Jun 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vladimir Ttretchikoff, sogenaamde “Koning van kitsch”, was as kunstenaar geliefd by die publiek en ongereken by kunsresensente. Ek onthou hom ook as die koning van die byvoeglike naamwoord. Hy kon die adjektiewe inryg soos aan ‘n sosatiestokkie.
As iets nie “fantasties” of “geweldig” was nie, was dit “vreeslik”. “Fantasties” het ek tydens ‘n onderhoud vir my rubriek “Onder Vier Oë in Beeld in die jare 70 ‘n stuk of ‘n dosyn kere getel; toe word ek moeg van boekhou.
Hy was ook lief om met ‘n dubbelloop te skiet. Hou Afrikaanssprekendes besonder van sy werk, sou jy hom byvoorbeeld vra. “Geweldig,” sou Tretchi antwoord. “Dis fantasties, fantasties!”
Ek het hom oor sy gevoel jeens kunskritici gepols. Tretchi het sy arms teatraal in die lug gegooi. Toe sak hy terug in sy stoel en gryp sy kop vas. “Kunskritici? Wie de duiwel is die kunskritici? Krap aan die oppervlak en wat kry jy? ‘n Verydelde kunstenaar!”
Dit was so ongeveer sy geloofsbelydenis. Kritici het hom afgekraak as ‘n prul-kunstenaar, ‘n goeie verkoopman wat die massas met goedkoop sentimentaliteit verlei. Maar hy het geglo: “Dit is nie my kuns wat hulle kritiseer nie, dit is my sukses.”
Met ‘n meewarige laggie. “Jy weet, toe ek nog gesukkel het, was die kritici tevrede met my werk. Toe ek begin geld maak, toe’s dit skielik nikswerd.”
Nie dat dit eintlik saak gemaak het nie, as jy Tretchi kon glo. “Dit maak my nie seer nie en dit maak nie my sukses seer nie.” Die Chinese meisie – bekend as die Mona Lisa van kitsch – is “beroemder as Tretchikoff,” het hy gemaak verontwaardig bygevoeg. Dan het sy oë geskitter van trots.
Buiten die Chinese meisie was immergroen gunstelinge onder meer die Verlore orgidee, die Sterwende swaan, die Wenende roos, onthou u? Hulle is almal lank na sy dood nog springlewendig. Trouens, sedert die millenium begin die pryse eers klim! In Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, die Verre Ooste … selfs Ciprus – die mense hou net nie op om te koop nie.
Die Chinese meisie dateer uit 1952 en het een van die bekendste kunsreproduksies van die twintigste eeu geword.[ Die skildery vertoon ‘n Chinese meisie met ‘n ongewone blougroen veltoon, wat die skildery die bynaam The Green Lady gegee het. Die oorspronklike is op 20 Maart 2013 by Bonhams-veilinghuis in Londen vir byna $3.5 miljoen (Amerikaanse dollar, nie rand nie) verkoop. Dit is deur die Britse juwelier Laurence Graff opgeraap.
Selfs in Suid-Afrika het versamelaars groot geld vir Tretchi-werke uitgehaal. Op 27 Mei 2008 het sy Vrugte van Bali op ‘n veiling in Kaapstad ‘n (destydse) rekordprys (vir hom) van R3,74 miljoen behaal. Tretchi het daarmee o.m. stof in Irma Stern se oë geskop. Haar Kaapstad se hawe (vooraf die groot trekpleister) is vir (net!) R2,2 miljoen van die hand gesit.
Vyf ander werke van Tretchi het saam R1,452 miljoen opgelewer. Beleggers in kunswerk was geskok en die afslaer het die prys vir Vrugte van Bali as “ongelooflik” bestempel.
Buiten die kritici was daar nog iets wat Tretchi gekwel het: die persepsie dat hy – hy was toe “iets in die sestig” – jong meisietjies ateljee toe jaag en hulle so vinnig moontlik uit hul klere kry om hulle te skilder. “Soos ‘n seksmaniak,” het Tretchi gekla.
Die waarheid, volgens hom, was dat hy in 20, 25 jaar net vier halfnaakte meisies geskilder het. Die boodskap van een van daardie skilderye is: “Jy mag nie egbreek nie.” Die meisie – ‘n Afrikaanse nooi, Brenda, met ‘n “pragtige figuur” – wek die indruk dat sy aan die verbode vrug lê en dink, of dit dalk pas klaar gepluk het, aldus Tretchi.
Soos die man geskilder het, het hy gepraat. Soos hy gepraat en geskilder het, so was die man. Flambojant en emosioneel. Geen ander woorde kan hom beter beskryf nie.
Vladimir Tretchikoff is op 26/8/2006 oorlede
Jun 12, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Ou koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie. As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil, ‘n sardiensblikkie of ‘n plastieksakkie nie.
Onder koerantpapier kan jy slaap. Jy kan dit vir honger donkies voer. Jy kan jou vis en tjips toedraai. Jy kan die hond se plassies opvee. Jy kan vuur maak en ruite was. Jy kan bevrore vleis koud hou op lang ritte. Jy kan die papegaai se hok uitvoer. Die nut is amper onbegrens.
Kollega Johan van Wyk het ‘n keer ‘n nogal uitvoerige studie gedoen oor waarvoor ‘n ou koerant alles deug. HY kom toe tot die insigryke gevolgtrekking dat dit op een plek werklik tot sy reg kom: “In die kleinhuisie met die boerpampoene op die dak. “Nệrens lees jy lekkerder in ‘n ou koerant as daar nie.”
Johan kon bygevoeg het: Nệrens is jy dankbaarder oor die beskikbaarheid nie as wanneer jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek. Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.
Ek hoor graag van ander vindingryke idees. Hier egter drie aanwendings wat vir die uwe nuut en oorspronklik was.
Nommer een is die sogenaamde Paper House in Pigeon Cove, Massachusetts. Die hele huis en sy inhoud bestaan uit ou koerante, hoofsaaklik uit Boston. Sowat 100 000 eksemplare is vir die doel gevou of gerol. Die volledige takie het 20 jaar in beslag geneem.
In die woonkamer staan ‘n klavier – ‘n uitnodiging vir iemand wat kan om die klawers met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” te gaan tokkel. Daar is ‘n radio in ‘n outydse kabinet. ‘n Boekrak is gemaak uit buitelandse koerante en ‘n oupastaanhorlosie uit koerante van die hoofstede van die Amerikaanse deelstate. ‘n “Nuuswaardige” lessenaar is uit koerante met die nuus van Charles Lindberg se epiese vlug.
‘n Koerantman voel so tuis, jy wil sommer dadelik sak en pak intrek en begin lees!
In die Suid-Tiroolse vakansiestadjie in die Alpe Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit: ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Die struktuur het HvD verdwerg – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg!
Die foto’s is bedoel om kreatiewese te prikkel om daardie stukkie Tiroolse vindingrykheid na te aap. Laat dit ‘n uitdaging wees.
Van nader tuis is die pragtige tabberdjies wat vir die Kovsies se joolkoningin en eerste prinses aangetrek is ter viering van Die Volksblad se verskuiwing na die oggendgleuf op 4 Maart 1991. Mooier “uitgawes” was daar gewis nie in my tyd as hierdie aan die mooi lyfies van Liezel le Riche en Almie Cloete nie. By hulle is Die Volksblad se Alta Beetge wie se breinkind die mode-ding was. (“Haar rokkie het ‘n skeurtjie in en almal kyk daarna …”)
Jun 6, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

As ek vir Sarel Venter, oud-adjunk-redakteur van Die Volksblad, by sy 80ste Woensdag (9 Junie) ‘n rapport moet gee vir vakke soos Ordentlikheid, Onkreukbaarheid, Beginselvastheid, Voorbeeldigheid, Christelike waardes, Koers hou en Gesonde insigte slaag my rotsvaste kollega summa cum laude.
Sarel was ‘n soliede steunpilaar in my eerste hoofredaksie in die 80’s – een van die Aärons en Hurs wat ‘n jong, idealistiese redakteur se arms in uitdagende tye omhoog help hou het. Ek eer hom vir sy onskatbare bydrae tot ons soms wroegende besinning en met sy gevleuelde “pen” in hoofartikels en rubrieke in ‘n moeilike en veelbewoë dekade wat ons saamgestap het.
Ons koerant se politieke standpunte het ons in die hoofredakie gedurig aan die geregtigheidsbeginsel getoets. Ons het geglo om geregtigheid te laat geskied, is ‘n Bybelse opdrag. ‘n Ware staatmaker in hierdie eerlike strewe tot geregtigheid was Sarel, wat soos so baie ander joernaliste, eers predikant wou word. Hy is ‘n Gereformeerde wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO gestudeer het.
Weens sy fyn aanvoeling en ewewigtigheid het ek hom ingespan om ons meeste hoofartikels oor kerksake te skryf. Ek kon telkens aan Sarel gaan oordra met watter waardering sy bydraes ontvang is in kerklike kringe wat vir ons saak gemaak het. Ene oor ‘n regse predikante-aksie uit Silverton (die sogenaamde Silverton-193) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse NG Sendingkerk in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge”.
‘n Hegte vriendskapsband bestaan tot vandag, en ook op persoonlike vlak is ek aan Sarel hope dank verskuldig vir bankvaste lojaliteit en ondersteuning. ‘n Mens hoef maar net op Google die name van Hennie van Deventer en Sarel Venter saam in te tik om te sien wat ek bedoel. In welwillende resensies en ander geskrifte het hy oor jare telkens my hart warm laat klop.
Oor een ding is ek spyt: dat ek en Tokkie nooit die voorreg gehad het om saam met Sarel en Liesbeth ‘n bootvaart te onderneem nie. So ‘n kundige entoesias soos Sarel kry jy nie elke dag nie. My en Tokkie se vaart op die Queen Mary II na Sydney het hy byvoorbeeld op sy rekenaar seemyl vir seemyl saam meegemaak. Sy intense meelewing op hierdie salige ontdekkingstog was ‘n belewenis. Ek is seker ons sou genotvolle ure saam ter see kon deurbring as omstandighede daarna
was.
Die Venters het onlangs hul gewilde gastehuis, “Kom weer” in Fichardtpark, Bloemfontein, se hortjies gegrendel en na ‘n kleiner oord in Universitas verhuis. Mag hulle daar ‘n ryke nuwe skof beleef, mag die vreugdes by hul voordeur opstapel en mag nog talryke heerlike nuwe herinneringe vir hulle geskep word.
(Die saamgestelde foto wys Sarel op sy 70ste verjaardag, regs onder, saam met my en Herman le Roux in my kantoor by Die Volksblad, ontspanne saam met sy medelede van die hoofredaksie in die 80’s, en by ‘n Volksblad-saamtrek in 2016 in Sabiepark en Balule. )
Jun 5, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Elkeen uit die Jamie Uys-era het ‘n gunstelingtoneeltjie uit ‘n Jamie-rolprent wat hom die lekkerste laat lag het. Vir party is dit iets uit sy eerste, Daar doer in die Bosveld; vir party uit sy laaste en grootste sukses, ook internasionaal, The gods must be crazy.
Wat het die veteraan-rolprentmaker – wat einde Mei 100 jaar oud sou geword het – se eie lagspiere die meeste geprikkel? Die vraag het ek hom in ‘n onderhoud vir my “Onder vier oë”-rubriek in Beeld gestel. Dit het hom geen oomblik laat twyfel nie. Dit was in Funny people: die toneel van ‘n man se gespartel om ‘n klomp glibberige ballonne te verpak. Die papier was te klein en die tou te kort. Maar onderkry was min. Met toewyding en konsentrasie het hy deurgedruk totdat die spulletjie netjies toegewikkel was.
Net toe verskyn Jamie se skoonseun met ‘n stempel. So ver soos hy stempel, hoor jy net ballonne bars. Die pakker het hierdie onverwagte verwikkeling onbegrypend betrag. Maar toe ‘n balhorige ballon uit die pakkie peul, was hy rats by om dit op te raap en terug te dwing – net om ook aan flarde gestempel te word.
In sy versteekte kas het Jamie so gelag dat die kamera geruk het. Die pakker het nooit ‘n woord gesê nie, maar net die manier waarop sy oë dan op, dan af geflits het, het sy eie storie vertel.
Jamie, ‘n oud-onderwyser, was drie jaar lank boer. In 1950 kry hy die bevlieging om ‘n rolprent te maak: Daar doer in die Bosveld. Hy het gedink dit sal sommer kinderspeletjies wees – binne twee weke is alles kant en klaar. Maar toe duur dit twee jaar. Hy het alles wat hy besit, daarin gestort. “Toe moes ek maar aangaan.”
The gods must be crazy het die miljoene laat inrol. Beautiful people het ook sy merk gemaak. Maar, snaaks genoeg, het Funny people wat eintlik net gemaak was vir die plaaslike mark, in sommige lande nog beter as Beautiful people geloop. Jamie was verras. Hy het nie gedink dit sal in die buiteland slaag nie omdat buitelanders candid camera al lank op televisie het.
Sy lekkerste rol was in Lord Oom Piet. Miskien was dit veral omdat hy ‘n baard gedra het; so het hy ‘n lang grimeringsproses elke oggend vrygespring. ‘n Ander lekker rol was dié van die Rus in All the way to Paris, die internasionale variasie van die gewilde Hans en die Rooinek.
‘n Suid-Afrikaanse Rus, George Korelin, moes hand bysit om Jamie die regte aksent te leer. Dit was darem nie te moeilik nie. “’n Boer se aksent en ‘n Rus se aksent wanneer hulle Engels praat, verskil nie so baie nie.”
Sou hy ‘n Suid-Afrikaanse prent van iemand anders graag gemaak het? Ja, Emil Nofal se Wild season met Gert van den Bergh. Dit was ‘n lekker prent, die hele stemming, die hele aanslag.
Sy swakste prent was Geld Soos Bossies, volgens Jamie. Hy het pas sy eie maatskappy gestig en geld was skaars. Daarom was dit so ‘n “haastige prentjie”. Die eerste twintig minute was baie bevredigend, maar daarna “kon jy sien dit is afgerammel”.
Jamie Uys is op 29/1/1996 oorlede.
May 29, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op pad na Sabiepark se piekniekplek toe stap ons van Tarlehoet af in Wildevylaan by plate tambotiebome verby. Plek-plek staan dit amper te dig. Op ‘n dag skrik ek vir ‘n saad – ‘n tambotiesaad – wat voor my allerlei energieke hop-hoppe uitvoer.
Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel. Later hoor ek dit spring darem nie op eie stoom nie, maar weens die insekkie binne-in.
Gister, wanneer kry ek van Frikkie Lombard van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal) die nuus dat daardie saadjie tot binne-in die formidabele woordeboek gehop het. Onder die letter “t” gaan hy daar sy monumentjie kry.
Met sy goedkeuring haal ek graag Frikkie se vriendelike brief aan. Hy skryf: “Hallo Hennie.Wil net laat weet dat ek jou ‘Bure van nature’ besonder geniet, vir die humor, leersame inligting en keurige taal. Verder wil die toeval dit so hê dat ek juis met die lees en ekserpering van jou boek ook die woordeboekartikel oor ‘tambotie’ moet kontroleer. En daar kry ek toe ‘n sitaat uit jou boek wat ek gaan gebruik (met volle erkenning aan die skrywer en die bron): ‘Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel …’
Dankie, Frikkie. Voel ek nie gevlei nie! Dit alles weens ‘n ou saadjie.
Die WAT-man heg toe sommer die definisie wat die WAT vir tambotie het, aan. Dit lui: “Mediumgroot tot groot bladwisselende boom, <i>Spirostachys africana</i> (fam. <i>Euphorbiaceae</i>), tot 18 m hoog, wat ’n giftige, melkerige sap afskei, met ’n dik, growwe, donkerbruin tot swart bas met ’n kenmerkende blokkiespatroon, afwisselende blare waarvan die rande fyngetand is, goudkleurige tot bloedrooi blomme wat spiraalvormig op korterige, dun are gegroepeer is, sade waarin daar dikw. larwes van motte voorkom wat aktief begin beweeg sodra dit warmer raak, sodat dit lyk asof die sade rondspring, en harde, olieagtige, donkerbruin hout met ’n aangename geur wat veral i.d. vervaardiging van duursame meubels, mynstutte, dakbalke en heiningpale gebruik word, maar nie as braaihout nie omdat die sap ’n onaangename smaak aan kos gee en die giftige rook diarree kan veroorsaak, en wat veral in laagliggende streke of op heuwels in al die lande in suidelike Afrika, behalwe Lesotho, tot so ver noord as Tanzanië aangetref word.”
Presies. Dis net die tambotie daai. En moenie daardie waarskuwing oor die gebruik van tambotie as braaihout gering skat nie. Jou vleis smaak glad nie lekker wanneer dit op tambotiekole staan en sis het nie. Maar nie lekker smaak nie, is die minste van jou probleme. Die giftige rook gaan jou ten minste laat hôl vir die naaste toilet. Dis nou maar wors. Dit kan selfs dodelik wees , word gewaarsku.