‘N ONVERGEETLIKE VRIEND

In die koerantwêreld het ons gepraat van die “angle” of die “hoek” van ‘n storie.  Dis die kapstok waaraan jy jou storie ophang: die enkele stuk inligting met die sterkste trefkrag.  Om vandag hier by sy gedenkdiens die Sakkie Bruwer-storie  te “skryf “, is nogal ‘n uitdaging. Soveel “angles” of “hoeke” bied hulleself aan dat jy amper magteloos staan voor die rykdom van keuses.

Kies jy sy weergalose entoesiasme vir sport – veral vir rugby?

Sy legendariese braaivernuf?  Sy rol as verbeeldingryke sosiale kommandant van die Probusklub en al die heerlike uitstappies wat hy gereël het?  Sy dae as potjiekoskoning by kerkbasaars in die goeie ou tyd toe die wyntent nog langs die vuurtjies opgeslaan was?

Sy liefde om by Food Lover’s Market te gaan snuffel en met die keurige bestanddele fynproewergeregte te berei?

Sy integriteit en sterk standpunte oor reg en verkeerd, hetsy in die politiek, sport of kerk – en sy uitgesprokenheid oor wat hy dink?

Sy trotse loopbaan in die versekeringsbedryf by Guardian en sy lewenslange kundigheid met syfers?

Sy menswees?  Sy uiterste hulpvaardigheid en daar wees vir sy vriende, sy gasvryheid, gemoedelikheid en humorsin?

Sy blymoedigheid, veral ook nadat sy gesondheid begin kwyn het, en sy versiendheid om die regte skuiwe betyds te maak?

Oor elke aspek van hierdie veelkantige mens – groot van gestalte en groot van gees – kan jy ‘n selfstandige storie maak. Om in een huldeblyk aan die hele spektrum reg te laat geskied, is klaarblyklik onmoontlik.  Dan sou ek moes vra dat almal asseblief hul horlosies afhaal en wegbêre.  Vergeef dus maar die gate as ek net op enkele spitspunte fokus.

Ek het verwys na Probus, ‘n hegte klub vir afgetredenes waaraan Sakkie my ook in 1998 bekend gestel het. Die klub het ‘n spesiale ere-toekenning, die Honoris-oorkonde, waarmee hy baie suinig is.  Net drie is na my wete nog toegeken.  Die standaarde is dus hoog. Dit sal niemand verras nie dat een van daardie drie aan Sakkie en Helmien gegaan het.

Dit is in 2007 toegeken vir “voortreflike diens en ‘n uitsonderlike bydrae tot die kameraderie en vreugdevolle samesyn van Probuslede en hul gades oor baie jare.”

Kameraderie en vreugdevolle samesyn. Dit is die sleutelwoorde.  Waar Sakkie was, was kameraderie. Waar hy was, is vreugdevol saam verkeer. Of dit nou op Melkbos was – ai, die Jan se Gat darem – of op Montagu; in die Cederberge of Swartriet: kuier was koning.  Onder aanvoering van braaimeester Sakkie is ramkatvure gebou en berge skaaptjoppies en wors perfek gebraai.

Oor twee dinge was Sakkie adamant: i. hy – uitsoekerige vleiskenner wat hy was – gaan koop die vleis en ii. jy hou jou hande tuis. Dit was SY vleis en SY vuur. HY braai en vlieg jy in jou maai as jy wil kom slimstories maak.

Ons ander het, op sy bevel, minder verantwoordelike handlangertakies verrig soos om die hout aan te dra, speserye aan te gee of die glasies vol te hou.

Wat is die verste wat vir so ‘n spanbraai gery is?  Honderd kilometer? Vyfhonderd kilometer? Nee, 2 000 kilometer. Daardie braai was op 11 Augustus 2001 in Sabiepark by die Krugerwildtuin. ‘n Groep van 24 Melkbosse vriende het “oorgekom vir ‘n Bosveldbraai”. In ‘n konvooi het hulle daarheen opgeruk.  Vriend Sakkie het soos ‘n Voortrekkerleier van ouds die trek na die verre noorde gelei.

Ja-nee, met Sakkie aan stuur van sake het die klub hom nie geografies laat vaspen nie. Afstande het die lede nie afgeskrik nie.  Swakopmund aan die soom van die Namib was die tweede verste – iets soos 1 800 km – maar hierdie keer het ons darem gevlieg. Kgalagdi wat 1037 km ver in die ou Kalahari is, lê op nommer drie. Sakkie het groot gedink.

Sakkie se rugbyverbintenis strek terug tot sy jong dae toe hy – bekend as Tiny, hoe anders?  – ‘n kranige slot vir die klubs Noordelikes, Unie en Valsbaai was.  Die beroemde Hennie, “Windhond”, Muller was afrigter en Springboksenter Colin Greenwood ‘n spanmaat.  Groot wedstryde is op Nuweland en elders gespeel teen ysters soos Jan “Boel” Pickard en kwiksilwer Dawie de Villiers.

Appels is toe nog lustig geswaai. ‘n Saterdagaand is die Bruwers inry toe met Sakkie skuins op die agterste sitplek met ‘n stuk steak op sy potblou oog.  ‘n Keer is ‘n rammetjie-uitnek Matie-agtsteman goed reggesien.  Jare later daag Sakkie by die KWV op om sy besigheid te werf, en wie is die hoofbestuurder? Die nimlike agtsteman.  Het Sakkie die besigheid gekry? Ja.

Hy was ‘n stoere WP-man – lank met toegang tot ‘n losie op Nuweland. Wen die streeptruie, nooi hy die hele boksemdaais  vir ‘n Sondagbraai.. As Helmien haar oë uitvee, dam die onverwagte gaste by die voordeur op.  Dan moes vinnig gespring word om vleis te ontdooi en wyn koud te kry.

Later het TV sy rugbygrense verskuif.  HY het ure voor die TV deurgebring om na wedstryde te kyk. Elke moontlike oorsese kompetisie – van die Sesnasies en die Heinekenbeker tot die Pro-14 en die Ranfurlyskild  – het hy intens gevolg. Hy het elke span geken, asook die spelers, met vaste insigte oor wie goed is en wie nie so goed is nie.  Die minder goeies in sy oë het  ‘n paar bekende Springbokke ingesluit.

As jy Sakkie smoorkwaad wou maak, moes jy hom ontydig bel op ‘n kritieke oomblik in ’n kritieke wedstryd.  Die vriendelike, gemoedelike ou vriend was skielik amper bruusk.

Ook vir bofbal, sagtebal, krieket, fietsry en rolbal was Sakkie baie lief – as deelnemer of toeskouer. Hoe ver en hoe dikwels gery is om na wedstryde te gaan kyk,  sal sy gesin weldeeglik onthou.

‘n Minder bekende voorliefde was renperde.  Hy was in die 70’s die  trotse eienaar van drie met kleurryke name: “Sweet Lady”, “Volcanic Noise” en “Every Night”. Dit was die eienaar beskore om meermale ‘n wenner by die wenkampie in te lei. Vir die doel het hy ‘n lang swart jas met ‘n rooi voering gekoop – baie gedistingeerd en deftig. Aitsa, mnr. Bruwer!

‘n Gewilde daguitstappie van Probus in ‘n stadium was dan ook na die Kenilworth-perdewedrenbaan waar ‘n geldjie op ‘n perdjie of wat gewaag is en waar die tafels gekreun het van die kos.

Al die voortreflikhede van hierdie soliede, standvastige mens-mens gaan ek nie probeer opnoem nie. Ware vriendskap – veral in tye van nood – is egter hoog op die lys.  Danie Grundlingh en Hennie Jonker was maar twee vriende wat in swaar tye sy oop hart en helpende hand eerstehands beleef het. As hulle vandag hier kon wees, sou hulle dit van harte beaam het.

Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. In my kop is ‘n prentjie van die groot lyf plat op die vloer voor my TV-stel in die slaapkamer om ‘n haakplek uit te sorteer.  As jy ongemaklik wou raak om net gedurig aan die ontvangkant te wees, het hy jou besware met ‘n wuif van die hand afgemaak.

Sakkie was ‘n welwillende, toeganklike mens, maar hy kon ook ysterklou in die grond slaan.  Wat verkeerd was in sy oë was verkeerd, en hy het nie geskroom om dit hard en duidelik van sy hart te kry.  Ongeduld kon nogal deurslaan as dinge hom nie aangestaan het nie. Of hoe, Helmien?

Kwynende gesondheid het in die laaste jare sy vlerke geknip. Die afnemende kragte en onafhanklikheid het hy stoïsyns aanvaar en met blymoedigheid sy pad bly loop.

Dat daardie pad uiteindelik weg van sy geliefde Melkbos na Vredekloof gelei het, was tekenend van sy realisme, gesonde verstand, versiendheid en onselfsugtige fokus op die beste belange van diegene die naaste aan hom.

Daar was maar een soos hy –  ‘n onvergeetlike eggenoot vir Helmien, ‘n onvergeetlike pa vir Johan en Sandra, ‘n onvergeetlike oupa vir Jean-Marie en Le Roux en ‘n onvergeetlike vriend.  Baie mense se harte is vandag baie seer oor liewe ou Sakkie.

Foto: Grootste en kleinste in Probusgeledere: wyle Sakkie en wyle Andries Brewis.

 

AIKONA VIR OOP VOORDEUR

Lande sluit hul grense om hulle te beskerm teen vreemdelinge wat wetend of onwetend die Covid-19-virus kan binnebring. Die Kaapstad-Metro verwag – nee, eis – dat belastingbetalers hul voordeure oopgooi vir wildvreemde kontrakteurs wat nuwe koopkragmeters moet kom insit.

So ‘n kennisgewing is Saterdag in ons buurt in posbusse gedruk. Ons word net ‘n maand gegun om afsprake te maak.  Wat die gevolg gaan wees as ons nie binne ‘n maand reageer nie, word nie uitgestippel nie.  Wel word vermaan: “Neem asseblief kennis dat die vervangings verpligtend is.”  Klink nogal onheilspellend.

Die tydsberekening slaan die asem weg.  Die wêreld spartel opnuut in die kloue van die monstervirus, en vrese bestaan dat Paasnaweek-uitgelatenheid ook in Suid-Afrika tot ‘n ernstige derde vlaag van die pandemie kan lei.

Nou word een en almal – ook kwesbare bejaardes met stringe komorbiditeite in hul lywe – voor hierdie onbekookte eis gestel.  Jammer, in my oë sou dit onbesonne wees om gehoor te gee.   Ek gaan NIE in hierdie risikotyd mense sonder enige bewys van hul Covid-status in my intieme lewensruimte toelaat nie. 

Hoe moet  ons weet hoe versigtig of onverskillig die kontrakteurs oor Covid-protokolle is?  Hoe het hulle die Paasnaweek deurgebring?  Was hulle nie in kontak met mense wat besmet is nie?  Is hulle nie dalk self draers nie?  Boonop word nie eens hul koorse gemeet soos wat by openbare plekke, van winkels tot kerke,  normale gebruik is nie.

Klaarblyklik moet mense met voorbehoude tegemoet gekom word totdat hulle ingeënt is of die Covidkrisis bedaar het. Of nog  beter: stel die projek uit totdat omstandighede gunstiger is.

Ek moet meld dat die kennisgewing eentalig Engels is.  Nogal vreemd dat die DA sy stem dik maak oor Afrikaans by Maties maar vir die taalregte van sy Afrikaanse belastingbetalers nie dieselfde simpatie het as vir die taalregte van Afrikaanse studente nie.  Politieke opportunisme?

 

GOUE SEUN NIC BOJE

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor studentemoleste ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong die verlede in. Kollege-tehuis toe – 60 jaar gelede.  Die Kovsies en die Maties sal dit nou nie weet nie, maar in Tukkieland was Kollege ‘n gedugte plek. Die jare 60 was ‘n glansryke era en Nic was een van die goue seuns.

Kollege se reputasie is gerespekteer of afgekeur.  As daar moles was, kon jy maar weet Kollege is in die episentrum. Soos een aand toe ‘n serenade by Karadyn ietwat te luidrugtig geraak het. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe Nic en sy vriende die konstabel in die aanklagkantoor se pet onder mekaar aangee. .

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het Nic en sy maats van die berugte tweede verdieping ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend  uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n nagtelike Fonteineparty. In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n onverwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat  later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Ons  geliefde Kollege was ‘n uiters mededingende plek. Ons het nie gehou van tweede kom nie.  Nic en sy skakelmaat, Propie Goosen, was in die opsig ysters.  Op die rugby- en die krieketveld was hulle staatmakers. Ek onthou met verkneukeling ‘n wedstryd teen Sonop.  Die eerste bal van Sonop se selfvoldane snelbouler, die SR-voorsitter, lig NIc oor die skerpbygrens vir n sierlike ses.  Die volgende een dryf hy deur die dekke vir vier. Die arme man was verslae.

Koning Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic,   Proppie , Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. Nic was ons eintlike angel. Hy kon sy agterlyn blitsig wegstuur. HY kon pale toe korrel soos ‘n skerpskutter – selfs sekuurder as Naas Botha.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith, Nic se tuisdorp.  Op ‘n groot rugbydag op Ladysmith wen ons, ‘n derdeligapan in Pretoria, die eersteligabeker.  Nic skop weer nie mis nie. Ek is die dag vlagman.  As hy met sy aanloop begin, lig ek al die vlag.

Toe ons ons oë uitvee, kom haal die Tukkiekeurders ons losskakel-held kort daarna  uit Kollege se span eerste span toe. Hy en Proppie Goosen, ook ‘n Kollegeman, word ‘n gedugte skakelpaar.  Die dag toe Nic sy eerste wedstryd vir die eerstes speel, sit ons Kollegemanne op Lofrus bankvas agter die pale.  Ons bulder soos een man vir ons maat instruksies: “Nic, skop die bal. Nic gee uit.”  In ‘n stadium kyk hy direk in ons rigting en gee ‘n teken dat ons ons bekke moet hou. Ons was daarna effens stiller.

“Ta’ Bella”, die ou Belvedere-hotel in Kerskstraat, was ‘n gewilde kuierplek om “tee” te gaan geniet.  Voor Nic se eerste wedstryd vir Tukkies teen die Bobbies besoek ‘n klompie Kollegemanne die Vrydagaand vir Ta’ Bella om die senuwees te laaf. Bobbies het ‘n uitblinkers soos Mof Myburgh  en Piet Uys . Ons beduie vir Nic hy sal die volgende dag sekuur moet korrel.

Hy stel ons gerus: “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” Toe demonstreer hy, tot die verbasing van die ander klante, hoe hy die skepskoppe elegant pale toe gaan jaag. Die Saterdag op Loftus ‘drop’ Boje twee keer. Albei kere seil die bal oor die dwarslat. Die tweede beklink die sege. “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” So was dit toe. Baie ander spanne sou nog huil as hy hulle flenters skop.

Vandag huil nie sy teenstanders nie, wel sy spanmaats: al die Kollegemanne van daardie era wat nog oor is, die ganse rugbygemeenskap van Suid-Afrika en sy naastes wat vir hom lief was en op hom trots was.  Soos ek op Facebook geskryf het: Ons huil nie omdat ons ‘n wedstryd verloor het nie maar ‘n “wedstrydwenner” wat die spel van die lewe soos ‘n kampioen gespeel het.

(Die volledige weergawe van ‘n huldeblyk vir NIc se gedenkdiens gister in die rugbymuseum by Stellenbosch. ‘n Ietwat verkorte weergawe is deur sy seun. Louis, voorgelees. Ek was weens Covid-19-protokolle tot my spyt afwesig. )

WOONWA: NET EEN KEER GEBRUIK

In die klein advertensie in die koerant lees jy die TE KOOP-advertensie:

“Woonwa. Amper splinternuut. Net een keer gebruik. Spotgoedkoop.”  Die meeste kere is dit by die een oog in by die ander oog uit. Jy soek nie ‘n woonwa. So watwou.

 

Dat agter die klein advertensie dalk ‘n pynlike verhaal van groot menslike verydeling en ontreddering opgesluit kan wees, gaan by jou verby. Hoe sal jy dan nou ook weet?  Bring my ny die deerniswekkende woonwastorie van ’n vername politikus uit ‘n vorige bedeling. Sy naam is Piet Parlement.

 

Piet is ’n deeglike kêrel. Toe hy sin kry in ’n woonwa, begin hy wyd lees oor dié onderwerp. Partymaal ry hy sommer by woonwaparke in en knoop met ’n verskeidenheid eienaars geselsies aan. Hul geesdriftige vertellings oor onvergeetlike vakansies by allerlei begeerlike bestemmings gee die deurslag.

 

Hy doen toe sy keuse, en met ’n meevallertjie uit ’n vergete niggie se boedel stap hy by ’n handelaar in om sy droom te verwesenlik. ’n Verruklike model was dit inderdaad. Uiters modern en met elke denkbare gerief vir ’n ontspanne vakansie. Piet begin as ’t ware die slapies tel totdat hy die eerste keer sy huis op wiele vir ’n gesins-uitstappie kan haak.

 

Toe D-dag aanbreek, was die logistiek al hóéveel keer uitgewerk, en was die moets en moenies aan elke gesinslid volledig bekend. Ook die staanplek is met sorg uitgesoek: ’n rustige oase van reusebome, netjiese grasperke en ’n blouselblou meer waarin ’n kantige berg-kruin op sy rug lê.

 

’n Genotvolle, kommervrye langnaweek het gewag … hopelik die eerste proeseltjie van ’n nuwe heerlikheid wat belowe het om net aan en aan te hou. Die eerste aand is vroeg reeds ’n vuurtjie aangesteek. Later, bier in die hand, strek Piet hom agteroor uit op ’n opvou-swembadstoel en met behae en dankbaarheid mymer hy oor hoe goed die lewe vir hom is.

 

Teen slapenstyd is hy in ’n romantiese stemming. Gelukkig is die kleinkinders wat saamgebring is, moeg gebaljaar. Hul rustige asemhaling verskaf algou die sein dat die tyd aangebreek het om ’n perfekte dag liefdevol af te rond.

 

Maar “oupa! ouma!” klink dit toe skielik ontsteld uit die verste hoek op. “Is hier ’n aardbewing?” vra een benoude stemmetjie.“Hoekom skud die karavaan so?” koor ’n ander.

 

’n Kortaf ontkenning was onvoldoende. ’n Verduideliking is stotterend verskaf. Nie juis oortuigend nie. Die Maandag het Piet die koerant gebel en navraag gedoen oor sy advertensietarief. “Onder watter hofie?”

 

“Woonwaens te koop,” was Piet se antwoord. Omdat hy nog altyd ’n man met ’n goeie sin vir humor is, begin hy toe op die daad en tot die advertensiemeisie se verbasing onbedaarlik giggel.

 

VLOERMOER OOR ‘N VOORBLADFOTO

Tokkie in 1966

‘n Voorbladfoto wat toe nie ‘n voorbladfoto was nie, was die voorloper vir ‘n vloermoer waarop die uwe nie trots is nie, maar wat ongelukkig nie weggewens kan word nie.
Die suurderige herinnering dateer uit 1966. HvD neem die eerste keer waar as nuusredakteur van Die Volksblad, en is – nodeloos om te probeer ontken – heel bewus van die belangrikheid van die amp en ipso facto dan ook van die 25-jarige tydelike bekleder daarvan.
Lappies Labuschagne, hooffotograaf, word gestuur om ‘n voorbladfoto te gaan neem. Die onderwerp is drie of vier mooi onderwyseresse wat nog met punte en rapporte doenig is nadat die kinders reeds vort is met vakansie.

Tokkie 75 op 15 Maart 2021

Op nommer 99 kom sit Lappies die foto voor my neer – tegnies so onbesproke soos al sy foto’s, waarvan letterlik duisende oor die jare die koerant versier het. Net daar sink my hart egter deur die vloer. Want in die middel van die foto is die dierbare gesiggie van my verloofde, Tokkie van Wyk, die ene soet glimlaggie.

My oordeel was dat my kollegas my sou verdink van ‘n erge graad van nepotisme en onsensitiwiteit op die vooraand van my huwelik met Tokkie op 31 Desember daardie jaar op Bultfontein. Ná al die jare dink ek nog die gebruik van die foto was om daardie rede nie aan te raai nie. Maar ‘n grote krisis was dit. Tyd was daar nie. Enigste alternatief vir die voorblad was ‘n foto van twee Duitse meisies in sjoebroekies wat op ‘n leer staan en ‘n olifant in Berlyn se dieretuin met besems was. Dié het al dae lank in my mandjie gelê. Die redakteur was nie geamuseer nie.
Vir die tweede uitgawe was Lappies terug met drie ander onderwyseresse. Nie een naastenby so mooi soos Tokkie van Wyk nie. Maar gelukkig almal aan die waarnemende nuusredakteur geheel onbekend. Agterna het ek vir Tokkie die dood voor die oë gesweer as sy ooit weer op ‘n Volksblad-foto sou verskyn. As jy ‘n kamera sien, dra jou mooi beentjies, gehoor!
Maandag is Tokkie 75. Sy het mooi vir haar aanstaande geluister. Was nooit weer ‘n kandidaat vir die voorblad nie.