakkaatskrywery was soms nogal ’n pynlike peins, veral as die nuus die dag skraps was.

Versamel om eerbiedwaardige Oom Bart se lessenaar was die nuusredakteur, die hoofsubredakteur en, as hy beskikbaar was, die tweede assistent-redakteur. Die hoofsub moes verslag doen oor sy stories op die voorblad: “Wat het ek op die voorblad / wat hom moontlik leen tot ’n plakkaat?”

Allerlei voorstelle is oorweeg. Zaaiman is nie maklik tevrede gestel nie. Hy had bepaalde voorwaardes oor wat mag en nie mag nie, hoewel hy tog ’n slag avontuurlik wou waag met die korter woord “dienders” vir polisiemanne. Hy is daaroor deur sy ondergeskiktes geveto.

Oor fatsoenlikheid was hy die hoofwagter op die mure. ’n Reël waaroor hy onverbiddelik was maar wat lank ophou geld het veral by die wilder ponies: “Bly asseblief net bo die nael / op ons bladsy een …” Íets soos “kaalgat dominee” (op ’n Son-plakkaat) sou hom stuipe gee.

Veral strofes in die blik van binne by die uwe vasgesteek:  “Dit bly eenmaal onfeilbaar: vrees / dit laat die mens koerante lees.” Oor wat werklik die verkope kan laat val of styg kan selfs koerantmense immers onderling nogal debatteer. In redaksiekantore kom vurige meningsverskille oor nuuswaarde gereeld voor.

n Joernalis van die 60’s, Jan Wessels, het oor die vraag selfs ‘n  M.A. verhandeling geskryf  – politiek op ‘n plakkaat  werk nie, bevind hy nie verrassend nie – en niemand minder nie as D.J. Opperman verkondig van buite ‘n ander sienswyse as Beker van binne.

Opperman dig in sy bundel Joernaal van Jorik soos volg: Gee ontspanning, hou die massas dop;/ gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord, en stoot die sirkulasiesyfers op –  nie dat ‘n mooi nooi of ‘n moord nie selfl ook vreesaanjaend kan wees nie.

Wat maak ‘n plakkaat uit eie reg onthoubaar? Gewis as ‘n reuse-risiko daaraan verbonde is. Die grootste waagstuk met ‘n plakkaat aan my bekend  het vir ’n krisisnag gesorg vir die befaamde “Ysterman” Willem Wepener, wat redakteur van Rapport en Beeld was.

Dit was nog in sy Burger-dae in 1960, die jaar van die Sharpeville-slagting wat internasionaal opslae gemaak en die begin van die internasionale verset teen apartheid ingelui het. Die onrus het uitgekring na Langa en Nyanga by Kaapstad.

Die twee buurte sou op 30 Maart in ’n massiewe operasie om drie-uur die oggend deur ’n mag van 3 000 man omsingel word. Die inligting was uit ’n onberispelike bron. Maar hoe gemaak met die tydsfaktor? Drie-uur is vir ’n oggendkoerant met ’n groot plattelandse lesergebied veels te laat. Die rolpers vir die eerste uitgawe moet al teen elfuur draai.

Ná ’n stryd besluit Wepener, nuusredakteur: hy skryf die berig – onder ’n banier op bladsy een – en natuurlik ook die plakkaat asof alles reeds gebeur het. Sy spanningvolste nag breek daarna aan. Tuis wag hy op hete kole dat niks verkeerd loop nie. Hy maak geen oog toe nie.

Eers om 04:15 bel ’n fotograaf wat hy uit die bed laat haal het om langs die roete stelling in te neem: “Hulle was ’n bietjie laat maar is nou net hier verby.”

Verligting het oor hom gespoel. Maar hy het nie toe gaan slaap nie. Hy het vroeër Die Burger by die rolpers gaan haal. Dié is weer uitgehaal en die scoopberig oor en oor gelees. Op pad kantoor toe lees hy elke plakkaat teen elke lamppaal  – ’n uiters dankbare man dat sy groot waagstuk reg verloop het.

Vir joernaliste staan ‘n plakkaat ook uit weens ‘n slim woordspel.  Johanna van Eeden, stemmeredakteur van Netwerk24, onthou byvoorbeeld ‘n rugbyplakkaat uit 1997 toe die kwessie van geblikte leeus groot nuus was.  Toe die die (plaaslike) Leeus daardie jaar teen die Britse Leeus van Martin Johnson uitgedraf het, het Pretoria News in haar woorde  ‘n lieflike plakkaat in aanloop tot die wedstryd geskryf: CAN THE LIONS CAN THE LIONS?

Een van die beste plakkate wat hy gesien het was van die Daily Times in daai enkele jare dat hy ‘n papier-koerant was, meen oud-Beeld-joernalis Ferdie Greyling. Dit het gelees: CRITIC LIKES MOVIE! Dit was vir hom baie snaaks veral omdat hy op ‘n tyd in die kunskantoor gewerk het.

‘n Kollega wat naamloosheid verkies, onthou, tong in die kies, ‘n uitdagende plakkaat van die oorspronklike Vrye Weekblad:  MIMI: MEER AS NET ‘N HEILIGE KOEI.

Marga Ley, oud-assistent-redakteur by Beeld, onthou een waarop sy “tot haar skande” ‘n spelfout gemaak het.     Sy het babas met ‘n afkapkomma geskryf as baba’s.  Geen haan het daarna gekraai nie.

Oor wat die sterkste nuusplakkaat van alle tye sou wees, heers in joernalistieke kringe buitengewone eenstenmigheid: Die Wederkoms.

Wanneer ‘n buiging na die plakkkaat gemaak word, moet die verkoper natuurlik nie vergeet word nie.  Al was sy of haar rol relatief beskeie was in die fisieke teenwoordigheid op die hoek insgelyks ‘n integrale deel van die verkoopsproses ingesluit.

Uit my eie jare by Die Volksblad onthou ek die dae toe ‘n skare seuntjies – in ’n stadium iets soos 180 – met die varsgedrukte koerante die stad binnegevaar het om hul gebiede te bedien en hul hoeke te beman. As verslaggewer het ek ‘n keer oor daardie kortbroek-verkoopspannetjie ‘n storie geskryf. Party hartroerende stories van die nood by hul huise het ‘n vogtigheid in die jong koerantman se oë gebring.

Hoe meer koerante op ‘n bepaalde hoek verkoop is, hoe gesogter was die staanplek vanselfsprekend. Een hoek met status was op die hoek by die skoenwinkel Cuthberts in Maitlandstraat. Twee uitskieters wat daardie hoek in hul jeug hul eie kon noem, was wyle prof. Wynand Mouton, rektor van die UV en voorsitter van die SAUK, asook Frans Stroebel wat lank ‘n sleutelman in die Rembrandtstal was. Frans was ook ‘n kranige Kovsie-rasieleier.

Onder Mouton-bewind in die 40’s was dit bekend as “Nantie se hoek”. Geen indringer sou dit naby waag nie. Hy het laggend vertel hoe ‘n beskonke omie hom as onskuldige 12-jarige seun rondgejaag het as die nuus hom nie geval nie. Maar hy het goed geld gemaak: 12 sjielings en ‘n sikspens kommissie op ‘n dag. Eendag op ‘n reëndag het ‘n barmhartige samaritaan sommer 40 koerante by hom gekoop!

Dan was daar ook die afleweraars wat te fiets en met ander rygoed die koerant met bewame spoed en in alle weersomstandighede by intekenare se huise moes besorg.

Die rekord vir ‘n lang “dienstermyn” van een van die garde by Die Volksblad is iets soos sewe jaar. Dié rekord sal vir altyd deur ene Louis Slump gehou word. Die jong Louis het alles mooi opgeteken en sy “loopbaansyfers” is indrukwekkend: in die sewe jaar het hy 15 288 km (sic) op sy fiets agter 82 intekenare aangery.

Nou gaan daardie era ook verby. Helaas.

 

HAAL AF, HAAL AF!

Verkiesingsplakkate met slim en minder slim slagspreuke is tiekie die bos voor a.s. Woensdag se verkiesing. Elke party wil elke ander party se boodskap oortroef of verdwerg. Rusies vlam op oor kwessies soos pariodiëring van plakkate, verwydering van plakkate weens munisipale regulasies, ens.

‘n Bloemfonteinse onderonsie oor plakkate wat, soos in ander gevalle, ook Engelse Sondagkoerante gretig laat meedoen het, was voor die verkiesing van 6 Mei 1987.

Die KP-kandidaat vir Bloemfontein-Oos, dr. Herholdt Pauw, ‘n internis, het op Donderdag 30 April KP-plakkate reg voor Die Volksblad se hoofingang in Voortrekkerstraat laat opsit. Ek (redakteur van die koerant) het dit summier deur die sekuriteitsafdeling laat verwyder. Opdrag is gegee dat vervangende plakkate ook dadelik moet af.

Een rede was dat dit, volgens my, moedswillige uittarting was. Nêrens anders in Voortrekkerstraat, so ver die oog van Die Volksblad af kon sien, was KP-plakkate nie. Ten tweede was dit onesteties voor ‘n gebou waarop die landsvlag en ‘n Naspersvlag daagliks wapper, en die koerant se eie plakkaat in ‘n netjiese, argitekontwerpte houer met ‘n glasdeksel vertoon word.

Vroeg die Vrydagoggend was die polisie in my kantoor; ‘n sers. Schoeman van die uniformtak, vergesel deur ‘n jong kollega. Ek het ‘n beëdigde verklaring afgelê oor my beweegredes. Schoeman is ook meegedeel dat die plakkate onbeskadig by Die Volksblad vir hul eienaars beskikbaar is.

Die Vrydagnag probeer die KP’s toe weer hul plakkate opsit. Ons sekuriteitsmense het dit vinnig verwyder. ‘n KP-gesinde polisieman, speurder-sersant John Redman, ”ontdek” daarna die “vermiste plakkate” kamma dramaties in ons gebou – en Pauw laat geen gras onder sy voete groei nie om al wat ‘n Sondagkoerant is (en die SAUK) die wenk te gee dat ‘n klag van diefstal van KP-plakkate ondersoek word.

Die Sunday Star en die Sunday Tribune het darem my kommentaar gevra; die Sunday Times het sommer net Pauw en Redman se stories gesluk en gepubliseer: dat  ”a complaint of theft of Conservative Party election posters is being investigated against certain members of Die Volksblad newspaper in Bloemfontein”.

Die einde van die sage was pragtig. Die KP wou vir Die Volksblad ‘n wip stel. Toe kry hy ‘n bloedneus. Die senior aanklaer het geweier om te vervolg nadat ons aan hom kon uitwys dat ‘n munisipale regulasie die aanbring van enige plakkaat teen ‘n lamppaal verbied – ‘n vriendelike wenk van die Minister van Justisie, Kobie Coetsee.

Die ontnugtering vir Pauw en sy mense het heelwat vrolikheid in Bloemfontein veroorsaak. Vir die SAP was dit ‘n verleentheid dat van sy senior lede met die KP dwaaslik saamgespeel het om ‘n kwaadwillige klag te prakseer – duidelik uit politieke dienstigheid.

Woensdag gaan ons stembus toe sonder Die KP en, helaas, ook sonder Die Volksblad as gedrukte koerant. Als dus vergeefs gewees, maar adrenalien het gepomp.

PEINSENDE PIROW

Middag uit Melkbos

Pirow Bekker wat vandag 80 is, was ‘n ruk in die 60’s hoofsub by (Die) Volksblad. Ons het ‘n tydjie saam gewerk. Hy het in daardie jare as digter gedebuteer met die gedig “Peins oor ‘n plakkaat” wat in my oë die beste koerantegedig in Afrikaans is, hoewel, in moderne idioom, sterk politiek inkorrek.

Gaan lees dit op p. 467 van die Groot Verseboek.

Dit gaan oor die daaglikse plakkaatskrywery in die redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman) se kantoor. Soos Pirow en Oom Bart daar saam aan’t peinse is oor die dag se nuusaanbod, het almal wat hoofsub was, hul beurt gekry. Ook ekke.

Jy sien die rysige gestalte van Oom Bart sommer weer voor jou oë as jy Bekker se gedig herlees.

Veral drie strofes in die gedig het by die uwe vasgesteek. Een is die ware woorde wat vandag nog relevant is:
Dit bly eenmaal onfeilbaar: vrees/dit laat die mens koerante lees.

Die tweede, ‘n reël wat nie juis meer geld nie, veral nie by die wilde ponies nie :
Bly asseblief net bo die nael/op ons bladsy een …..

Die derde die stukkie joernalistieke realisme wat elke plakkaatskrywer die een of ander tyd besef:
Maar die plakkaat se groot ekstase/kom nooit op afgeleë plase. (hvd)