HVD 6: MET HARP EN SITERTONE

Naspers-topbestuur op Melkbos se stoep.

‘n Kwarteeu lank is my adres nou Penguin Place 11, Melkbosstrand  – die Van Deventers se plek van melk(-bos) en heuning met Tafelberg,  ‘n grou kolos, aan die suidekant; die Atlantiese Oseaan in sy wisselende stemminge  wydgestrek voor ons; Robbeneiland net ‘n hanetreetjie weg. Op ons bankie langs die water beleef ons saans, wyntjie in die hand, die skilderagtigste sonsondergange.

In Maart 2023 verskuif ons na Sabiepark vir plus-minus ons 50ste besoek aan ons bosparadys aan die Sabierivier, net twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin, waar wilde diere ons bure is en ‘n vuurtjie elke aand brand.  Ambisieuse planne word beraam om ons verbintenis van 25 jaar saam met vriende te vier.

Maar eers, vroeg in Januarie, bestyg ons die MSC Sinfonia vir ons 12de bootvaart, bestemming Walvisbaai. Die voriges sluit in ‘n vaart op die fabelagtige Queen Mary II na Sydney via Perth en Melbourne – loshande ons droomvaart; een na Venesië; een van Venesië terug Kaapstad toe via die Suezkanaal, en een tussen die Griekse eilande. Ons is lief vir die ontspanne lewenswyse ter see.

Vuurtjie in Sabiepark.

O, die salige niksdoen-bestaan van ‘n lid van die kieriekommando, soos Tukkiemaat Pierre le Roux by aftrede einde 1997 my nuwe status gedoop het. Dit was nogal profeties. My kierie is ‘n vername simbool van my huidige lewe, maar ook ‘n vername werktuig.

Selfs ‘n vernamer werktuig is my drarekenaar. Op hom gesels ek (veels te veel) op Facebook, hou ek my blog by www.hennievandeventer.co.za in stand, skryf ek briefies vir koerante oor alles onder die son – dosyne, dalk honderde al – en af en toe ‘n artikel. Van die briewe was die betekenisvolste sowat 10 om uit die staanspoor my ernstige bedenkinge oor die Bird Island-boek met sy skandelike duimsuigstories te opper.

Van die briewe was in al drie dagblaaie, Die Burger, Beeld en Volksblad. Van hulle was in Rapport. Al die koerante het my ruim geleentheid gegee om my saak te stel, vrae te vra en kritiek uit te spreek. Prominensie is aan die briewe verleen wat bo verwagting was. Ook op Netwerk24. Ek is dankbaar daaroor.

Beeld het een van my briewe geplaas met ‘n sterk verwysing daarna regs bo op die voorblad (foto). Reeds op 9 April 2019, 11 maande gelede, is ek toegelaat om te verklaar: “Vier, nee vyf, spykers is nou in die doodkis van die Bird Island-boek gekap”.

Op Beeld se voorblad.

Rapport het op 14 April ‘n brief van my geplaas onder die opskrif “Vrae en reaksie na berigte oor Bird-Island” waarin ek uitdruklik verklaar dat die geloofwaardigheid van die boek toe reeds “in vlamme afgeskiet” was. Aan die brief het hy sy apologie in sy kommentaarkolom op bladsy 2 vasgeknoop. Die opskrif was, sonder om doekies om te draai: “Bird Island: Ons het ‘n fout gemaak.” In die apologie is die kernswakheid van die boek in een sin kragtig saamgevat: “Vir geen van die skadelikste bewerings kon enige joernaliste bewyse vind wat onafhanklik geveriëer kon word nie”.

Daarop het die koerant sy lesers, Barend du Plessis en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley om verskoning gevra vir die onverdiende leed. Die merkwaardigheid van so ‘n aanvaarding van skuld en uitspreek van berou is waarskynlik nie oral na waarde geskat nie. My bydrae om dit op etiese gronde te help bewerkstellig, was vir my uiters bevredigend en  dubbel en dwars die moeite werd.   Daaroor is meer te lese op die webblad https://www.thelostboysofbirdisland.co.za

In die 25 jaar het ek so tussenin ook die getal boeke (boekies) uit my pen van drie tot 22 opgeskuif.  Koerante, die bos, humor is die hooftemas. Nommer 23 kom hopelik in April. Weer koerantstories. ‘n Oop plekkie wag al op die boekrak in my studeerkamer.

Op ons bankie saam met die tweeling.

Gevorderdheid in jare kan die beste waargeneem word in vier dinge: ou hout om te brand, ou wyn om te drink, ou vriende om te vertrou en ou skrywers om te lees, het Francis Bacon verklaar. Ek kan nie hartliker saamstem nie.

Een van die durende genietinge van die aftreejare is die voorreg om saam met skoolmaats, studentemaats, kollegas en ander vriende, oud en nuut,  te kuier, hetsy op Melkbos, in Sabiepark of waar ook. Reünies met o.a. 1957-matrieks van Volkies, Potch,  mede-Kollegemanne op Tukkies, Volksbladders en Naspersers tel onder die gedenkwaardiges byeenkomste.

As John Vorster een waar ding in sy lewe gesê het, was dit oor klekinkinders: dat kleinkinders die Here se geskenk aan ou mense is. Ek en Tokkie is al 18 jaar lank oupa en ouma. Ons harte loop oor van dankbaarheid oor die seen en die lewensgenot van saam met die nasate lekker dinge te doen.

Onvermydelik kom ook teleurstellings en gebeur ook slegte dinge.  Die algemene agteruitgang van koerante sluk ek maar swaar. Die besluit van Media24 in 2020 om my geliefde Volksblad se gedrukte uitgawe te staak, was vir my verpletterend.

Die stygende jare bring skete.  Die Byl kap in jou bos. Jy treur oor heengegane vriende. Plek-plek verwyt jy jouself oor verlore geleenthede wat nooit weer sal opduik nie. Die geluk is dat jy ook verryk voel oor die voorreg om mense van sulke kaliber te kon ken.

Op 31 Desember is ek en Tokkie 56 jaar getroud. Op 3 Januarie word ek 82.  Die meetsnoere het vir ons op lieflike plekke geval. Hoe “snood ondankbaar” sal ek nie wees nie as ek hierdie skrywe, en die reeksie oor 25 jaar van aftrede, nie met jubelende harp- en sitertone afsluit nie.  Die genade is groot en onverdiend.

 

 

 

(SLOT)

 

KERSBRIEF UIT MELKBOS

Liewe vriende

Stilletjies het nog ‘n Desember – Hennie se 81ste, Tokkie se 76ste en ons twee se 55ste saam – op ons afgekom. Hier is die einde van die jaar op ons. Tyd het aangebreek vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand.

Ons kyk terug met dankbaarheid vir gesondheid, lewensvreugde, plus-minus ons 50ste salige Sabieparkbesoek en heerlike ure op ons bankie langs die see, wyntjie in die hand. In verskeie opsigte was 2022 vir ons ons kinders en kleinkinders ’n bakenjaar. Ons is nou ’n gedenkwaardige kwarteeu lank trotse Melkbossers. Hennie is ‘n kwarteeu afgetree. Die tweeling is 18. Hulle maak matriek klaar en spog met rybewyse (en rygoed). Migael is 16. Christopher is klaar met laerskool.

Hennie is ingenome met erkenning deur sy skool, Volkies op Potchefstroom, in dié se eeufeesjaar. ‘n Skaars Alumnitoekenning is aan hom gerig as “’n lojale oud-Volkie wat hom op ‘n buitengewone wyse in die samelewing onderskei het” – 65 jaar ná matriek.

Vir Tokkie ‘n plesiertjie was dat haar granaatrooi Mercedes – nou 14 jaar oud maar met die aanskyn van ‘n splinternuwe – op die nippertjie by die matriekafskeid moes gaan red nadat twee ander veterane onklaar geraak het. Die rooi impakspeler het geskitter – so dink sy eienares (foto).

‘n Groot lewensskuif vir Johan, Mariza en Migael het begin met die koop van ‘n ruim, mooi huis aan die Wesoewer op Oudsthoorn (foto heelbo) as tuiste vir volwasse outiste. So begin ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe met Migael. Die plan is dat die Legacy Centre vir kinders op George moet voortleef en dat Johan sy ekonomiese aktiwiteite daar uit Oudtshoorn voorsit. Die tradisionele Groot Stap in George se Botaniese Tuin ten bate van die Legacy Centre was vanjaar weer ‘n besonderse okkasie.

In die huis van Marisa van Brent was dit ‘n vol jaar met yslike programme – tog darem ook ruim kans vir die gesin se voorliefde vir kamp.

 

Die tweeling, Thomas en Jacob, groet Stellenberg met hande vol bekers, pryse, eerbewyse en balkies. Albei het erekleure gekry. Thomas was o.m. die tweede jaar agtereenvolgens die wenner van die Rekeningkunde-Olimpiade van die Universiteit van Johannesburg. Jacob het, soos vyf jaar gelede in graad 7, die skoolhoof se spesiale pryse vir voortreflike diens aan die skool verower (foto).

Christopher wat in Oktober Nederland besoek het, groet Welgemoed Laer o.m. met die gesogte titel ”Mnr. Blessie” (foto onder), as eerstespan-rugbyspeler en as rasieleier.

Wat die nuwe jaar vir ons inhou? Wel, ek en Tokkie vier nog ‘n kwarteeu-baken. Sabiepark is op 15 Maart 2023 ‘n volle 25 jaar in ons besit. Ons vaar in Januarie saam met Johan en Mariza op die MSC Sinfonia Walvisbaai toe voordat hulle na Oudtshoorn trek. Die tweeling word Maties. Thomas gaan na Eendrag en Jacob na Helshoogte. Christopher begin sy hoërskoollewe by Stellenberg.

Dalk – net dalk – kom uit Hennie se pen ‘n laaste boek, weer met ‘n koerantetema.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kerswense vir een en almal. Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.

Ons Nuwejaarswense kom uit Psalm 72:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.

Hennie & Tokkie

UIT MEDIA NA POLITIEK

Drie Suid-Afrikaanse staatspresidente het in jul jong dae die joernalistieke waters beproef:  CR Swart en PW Botha by Die Volksblad en Marais Viljoen, by Die Transvaler. Amper was dit vier.  TE Dönges (Die Burger) is tot die amp gekies, maar kon dit weens siekte nie opneem nie.  Dit het die deur oopgemaak vir die Vrystaatse boer, Jim Fouché.

Swart was in 1936 twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad.  Van  1927/28 tot 1933 het hy ‘n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” behartig. PW Botha het in die middel 30’s as vryskut politieke vergaderings vir die koerant gedek.

Viljoen was vertaler en verslaggewer by Die Transvaler. Dönges was assistent-redakteur van Die Burger en betrokke by die NP-blad The South African Nation.

 Twee premiers, DF Malan en HF Verwoerd, was onderskeidelik die eerste redakteurs by Die Burger (van 1915 tot 1924) en Die Transvaler (1937 tot 1948).

Dr. EG Jansen, voorlaaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, was in 1919/20 nege maande lank redakteur van Die Nataller.

Sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party,  was aanvanklik ‘n rukkie lank joernalis by The Friend en dr. AP Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party, was redakteur van Hoofstad.  Helen Zillie was in ‘n later era leier van die Demokratiese Alliansie.

Politieke swaargewigte soos dr. AJR van Rhijn en dr. Otto du Plessis, Kaaplandse Administrateur,  het ook Die Volksblad se gange bewandel. Van Rhijn was ‘n marathonskof van 23 jaar lank redakteur.

Senatore was CJ Langenhoven  ( Het Zuid-Westen  en Die Burger) en AM van Schoor ( Die Vaderland).

Ander mediamense wat politici geword het:  Hennie Smit (Die Burger), Sporie van Rensburg (Die Transvaler), Gert Terblanche (Die Volksblad), Frik van Deventer (Die Volksblad, Dene Smuts (Fair Lady), Piet Coetzer (Die Transvaler) en  Chris Rencken (SAUK).  Die lysie is waarskynlik onvolledig.

In ambassadeurgeledere was o.a. AJR van Rhyn (Die Volksblad), Conrad Sidego (Rapport en Die Burger), Gert Terblanche (Die Volksblad)  en Leo Rautenbach  (Die Burger).  Tertius Myburgh (Sunday Times) is aangestel as ambassadeur in Washington, Hy is egter dood voordat hy die pos kon opneem.

Ongetwyfeld die koerantman wat die skielikste in die politiek beland het, ws Clarence Henney. Een oomblik was hy nog ‘n taamlik junior Ekstra-verslaggewer by Die Volksblad (Ekstra was die naam van die uitgawe gerig op bruinmense), die volgende was hy ‘n LUK (lid van die Vrystaatse Uitvoerende Komitee) – ‘n politieke swaargewig. Dit was ‘n regstreekse uitvloeisel van die totstandkoming van die driekamer-parlement.

Tot sy eer het hy sy ampsBenz self bestuur; wou nie n bestuurder hê nie.

Hy wou nie gesalueer word as hy by die hekke van die HF Verwoerdgebou inry nie. Het ook nie in n LUK-huis gaan bly nie, maar steeds in Heidedal waar hy sy skemahuis laat aanbou het. Hy was n nederige mens.

 

RSG SKIET BOK MET KLOK

Een van Edith Piaf, “Mossie van Parys ” se mooi Franse liedjies  heet “Les trois cloches”.  Dit vertel van ‘n man vir wie die kerkklokke drie keer gelui het: by sy geboorte, troue en begrafnis.

Wie onthou nog die liedjie waarvoor Fanus Rautenbach so lief was, “Die bok se klok”?

Ek het groot geword met welluidende kerkklokke, swaar koper-skoolklokke, etensklokke by die koshuis (uitkoms vir ‘n honger student!), voordeurklokkies, klokke wat elke nuwe ronde in ‘n boksgeveg aankondig, die klokke by perdewedrenne, die brandweer se klokke, die roomyskaretjie se klokkie  en nog ‘n paar.

‘n Klok wat lui, kom voor in idiome en  in die spreektaal.  Saam met my in die Romeins-Hollands III-klas op Tukkies was ‘n mediese dokter, ene Du Preez. In ’n toets moet ons die vraag beantwoord: Bespreek die vonnis Methodist Church vs. The Master  (Gaan slaan dit gerus na).  Hy skryf toe: Prof, ek het nooit geweet dat ‘n Engelse kerk my klokke so sou laat lui nie.  Die spitsvondige prof antwoord: Ja dok, en dis toe nie die gelui van huweliksklokkies nie, maar die kluitlap op die kis!

Was nogal verbaas om op RSG  in ‘n veel gereklameerde dokumentêr meegedeel te word dat die slaweklok – wat ‘n mooie stukkie Kaaps-Hollandse argitektuur  – deur slawe as “simbool van verdrukking” bejeën is.  Dankie, Dan Sleigh, vir jou brief in Die Burger (24/2) wat die mite ontmasker.

Dit herinner hoe Dan Sleigh ook moes ingryp toe die Kaapse geskiedenis ‘n paar taamlike kinkels en kronkels bygekry het in  Patric Mellet se kreatiewe boek “The lie of 1652”.

‘n Mens sidder oor die verwronge geskiedenis wat die nageslagte als sal moet sluk as die Dan Sleighs en ander kundiges nie meer daar is om nugtere perspektiewe te gee nie.

GOUE SILWER JUBILEUM

As ‘n ou ouer as 80 is, 60 jaar klaar is met universiteit, 65 jaar gelede in matriek was en al ses jaar verby jou goue bruilof is, is ‘n baken van 25 jaar nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Maar wag nou: 1997 was in die lewe van Jakob Hendrik van Deventer nie maar net nog ‘n ou jaartjie nie.

Ek vier vanjaar die silwer jubileum van my aftrede – 25 goue jare! – die silwer jubileum van ons verhuising na Melkbos – ook 25 goue jare – die silwer jubileum van verering met ‘n silwer penning, sy eerste, deur my skool, Volkies Potchefstroom, en, les bes, die silwer jubileum van my verwerwing van Naspers se goue Phil Webermedalje vir loopbaanprestasie. Laasgenoemde is in Augustus 1997 aan my toegeken.

Nou die dag grawe my Tokkievrou die uitgawe van Naspers se destydse personeelblad, Naspersnuus, met daardie nuus op sy voorblad uit ‘n laai vol rommel en vra: “Wil jy hierdie nog he?” Natuurlik wou ek.

Die ander twee bekroondes van 1997 was wyle Charles Fryer (PJ Cillie-medalje vir kreatiwiteit) en Jan Malherbe, my opvolger as koerantehoof (Hubert Coetzee-medalje vir bestuur).

Vergewe my maar dat ek met ingenomenheid op die verowering van die Phil Webermedalje terugkyk en die jaar 1997 met soveel onverbloemde vreugde in herinnering roep.