PLESIER VAN PADKOS

‘n Kostelike stukkie humor in die Bybel is hoe die Israeliete op hul Groot Trek na die “land van melk en heuning” holderstebolder met hul onklaar “padkos” uit die land van die farao vort is.

In Eksodus 12 lees ons hulle het in die pad geval met hul brooddeeeg, sonder suurdeeg, in skottels wat in klere toegedraai is, op hul skouers. Daarmee het hulle langs die pad ongesuurde roosterkoeke gebak.

Ek noem dit humor, nie omdat ek nie ‘n padkos-man is nie – ek is dit inderdaad! – maar oor die ontnugtering wat ek my in my geestesoog kan verbeel oor die reis wat eenvoudig aanhou en aanhou en aanhou… veertig jaar lank. Hoe ‘n erbarmlike kort stukkie van die reis kon hul padkos gehou het?

As selfverklaarde padkos-verslaafde moet ek dalk nie lag nie, maar trane stort. Watter ramp as ‘n ou se padkos opraak terwyl die bestemming nog ver, ver voor jou lê!

Padkos-storie kom na vore toe ek die meegaande foto (onbekende mense, onbekende bron) op Facebook raakloop.

My eerste ervaring van padkos was toe ek en my weduweema. Baby, in die jare 40 per trein van Kimberley vir Oom Danie en Tant Susie op hul plaas in die distrik Paul Roux gaan kuier het. Ons het dan tot op Kaallaagte trein gery, waar Oom Danie ons met sy treppie kom haal het.

Deel van ons bagasie was ‘n kosmandjie en opgerolde beddegoed. Ons kon nie die treinkos in die eetsaal met al sy sliwerware en die netjiese, silwerskoon treinbeddegoed bekostig nie. Ons kos was baie basies – broodjies en frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir my was dit koningskos.

Trouens, elke vakansie by Oom Danie-hulle had twee hoogtepunte: die padkos en die spogperde wat hul koppe so gooi in die tuig voor die treppie.

Die mandjies van ryker mense – so het ek gehoor – het o.m. ook ingesluit: koue hoender, skaapboud en heel biltong wat met die knipmes gekerf word. Ek was nie eens jaloers nie.

In n stadium – toe ek student was en daarna – is met “padkos” bedoel die paar biere wat saamgery is om langs die pad die dors in toom te hou. Ek het niks teen bier nie – maar met die wyser insig wat later gekom het, besef ek nou om bier padkos te noem, is ‘n belediging vir laasgenoemde!

Gelukkig trou ek toe met Tokkie. Sy is ‘n padkos-kampioen. Ons eerste reise is aangepak met eierbroodjies, botterbroodjies, biltongbroodjies, frikkadelle, worsies, pruime in spek toegedraai en minstens een lekker soetdingetjie soos ‘n ystervarkie of konfyttertjie saam met die koffiekan in ‘n mandjie aan haar voete.

Later het die koffiekan een van die moderne flesse geword wat jy net bo kon druk om die koffie te laat uitspuit.

Tokkie se padkos het my so bederf dat ek nie kan wag om my tande daarin te slaan nie. Ons is nog nie n blok weg van die huis af nie, dan verneem ek al: “Wat van ‘n eierbroodjie” ? Daarna is my kake vir die res van die reis omtrent nooit stil nie.

Met die koms van die kleinkinders het die padkos se karakter nie juis verander nie, net die volume. Nuwe elemente het darem ook bygekom, soos vrugtesappies en jogurt. Die tweeling, Jacob en Thomas  Claassens, was klein so versot op padkos soos hul Oupa. Daar was amper in kompetisie in die motor oor wie eerste die groot vraag gaan opper.

Vir “groot etes” is by Ultra-Cities en daardie klas geriewe stilgehou. Ons soek dan ‘n tafeltjie onder ‘n koelteboom op. Die kos kom uit ons eie mandjie aan Tokkie se voete – nie uit die kitskoskombuise nie. Vir versnaperinge wat ry-ry geniet word, word lappies en plastiekbakkies ingepak. My vrou hou nie van krummels in ‘n kar nie!

Ek verwonder my nou nog oor wat alles iemand soos Tokkie in die beperkte voetspasie aan die passasierskant van die motor kan huisves. Tot die kindertjies se strandemmers is soms daar ingedruk.

By geleentheid, jare der jare gelede,  het die omvang van die uitdyende “voet-bagasie” ‘n ligte irritasie by haar veroorsaak. Ek onthou ‘n keer toe ons ons met n motor wat kreun onder al ons vakansie-bagasie by ‘n rylopende weermag-outjie in uniform verby is.

“Stop en laai hom op,” gebied mev. Van D.

“Waar moet hy sit?”

“Sommer ook nog hier by my voete!”

‘n Padkos-kultuur wat ek in my later jare eers leer ken het, behels dat jy by jou bestemming moet aankom met ‘n voldoende voorraad om jou gashere te laat verstaan jy is nie sommer ‘n elkedagse hierjy nie.

Lydia, ‘n Sotho wat in lewe by ons gewerk het, was ook van Paul Roux, soos Tokkie se ma, Marietjie, en my Oom Danie-hulle. Elke tuisbesoek per “Shosoloza Meyl” was ‘n uittog waarvoor dae voor die tyd hoenders gaargemaak is: twee vir die reis en twee vir die uitklim.

Lydia se padkos het vir my heerlik gelyk. Ek is net bevrees: as ek sou saamry, sou vir die uitklim niks oorgebly het nie!

 

VERLANGE NA KOERANTE


  • Vriendelike woorde van Anschen Conradie oor “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” … en oor koerante van oudsher in die algemeen:

    Die klassieke koerantwese, kompleet met drukpers, ink, rolle papier, tikmasjiene, donkerkamers en teleksmasjiene word toenemend verower deur elektroniese publikasies; digitale foto’s, rekenaars, die internet, en alles wat daarmee saamgaan. Die ouer garde (waarby ek myself insluit) onthou egter nog die eerste oopvou van Sondag se Rapport, die skoolseuns wat soggens met hulle fietse koerante aflewer, en die afwagting oor wat die dag se lamppaalplakkate mag inhou.

    Die skrywer, deurwinterde joernalis en voormalige redakteur van (Die) Volksblad, deel in hierdie bundel etlike kosbare herinneringe, nostalgie, humor, ironie, anekdotes, en huldeblyke uit vervloë dae. Sommige bydraes is, met erkenning, ontleen vanaf LitNet en die Nagkantoor-Facebookgroep, en sommige het voorheen in die skrywer se eie publikasies verskyn. Die voorwoord is deur Ton Vosloo – en die oorsprong van sy bynaam word ook in die bundel verklap.

    Die ouer bydraes gaan so ver terug as 1914 toe C.J. Langenhoven ‘n persoonlike brief aan die koerant waarvan hy redakteur was, Het Zuid-Westen, geskryf en gepubliseer het, en sluit aan by moderne gebeure soos die storm wat om Prof. Amanda Gouws se kop losgebars het aangaande vroue wat vloek, en ‘n ontstoke dame beweer het vloekwoorde kom ‘…uit die mond van tandelose mense in die greep van alkohol of dwelms.’ (61)

    Ander hoogtepunte sluit in: Glenda Kemp se privaat vertoning vir joernaliste waar die toegangsgeld R10 per kop was, maar darem ‘n bakkie kerrie-en-rys ingesluit het; die bisarre sensuurwetgewing wat polisiebeamptes in 1967 verplig het om, gewapen met skêre, ‘n berig uit die koerante te knip; die drukkersduiwel wat ‘n resensent laat koes het toe sy ‘Swak’ met ‘Twak’ vervang is; die redaksielid wat tydens die Vrystaatse aardbewing van 1975 soek geraak en in die brandkluis ontdek is, en die diakritiese glips wat in 1947 in ‘The Times’ se beriggewing oor die koninklike besoek aan Suid-Afrika die opskrif ‘Hoere, hoere, hoere vir die koning!’ tot gevolg gehad het.

    ‘n Lekkerlees, nostalgiese bundel.
    ⭐️⭐️⭐️⭐️ #uitdieperdsebek

GOUE SEUN NIC BOJE

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor studentemoleste ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong die verlede in. Kollege-tehuis toe – 60 jaar gelede.  Die Kovsies en die Maties sal dit nou nie weet nie, maar in Tukkieland was Kollege ‘n gedugte plek. Die jare 60 was ‘n glansryke era en Nic was een van die goue seuns.

Kollege se reputasie is gerespekteer of afgekeur.  As daar moles was, kon jy maar weet Kollege is in die episentrum. Soos een aand toe ‘n serenade by Karadyn ietwat te luidrugtig geraak het. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe Nic en sy vriende die konstabel in die aanklagkantoor se pet onder mekaar aangee. .

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het Nic en sy maats van die berugte tweede verdieping ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend  uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n nagtelike Fonteineparty. In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n onverwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat  later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Ons  geliefde Kollege was ‘n uiters mededingende plek. Ons het nie gehou van tweede kom nie.  Nic en sy skakelmaat, Propie Goosen, was in die opsig ysters.  Op die rugby- en die krieketveld was hulle staatmakers. Ek onthou met verkneukeling ‘n wedstryd teen Sonop.  Die eerste bal van Sonop se selfvoldane snelbouler, die SR-voorsitter, lig NIc oor die skerpbygrens vir n sierlike ses.  Die volgende een dryf hy deur die dekke vir vier. Die arme man was verslae.

Koning Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic,   Proppie , Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. Nic was ons eintlike angel. Hy kon sy agterlyn blitsig wegstuur. HY kon pale toe korrel soos ‘n skerpskutter – selfs sekuurder as Naas Botha.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith, Nic se tuisdorp.  Op ‘n groot rugbydag op Ladysmith wen ons, ‘n derdeligapan in Pretoria, die eersteligabeker.  Nic skop weer nie mis nie. Ek is die dag vlagman.  As hy met sy aanloop begin, lig ek al die vlag.

Toe ons ons oë uitvee, kom haal die Tukkiekeurders ons losskakel-held kort daarna  uit Kollege se span eerste span toe. Hy en Proppie Goosen, ook ‘n Kollegeman, word ‘n gedugte skakelpaar.  Die dag toe Nic sy eerste wedstryd vir die eerstes speel, sit ons Kollegemanne op Lofrus bankvas agter die pale.  Ons bulder soos een man vir ons maat instruksies: “Nic, skop die bal. Nic gee uit.”  In ‘n stadium kyk hy direk in ons rigting en gee ‘n teken dat ons ons bekke moet hou. Ons was daarna effens stiller.

“Ta’ Bella”, die ou Belvedere-hotel in Kerskstraat, was ‘n gewilde kuierplek om “tee” te gaan geniet.  Voor Nic se eerste wedstryd vir Tukkies teen die Bobbies besoek ‘n klompie Kollegemanne die Vrydagaand vir Ta’ Bella om die senuwees te laaf. Bobbies het ‘n uitblinkers soos Mof Myburgh  en Piet Uys . Ons beduie vir Nic hy sal die volgende dag sekuur moet korrel.

Hy stel ons gerus: “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” Toe demonstreer hy, tot die verbasing van die ander klante, hoe hy die skepskoppe elegant pale toe gaan jaag. Die Saterdag op Loftus ‘drop’ Boje twee keer. Albei kere seil die bal oor die dwarslat. Die tweede beklink die sege. “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” So was dit toe. Baie ander spanne sou nog huil as hy hulle flenters skop.

Vandag huil nie sy teenstanders nie, wel sy spanmaats: al die Kollegemanne van daardie era wat nog oor is, die ganse rugbygemeenskap van Suid-Afrika en sy naastes wat vir hom lief was en op hom trots was.  Soos ek op Facebook geskryf het: Ons huil nie omdat ons ‘n wedstryd verloor het nie maar ‘n “wedstrydwenner” wat die spel van die lewe soos ‘n kampioen gespeel het.

(Die volledige weergawe van ‘n huldeblyk vir NIc se gedenkdiens gister in die rugbymuseum by Stellenbosch. ‘n Ietwat verkorte weergawe is deur sy seun. Louis, voorgelees. Ek was weens Covid-19-protokolle tot my spyt afwesig. )

BLINK HARE, SOET WYN EN IETSIE-BIKINI’s

More uit Melkbos

Julie Andrews sing van haar “Favourite Things”, onder meer: “Raindrops on roses and whiskers on kittens; Bright copper kettles and warm woolen mittens; Brown paper packages tied up with strings; Cream-colored ponies and crisp apple strudels; Doorbells and sleigh bells and schnitzel with noodles; Wild geese that fly with the moon on their wings; Girls in white dresses with blue satin sashes; Snowflakes that stay on my nose and eyelashes; Silver-white winters that melt into spring …” alles baie pragtig.

Ek wil nie me. Andrews probeer ewenaar met ‘n persoonlike lysie van gunstelinge nie. Uit my amper 70 jaar in die lewe is sekere oudag-herinneringe aan allerlei goeters van weleer egter diep ingegrif. Hier is enkele beelde wat lukraak by my opdoem (hoegenaamd nie chronologies of in enige spesifieke volgorde nie):

Rygoed: My oom Danie se treppie met die span kopspelende perde waarmee hy my en Ma op Arlington se stasie kom haal het (1946), my (diamantspeurder-) oom Willie se “mouterbaaik” met syspaan (1947); die Studebaker-steenkool-lorries waarmee ek elke dag geleenthede skool toe gekry het van Boshoek af tot by Enyati (1950), die maroen Dodge SE wat ek met ‘n limerick gewen het (1972).

Orkes: Hendrik Susan se orkes op die verhoog van Kimberley se stadsaal, met sanger Jurie Ferreira (“Tahiti, verre land…”) en Ernst van Rooyen met die bas (“Ernst se bas…., Ernst se bas….., Ernst se basviool”) (1948).

Fliek: Cowboy-flieks met Roy Rogers, Gene Autrey en Hopalong Cassidy, Afrikaanse flieks met Al Debbo en Frederick Burgers (40’s/50’s). Later: Gone with the Wind.

Klere: My lang hemelsblou sokkies (1956), my eerste langbroekpak (1955), “spiffies” (50’s) , my Tukkiebaadjie (einde 1958), my eerste poeierblou Tuxedobaadjie (1959), safaripakke (60’s).

Stoei: Willie Liebenberg vs. Sky-Hi Lee Saterdagaande op die radio; kommentator: Awie Labuschagne (50’s).

Liedjies: Treffersparade op LM Radio (laat 50’s), Patti Page se Tennessee Waltz (1950) en Mockin’ Bird Hill (1951), The Weavers se Goodnight Irene (“I’ll jump in the river and drown”) – amper 24 uur per dag gespeel deur die eienaars van ‘n private hotel in Durban waar ons ‘n ruk in die begin van die 50’s tuisgegaan het).

Boeke, ens: Casper H, Marais se Rooi Jan Roux, Topsy Smith se Trompie, “comics” ruil Saterdagoggende by die fliek (50’s), The Snow Goose (matriek, 1957) en Fountainhead (‘n geskenk van my studentemaat Piet Henning in 1961).

Toilette: Sinkplaat-kleinhuisie met emmer onder die peperboom in Diagonalstraat, Kimberley (40’s), die “long drop” met sy onaangename reuk, langbeen-spinnekoppe en harde koerantpapier op Oom Martiens en Tannie Dinah se plaas by Vryheid (40’s), nagwa met emmer-gekletter in Kimberley se strate (40’s), die Russiese lugdiens Aeroflot se “stinkers” op ‘n vlug van Londen na Moskou (80’s).

Haarolie: Brylcreem, Brylcreem, Brylcreem vir die blinkste, beheerbaarste boskasie!

Kerk: Dominee in swart toga met arms uitgestrek (soos Batman) om die seën te vra. (50’s/60’s)

Terlefoon: “Tiekiebokse”, handsentrales (“nommer, asseblief”) en, natuurlik, die student se vriend in die kommkunikasiewese, die “langtiekie”.

Meisies en hul modes: Die mini (60’s) (sjoe), die bikini (1946) (sjoe-sjoe), Brigitte Bardot se borsie in “And God Created Woman” (1958).

Wyn: Grünberger Stein (studentedae), Tassheimer Goldtröpfchen (eerste jare by Volksblad), Montpellier se huiswyn (ons eerste huispartytjie in Johannesburg, 1975), Bellingham Crand Cru (Beeld), Tassies (50’s en 60’s).

Restaurante: Bloukamer op Johannesburg se stasie (intervarsitydinees), Franco’s in Bloemfontein (my en Tokkie se verlowing op 15 Maart 1965. (Ons had nie ‘n keuse – dit was Bloemfontein se enigste). (HvD)

EK ONTHOU, EK ONTHOU …

Middag uit Melkbos

Gepraat van ou meisies: in my versieboekie Polisie, Polisie, Ons Reënboog is Geroof (Tarlehoet, 2003) het ek vantevore ook die onderwerp aangeroer, met ‘n goeie skoot vrugbare verbeelding daarby.

Verbeelding of nie verbeelding nie, die slotsom is dieselfde as in die blog hieronder. Daardie buiging na my vrou (wat van Bultfontein kom) in die laaste vers het dus in minstens die laaste sewe jaar konstant dieselfde gebly.

Hier’s die bewys:

Herinneringe

O, ek onthou die rats gimnassie,
pronknooi van die dorp Makwassie
wat ‘n aand van louter passie
daar op die klapperhaar-matrassie!

Toe kom ‘n nooi van Cullinan,
‘n skitter-diamant soos min,
en ook ‘n stukkie Welkom-goud –
‘n regte skat en heerlik stout!

Die orrelis van Berg-en-Dal
soos sy kon terg, sy maak jou mal;
uit Hertzogville, bedees en stil,
kom een met hartstog – en ‘n wil!

Die strenge een van Botrivier,
party dag sy’s bra bot en suur,
maar, boeta, dit was puur plesier
soos sy kon toor op haar klavier!

‘n Bondel energie uit Vryheid
had altyd vir ‘n vrytjie ty-heid;
vergeet ook nie daai turbo-outjie –
Bikininooi van Amanzimtoti!

Maar my nooi van Bultfontein,
vir haar het ek nou goed getryn
(of sy vir my, ek sal nie stry)
dié dat ek nou die Heer kan dank
vir lewenslank se samesyn!
(HvD)