‘N MUSEUM VIR KOERANTE

Vir almal wat drukkersink in die are het, ook almal wat nuuskierig is oor wat agter die papiergordyn gebeur het of steeds gebeur, en in die mense wat dit laat gebeur het of steeds laat gebeur, is die digitale mediamuseum mediamense.com die ideale inloerplek.

Gaan kyk gerus wat die skepper en kurator, prof. Johannes Froneman, en sy helper, James Kemp, reeds in die kort tyd vermag het. Dit is reeds ‘n skatkis van gesaghebbende inigting oor joernaliste, koerante, tydskrifte en die uitsaaiwese.

Nou reeds is daar al genoeg stof sodat die gedrukte media se enorme bydrae nie vergeet word nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media.

Die versameling koerantvoorblaaie is verstommend. Die geskiedenis van (Die) Volksbad word treffend en kernagtig weergegee. Vir lekkerlees is die afdeling By Nabaat sterk aan te beveel.

In By Nabaat is ‘n stuk uit pen van prof. Johannes Froneman oor my eie loopbaan. Dit is nie sonder kritiek nie.  Ek beskou dit egter as besonder ewewigtig. Gaan lees dit gerus by https://mediamense.com/hennie-van-deventer-koerantman/

Dat hy my een van die “mees energieke joernaliste” noem, sal vele kollegas seker beaam – nie almal sonder ‘n wrange herinnering of twee oor hul eie ervarings in daardie verband nie.

In Nabaat is ook ‘n grafskrif uit my pen vir Sapa wat in Maart 2016 in die Afrikaanse koerante verskyn het.

Besoek hierdie museum en beveel dit wyd by mense met harte vir die media aan.  Dis ‘n juweel wat hier tot stand kom.

 

KUIER OM ‘N HARDEKOOLVUUR

Op die boekeblad van die Afrikaanse dagblaaie word “Bure van nature”, my nuwe bosboek, soos volg aangekondig:

“Hierdie stories is inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ‘n kuier om ‘n hardekoolvuur.

“Die skrywer en sy vrou het ‘n huis in Sabiepark, ‘n private natuurreservaat aan die Sabierivier, waar wilde diere name het, soos die luiperd Vin Diesel en die vlakvark Brood. Waar ‘n hiëna vir aandete by die stoeptafel opdaag. Hulle het met die jare boekgehou van buitengewone verskynings en gebeurtenisse. Sy stories oor Sabiepark en die Wildtuin blaai die veld oop en gee ons ‘n intieme kykie op wilde diere. Dit stem tot nadenke, soos die uitstekende “Skurwe slaapmaats” waar die leser leer hoe om ‘n olifant te benader: met groot nederigheid, neergeslane oë en geknakte nek. Daar is interessante inligting, soos dat baldadige jong olifantbulle uit die trop verban word totdat hulle geleer het om hulle te gedra. Dat olifantkalwe 100 tot 120 kg kan weeg.

“Die stories word gekenmerk deur fyn waarneming, ‘n droë humorsin en buitengewone woordvaardigheid.”

Die ou man is nogal in sy skik hiermee.

“Bure” behoort beskikbaar te wees by Protea en elke boekwinkel van betekenis.

22 KAALBAS REDAKTEURS

In loshande die rofste pers-uitstappie waarvan ek kennis dra, het ‘n 20-tal redakteurs en assistent-redakteurs letterlik kaal uitgekom.

Dit was ‘n besoek per Dakota aan die Unitaleier Jonas Savimbi by sy hoofkwartier, Jamba, diep in die Afrikabos in die 80’s. Die spannetjie het in ‘n tropiese storm papnat gereën. Ook hul koffers was deurweek – niks was droog nie. Bedremmeld, stroop hulle hul nat klere, en daar staan hulle toe in die Dakota terug Johannesburg toe soos natgereënde hoenders: poedelkaal, bibberend en blou van die koue. Ook uitgeput en ergerlik. .

Alles begin by ‘n besoek aan die kleurryke Savimbi deur Tertius Myburgh, redakteur van die Sunday Times (foto).  Savimbi vra in ‘n stadium: “Hoekom bring jy nie ’n volgende keer jou mede-redakteurs saam nie?”

So gesê, so gemaak.  Tertius begin toe rondvra oor ‘n huurvliegtuig en ‘n vlieënier wat sy pad Jamba toe sal kan vind. Op Wonderboom, Pretoria, loop hy ‘n ou Dakota raak wat reg lyk vir die safari.  Die vlieënier wys  die duime op; ja-nee, dis reg so.

Myburgh verneem na die koste en werk uit hoeveel dit per kop sal beloop as hy ‘n span van so 20 kan versamel. Daarna stuur hy telekse aan al die koerante in die land, Afrikaanse en Engels. Hy kry ‘n geesdriftige respons.  Enkeles wil weet hoe veilig dit is. Dink daaraan as ‘n ietwat rudimentêre Mala Mala, kom die antwoord. Tops, dan’s ons in.

Vroegoggend is die klomp op Wondeboom, uitgevat in hul khaki-bosdrag, oorgehaal vir die groot avontuur.  In die Dakota met sy parkbankies teen die sye is twee trommels vol bier op die ys en genoeg whiskey. Vyf uur lank dreun die Dakota se motore  egalig oor die Afrikakontinent met sy vrag persmense.  Onder hulle heers lughartigheid en afwagting.

Hulle word ontmoet deur Unitasoldate en word agterop twee Tsjeggiese vragmotors geboender vir die hobbelrige reis van nege uur oor primitiewe paaie Jamaba toe. Die whiskey hou nog en die gees is ongedemp. Avontuur is in die lug.

‘n Dag en ‘n half kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos saam met Savimbi.  Ná ‘n laaste aandete saam met die gulle gasheer val hulle om tienuur die aand in die pad terug.  Behoort dus  ligdag die landingstrook te haal.  Toe drie probleme: i. die whisky is op; ii. Die Tsjegge weet skynbaar nie van skokbrekers nie, en iii. ‘n magtige Tropiese storm bars los.  Dit giet. Ure lank ploeg, swaai en bokspring die gehawende voertuie sans skokbrekers  deur die nag voort terwyl die manne bibberend onder bokseile skuiling soek .   Rudimentêre Mala Mala se voet, brom hulle in ‘n koor en werp beskuldigende blikke in Myburgh se rigting.

Ligdag bereik hulle die Dakota. Dankie tog, sug die manne. Nou kan ons droë klere aantrek. Helaas. Toe hulle hul koffers optel, stroom die water uit elke skrefie. Niks – maar niks – binne het droog gebly nie.

Hulle bestyg die Dakota, nat en koud. Die motore het skaars begin brom,  toe’s hulle soos een man uit hul nat klere: 20 redakteurs op ‘n ry sonder ‘n draad aan hul lywe.  Die vliegtuig binne lyk soos ‘n wasgoeddraad met al die nat bosmonderings wat druppend aan die sye hang.

Die manne is hoendervel en dik die duiwel in. Myburgh moet net bontstaan. Alles is sy skuld. Hy gaan vra later die vlieënier of daar nie ‘n verwarmer is nie.  Dié beduie na ‘n handvatsel agter hom . Dis of vrek warm of yskoud, waarsku hy. Werk dit maar self uit. Die hele vyf uur in die lug op pad terug is Myburgh heen-en-weer. Hy sit dit op warm todat hy die sweet sien pêrel. Dan sit hy dit weer op koud.

Die uitgemergelde groepie was nog nooit blyer om op Suid-Afrikaanse bodem neer te stryk nie.

Ek was gelukkig nie  op die uitstappie nie. Seker maar ‘n “premonisie” gehad, soos my ouma Elsie Visser altyd gesê het. Toe stuur ek Willie Kühn, ‘n assistent-redakteur.  Hy was nog bleek om die kiewe toe hy in Bloemfontein aankom ná die nagmerrie-safari.

* Willie wat voor my troue my woonstelmaat was, het later redakteur van Beeld en van Huisgenoot geword. Tertius is aangestel as ambassadeur in Washington maar is aan pankreaskanker oorlede voordat hy die pos kon opneem.  Hoe jammer. Hy sou ‘n voortreflike ambassadeur gewees het: slim, sjarmant en spitsvondig. (Dankie aan Joel Mervis. Het my geheue gaan verfris in sy boek “The Fourth Estate” , Jonathan Ball, 1989).

LAASTE IN DIE RY

Alf Ries (voor) en Neville Krige (langs hom). Foto: Johan Pretorius.

Sou die uwe die enigste oorlewende van die parlementere persgalery van 1964 wees?  Tussen my en Johan Pretorius, ‘n SAUK-veteraan van ‘n latere generasie, het ons tot die slotsom gekom dat ek  waarskynlik laaste in die ry is – nogal ‘n taamlik eensame plekkie om ‘n mens te bevind.

In Januarie 1964, skuins ná my 23ste verjaardag, het ek by die persgalery opgedaag.  Alf Ries was die gedugte politieke beriggewer van die Nasionale Pers.  Schalk Pienaar was die deurlugtige indrukskrywer. Ander Pers-mense was die Burger-manne Louis Louw en Bob van Walsem. Die Transvaler se Sakkie van der Merwe en Johan Kruger was saam in die tuig. (In 1965 het die weë met Die Transvaler geskei. Wiets Beukes (Die Volksblad) en Ebbe Dommisse (Die Burger) het hulle toe by ons span aangesluit.

Voorsitter van die persgaleryvereniging was daardie tyd Donald Prosser van die Evening Post van Port Elizabeth. Hoof van die Sapaspan was Arthur Classen. In sy span was o.a. Robert Postma, Bossie Boshoff en Gordon van der Merwe.  Ander bekendes in die omte was o.a. Tertius Myburgh, latere redakteur van die Sunday Times, Carel van der Merwe,  Daan Esteen en Neville Krige van die SAUK, Tony Heard van die Cape Times, Tos Wentzel (oud-Volksbladder) van die Argus en Stewart Carlyle van die Natal Mercury.

Saam met Daan en Neville het ek vir die parlementêre span krieket gespeel; saam met Gordon van der Merwe ek in ‘n inry na “Dr. No”  gaan kyk  – my eerste James Bond-fliek –  saam met Carel van der Merwe ‘n nagklub besoek en saam met Bossie ‘n paar biere in die Kimberleyhotel gaan drink.

Die hoofbode was die kleurryke Fred (nooit sy van te hore gekom nie) en ‘n nuwe lid in die bodespan ene Demetrio Tsafendas, ‘n Mosambieker wat later berugtheid sou verwerf as die moordenaar van dr. HF Verwoerd. Dikwels by Tsafendas ‘n getoosterde kaas-en-tamatoetoebroodjie bestel.

Neville, Daan en HvD met ons parlementêre krieketpette.

Die persgalery het nog nie sy eie eetplek gehad nie. Etes is geniet in ‘n anneks van die parlementệre eetsaal, die “Dikeet”.  Goeie kos, redelike pryse.

Alf het die nuweling onder sy vlerk geneem. Onthou die eerste keer toe hy my die galery gaan wys het.  Daar van bo af was die volksraad onder ons waardig en indrukwekkend.  ‘n Voorreg gewees om juis in daardie tyd in Alf se politieke span te werk. Ons verhouding is deur ‘n paar driwwe maar ons het jarelange vriende geword.

As werksakker was die volksraad ‘n boeiende plek. In die kabinetsbanke was die oorheersende dr. Verwoerd, wat bo sy tydgenote uitgetroon het, die ietwat stugge oud-stoker Ben Schoeman, die korrekte Eben Dönges, rustige wynboer Paul Sauer, pyprokende diplomaat Hilgard Muller en opkomende ster, John Vorster – almal in my oë groter as lewensgroot. ‘n Jong vuurvreter, PW Botha, het begin aandag trek.

In die opposisiebanke was die Sappe (lede van die Verenigde Party) se gedistingeerde leier, sir De Villiers Graaff, Marais Steyn, wat kon praat dat skuimvlokkies in sy mondhoeke staan, die waardige Piet van der Bijl en die netjiese Ossie Newton-Thompson, ons krieketkaptein.  Helen Suzman was vir die PFP (Progressiewe Federale Party) ‘n bekwame een-vrou-span vir wie almal bra lugtig was.  (Marais Steyn het later jare na die NP oorgestap.)

‘n Karakter soos Blaar Coetzee van Vereeniging, ‘n latere minister, se toesprake, besprinkel met kwinkslae, was altyd eersteklas-vermaak. Op ‘n keer was Coetzee aan die woord. Dr. Jan Moolman (VP, Oos-Londen) kom half orent om ‘n vraag te stel. “Orde, orde,” raas speaker Henning Klopper van Parys: “Die agbare lid weet mos hy moet opstaan as hy ‘n vraag wil stel.” Soos blits kom dit van Coetzee: “Ja, staan op Jan. As jy sit, is die drukking op jou verstand te groot!”

Coetzee het Klopper, terloops, Here Jesus genoem na aanleiding van sy voorletters HJ en sy aanspraak dat hy die Bybel 20 keer deurgelees het. Klopper het ook gespog dat hy nooit ‘n druppel sterk drank oor sy lippe geneem het nie. In al sy jare in die politiek het hy nooit ‘n drankie vir iemand gekoop nie.

Omdat Die Volksblad nie ‘n eie politieke beriggewer gehad het nie, het sy galeryman ook ‘n wandelgangkaartjie gehad. Het nogal graag in los tydjies in daardie eksklusiewe portaal uitgehang. ‘n Keer het ek my senior kollega gescoop met ‘n voorbladberig oor ‘n onenigheid tussen Jan Visse, Nasionale Party-LV vir Gezina, en een van die destydse Kleurlingverteenwoordigers, Bill Hollander. Die misverstand het na die wandelgang oorgespoel.

‘n Paar geniepsige houe is gewissel. Maar die  eerste wat die politieke beriggewer daarvan te wete kom, is op ‘n Burger-plakkaat in Tamboerskloof waar hy gewoon het. Hy was nie geukkig nie. Speaker Klopper was ewe min geïmponeer. Drie lesse vir ‘n groentjie: 1. die speaker is baas van die parlement; nie die eerste minister, soos hy in sy onkunde gedink het nie; 2. die wandelgang is ‘n “heilige hal” en wat daar gebeur, gebeur as ’t ware met gegrendelde deure;  3. ‘n jong abjater krap nie in die politieke beriggewer se slaai nie.

Geen permanente skade is gelukkig aangerig nie. Gou het die Vrystater ‘n gereelde oppasser vir die Rieskinders, Hartman en Marianne, geword as pa Alf en ma Maggie die aand uitgaan. Marianne was nog in doeke. Nou die dag sien ek op Facebook ‘n foto van oupa Hartman met twee nuwe kleinkinders in die arms. Toe voel ek soos die enigste oorlewende van 1964; die laaste in die ry.

EEN DONKER NAG IN ‘N BIBLIOTEEK

OP die trappies tussen die suile van Harvard se indrukwekkende Widenerbiblioteek

Die verwoesting van die Jaggerbiblioteek by Ikeys in die onverklaarbare bergbrand die naweek gryp elke boekeliefhebber aan die hart.  In daardie biblioteek het baie mense oor die jare boekejuwele ontdek wat hulle lewenslank geestelik verryk het.

Drie biblioteke beklee in my eie lewe spesiale plekke: dié van Potchefstroom, Tukkies en Harvard. Van elkeen troetel ek herinneringe – nie almal ewe loflik nie.

By Tukkies se Merensybiblioteek het ek een laataand in my derde jaar gaan inbreek. Manie Steyn is saam.  Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange  in.  Die inbraak was nie  met kwade bedoelinge nie.  Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.

Het ek die boek gekry en my taak betyds ingedien ?  Inderdaad.  Gelukkig het ek naastenby geweet waar om te gaan soek.   Seker net ‘n halfuur of wat die rakke gefynkam . Toe: eureka! Ek en Manie is triomfantlik met die Santa Maria  (my 1957 Peugeot 203) terug koshuis toe – missie met welslae voltooi.  Moet tog onthou om hom opnuut te bedank as ek hom weer op Krugersdorp bel.  In daardie stadium was ‘n goeie punt vir daardie taak onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.

Slaan my dood maar ek kan die naam van daardie boek nie onthou nie.  Maar wees gerus: hy is wel terugbesorg. Oop en bloot by die sierlike voordeur van die Merensky ingetap en hom op sy plek gaan sit.

Van die Potch-biblioteek is my herinneringe aan boektitels helderder. Noem elke boek in Topsy Smith se Trompiereeks. Ek het hulle in my standerd-vyf-jaar een vir een gaan haal en verslind. Met die fiets gery van ons huis, Du Plooystraat 62, na die biblioteek daar langs die stadsaal waar o.a. die Weense Seunskoor en die Duitse sopraan Erna Sach in die 50’s gedenkwaardige konserte gehou het.

In standerd ses het ek Paul Gallico se klassieke werk The Snow Goose daar leer ken. In matriek word die gunsteling toe ‘n geliefde voorgeskrewe boek. Dit was ‘n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The Snow Goose in your own words.’ Onderskeiding gekry vir Engels.

Die indrukwekkendste biblioteek wat ek ooit leer ken het, was die Widener van die tradisieryke Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts – ‘n plek wat jou aan die hart gryp. Op die statige kampus is die rolprent Love Story verfilm met die mooie Ali MacGraw en Ryan O’Neal as verliefde paartjie.  Die twee ontmoet mekaar in die manjifieke biblioteek.

Dié boekskatkamer van derduisende titels bevat ‘n Gutenberg-Bybel en selfs ‘n klompie Afrikaanse boeke. Een is oud-kollega Blaar Grobbelaar en Gerard Ludi se boek oor Bram Fischer (Die verbasende Bram Fischer, Nasionale Boekhandel, 1966). Ons Nieman Fellows van 1976/77 se klasfoto is op die trappies tussen die massiewe suile geneem.

Die foto hang in my studeerkamer.  Die Widener sal ek  nie vergeet nie – nie sy boeke binne nie en ook nie sy oorheersende teenwoordigheid op ‘n skilderagtige kampus nie.  .