Jun 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Hoe ver kan ‘n bosnagaap ‘n piesang ruik?
Dat sy kos – veral boomgom, bloeisels, sade en vrugte – gewoonlik deur reuk opgespoor word, is bekend. Daarvan het ons heelwat ervaring. Elke aand word op ons “piesangtafel” in Sabiepark sterk meegeding om die lekkerny. ‘n Gulsige mannetjie maak ‘n tafel vinnig skoon terwyl sy minderes lippe aflek.
Piesang is klaarbyklik ‘n prima-lekkerny. Die vraag oor watter afstand die reuk sy mond kan laat water, het by my opgekom na die eienaardige gedrag Saterdagaand van een van die twee gereelde bosnagaap-besoekers wat die vakansie gewoonlik omstreeks 18:00 so stil-stil hul opwagting maak. Jy sien dan net die katagtige dier met sy lan-a-ang stert van tot 50 cm – die langste deel van sy lyf – grasieus teen ‘n jakkalsebessie se stam afseil en die skyfies piesang met mening takel. Soos ‘n dorsmasjien ryg hy dit in. As jy nie wakker is nie, loop jy dit mis, want al wat jy hoor, is ‘n effense blaregeritsel.
Net voor slapenstyd Saterdagaand eet die uwe ‘n piesang by die groter stoeptafel – ‘n hele ent van die “piesangtafel” af. Waar ta geskuil het, weet ek nie. Maar voordat jy kon sê mes, het die aroma hom bereik. Hy sak langs sy gewone roete op die stoep toe met doelgerigtheid en entoesiasme.
Toe hy die tafel leeg vind, reageer hy egter soos ‘n berserker: draf om en om die swembad, spring op die lêstoel, staan pennetjie-regop soos ‘n meerkat en kom snuif selfs onder die groot tafel. Daardie groot oë bly op die piesang-bevoordeelde mensekind gevestig. Die aanvaarding dat die piesang op is, sink traag by hom in. Dis of hy omkyk-omkyk onwillig padgee. Toe gaan sit hy in ‘n boom en skel. Nes ‘n baba wat huil.
Die kleiner nagapies is eintlik ons gunstelinge. Ons moedig hulle stil stil aan om so vinnig moontlik weg te lê
voordat die groter bosnagaap opdaag. Maar laasgenoemde verskaf darem uit eie reg ook vir ons en ons gaste plesier. Veral baie stedelinge sien hulle die eerste keer as hulle hier in die bos kom kuier en is verstom oor die enorme stert en grasieuse bewegings.
‘n Besonderse aand was toe ‘n nuwe mamma een aand haar kleinding vir ons kom wys. Toe sy seker is, ons het gesien, verdxwyn sy weer in die takke van ‘n maroela, gaan deponeer die kleintjie en keer terug om te oes.
Aug 11, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Week drie van die wintervakansie breek aan met die blye nuus van die nagapies se lank afgewagte herverskyning op Tarlehoet se stoep.
Presies om 18:10 Maandagaand land die eerste Drie minute later land nommer twee. Eerste keer dat ons 14 dae moes wag. Die opgewondenheid was groot. Helaas te laat gewees vir ‘n foto.
Albei besoekertjies het taamlik verskrik voorgekom. Eerste ou het vinnig ‘n skyfie opgeraap en laat vat. Die tweede het darem twee keer teruggekom. Wonder wat hulle so laat skrik het dat hulle so sku en op hul senuwees is. Ons hou maar duim vas dat hulle weer ‘n instelling gaan word.
Drie bloukuifloeries het blykbaar in die katjiepiering by die voorstoep ingetrek. Hulle is heeldag hier rond. Sebras en bosbokkies het vir mooi foto’s by die watergat gesorg. ‘n Hiëna laat gereeld Tokkie se gorillaligte aangaan. Paradysvlieëvangers maak ook meermale hul opwagting.
By Philip en Nance van Rensburg se huis (“Ons Plasie”, 62) het ons ‘n nuwe stukkie sebrakennis opgedoen: hoe lief die nasie vir die soetdoring se heldergeel poeierkwasblommetjie is. Hulle eet verbete.
Lente breek vroeg aan. Die drolpere staan in sierwit “bruidsgewaad”, die knoppiesdoring is ‘n see van geel en onder die worsbome lê die rooi trompette dig. Wonder darem hoekom so ‘n sierlike boom so ‘n onwelriekende naam gekry het.
Van die lekkerste aktiwiteite bly maar elke aand se vuurtjie maak vir die braai. Die ou man se houtgebruik is minder konserwatief as tevore. Nou die aand die gloeiende kole benut deur agterna soos kinders malvalekkers op stokkies te braai.
Ons mis steeds ons koerant – ook by die vensterwassery. Ons mis ook die kerk – maar bly lugtig vir “byeenkomste”. Die mense van Mpumalanga blink juis nie uit in die dra van maskers nie – selfs in Sabiepark. Wat ons nie mis nie, is die bobbejane. Hulle hou hulle skaars, skaarser as ooit, en ons is in die wolke daaroor.
‘n Aanwins op ons boekrak is Ron Dulek van Alabama se “Sitting with elephants” (kyk die hoofstuk “Skurwe slaapmaats “ in “Bure van nature”). ‘n Boeiende en insiggewende boek oor sy toenadering tot en uiteindelike vriendskap met ‘n tamaaie matriarg . Sy vrygewigheid met fooitjies laat net die oë rek – tot R500 vir die drie hekwagte elk wanneer hy padgee. Dink ek moet ook my keps by 286 gaan hou.
Aug 1, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Waar is ons nagapies heen? Soos Marlene Dietrich in haar liedjie “Where have all the flowers gone?” treurig wonder oor die verdwyning van blomme treur die Van Deventers oor hul nagapies .
Oor jare het ons bederf geraak: Sodra dit sterk skemer is, het die oulike nagdiertjies uit alle oorde vir ‘n “vingerete” in die bos aangesweef gekom. Party het soos lede van 1 Valskermbataljon bo uit die nok neergedaal; ander het uit die ooste op ‘n vasgestelde roete ge-arriveer. Soms het een of twee ons om die suidwestelike hoek van die huis verras.
Drie rekords is weer en weer verbeter: hoeveel opdaag, hoe lank dit huller vat om die piesangtafel skoon te maak en hoeveel piesangs in ‘n aand verorber word. Die rekord-opkoms is tien, die tyd ‘n blitsige tien minute en die getal piesangs twee en ‘n stukkie.
Die betroubaargheid van die galado moholi’s was onoortreflik. So betroubaar soos ‘n Japanse Bullet-trein, het Tokkie gemeen.
Maar vanaand is al aand ses van die lank verwagte wintervakansie van 2021. Geen van die gewone “tsjak-tsjak” wat hul koms aankondig nie. Geen beweging in die knoppiesdoring skuins voor die huis nie. Geen beweging in die sekelbos, die Transvaalse katjiepiering, die groot maroela teenaan die stoep of in hul laaste stasie voor die kostafel, die ietwat gehawende ou pendoring, nie.
Verlangend tuur ons aand vir aand na die alternatiewe roete om die hoek via ‘n haak-en-steek met sy gevaarlike dorings. Uit hom is dit net een substansiële sprong tot in die maroela. In ‘n avontuurlustige bui het om-die-hoek-sluipers soms op die swembadmuur na die pendoring aangehupppel gekom. Ook daar gebeur tot dusver niks.
Die groter variant die bosaap (galado crassicaudatus) was sommer die tweede aand al hier. Toe ons Vrydagaand in die agterste lapa braai, was hy gou om dit te ontdek. Ook die vrugtevlermuise skeer heen en weer laag oor die skyfies piesang wat spesiaal uitgesit is. Maar dis al aktwiteit.
Dat dit nie net by Tarlehoet is dat die welkome besoekertjies eenvoudig tussen neus en ore verdwyn het nie, hoor ons by ander Sabieparkvriende wat hulle ook ten seerste mis. Waarheen het hulle dan pad gevat? Waarom?
Dalk uitgeboender deur die groter, sterker en aggressiewe bosnagaap wat eintlik oewerbewoners is? Dalk te veel grootooguile in die kontrei? Ons sou bittergraag wou weet.
Intussen eet ek maar elke oggend ‘n paar skyfies piesang by my brekfiskos. En bly hoop dat die afwesigheid net tydelik is.
Oct 27, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder?
Wat is ‘n Sabieparkstoep sonder sy nagapies?
(hvd)
Feb 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Apie uit die nes
Middag uit Melkbos
As dit waar is dat klein goedjies mense met min grysstof amuseer, is die wisseling van boodskappe hieronder op Facebook en per SMS seker verdoemend vir die betrokkenes. As dit aan die ander kant waar is dat deernis vir alle diere (en diertjies) ‘n goeie inbors openbaar, deel ek dit met vreugde mee.
Die storie vertel homself, en word afgeskop met ‘n mededeling van Caroline Pols-Dykstra van Nederland (op die oomblik met vakansie by hul huis in Gwarrieboslaan, Sabiepark) Saterdagmiddag om 16:03 oor ‘n teenspoedjie daar :
”Weer ‘n nagapie uit die nes geval. Hoop hy gaan oorleef! Ma het hom nog nie kom haal nie. ”
Daarna verloop die kommunikasie soos volg:
16:12 – Hennie van Deventer: Hou hom maar warm onder ‘n kombersie op ‘n sagte kussing. Ma sal hom kom haal sodra dit donker is.
416:38 – Caroline Pols-Dijkstra: Het vir hom suikerwater gegee, sal hom nou gaan toemaak en duimvashou.
16: 44 – Hennie Van Deventer: Enetjie – omtrent ewe groot – het by ons nie die val oorleef nie. Ma het nie betyds gekom nie. Die ander is almal deur mamma opgepik en verwyder.
16: 44- Caroline Pols-Dijkstra: Ma het gekyk, en verder geslaap. Sal jou op hoogte hou.
16:46 – Mariza van Deventer (skkoondogter van George): Ek onthou in 1998 tydens ons 1ste Sabieparkvakansie het enetjie ook uit die dak geval. Ek en ma Tokkie het 19:00 die aand gejaag vir hulp. Ons het gedink dis ‘n krisis! Nou weet ons…wag maar en kyk!
18:29:- Caroline Pols-Dijkstra: Op advies van Hennie Van Deventer het ek hom toegemaak onder n lappie. Ek het seker gemaak Ma weet waar hy is deur piesangs voor die apie neer te sit. Piesangs en nagapie is weg.
20:01 – Caroline Pols-Dykstra per SMS: Ma het baba kom haal.
20:02 – Hennie van Deventer per SMS: Verligting allerweë.
20:09 – Caroline-Pols Dykstra per SMS: Ja, het piesangs langs hom gelê. Gedink dit sal Ma lok. Lekker reëntjie hier nou.
Die gordyn sak. (hvd)