Een van Edith Piaf, “Mossie van Parys ” se mooi Franse liedjies heet “Les trois cloches”. Dit vertel van ‘n man vir wie die kerkklokke drie keer gelui het: by sy geboorte, troue en begrafnis.
Wie onthou nog die liedjie waarvoor Fanus Rautenbach so lief was, “Die bok se klok”?
Ek het groot geword met welluidende kerkklokke, swaar koper-skoolklokke, etensklokke by die koshuis (uitkoms vir ‘n honger student!), voordeurklokkies, klokke wat elke nuwe ronde in ‘n boksgeveg aankondig, die klokke by perdewedrenne, die brandweer se klokke, die roomyskaretjie se klokkie en nog ‘n paar.
‘n Klok wat lui, kom voor in idiome en in die spreektaal. Saam met my in die Romeins-Hollands III-klas op Tukkies was ‘n mediese dokter, ene Du Preez. In ’n toets moet ons die vraag beantwoord: Bespreek die vonnis Methodist Church vs. The Master (Gaan slaan dit gerus na). Hy skryf toe: Prof, ek het nooit geweet dat ‘n Engelse kerk my klokke so sou laat lui nie. Die spitsvondige prof antwoord: Ja dok, en dis toe nie die gelui van huweliksklokkies nie, maar die kluitlap op die kis!
Was nogal verbaas om op RSG in ‘n veel gereklameerde dokumentêr meegedeel te word dat die slaweklok – wat ‘n mooie stukkie Kaaps-Hollandse argitektuur – deur slawe as “simbool van verdrukking” bejeën is. Dankie, Dan Sleigh, vir jou brief in Die Burger (24/2) wat die mite ontmasker.
Dit herinner hoe Dan Sleigh ook moes ingryp toe die Kaapse geskiedenis ‘n paar taamlike kinkels en kronkels bygekry het in Patric Mellet se kreatiewe boek “The lie of 1652”.
‘n Mens sidder oor die verwronge geskiedenis wat die nageslagte als sal moet sluk as die Dan Sleighs en ander kundiges nie meer daar is om nugtere perspektiewe te gee nie.